Pak jou tas: Goukamma, die paradys vir ’n moeë stadslyf

Die Twilight Zone, toe ons van die N2 afdraai. (Foto: Clifford Roberts)

“Drie dae in die natuur is soos drie weke vakansie,” sug my man met ’n glas yskoue MCC in sy hand, terwyl ’n valkie en mikstertbyevanger vlak voor ons houthuise in Goukamma Natuurreservaat in die lug baklei, skryf Maryke Roberts.

Ons bespreek vir drie salige dae teen die rivier en see, tussen Sedgefield en Knysna. Google neem ons na die verkeerde afdraai – Groenvlei – en ons ry salig onbewus by Lake Pleasant verby. Aan, see se kant toe. By The Garden Bistro sit mense op die stoep, met yskoue biere: Vrydagmiddag sit al lank loom in hul kuite.

Toe ons by die kwaai branders onder op die strand uitkom, besef ons die aanwysings is verkeerd. Dis toe wat ek my besprekingsdokumente uit die paneelkassie grawe en sien daar is aanwysings. Ons draai ’n paar kilometer verder by Buffelsbaai se afdraai in; vorder ’n paar meter voor ons die Volkswagen Beetle in die veld sien staan: bo-op ’n hoop stompe en boonop met ’n branderplank op sy dak. “Ons betree nou die Twilight Zone,” kom dit ewe droog van die bestuurdersitplek.

Onderdeur die treinbrug wat beskilder is met groen boodskappe oor ons oseane en seelewe; verby ruie plantegroei waarin daar sporadies ’n hek verskyn. Verby tekens vir hout en heuning; verby The RiverDeck Restaurant en padstalletjie weerskante van die pad. En slap regs tot by Goukamma se bord. Die park waar die huisies staan, is ’n nou strokie land tussen die teerpad en Goukammarivier.

Ons oulike klein huisie, Fish Eagle’s Loft, met pragtige uitsig uit enige venster. (Foto: Clifford Roberts)

Ons sit ons bagasie neer in ons huisie hoog teen die koppies en gaan ry laatmiddag deur Buffelsbaai, ’n katspoegie van die reservaat af. Die strandhuise se name laat jou glimlag: Lawaaidraai, Buffelsbraai, Stokkiesdraai, en Biekerus.

By een huis is ’n klein seuntjie besig met ’n balanseertoertjie op die lae tuinheininkie. Sy een voetjie versigtig voor die ander, sy tong tussen sy tande vasgebyt van pure konsentrasie. By sy voete lê ’n lojale Jack Russell’tjie wat sy wang gaan lek as hy daar afval en die trane spat. ’n Mens se beste vriend…

Toe ons terugdraai op die stil pad, val ’n blouvalkie soos ’n klip uit die lug in die lang gras in vir ’n happie. Arme muis.

Ons ry na The RiverDeck Restaurant net voor die treinbrug en gaan sit op die rivieroewer vir drankies en ’n pizza. Daar is piesangplante en houtbankies in die sand en jy kan jou verbeel jy is iewers op ’n eksotiese plek soos Thailand of Bali, en nie skaars 15 minute van die besige Knysna nie.

Die blindings is opgerol en die tentdak van die restaurant lig elke nou en dan in die koel aandwind.

Die volmaan kom soos ’n wondergroot silwer diskobal oor die rantjies op en verlig die pikdonker nag. Die aandwind word sterker en die riete langs die rivier suis harder en laat dit klink soos reën. Dis net die motorligte en die maan wat ons gidse is in die pikdonker nag, terug na ons huisie toe.

Ons is loopafstand van Buffelsbaai se ongerepte strande en stap soggens vroeg en laatmiddag met ons voete in die vlak water. (Foto: Clifford Roberts)

Ek kan nie onthou wanneer laas ek net krieke en paddas in die nag gehoor het nie. Ons sit met tamaai bekers tee daar in die maanlig op ons stoepie en geen ander geluide as die gedreun van die see in ons ore, toe ons droomland indryf nie.

Vroegoggend druk die koel luggie ons gordyne in sulke grys bolwangmateriaal-gedoentes en ons staan op. Baadjies word sommer bo-oor pajamas aangetrek, want die luggie is koel, al sit die sonnetjie al bo die rantjies.

Ons drink eers koffie op ons stoep met ’n stuk beskuit of drie, maar boksmelk is net vir so lank lekker. Net toe ons wil opstaan, gewaar ons twee visarende in die rivier. Een sit op ’n boomstomp in die water; die ander een teen die kant van die rivier op ’n droë tak. Met die brande die afgelope paar jaar, is daar geen groot bome langs die water nie en ons het aangeneem ons gaan nooit hierdie majestueuse voëls sien nie.

Maar ons huisie se naam is nie verniet Fish Eagle Loft nie. Ons sit vir ’n hele ruk en kyk hoe hulle die water dophou; hul skerp oë mis niks. Toe hulle later opvlieg, verder op teen die rivier, maak ons aanstaltes.

Ons wil graag by die Wild Oats-plaasmark op Sedgefield inloer vir kougoed en die lekker atmosfeer, maar ons val eers by die gerestoureerde stasiegeboutjie in – skaars ’n kilometer van die park af. Dit sit hoog teen die pad en ons kruis die spoorlyn om onder die koel bome te stop vir ’n cappuccino. ’n Reusebord kondig trots aan dat Flippen Knys Restaurant aangewys is as “Buffs se nommer 1 restaurant”.

Daar is vrolike blou stoeltjies op die stoepie en hoewel die vroegoggendmis nog laag oor die klein valleitjie hang, is daar gemoedelike gesels oor die tafeltjies.

Deur ’n besige Sedgefield en anderkant uit, kry ons parkering in die koelte. Die gelag en gesels van die markie kom deur die ruie bome aangedryf en allerhande reuke meng en dans onder jou neus: vars blomme, varsgebakte brood, aromaterapie-olie en kosse wat gebraai en pannekoek wat gebak word. Ons sit op die afgesaagte boomstompe en kuier. Ons kom al soveel jare hierheen, elke keer op ’n ander reis met ander mense en ander hartseer en vreugdes. Mens wonder elke keer of jy weer hier sal kom en, indien wel, waar jou paadjie jou dan sal neem.

Laatmiddag stap ons af rivier toe na die oulike piekniektafels vir dagbesoekers.
(Foto’s: Clifford Roberts)

Middagslapie staan op my voorkop geskryf, hoor ek ewe pittig by my reismaat en ons kies koers huis toe, ons mandjie vol lekkernye vir later.

Ná ’n lekker feesmaal op die stoep vroegaand, oorweeg ek dit verskeie male om op te staan en my boek of tydskrifte binne te gaan haal. Maar dan vertoef ek nog ’n paar minute om te kyk hoe die gety in die riviermond terugstoot. Hoe die kaal sandbanke waarop ons skaars ’n uur gelede tussen die swart tobies gestap het, onder die water verdwyn.

Ek geniet die roep van ’n groenwillie. Ja, glo dit of nie, daar is ’n voëltjie met dié naam, omdat sy roep soos “Willie” klink. Ses swaeltjies maak kaperjolle in die lug; swiep onder ons stoepie deur, anderkant uit en weer bo-oor ons koppe, in eindelose sirkels in die lug soos akrobate.

Onder in die vlakwater pik-pik twee kiewiete en agt geelbekeende vlieg laag oor die water. Ek besluit wel om ’n gesigmasker aan te sit, aangesien ons die enigste mense in die park is en daar tog niemand is wat dié spektakel van budgie-blou gaan sien nie.

Ek moet lag kry vir ’n muisvoël wat nuuskierig nadervlieg, in ’n perfekte mik wydsbeen tussen twee takkies hang; sy pootjies omtrent gelyk met sy oë en my goed uitkyk. Ek wil glo dis vir die snaakse blou masker wat ek op my gesig het, maar ek weet dis belaglik. Tog, ek het gedink niemand gaan dié snaakse skynsel raaksien nie en hier land ’n muisvoël!

Toe die son begin watertrek en ons die gin en tonics nader trek en die ys in my glas klingel, besef ek dat ek die hele dag aan niks anders as my verkyker, voëlboek en die manewales van die voëls gedink het nie. My regop kantoorpostuur het ook iewers langs die pad weggeval, want ek sit weer kruisbeen en my hare is in windverwaaide bokstertjies.

Ons stap teen sononder af rivier toe en gaan sit daar by die tafeltjies en kyk hoe die son alles in goud inkleur.

Die volgende oggend is ons lui en besluit om koers te kies Knysna toe vir ontbyt. Toe ons die dorp binnery, is daar hondeklasse op die skool se tennisbane. ’n Klein sjokoladebruin skaaphondjie aan ’n leiband word geleer om tussen oranje kegels deur te navigeer. Die eienaar byt op haar onderlip, terwyl die afrigter van die kant aanmoedig met ’n hondebeskuitjie in haar hand.

Dis gewone Saterdagdinge wat in ander mense se tuisdorp vir my anders voel. Toe ons oor die brug ry na Thesen-eiland, is dit laagwater en vissers vang met handlyne in die waterpoele vis, terwyl ander ywerig sandgarnale pomp.

Ilse Phillips wat al vir meer as 12 jaar by île de païn werk, gee vir ons ’n wegneem-baguette aan. (Foto: Clifford Roberts)

Daar is ’n waglys by île de païn. Maar daar is geen ongeduld, geen angstige mense wat rondtrippel omdat hulle moet wag nie. Daar is gesinne wat op die trappies sit; mense wat wegneemkoffies binne die restaurant gaan haal en dan onder die koeltebome staan en gesels. Kinders speel by hul ouers se voete; stappers met langhaarhonde kom verby en verdra die kopvryf van taai handjies ewe geduldig.

Ons drink hierdie keer cà phê sữa nóng, Viëtnamese koffie met kondensmelk, terwyl ons aan amandelkoekies en sjokolade-croissants knaag. Die restaurant is stampvol binne en buite onder die bome, maar jy kry nie ’n gevoel dat enigiets aangejaag of ingedruk voel nie; inteendeel, daar is ’n aangename lae gemurmel soos daar by tafels oor spek en eiers en Markus Fabinger en sy vrou, Liezie Mulder, se tuisgebakte brood, gekuier word. Ons blaai deur haar nuwe resepteboek, Anytime, waarvan daar heelwat verkoop in die tydjie wat ons daar sit.

Ilse Phillips wat al vir meer as 12 jaar by île de païn werk, gee vir ons ’n wegneem-baguette aan. Sy staan bont om kliënte te help wat brood wil koop en ook boot-piekniekmandjies kom oplaai. Dis baie gewild, vertel sy, want niemand is lus om, terwyl jy op vakansie is, vroegoggend nog te sukkel met piekniek pak nie. Hulle doen dit sommer vir jou.

Weer ’n hele dag van lees en slaap en gesels. Hemelse woorde vir ’n moeë stadslyf.

Op ons derde dag pak ons op. Die reis gaan voort. Rankplante het die dooie bome langs die pad oorgeneem en hang soos ’n groen tjalie oor ’n ou dame se benerige lyf. Ons stop by die padstal waar ’n allemintige staalhart in die grond ingemessel is en met wit rivierklippe gevul is. Hier koop ek twee pakke “Skurwe Abrahams” en sien neffens die rak ’n klein teken wat sê, “Dis soos karringmelkbeskuit, net beter”.

Iets wat my altyd aan hierdie magiese plek sal herinner. En my hopelik gou weer sal noop om hier te kom mens word.

’n Paar kitsfeite:

  • Goukamma Natuurreservaat val onder Cape Nature. Daar is verskeie huisies wat verskillende getalle mense kan huisves. Bespreek by 087 087 8250 en by [email protected].
  • Onthou om altyd jou bevestigingsbrief dat jy bespreek en betaal het (ook jou bewaringstarief) byderhand te hou wanneer jy by die hek aanmeld. En skryf die noodnommer iewers neer (en hou dit naby jou) as jy dalk vinnig vir hulp moet bel. Maak ook seker van die hek se sluitingstye, dat jy nie voor dooiemansdeur beland nie.
  • Geen petrolaangedrewe bote word op die rivier toegelaat nie. Kano’s en trapbootjies kan by die park gehuur word. Daar is lekker piekniek- en braaigeriewe vir dagbesoekers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.