Pak jou tas, Kolkata gaan jou verras

The Victoria Memorial Hall herinner jou aan Londen. Binne is uitstallings en foto’s van die Britse heerskappy van die land. (Foto: Clifford Roberts.)

Deur Maryke Roberts

Jare gelede het my ma elke keer as sy gebukkend moes sukkel om ’n groot pot uit die ongemaklik-donker hoekkas in die kombuis te haal, gesê dié kas is soos die Swartgat van Kolkata. Dit was ons grappie, maar nooit sou ek kon droom dat ek eendag voor die plek sou staan, waar dié sêding sy ontstaan gehad het nie, skryf Maryke Roberts.

Twee weke in Indië se platteland en kusdorpies lê agter ons toe die vliegtuig op Netaji Subhas Chandra Bose-lughawe land. Langmouhemde en tekkies as skans teen die vroegoggendluggie met ons vertrek. Toe die lughawe se deure oopgly, slaan die warm lug jou voor jou bors. Die paar treë na die taxi waar ons gasheer vir ons wag, laat my vinnig in ’n lastige sweetlagie uitbreek en ek is dankbaar vir die koue water en lugversorging. Ons gasheer, Muhammed Abbas, sê dat ons Kolkata-avontuur reeds begin het.

Die rit na die ou stad, duur ’n halfuur. Die gees en atmosfeer van die stad is polsend; die mure vibreer daarvan soos ’n massiewe dier wat spiertrillend op die volgende aksiebelaaide oomblik wag. Die stad heet sedert 2001 Kolkata en nie meer Kalkutta (Calcutta) nie.

Die gewilde voëlmark waar ander troeteldiere ook te koop is. Ek vermoed baie van die voëltjies word elke tweede naweek weer gekoop, nadat hulle ontsnap het. (Foto: Clifford Roberts.)

Die hotel is ’n hoë gebou in Jawaharlal Nehrustraat en as jy op die sewende vloer by die hyser uitklim, begroet die mooiste uitsig oor een van die stad se brûe oor die Hooghly-rivier jou. Die plan om te stort en bietjie asem te skep, is eensklaps vergete. Die Indiër-museum se kolossale wit gebou is skaars twee blokke weg en is die poort na die samelewing soos dit vandag is.

Met ’n goeie agtergrond oor die breër Indiër-kultuur en al sy kompleksiteit, is dit grommende mae wat die volgende skuif bepaal en ons voortdryf na Parkstraat sowat 15 minute se stap verder. Die versoeking om een van die legendariese goudgeel Andersons – Kolkata se weergawe van New York se befaamde yellow cabs – nader te wuif, is groot, maar die eerste paar uur in ’n vreemde stad is vir voete vind; vertroud raak; versigtig ontdek.

Barbeque Nation is ’n braairestaurant waar elke tafel sy eie bakkie met gloeiende kole kry en vis, hoender en garnale op tamaai vleispenne neergesit word, met sous bedruip en warm geniet word. By die buffet is daar kerries, atjars, rys en verskeie Indiese bykosse, maar ek haak vas by vegetariese brijanirys en gebraaide voorgeregte, wat net aanhou arriveer, tot ’n klein vlaggie aan die kelners wys jy het genoeg geëet.

Die hitte, reis en opwinding eis vroeg sy tol en nie eers die rolprent op die hotelkamer se skottel kan die vaak weghou nie.

Om in een hierdie te ry, is soos om in die geel taxi’s van New York te ry. (Foto: Clifford Roberts.)

Ons is vroegoggend blinkoog toe ons gids, Deepak Kumar-Mishra, ons in die voorportaal inwag. Ons reisplan vir die volgende twee dae sluit al die hoogtepunte van die stad in, maar hy stel voor ons bespreek ons behoeftes en skaaf soos nodig.

Die Indiër-museum wat ook op die lysie is, is afgemerk en hy stel verskeie doendinge en plekke voor, wat óf nie in elke toeris se smaak val nie; óf nie elke dag oop is nie.

Ons stem vir die avontuurlustige en aweregse weergawe, maar wat terselfdertyd steeds die hoogtepunte insluit. Die bestuurder word in Hindi ingelig van die veranderinge in planne en kies koers na die voete van die Howrahbrug, waar baie van die stad se inwoners elke dag hul bad in die rivier geniet en die blommemark ’n malle kleur- en geurspel is.

Die blommeverkopers kom per trein van die buitewyke van die stad af om delikaat-gevlegte blomhalsnoere, bosse blomme, blomblare en bloeisels op die Mullik Ghat-blommemark te kom verkoop. Elke oggend en elke aand word die ritueel herhaal: hulle klim by die stasie af, laai wavragte blomme wat in goiingsakke of allemintige waterlelieblare toegebind is op hul koppe en stap eers langs die rivier, dan oor die lang brug tot in die informele mark.

Honderde blommeverkopers kom 24 uur per dag van die omliggende platteland en lappies grond aan die stad se buitewyke en kom verkoop blomme, wat voor die gode by tempels gelê word. Weens die hitte hou baie blomme nie eens ’n halwe dag nie en mense kom dus twee maal per dag blomme. (Foto: Clifford Roberts.)

Hier word die blomme uitgepak vir kleiner handelaars om bossies te kom koop, wat dit weer op hul beurt by die tempels verkoop.

“Elke god kry ander blomme; daarom die verskeidenheid. Die hitte laat die blomme gou verwelk, daarom word die proses weer laatmiddag herhaal, sodat diegene wat ná werk na die tempels wil gaan, weer vars blomme het,” vertel hy.

Die mark wat eintlik nie veel meer as bamboespale met seile bo-oor is nie, is beknop, die grond is modderig van ’n paar druppels reën en die handelaars wat kort-kort die blomme natgooi om dit in die bloedige hitte langer vars te hou. Gekneusde blomme en blare maak ’n gekleurde pappery wat vinnig deur jou tone peul en taai droogword en jou tone aanmekaar laat vasplak. Gelukkig hou dit nie lank nie, want die sweet stroom in elke gleufie en holte af en gly-gly in jou skoene, stap jy voort.

Die handelaars werk vinnig, sorteer, pak uit, verkoop. Deepak sê van hulle is al ure hier en gaan binnekort oppak om huis toe te gaan vir die tweede sarsie.

“Gewoonlik werk die hele familie saam: die blomme word óf self gekweek óf van naburige wyke aangekoop; dan van middernag af word die blomkoppe gesny en in verskillende vlegsels of stringetjies ingeryg. Een vir een; elke halssnoer dieselfde hoeveelheid blommetjies; dieselfde lengte. Iemand anders is verantwoordelik vir die sorgvuldige pakwerk, sodat pa of seun of oom wat mark toe gaan, die swaar vrag so gemaklik moontlik op sy kop kan balanseer.

Die reuk van die blomme en die malle kleure en oorvloedigheid is duiselingwekkend. Tussen foto’s neem, vergaap en inasem, vorder ons baie stadig deur die mark. Sommige verkopers het meer permanente strukture met sementvloere en toesluitdeure. Hier sit mans tot 17 uur per dag (kruisbeen natuurlik, want dis Indië!) en vou blaartjies en blommetjies om wondergroot versierings vir feeste, troues en begrafnisse of as tempelversierings te maak.

Ek kry twee lotusblomme: een oomblik nog toe, voor vlytige vingers die delikate blaartjies oopvou en die blomme na my uithou. Ek wil geld gee, maar die twee mans skud heftig kop. Ek kry ’n groot glimlag en neem foto’s van my pragtige blomme.

Ek word ook rose en sonneblomme aangebied, maar ek weet ek gaan heeldag in die hitte stap en die blomme sal gou verwelk.

Ons stap oor die brug met my twee blomme. Deepak sê ek kan hulle in die rivier gooi as offer, as ek wil. Op pad na die veerboot, kom ons ’n hele paar blommeverkopers tee, wat haastig koers kies na die brug. Ons klim op die veerboot (6 rupees per persoon), wat gewoonlik deur die locals gebruik word en vaar onderdeur die brug, na die oorkantse wal. Ek en my geliefde hou elkeen ’n blom, sluit ons oë met gedagtes en wense en gooi saam ons blomme op die water.

By die anderkant gekom, klim mense op, party met bagasie, ander met leë inkopiesakke en ons vaar verder. Twee stoppe verder klim ons ook af en gaan stap in die oudste deel van die stad rond. Die gehuggies en huisies is tot teenaan die treinspoor gebou en oral lê rommel in berge rond.

Anderkant die treinspoor langs die rivier. Hier sit mans in kamertjies kleiner as Europese en suite-badkamers en weef materiaal, maak hempies en verpak dit vir die wêreld se voorste modehuise. (Foto: Clifford Roberts.)

Armoede is nie glamorous of uniek aan een land nie, flits dit deur my kop. Dit lyk oral dieselfde en ’n innige dankbaarheid dat ek nie hier moet woon nie, kom sit in my hele wese. Vir ’n hele ruk lig ek nie my kamera nie. Ek neem elke oomblik in; groet elkeen wat verbystap; maak geselsies waar mense stop en vra waar ons vandaan kom. Vir vele beteken Kaapstad, Suid-Afrika niks. Vir sommige is Nelson Mandela die stelling wat lig na hul oë bring; maar vir meeste mense is dit “”BD”, oftewel, AB de Villiers, krieketkaptein.

Ons kyk hoe mense gode vir Hindoe-tempels uit hout kerf, van gips, gras of klei maak en dan een vir een met die hand verf. Bome groei deur verskeie geboue en Deepak sê baie van die huise is as te bouvallig vir menslike gebruik verklaar, maar behuising is ’n krisis hier.

Die gewilde voëlmark is net op Sondae, waar kinders grootoog en smekend na hul ouers staar vir ’n goudvissie, ’n geel, blou of groen budgie of, o genadetjie tog, daardie wollerige klein hondjie wat koel gehou word onder seile wat natgespuit is. Ooms draai suikerriet se sap uit, ander verkoop lemmetjiesap met kruisementblare daarin; ’n jong seun verkoop koue water.

Ons motor wag vir ons aan die ander kant van die opelug-troeteldierwinkel. Om ons wag mense vir vriende met sakke vissies, voëltjiesaad of klein hokkies met hamsters of voëltjies in. Tannies het orgideë, varings, lemmetjiebome of fyn jasmyn en wag vir die bus om hulle en hul buit huis toe te neem.

Wanneer jy in The Victoria Memorial Hall rondloop, kan jy jou vir ’n oomblik verbeel jy is in Londen. Die fondamentsteen is op 4 Januarie 1906 gelê ter ere van Victoria, eerste koningin-keiserin van Indië, wat in 1901 oorlede is. Ons poseer vir verskeie foto’s saam met mense van oor die hele land – sommige het nog nooit tevore wit velle gesien nie en ek kry meer aandag en kyke en foto’s as die spierwit marmerstandbeeld van koningin Victoria in die middel van die vertrek!

Baie van die geboue is ongeskik vir menslike gebruik, maar behuising is ’n krisis en mense woon in dié bouvalle. (Foto: Clifford Roberts.)

Ons gaan stap laatmiddag by Oxford Books rond waar derduisende akademiese boeke uit piepklein stalletjies verkoop word terwyl die reën buite die strate skoonwas. My vuil voete van die dag se stap, is gou papnat en die vuil maak patroontjies op my tone. Vir die tweede maal in een dag, is dit straaltjies nat wat teen my ruggraat afdrup en my hemp aan my lyf laat vaskleef. Hierdie keer is dit egter verkwikkende, koel reëndruppels.

Ons gaan kuier ook by die groentemark, ry met ’n outydse trem en sit lank op grasperke voor geboue met ons boeke, maar bekyk eerder die wêreld as om te lees.

Etes word heerlike noedels-en-kerrie by kitskosrestaurante. Dis veel lekkerder om die strate met wegneemkos te verken as om lang ure in benoude restaurante te sit.

Ons laaste uitstappie in Kolkata is toe om te gaan uitvind van die Swart Gat van Kolkata: dis nie net ’n gebeurtenis in Indië se koloniale geskiedenis nie, maar ook ’n wit monument in ’n kerk se agterplaas. Dit is hier waar ’n groep Britse soldate in die 1700’s onder baie haglike omstandighede in ’n bitter klein, donker gat gevange gehou is en sowat 123 van hulle dood is.

Die geboutjie, net soos die fort, bestaan nie meer nie, maar in 1940 het die Britte ’n monument na die St. John-kerk geskuif, wat sedert 1901 op ander plekke in die stad gestaan het.

Die monument is ál getuie van die gebeurtenis en in Indiese geskiedenis is daar min simpatie met die troepe, wat as’t ware ongenooide, ongeskikte gaste in die land was.

Kolkata maak ’n blywende indruk op jou. Ek lees toevallig dié aanhaling van Vir Sanghvi raak: “Kolkata is nie vir almal nie. As jy stede skoon en groen wil sien, hou by Delhi. As jy hou van stede wat ryk, maar onpersoonlik is, gaan na Moembai. As jy stede soek wat bekend is vir hul hoë tegnologie en bier, is Bangalore die plek vir jou. Maar as jy ’n stad met siel soek, kom na Kolkata.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.