Pak jou tas: ’n Nostalgiese reis deur Kochi, Indië

Die kanonkoeël-boom waar die Salavan-blomme uit die boomstam groei, is my gunsteling. Vijesh sê die boom is ’n heilige een en word Naga Linga in Indies genoem. (Foto: Clifford Roberts)

Kochi in Kerala, Indië, is bekend vir sy antieke tempels, kerke en moskees. Hierdie kosmopolitiese hawestad is een van die wêreld se oudstes en dié plek om te besoek – veral as jy boonop van aromatiese kerries hou, skryf Maryke Roberts.

Met internasionale reis wat net op die kassie en in jou kop kan gebeur, blaai ek deur my foto’s en onthou ons die goeie tye daar, nie so lank gelede nie. Ons neem ons voor om sommer gou weer te begin beplan aan ons volgende Indiese kuier, al gaan dinge dalk heeltemal anders daaruit sien, wanneer die pandemie skietgee.

Ons het in die Forte Kochi-boetiekhotel in Prinsesstraat, een van die erfenishotelle van Indië, wat onder die Paul John Resorts & Hotels-groep val, gebly. Dis op een van die klein stukkies land, Fort Nagar, wat soos souskluitjies in die see dryf en met brûe aan mekaar verbind is. Die hotel was aanvanklik ’n Joodse familiewoning en is vandag slegs ’n derde van die oorspronklike gebou. In die pragtige vierkant langs die ekstragroot swembad, is ’n mikvah of Joodse bad – een van slegs twee oorblywende Joodse baddens in Kerala.

Buite ons kamerdeur is ’n toegeboude ingang na die gebou langsaan, ’n identiese weergawe van die hotel, maar net in ’n baie verwaarloosde toestand. Die hotel is twee jaar gelede geopen en die opknapping met sorg gedoen. Die portier vertel dat mens die invloed van al drie kolonialiste – die Hollanders, Engelse en Portugese – duidelik in die argitektuur van die stad sal sien.

Die pragtige Forte Kochi-boetiekhotel waar ons gebly het. (Foto: Clifford Roberts)

Die restaurant op die grondvloer, Jetty, is ’n smulpaap se droom. Ons lê met elke ete weg aan die volle Kerala-middagete wat kerries, rou groente, hoendertikka, naanbrood, gepaneerde botter masala, dadelpiekels, papad (dun, krakerige brood) en semiya payasam (soortgelyk aan vermicelli) insluit. Een middag kom kuier die hotel se skakelbeampte, Asa Abraham, saam met ons. Sy verduidelik wat elke gereg op die tamaai groot piesangblare is.

Jy skep en eet met jou regterhand en verkieslik sonder mes en vurk, maar ons sukkel! Jou linkerhand word as vuil gereken en jy raak ook nie aan die gemeenskaplike bord met jou linkerhand nie.

Ons verken die omgewing te voet en loer by winkeltjies naby die hotel in, maar wag vir ons eerste voldag vir ’n uitstappie met ’n gids. Toe Vijesh Venu ons vroegoggend by ontvangs ontmoet, sê hy Prinsesstraat is onder die plaaslike inwoners bekend as “Internasionale Straat” vanweë al die verskillende argitektoniese style. Hy doen die afgelope ses jaar stap-, fiets- en kostoere deur die ou dorp en sy trots vir die dorp is sigbaar in elke besienswaardigheid wat hy uitwys. Hy sê toe die stad deur die Portugese regeer is, het Kochi as “Klein Lissabon” bekendgestaan.

Die taal wat meeste in die omgewing gepraat word, is Malayalam, Kerala se moedertaal, soos Vijesh daarna verwys. Sy Engels is egter baie goed. Hy vertel tussendeur dat hy klassieke motorfietse, veral Vespas, versamel en elke keer as ’n ou gehawende een by ons verbyry, draai sy kop.

Hy vertel van die eerste minister se projek, The Clean India-veldtog, waaraan almal moet deelneem om die land se berugte rommelprobleem op te los. Oral wys hy na asdromme met plakkers “Use Me” daarop.

Ons stap by verskeie ruie bome verby, waarvan sommige se blomme swaar aan die takke hang en hul geur jou amper om die draai nog volg. Die kanonkoeël-boom waar die blomme uit die boomstam groei, is my gunsteling. Vijesh sê die boom is ’n heilige een en word Naga Linga in Indies genoem. Die blom, Salavan, word as Boeddhistiese simbool gereken.

Van die wonderlike geregte wat ons geët het, sluit hoenderboudjiesop, rooi rys, kerala paratha, dadel- en mangopiekels, papad, hoendertikka, gepaneerde botter masala, naanbrood, semiya payasam en parippu payasam, in. (Foto: Clifford Roberts)

Hy vertel ons later so in die stap dat die Hindoe-taal vir hom soos ’n wasgoedlyn lyk as dit uitgeskryf word. “Dit lyk of die letters op ’n wasgoedlyn hang.”

Hy stop ook by ’n enorme heilige vyeboom, en sê hulle noem dit die “lopende boom”, omdat sy wortels lyk of die boom sy “tone” neersit en vorentoe beweeg. Dis blykbaar die beste plek om te sit vir meditasie, omdat die lug onder hierdie takke glo baie suiwer is.

Langs die strand vra ons uit oor die allemintige hout- en netkontrepsies op die sand. Vijesh verduidelik: “Hulle is bekend as Chinese visnette (cheena vala), maar dis eintlik die Portugese wat dit in die 1500’s na Indië gebring het. Die visvangery werk met die getye en is ’n tydrowende proses. Ons is in hier in ’n delta van die Arabiese See.”

Dié reusagtige installasies word tradisioneel van stinkhout en ander harde houtsoorte gemaak, om die weerelemente te weerstaan. Die houtarms strek tot 20 meter wyd en word met rotse en een man se gewig gebalanseer. Dié metode is baie raar in Indië en die nette op Kochi se strand is meer ’n toeristeattraksie as ’n manier van lewe, vertel hy.

“In April en Mei is die water te warm; Junie en Julie bring die monsoon weer waterhiasinte en keer die vissermanne meestal met leë hande huis toe. Maar as hulle die dag geen vis vang nie, vang hulle die toeriste met hul bekkighede,” vertel hy laggende.

Ons stap by ’n stalletjie verby, waar daar wel vis verkoop word. “Koningvis – die beste – want hy het net een graat,” vertel die uittandman ons.

Agter hom teen ’n groot boom is ’n advertensie vasgespyker vir die dienste van ’n Chinese kok en kelner. Nie ver daarvandaan nie, vertoef Vijesh by ’n kruiestalletjie. Die ou oom sit kruisbeen en verkoop wilde knoffel vir medisinale gebruik. Die arme plant lyk só verdroog, ek twyfel of dit in hierdie lewe hoegenaamd nog iemand kan help.

By die St. Francis-kerk moet ons ons skoene uittrek en toe ek vra hoekom, antwoord die opsigter dat hulle in 1997 nuwe marmerteëls vir die vloer gelê het, spesiaal vir die besoek van die Koningin van Engeland. Die hele kerk is in 1503 uit hout gebou, maar in 1516 met stene vervang. Dis een van die oudste Europese kerke in Indië en onder die Portugese heerskappy gebou. Die Portugese ontdekker Vasco da Gama is in 1524 in Kochi op sy derde besoek aan Indië oorlede. Sy liggaam is aanvanklik hier begrawe, maar 14 jaar later na Lissabon verskuif. Binne vertoef ons by die grafsteen.

Die Portugese ontdekker, Vasco da Gama is in 1524 in Kochi op sy derde besoek aan Indië oorlede. Sy liggaam is aanvanklik hier in die St. Francis-kerk begrawe, maar 14 jaar later na Lissabon verskuif. (Foto: Clifford Roberts)

In Mattancherry staan die tempel, sinagoge, moskee en kerk baie na aan mekaar in wat onder die plaaslike mense as “Jodestraat” (Jew Street) bekendstaan en ons stap deur die Mattancherry Paleis wat in 1555 gebou is en dus ouer is as die Taj Mahal. Die Portugese het dit as geskenk vir die koning gebou en die Hollanders het dit 100 jaar later verander. Vandag staan dit bekend as “Dutch Palace”. Jy hoor die roep vir gebed van die moskee deur die oop venster van die paleis.

By een van die vele speserywinkels verder af in die straat, spuit ’n vrou Oudh op my hand. Dis ’n peperduur bestanddeel in baie luukse parfuum, maar hier kan jy dit afsonderlik as ’n welriekende olie koop. Die reuk slaan my asem weg en hang die hele middag om my, ten spyte daarvan dat my klere soos nat wasgoed aan my warm lyf hang.

Ons stop by die openbare wasgoedkamers. Hier wapper wasgoed aan kokosneuttoue wat die wasgoed behendig “vasvleg” – geen pennetjies word gebruik nie. Mans en vroue in klein hokkies was wasgoed vir hotelle, gastehuise en ook groter huishoudings. Dit word behoorlik ingeseep, dan baie deeglik op ’n plat klip geslaan, voor dit herhaalde kere met water gespoel word, wat sommer so oor die persoon wat was, die mure en die wasgoed, spat.

Aan interessante muurkuns is daar oor die hele stad geen tekort nie. Ons het hierdie een spesifiek geniet. (Foto: Clifford Roberts)

As die wasgoed klaar is, word dit in sulke koeksisteragtige vlegsels gedraai en op hopies gepak, voor dit opgehang word. Een persoon haal dit af en dan word dit op groot sementblaaie gestryk.

Die bedrading is oud en sal enige elektrisiën die hasepad laat kies. Die vuurwarm strykysters maak die middaglug nog warmer. Een ou tannie vul haar horingoue strykyster met kokosneut-steenkool. Die yster is loodswaar en lomp en ek kan nie glo dat sy die hele dag met haar spykerarmpies dié ding gebruik nie.

In die orige dae van ons verblyf verken ons nog straatjies en smiddae, as die erge hitte op straat ons energie getap het, lees ons langs die swembad en geniet tuisgemaakte ystee as lafenis.

En tussenin eet ons. Jy kan net nie genoeg kry van die outentieke kerriegeure nie.

Met dié klap ek die album toe, trek my kerrieresepteboek nader en maak ’n lysie van alles wat ek nodig het vir ’n kerrie-ala-Kochi, om die reisherinneringe nog langer uit te rek.

Kitsfeite

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.