Pak jou tas vir ’n vakansie soos min by Winterton

Die Drakensberge se indrukwekkende pieke hou oral oor jou wag, en soos jy die omgewing verken, voel dit asof jy in ’n Pierneef-skildery toer. (Foto: Clifford Roberts.)

Om aan die voete van die Drakensberge in KwaZulu-Natal te kuier terwyl die pieke hoog bo jou uittroon, is ’n ware voorreg, glo Maryke Roberts.

Dis laatmiddag toe ons by ons verblyf in Champagne Valley aankom. Die vriendelike worshondjie, Tiger, kom bedel ’n kopvryf toe ons die deur van Lavender Cottage oopsluit. Dis vriesend, en so terwyl ons die tasse neersit, skakel ek die gasverwarmer en die ketel aan vir tee.

Hoewel ons die wekker vir laatslaap die volgende oggend gestel het, is ons bitter vroeg wakker. Ons gaan sit in komberse toegedraai op die stoep met ons koffie en kyk hoe die vallei onder ons ook wakker word. In die kampie voor die huis wei drie perde en ’n donkie en die mis dryf stadig oor die vallei en verdwyn voor die eerste sonstrale. Onder ons draai rook by die skoorsteen van Scrumpy Jack’s uit.

In die teerpad kom ’n trekker aangery. Daar is geen haas nie; en vir ’n hele paar minute sit en kyk ek hoe hy van ’n klein geel en groen kolletjie tot ’n groot masjien verander. Die bestuurder het ’n groot glimlag op sy gesig en ek dink aan die saligheid wat hy daar moet ervaar met die wintersonnetjie op sy lyf.

Almal in die vallei praat van ontbyt by Valley Bakery en dis waarheen ons net ná sonop koers kies. Langs die pad mis ’n roofvoël ons enjinkap rakelings toe hy oor die pad na die dennewoud vlieg. Ons trek af en kyk hoe hy op ’n tak gaan sit – net op die regte plek waar die sonnetjie bak – en sy vere begin skoonpik en sy vlerke strek. Ons verwens die verkykers en voëlboek wat op die kombuistafel agtergebly het, maar geniet die stilte tussen die bome en om die reuseroofvoël te beskou, asof daar by ons of die voël ook geen haas is nie.

Binne die restaurant brand die kaggel en die gesels klink jolig. Almal wat half verkluim by die deur inkom, se oë haak hongerig vas by die yslike croissants by die ingang. ’n Jong ma het haar twee seuntjies ferm agter die nekke beet en por hulle aan om verby te stap en hul hande in hul baadjiesakke te hou.

Die bakkery maal hul eie meel en ons ontdooi langs die kaggel en geniet ontbyt en stomende koffie.

Nie ver daarvandaan nie, is die Drakensberg Brewery waar die broumeester Nick Roberts van Woensdag tot Sondag vir jou wag met ’n koue een. Hy maak verskeie soorte bier in botteltjies of biervaatjies. Die plek vir ’n Sondagete of net lekker kos deur die week, is Champagne Bistro Cafe, ’n katspoegie verder. Dit behoort aan Elsa Buys, die Kokkedoor 2-wenner. Tydens Covid-19 het sy buite die boks gedink met haar Feast Boxes. Gelukkig kan jy nou weer gaan aansit.

Daar is tyd om by nog ’n paar plekke in te loer, voor ons die roofvoëlvertoning om 10:30 by Falcon Ridge wil meemaak. Ons gaan proe kaas by Macedonia Cheese waar al die kaas volgens Masedoniese tradisie gemaak word. Ek lees teen die muur dat agter elke stukkie kaas daar ’n bietjie aarde en hemel is. Hierna volg ons ons neuse na die sjokoladewinkel, The Drakensberg Chocolate Memories Chocolate Bar daarnaas, waar ons ’n koffie-en-sjokoladeproe doen.

Ons verken die pad verder tot waar die pad doodloop by Monk’s Cowl in die Maloti-Drakensberge-park. Hier koop ons oulike klei- en sementdiertjies wat Malinda Sithole by die hek verkoop. Hy vertel dat hy die tegniek by sy oom geleer het en gereeld rooi klei in die Tugelarivier gaan haal, wat hy dan met sement meng en die diertjies met die hand maak. Ons kyk hoe hy van die diertjies met wit en swart verf inkleur, maar ons koop die koedoe ongeverf en nog effe nat en ry met die kleidiertjie voor op ons paneelbord om behoorlik droog te word.

Malinda Sithole maak klei- en sementdiertjies en verkoop dit by die hek van die Maloti-Drakensberg-park. (Foto: Clifford Roberts)

By Champagne Castle Resort sit ’n man en verkoop stapstokke. Hy kry gereeld aftrek, want hierdie omgewing is ’n stapper, bergklimmer en fietsryer se paradys.

Ons is net betyds om goeie sitplekke by Falcon Ridge Bird of Prey Centre te kry. Dis stampvol en die stoele is in ’n halfsirkel uitgepak, met die hele vallei aan ons voete. Voor die vertoning kan begin, roep ’n visarend reg agter ons. Ek sien toe eers die tamaai voël op ’n tak sit. Sy voet is vasgemaak aan die tak, maar dit verhoed hom nie om kort-kort sy roep oor die vallei te laat eggo nie.

Ek moet lag toe drie klein dogtertjies hand aan hand op ’n veilige afstand vassteek, terwyl hul ma nader stap om ’n foto van die visarend te neem. Die oudste van die drie waarsku in ’n dun stemmetjie: “Mamma, moenie te naby gaan nie.” Kinders is maar net die klankbord van hul ouers en dis regtig snaaks as hulle die slag hul ouers se gedurige prekies herhaal.

Ons gaan sit in afwagting, maar die jong kinders kan nie lank genoeg stilsit nie en gaan kyk kort-kort na die visarend. Die voël pof sy borsvere op en gooi dan sy kop agteroor, voor hy roep. Dit gee my hoendervleis om die bekende klank van Afrika wat vir menige toeris sy besoek volmaak maak, so naby te kan aanskou.

Die vertoning duur ’n uur en ons ontmoet, onder meer, ’n witkruisarend, bruinarend, ’n uil en visarend, wat almal in jagdemonstrasies gebruik word, om mense meer oor dié roofdiere te leer. Al die voëls is beseer en hier gerehabiliteer en dié wat in die vertoning gebruik word, kan nie weer na die natuur terugkeer nie. In hokke sit verskeie ander voëls wat aan’t herstel is en weer vrygelaat sal word.

Op pad na Cathedral Peak Wines, draai ons by Scrumpy Jack’s in, want ons gasvrou by Lavender Cottage, Marelize Stewart, se heuningkaaskoek is legendaries. Sy bak dit al vir 14 jaar en vertel dat dit haar tante se resep is wat sy aangepas het. Dit word met nastergalbessies (of Msoba, soos dit in hierdie geweste bekend is) of met suurlemoensmeer (curd) bedien. Saam met die Earl Grey-tee gly dit te lekker af.

Langs die tuinpaadjie lê ons getroue vriend, Tiger die worshondjie, en Porky, die boepensvarkie en slaap. Porky snork so, ons kan ons selwers skaars hoor praat en Marelize vertel trots dat mense van oraloor eintlik vir Porky kom kuier en kaaskoek eet – min gepla met haar of die res van die personeel.

Marelize se man, Deon, is ’n byeboer en hulle verkoop allerhande heuningprodukte binne die winkel. Deon bestuur ook sy eie Bye-akademie, waar hy byeboere oplei, maar die afgelope paar maande het al hul aandag na hul splinternuwe restaurant en padstal gegaan. Dis onder die verblyfeenheid en bied ’n pragtige uitsig oor die vallei.

Ons het bykans ’n halwe dag by Cathedral Peak Wyne gekuier. (Foto: Clifford Roberts)

Middagete is bespreek by Cathedral Peak Wyne net buite Winterton. Jy ry tussen die mielielande en groen blokkies wingerd verby, voor jy by die twee wynvate neffens die pad indraai.

Die wynplaas se stoep bied ’n uitsig oor die wingerde en ’n dam in die verte. Die kameelperde en wildebeeste drink rustig aan die koel water. Ons eet soos mense wat uitgehonger is, maar die stadig gekookte beesstert is so vertroostend saam met keldermeester, Flip Smith, se rooi versnit, Unesco 985, dat ons vergewe sal word.

In die verste hoek sit pa en dogter en skaak speel; Pa se hand rustend op ’n glas van Flip se pinotage.

Ons vra of Flip ons deur die kelder sal neem. Hy skerts dat dit eintlik ’n graan- en sojaplaas was en wyn was half ’n bysaak, tot dit pryse verower het.

“Dis nie maklik om met wingerd hier te boer nie. Die klimaat wissel van een uiterste tot die volgende, die swartryp en voëls teister jou druiwe en mense steel bokse vol; onbewus dat wyndruiwe nie lekker is vir eet nie,” vertel hy.

Flip sê hy het gou geleer dat jy hier saam met die wind moet aanplant.

“En dis nie maklik om werkers te kry nie. In die Kaap was ek gewoond mense werk met wingerd en jy kan hulle min leer van snoei en oes; hier het die meeste van hulle nog nooit ’n wingerd gesien nie.”

Ons ry met ’n boks wyn weg; elkeen ’n trotse houer van verskeie pryse en sal probeer om dit nie alles uit te drink voor ons terugvlieg Kaap toe nie!

Ons sit voor slaaptyd op die stoep met ’n koppie tee en kyk sterre wat sonder die hindernis van stadsliggies soos feetjieliggies aan die hemele hang.

Dis weer vroeg uit die vere om by Sandra se Winkel aan te gaan. Ek het etlike jare gelede van Sandra Lemmer se versamelplek op Rosendal gehoor, maar nooit daar uitgekom voor dit gesluit het nie. Sy het letterlik sak en pak, oftewel sink en dak, van Rosendal oor die Oliviershoekpas getrek en haar winkel en klein museumpie hier kom staanmaak.

Sy woon nou hier neffens haar winkel en museum, sowat 20 km buite die dorp in Cathkin Valley. Ons ry die laaste stukkie grondpad en sien die koeie wat op die witgerypte stoppellande wei. ’n Mistigheid hang om hul knieë en klein witreiers pik langs hul pote.

Die grondpad forseer jou om stadiger te ry en dis asof jou pas ook sommer stadiger word; dat jy dinge om jou behoorlik raaksien en die koue, skoon lug diep in jou longe intrek.

Ek moet myself wegskeur van die enamelware, outydse lekkergoed, houttolle, rokpatrone en alles wat my weer soos ’n klein dogtertjie met bokstertjies laat voel. Langs haar winkel is ’n klein kunsgalery met werke van drie voormalige Ardmore-keramiekkunstenaars, wat nou onder die naam Zimele (onafhanklikheid) werk.

My hart is swaar toe ons groet. Die twee kleibeeldjies van Malinda Sithole dra ek dae later in ’n boksie op die vliegtuig. As ek in die sementogies kyk, verbeel ek my ek asem weer die vars berglug van die Drakensberge in.

Kitsfeite

  • Bespreek jou middagete of wynproe of selfs troue by Cathedral Peak Wyne by [email protected] of 063 075-1123.
  • Falcon Ridge Bird of Prey Centre in Cathkin Park is die ideale familie-uitstappie. Die voëlvertonings is daagliks om 10:30, behalwe Maandae en Vrydae. Bel Greg en Alison McBey by 036 468 1752 vir meer inligting.
  • Scrumpy Jack’s en Lavender Cottage waar ons gebly het, is albei die eiendom van Deon en Marelize Stewart. Bel hulle by 036 468 1308 vir verblyf, heuning en byetoere.
  • Bel Sandra Lemmer van Sandra se Winkel vir ’n goeie skeut nostalgie by 082 371 2137 of epos [email protected]

*NEEM KENNIS: Hierdie rubriek is geskryf in ‘n tyd waar alkoholverkope nie volgens die Covid-19-afsonderingsregulasies verbied is nie. Indien jy tans in die omgewing is, sal enige alkoholverkope nie toegelaat word totdat die regulasies weer aangepas word nie. -Red

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.