Pak jou tas want Paternoster gaan jou pas

Wanneer daardie eerste “krief” voor jou neus gedruk word, weet jy jy is in Paternoster. (Foto: Clifford Roberts)

Paternoster is ’n ware wegbreek en die soort seevakansie waarna jy as kind heeljaar uitgesien het en nou as grootmens weer kan herleef. Wanneer die R399-pad van Vredenburg jou motor by die stopstraat laat halt, word die eerste arm met ’n allemintige kreef letterlik deur jou oop ruit gesteek met die uittand-groet: “Krief! Krief!” en die spanning in jou skouers gee skiet, skryf Maryke Roberts.

Skaars 15 meter verder op linkerkant is die oulike Oep ve Koep-winkel op Paternoster ingerig. Die ouderwetse afgewitte vissersgeboutjie bevat ’n goeie versameling begeerlikhede wat wissel van suiwer Velddrif-sout in fraai kaasdoeksakkies, tot emaljeware en tuisgebakte lekkernye. Dis egter anderkant die deur met sy dik geweefde tou, wat die gelukkiges van die gelukkigstes skei: hier in die Bistro gee sjef Adel Hughes aan die term “vars seekos”, ’n ander betekenis. Dis ’n ruwe plekkie: gedeeltelik sementvloer, gedeeltelik buite in die tuin met fyn skulpies, ’n ou vissersboot met plante in en ’n boom wat sy storie moet ken teen die harde Weskus-klimaat se uiterstes.

Daar is ’n sakkie vir jou masker en elke tafel het sy eie handreiniger en drommetjie vir servette, sodat die personeel dit nie hoef te hanteer nie.

Agter ons brand ’n vuurtjie met ’n belofte van later, en bo-oor die rustige musiek wat om ons enkels kom nesskop, klink die “Krief! Krief!” voortdurend.

Die lentespyskaart is ’n seefees: soutslaai taco’s met ’n heerenboonvulsel, Saldanha oesters, klipmossel (of perdevoet in die volksmond) fyngemaal en berei met neutmuskaat, suurlemoen en witwyn en bedien in hul eie dop; vars mossels, seepampoentjies, tuisgemaakte maasbankerbokkoms; teegerookte engelvis met seewier (of klipkombers soos die Weskussers dit ken). Adel bedien die blesboksosatie op ’n wilderoosmaryntakkie ingeryg, met ’n krakerige braaibroodjie en mosterdsous (ode aan haar oorlede oupa Ben), ’n gepekelde waterblommetjie en sambal.

Nagereg is wildesalie-melktert met ’n gepreserveerde nartjie en amandel-tuille. Al die wyne op die spyskaart is trots Swartland, want dis die wynstreek waarin ons kuier, verduidelik sy.

Ek weet meeste van die geregte wat ek nou beskryf het, is nie ongewoon op spyskaarte nie. Maar bitter min van daardie disse word ’n katspoegie daarvandaan van die rotse of uit die see uitgehaal. Bitter min sjefs gaan stap op die duine en oes duineslaai of soutslaai of werk met seewier – nie die Japannese weergawe uit ’n pakkie nie. Daar is ook nie souse en bymiddels nie; net sout en kruie uit die tuin wat die kos in jou mond waarlik soos see laat proe.

“Ek glo aan vars en plaaslike bestanddele en meng nie te veel in met hulle nie; hulle is die sterre van die maal,” gesels sy. Adel vertel voorts terwyl ek oor haar skouer loer terwyl sy die engelvis oor die kole berei, dat sy hou van eksperimenteer en natuurlik baie leer by Kobus van der Merwe, van die bekroonde Wolfgat Restaurant, wat Oep ve Koep se sussie is.

Die bistro was voorheen ’n teetuin en die afgelope twee jaar onder Adel se hande. Haar spyskaart wissel vier maal per jaar. Die bistro kan 25 mense akkommodeer en dan staan die vyfmanspan in die kombuis omtrent bont, lag sy.

Iemand breek ’n glas in die kombuis en ek hoor ons kelnerin, Elzanne Carolus, ewe bekkig sê: “Oe, wie se pay is dit daai?” Jy verstaan die verlies, maar die onbevange val van ’n glas wat in duisende splinters spat het sy eie bekoring en drama, net soos die ruwe omgewing en yskoue branders van die Weskus.

Terwyl ons koffie drink, kom die reuke uit die kombuis en Adel erken dat sy eksperimenteer met die disse vir die komende somerspyskaart.

Die Spider Pig Bro Zay Rosé het in ons kuite kom sit en ons gaan klop by ons gastehuis aan.

Gonana Gastehuis in die stil Bekbaai, is die dorp se eerste volhoubare en omgewingsbewuste gastehuis. Met ’n Sweedse entrepreneur as eienaar, is dit ook geen wonder nie. Al die water uit die gastehuis se waterbesparende storte, word hersirkuleer om in toilette te spoel en tuine nat te maak, wat verder aangevul word deur reënwatertenks wat slim ingespan word. Sonkrag en gas is die laaste omgewingsvriendelike soldate.

Deel van die gemeenskaplike sitkamer by Gonana Gastehuis, waar gaste kan sit en ontspan, of oor ’n glas wyn kuier. (Foto: Clifford Roberts)

Maar dis eintlik in die binneversiering waar jy die Skandi-gevoel op sy beste ervaar: nie alleen is alles van natuurlike materiale soos linne, gras, bamboes of hout nie, dis ook indringerdennehout en linneware wat werkgeleenthede skep, wat gebruik is.

Alles is in skakerings van wit, savanna en room en herinner aan die lang gras van die ooptes van die Bosveld. Die leefvertrek by die trappies op is waar jy ontbyt eet, waar die eerlikheidskroegie is, met tydskrifte en boeke, sou jy wou sit en lees. Buite op die balkon kan jy skemerkelkies geniet, of soggens met jou koffie daar op die bankies oor die see kyk.

Ek is dankbaar vir die koel sementvloere onder my voete, en wil-wil net op die tamaai bed met sy wit beddegoed gaan lê, toe my man sê ons gaan eerder op die strand stap met ons voete in die koel water.

Ons kamer is op die grondvloer en het sy eie klein stoepie; ses lang treë tot by die klein houthekkie en woerts-warts is jy op die spierwit sand. Die baai is klein en beskut en ons is net vier mense wat stap. Die windjie is koud en die water om ons enkels nog kouer, maar die ideale manier om jou naweek behoorlik af te skop.

Op ons stoepie, later met ’n glas wyn, snoepgoed en ons boeke, hoef ek nie eers my man se harde ukulele-klanke stil te maak nie, want die branders raas só, geen mens kan enigiets anders hoor nie.

Ons kry verskeie besoekers: eers ’n piepklein karoolangstertjie, toe ’n kwikkie, ’n Kaapse tiptol en ’n klein akkedissie. Daarna kom ’n spierwit Labrador met ’n dik swaaistert om ’n kopvryf bedel.

Tussendeur kyk ons hoe seemeeue hoog vlieg met ’n mossel in die bek, dit dan op die harde sand laat val, om die skulp te kraak. Die voël vryval vir ’n paar millisekondes langs die skulp, voor dit sagkens op die sand land en sy happie inspekteer.

Die son gaan skouspelagtig agter die visserskuit in die verte onder, toe ons ingaan om te stort en aandete gaan soek.

Die dorp is ’n smulpaap se droom en die lang lys met voorstelle van restaurante in ons kamer, wat die eienaar, Jonas Sandström, self opgestel het, is bewys daarvan.

Ons drink drankies in die ou hawe by Paternoster Waterfront & Crayfish Wharf op ’n stoepie, stap hand aan hand oor na De See Kat en smul aan soesji en geniet wyn by ’n kersie wat in seeskulpies balanseer. Die pienk lug dans om die vuurtoring by Cape Columbine, neffens Tietiesbaai, se reusagtige lamp.

Oral is mense in linnehemde, groot sonhoede, en los langbroeke, maar met plakkies aan. Jy kan nie anders as om te dink jy is iewers op ’n eiland nie!

Met ons kamer se luike toe, maar die vensters oop, sus die branders ons aan die slaap. Ná ontbyt bo in die gemeenskaplike eetkamer, gaan ons die dorp te voet verken. By The Trading Post koop ek vir ons ’n pak kaarte en ’n man kom met ’n leë gaskan in vir hervulling terwyl ’n vrou spykers kom soek. Sowaar ’n handelshuis soos van ouds!

Die huisies op die dorp spog met name soos Bokkompie, Strandlopertjie, Slakkepas, Koestertyd, Tietiesdraai, Patertjie en Paljas.

Teen middagete is die Paternoster Hotel se stoep propvol en The Panty Bar met al die vroulike fyngoedjies wat uit die dak hang, kook! Oorkant die pad is ’n kostrokkie genaamd Ouma se Kombuis, met Weskus-straatkos en hier sit mense en smul by houttafeltjies.

The Hobnobbery Co-op is Megan McKenzie en Ingrid Steenkamp se nuwe besigheid en bestaan uit Tumblewood en The Drunken Pecorino. Die winkeltjie is ’n klein oase met snuisterye, baie plante en ou goed. (Foto: Clifford Roberts)

Toe ons later by The Hobnobbery Co-op inloer, waar jy deur lae hobbit-deurtjies stap, is Ingrid Steenkamp en Megan McKenzie besig om plakpapieropsies te bespreek. Die ou geboutjie waarin hul nuwe besigheid – Tumblewood en The Drunken Pecorino – gehuisves word, was toentertyd ’n donkiestal en hul donkieskets as moontlike plakpapier, dra baie goedkeuring van kliënte weg. Die winkeltjie is ’n klein oase met snuisterye, baie plante en ou goed, en jy kan jou verbeel jy is enige plek in die wêreld. Dié deel is Megan se baba.

Glase hang bo die klein kroegie aan ’n krulletjies diefwering waardeur feetjieliggies gevleg is en die varsgemaalde koffie my mond laat water.

Ons gaan sit in die een vleuel van die klein restaurantjie met ons koffie en varsgebakte croissants en Ingrid laat ons van die heerlike handgemaakte kaas van kaasmakers in die omgewing, soos Kokerboom en Langbaken, proe. Dis nou waar The Drunken Pecorino inkom, vertel sy toe sy inderdaad ’n stukkie kaas met dié naam oorhandig. Varsgebakte ciabatta, kouevleis en ingelegde goed pryk op die rakke agter haar. Sy is ook die eienaar van die Paternoster Xpress, waar jy beslis meer as net ’n handelswinkel met brood en melk vind.

Ingrid sê in seisoentyd bak sy tot 100 ciabattas per dag en mense bestel maar.

“Ons bly nie te laat oop nie, want besoekers kom gou in die Paternoster-ritme en teen sononder is almal by die huis om te braai. Selfs die restaurante is nie ounag oop nie.”

Daar is allerhande pittige wyshede soos hierdie by die gewilde restaurant, The Noisy Oyster. (Foto: Clifford Roberts)

Aan die verste punt van hul geboutjie, ontmoet ons vir Camilla Richter by Lily’s,’n piepklein bakkerytjie, wat ook lekker koffie verkoop. Sy en haar man, Peet Steyn, verkoop sy tuisgebakte brode, charcuterie (delikatesse), handgeweefde hoedjies en ander snuisterye. Peet beman oor naweke ’n stalletjie by die markte op Yzerfontein en Hopefield en sy doen hier diens.

Laatmiddag kom die bootjies in hawe toe en mense koop vars vis om die aand te braai. Dis omtrent ’n sosiale geleentheid daar: klomp mense kom net om te gesels en dit voel sommer feestelik.

Die middag toe ons terugkeer na Gonana, vang iets my oog. Tussen die klein witgekalkte vissershuisies staan twee mans met ’n lang leer, verfblik en kwas. Een balanseer bo-op die leer, terwyl die ander een van onder raadgee. So ’n paar tree verder staan ’n ouer vrou. Ek gaan nader en vra wat hulle maak. Sy verduidelik haar man van 50 jaar is verlede maand oorlede. Hy was geliefd op die dorp en bekend as “Oem Sloem” en sy huldig hom nou deur sy naam op hul huis te laat verf.

Ons is albei in trane toe ons verder stap. Met al die gepeusel, los ons aandete en kuier eerder op ons stoepie met wyn en speel kaart tot laat.

Sondagoggend gooi ons vroegdag die luike oop; vryf weer die hond – wat ons intussen uitgevind het aan een van die gaste behoort en Whitey heet – se kop en gaan koffie bo. Ons sit weer op ons stoepie en kyk hoe vroegoggendstappers, honde, drawwers en kinders met grafies en emmertjies op die strand kuier. Toe ek later ons kamerdeur na die gastehuis oopmaak, kom haal die reuk van varsgebakte sjokolade muffins my onder by die trap.

Met ons vertrek laatoggend, het ek verskeie stopplekke in die dorp, waar ek gister brood, koue vleis, koffiebone en kaas gekoop het. Dit gaan ’n feesmaal wees as ons later tuiskom en só die Paternoster-ritme vir effe langer in ons litte hou.

Kitsfeite

  • Paternoster is 160 km van Kaapstad en sowat 40 km van Langebaan. Daar is baie te sien en doen in die omgewing. Een van die stopplekke waarvoor jy gerus kan tyd inruim, is die Weskus Fossielpark, met fossielreste van maar as 5 miljoen jaar gelede. Meer inligting by https://fossilpark.org.za/
  • As craft bier jou kuif laat opwaai, gaan kuier heelmiddag by Paternoster Brouery net buite die dorp. Die bier is yskoud, die kos is vars en lekker en om oor die vlaktes te staar en bietjie uit die dorp se geroesemoes te kom, ’n lekker afwisseling.
  • Bespreek jou seekos-fees by https://www.oepvekoep.co.za/.
  • Besprekings vir Gonana Gastehuis is by 074 555 3063, [email protected], of besoek www.gonanaguesthouse.com

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.