Plaassjarme en koskuns buite Plett

Villa Villekula is die plek om te besoek vir ware hartskos. (Foto: Verskaf)

As jy wil weet of ʼn plek waarlik sy pronkvere werd is, gaan vra die locals. Ná vyftien jaar in hierdie geweste het ek darem nou al ʼn goeie idee wat local én lekker is. Villa Villekula buite Plettenbergbaai is een van daardie eetplekke waarheen die plaaslike inwoners graag terugkeer vir ʼn spesiale viering, of waarheen hulle die familie en vriende wat van ver af kom kuier, uitneem. Waarom? Want die veranderende spyskaart voel soos ʼn eksotiese reis in die kleine en die atmosfeer ís gesellig. Jy ervaar ook iets van die ware karakter van die Crags – die plaasgebied buite Plett waar die restaurant geleë is en waar jy allerlei soorte mense aantref, van boere tot beeldhouers, wynmakers en pottebakkers, uitlanders en binnelanders, natuuravonturiers, sportmaniakke en afgetredenes. Inwoners kies die Crags doelbewus vir die rustiger leefstyl, en plaasrestaurant Villa Villekula met sy stadigkokende geregte pas perfek by dié filosofie in.

Villa Villekula is natuurlik die naam van storieboekkarakter Pippie Langkous se woning wat ons in Afrikaans as Huis Winderuis ken. Pippie had nou wel ʼn apie op die skouer en ʼn perd op die stoep, maar op dié restaurantstoep sal jy allerhande ander waardige dierasies aantref, soos ʼn gemmerkat, ʼn hoender en ʼn donkie. Die vyf honde op die werf kom ook al stertswaaiende nader om met besoekers kennis te maak.

Die plaaskombuis se deure word slegs vier aande per week vir ʼn spesiale twee- of driegangbuffet oopgegooi. Koffie wat in die emalje koffiepot op die houtstoof kook dra tot die huislikheid by. Al die kos word deur eienaars Daniela en Willie Gouws berei en bedien.

Daniela het op ʼn dorpie buite Frankfurt in Duitsland grootgeword. As agtienjarige het haar sjefopleiding by ʼn vyfsterhotel in Duitsland met ʼn gesogte Michelin-ster-restaurant begin. Later het sy haar eie restaurant in Duitsland besit en die wêreld vol gereis voordat sy in 2000 in Suid-Afrika tuisgekom het. Hier het sy Plettenbergbaai se eerste Italiaanse roomyswinkel begin. Willie is oorspronklik van Kaapstad, maar hy het gereeld rondom ʼn familieplaas in die Karoo se houtstoof gekuier. In 1985 het hy Plettenbergbaai toe geskuif waar hy eetplekke op die been gebring het. Daniela en Willie se paaie het gekruis, hulle het hul besighede verkoop en saam ʼn aantal kosprojekte aangepak, asook ʼn vintage winkel, terwyl hulle dogter ʼn perdryskool begin het. In 2017 het hulle ʼn 3,2 hektaar plot in die hart van die Crags aangeskaf en met behulp van hulle goeie vriend, ekoargitek Dirk Hanekom, die ekovriendelike Villa Villekula opgerig. Dis uit hout, glas en staal gebou en rus op agtien pilare om die impak op die natuur te verminder. Ná slegs tien maande van “intensiewe pret en harde werk” is die deure vir die publiek geopen.

(Foto: Verskaf)

“Terwyl ons gebou het, het ons heeltemal off the grid gegaan. Omdat ons geen hiper-tegnologiese kombuistoerusting kon gebruik nie, het ons ons geliefde houtstoof gebruik, en só is die idee om terug te stap in tyd en tradisionele kos met ʼn moderne kinkel te kook, gebore,” vertel Willie.

(Foto: Verskaf)

Die spyskaart word elke week van nuuts af uit ʼn versameling van ongeveer 250 disse saamgestel – só hou hulle die koskuns interessant, vir hulself en hul gaste. Daar word met geure, kleure en verskeidendheid geëksperimenteer. Dis egte huiskos, maar dikwels ook kos uit ander kulture. Een aand kan jy Turkse hoenderpastei, bief zucchini koftes, koeskoes met dadel en neute, gebraaide kerrieaartappel, romerige spinasie met babaworteltjies en preie, geroosterde pampoen met koljanderolie en ʼn vars sigeunerslaai (gypsy salad) verwag. ʼn Ander aand bestaan die buffet weer uit krakerige varkmagie en aartappel rosti, ʼn tuinslaai met peer, bloukaas en okkerneut, en filet met sampioen-brandewyn-sous. Soms word geduldig-geroosterde lamsvleis met pampoenpoffertjies voorgesit. Poedings wat soms opduik is Amarula-crème brûlée, suurlemoenkaaskoek, sjokolade-en-speserybrood en tipsietert.

“Dit maak ons gelukkig wanneer ons gaste van ons kos as ‘hartskos’ praat,” sê Daniela.

Net soos die kos is die gebou en dekor ook aards en nostalgies. Die dak is van sink en die mure van hout. Vanaf die stoep kyk ʼn mens oor ʼn natuurlike dam van 2 000 m2 uit. In 2017 is Villa Villekula vir die tydskrif Tuis se Regruk met Flair-kompetisie ingeskryf waar dit ʼn derde prys uit 350 inskrywings gewen het. Die dekor is duidelik met die hand uitgesoek en het glo ʼn leeftyd geneem om te versamel. Daar is ʼn antieke tikmasjien en slinger-naaldwerkmasjien. Boekrakke vol klassieke boeke en mure vol klassieke skilderye. Ingeleefde tapyte. Die kandelare is kleurvol en lyk anderlands. Feetjieliggies is deur takkies geryg. Dinge is herbedink en hergebruik: ʼn Ou tabakblik, broodpan en teepot word blompotte; ʼn wynvat word die basis vir ʼn wasbak. Die mosterdgeel rusbank en sagte blougroen mure verklap dat dié mense nie bang is vir kleur nie. Die aanwending van kleur is egter nooit oordonderend nie. Dis verwelkomend, innemend en speels.

(Foto: Verskaf)

Wanneer jy op die sonnige kuierstoep sit en oor die rietdam met die watervoëls in die voorgrond en Tsitsikammaberge doer in die verte uitkyk, en die donkie kom bedel vir ʼn kopkrap terwyl belowende geure vanaf die hartlike houtstoof na jou aanwarrel, smelt jy soos ʼn klontjie botter voor al die plaassjarme. En jy weet sommer: Dié plek sal jou weldra weer sien.

Reisraad

(Foto: Verskaf)

  • Die restaurant is slegs oop vir aandetes op Woensdae, Vrydae en Saterdae. ʼn Splinternuwe spyskaart-vir-die-week word Dinsdae hier op Facebook geplaas.
  • Aandete is ʼn heerlike buffet teen R250 p.p. Bring jou eie alkohol. In die somer begin dit 18:30. Bespreek minstens 24 uur voor die tyd. Skakel: 082 534 0360. Webwerf: www.villavillekula.co.za.
  • Villa Villekula bied ook pragtige verblyf. Ontbyt is slegs vir oorslaapgaste.
  • Tydens grendeltyd het die Gouse ongeveer tagtig van hulle gunstelingresepte in ʼn boek, Localicious, uitgegee.
  • Deurkruis die Crags voordat jy vir aandete aansit. Die omgewing krioel behoorlik van doenighede, van kunsateljees tot bokhaarwinkels, wynplase en die grootste vryvlugvoëlpark ter wêreld. Besoek ww.cruisethecrags.co.za vir meer. Van die mooiste strande in die land, Keurboomsstrand en Nature’s Valley, is skaars 10 minute se ry vanaf Villa Villekula.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.