Plaassjiek by Keurboomstrand

Foto: Carina Stander

Die dag toe ons oudste kind sy heel laaste eksamenvraestel op laerskool geskryf het – die einde van ʼn era – het ons gesin vir ʼn aandjie alleen weggebreek voordat die familie vir die feestyd opdaag.

Oorkant die ingang na Milkwood Glen wei ʼn trop perde aan die voet van die berg. Die paadjie kronkel verby ʼn klompie houthuise in die kusbos tot by ons oornagplek, Baviaanshoek. Nog voordat ons die rooi voordeur oopstoot, verklap die rigtingwyser (ʼn reier van metaal op die spits sinkdak) dat hierdie ʼn annerlike soort plek is. Die vertikale plankies teen die buitemure herinner aan Duitse vagwerk. Al langs die paadjie na die voordeur blom geel bosluisbos, malvas, bloulelies en wilde rabarber hoër as ʼn mens. Die rose rank in ʼn boog en die bougainvillea groei geil. Geelvinke rinkink in die proteas. Madeliefies vou oop in die son. Die voorstoepie met die wit gordyn in ʼn knoop gebind, die deursigtige dakplaat met latte en die tuimelende sterjasmyn steel my hart. Mens ruik die mooiheid nog voordat jy dit sien.

By die voordeur is vetplantjies en skulpe – die optelgoed van mense wat met oop oë deur die lewe gaan. Benita, die hartlike vasvatter wat al sewe jaar lank ʼn ogie oor die vakansiehuis hou, vertel dat die eienaars inderdaad Duitsers uit Duitsland is wat hulle harte op ons mooi land verloor het. Hierdie was die oorspronklike plaashuis van die plaas op die duin voordat die res van die landgoed ontwikkel is.

Oral is tekens van persoonlike aanraking. Die posbusrooi en bottergeel kombuiskaste, groen Smeg-yskas en seegroen kombuis-eiland is speels, maar stylvol. Daar neffens is ʼn vertrekkie met ʼn swart-en-wit skaakstelvloer en koekiedrukkers teen die muur – so huislik soos die gekoer van die duif op die dak!

Foto: Carina Stander

Foto: Carina Stander

Die badkamer met die antieke pootjiesbad, rottangmandjies vol wit handdoek, ruwe sementvloer, skeepsmodel en wit kantgordyn lyk sprokiesagtig. Ons kies die dakkamer met die rusbank, kraakwit beddegoed en uitsig oor die berg. Die ander dakkamer se smal trappies herinner aan ʼn Hartbeeshuisie, sê ons oudste en dis hier waar hy en sy kleinboetie vanaand gaan slaap. Dit het ʼn laslappiedeken en ʼn ronde venstertjie bo die bed. Pure Heidi-in-die-Alpe-styl.

Foto: Carina Stander

Laatmiddag klink ek en Gerrit ʼn glas koue rosé op die agterstoep onder die rankrose. Van hier af is daar geen huis in sig nie, net duinebosse. Die suikerbekkies tjirp, ons een kind swaai in die hangmat en die ander een drink vanieljetee. Salige stilte. Die muisvoël in die fynbos se kuifie wapper in die wind – te winderig vir die strand vanmiddag, maar die braaiplek is windbeskut deur ʼn muur van plante. Ons braai sommer sosaties en mielies vir ʼn maklike aandete. In die huisbiblioteek vind ons ʼn Duitse bordspeletjie, Bau dein Königreich en die “spiel des Jahres Kritikerpreis” op die boks oortuig ons om dit uit te probeer. Gerrit Google gou die reëls en ons speel ʼn rondte. Toe die seuns gaan slaap, kuier ons knus voor die kaggelvuur.

Foto: Carina Stander

Seweuur die volgende oggend stap ons die twee minute se stappie oor die duin na die strand. Dis bewolk en hier is net ʼn paar vissermanne. Vanaf die publieke plankpaadjie voor Enrico’s-restaurant loop ons strandlangs na die bekende klipboog (Arch Rock) van Keurbooms. Gelukkig is dit laaggety, anders sou dit ʼn gespook en gespartel wees om verby die seepgladde rotse te kom. Die son breek deur die wolke, die seuns klouter die groot rotse uit en die seemeeue en swart tobies fladder voor ons op. Op die laaste deel van dié strandstappie is die rotse oortrek met oranje korsmos en mossels – hier het jy jou skoene nodig. Die smal gaping in die rots vorm ʼn seeboog waar jy kan deurstap. Onder ʼn oorhangrots aan die westelike kant van die Matjesrivier is ʼn argeologiese terrein: ʼn skulphoop van 10 m diep.

Foto: Carina Stander

Ná die stappie is ons honger en draai in by Moss and Maple. Sommer met die intrapslag weet jy die plek het baie siel en die eienaar, Naomi, is ʼn mens-mens. Gulhartig en gesellig. Noami vertel dat sy en haar man John die deure van Moss and Maple drie jaar gelede vir die eerste keer oopgeswaai het, maar ʼn mens kan dit skaars glo, want dit voel ingeleef. ʼn Vuur knetter in die oop pizzaoond. Rankrose rinkel oor die stoep. ʼn Ou fiets, sinkbadjie en melkkanne word ingespan as dekor en vars vrugte word onopgesmuk uitgestal op broodplanke. Terwyl ons vir die kos wag om op te daag, gaan maak ons gou ʼn draai by die waterleliedamme voor die restaurant wat tans in volle blom is. Daarna smul ons omtrent aan die kaasburgers met die behoorlike tuisgemaakte bief-“patties”, spek, gekaramelliseerde uie, agurkies en peppadews. As jy in jou leeftyd net één burger mag eet, kan hierdie bielie maar jou keuse wees! Die porsies is vrygewig en die snye koek groot genoeg dat ons gesin happe by mekaar kan uitruil – karamelkaasboek wat smelt in die mond en sjokolade ganache met ʼn heerlike tekstuur.

Moss and Maple is egter nie net ʼn restaurant en plaasstal nie, dis meer van ʼn plaaspaleis. Dit het groot tuine en enorme buite-speelplek vir kinders vol tonnels, klimrame en swaaie en ʼn geskenkwinkel waar jy oudwêreldse speelgoed soos ketties, handgemaakte poppies en draadkarre kan aanskaf. Jy kan ook kies en keur aan die tuisgekookte konfyt, heuning en beskuit, klere en skoene. Alles fieterjasielose. Aards. Trots Afrikaanse boeresjiek by die see!

REISRAAD

  • Slaap in Baviaanshoek: Corinna en Vaughn beskryf hulle kleurryke vakansiehuis in Keurbooms as “shabby sjiek” en eg huislik. Die vier dubbelbeddens, drie badkamers, oopplankombuis, gesellige braaiplek en kuierstoepe maak dit ideaal vir ʼn groep vriende of familie. Dis skaars twee minute se stap van die strand af en naby ʼn magdom toeristeaantreklikhede, maar as jy sosiale afstand wil toepas in die onseker koronatye, is hierdie private huis ook ideaal. Skakel: +49 173 2110938 of 072 590 6679. E-pos: [email protected]. Webwerf: https://www.baviaanshoek.com/
  • Stap een van mooiste strandstappe in ons land: Parkeer by Enrico’s en stap met laaggety op Keurboomsstrand tot by die klipboog (Arch Rock.)
  • Smul by ʼn plaaskombuis! As jy in hierdie virustye smag na uiteet, is Moss and Maple Restaurant and Farmstall ʼn uitstekende keuse! Die ruim binneruimtes en oop stoepe maak dit ʼn veilige opsie vir sosiale afstand. Om in die plaasstemming te kom, vat sommer die grondpad vanaf die strand. Andersins: draai vanaf die hoofweg in. Dis nie net ʼn eetplek nie, maar ook snuffelwinkel waar jy oulike geskenke kan opspoor. In vakansietye is dit oop van Maandae tot Saterdae, 9 – 5 uur. 044 534 8362. E-pos: [email protected] . Besoek hulle Facebook-blad: https://www.facebook.com/Mossandmaple17

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.