Prettige avonture in die pragtige Plettenbergbaai

Robberg (Foto: Marianne Styan)

Ek moet bieg. Ek was nog nooit langer as ʼn dag in Plettenbergbaai nie. Ek het nog net deurgery of een keer saam met vriende vir ʼn dag daar gekuier. Toe ek genooi word om die dorp te gaan verken het ek dadelik ja gesê, om te sien waarom mense jaar ná jaar, en vakansie ná vakansie terugkeer.

Buiten die bekende restaurant, kuierplekke en natuurlik Plett Rage waarvoor die dorp baie bekend is, het ek op hierdie pragtige en prettige juwele afgekom.

The Bungalow Plett

The Bungalow Plett was ons tuiste vir die tyd wat ons in Plettenbergbaai gebly het. Toe die GPS ons Ford Everest se neus al nader en nader aan die strand laat ry, het ek gedink ons het seker êrens die verkeerde afdraai gevat. Dit was egter die regte pad en ons het letterlik ʼn meter van die see af parkeer, voor die trappe wat lei na die hotel, restaurant en kroeg van The Bungalow Plett.

Perfek geleë op Hobie-strand, is die Bungalow ʼn lieflike wegbreek van jou alledaagse lewe, of dit vir ʼn naweek is of vir die vakansie. Die branders se geklots word oral gehoor. Meeste van die luukse kamers kyk uit oor die see, maar die melkhoutbome bied genoeg privaatheid sowel as koelte vir die hangmatte en hangstoele, wat oral die gevoel skep dat jy op ʼn tropiese eiland in die kleine is. Daar is drie oorspronklik ontwerpte familiekamers wat dit vir die kinders net so lekker maak om binne as buite te wees. Die stapelbeddens is so slim ontwerp dat elke kind hulle eie klein “kamertjie” het, met selfs ʼn deur wat kan toemaak, soos ʼn kokon.

Die restaurant is net om die draai, met heerlike sushi, pizzas en vis op die spyskaart, of geniet ʼn drankie op die boonste dek terwyl jy die uitsig oor die see geniet. Soms word daar vuur gemaak in die lapa wat teen die rotskrans geleë is of op die voorste stoep waar jy die geruis van die see kan geniet op die sofas. As jy nie plek kry om hier te bly nie, kan jy saam met baie ander vakansiegangers net die kos of ʼn drankie kom geniet aan die einde van ʼn mooi somersdag.

Vir besprekings skakel 044 533 1864 of stuur ʼn e-pos aan [email protected] of besoek die webwerf www.capesummervillas.co.za

Sup Keurbooms

Op die Keurboomsrivier, wat uitmond in die see, kan jy die stille waters gaan geniet in die pragtige Keurboom-natuurreservaat. Ná ʼn rustige kronkelrivier-rit vanaf die Plettenberg Bay Forever Resort, meer jy vas by Whiskey Creek vir ʼn uur lange regop-roei (“standup paddling” of “sup”)-ervaring op die rustige waters en versnaperinge wat ʼn glasie vonkelwyn insluit. Geen motorbote word hier toegelaat nie en dit is dus die perfekte plek om te leer om hierdie balanssport onder die knie te kry.

Dis ʼn prettige maar rustige ervaring wat vir die hele gesin pret sal wees. Die hoogtepunt is verseker die pragtige natuur wat jy vanaf die water kan geniet.

Kontak SUP Keurbooms vir besprekings by 060 998 1518 of besoek die webwerf www.standuppaddling.co.za.

Robberg-voetslaanpad

Die Robberg-natuurreservaat is net buitekant Plettenbergbaai geleë. As een van die SanParke kan ʼn Wildkaart gebruik word om hier in te gaan.

Die dag wat ons gaan stap, lê daar ʼn digte miskombers oor die hele berg. Met die klippe, kranse, brekende branders, groen plantegroei en miskombers lyk dit soos die Skotlandse hoëveld. Daar is drie roetes waarvan voetgangers of velddrawwers (hierdie is ʼn hemel vir hulle) kan kies. Die Gap wat 2,1 km lank is, Witsand van 5,5 km en The Point van 9,2 km. Al drie roetes vurk uit die ander langer roetes uit en jy kan dus van roete verander as jy voel die stap is te uitdagend.

Ons het die lang roete geneem. Deurentyd loop jy al met die kranse langs en hoor en sien jy gereeld robbe wat luilekker op die rotse lê, ver onder by die see. Dis ʼn uitdagende stap wat baie klim en klouter insluit, maar dit is deurgaans asemrowend, met die mooiste uitsig oor die see toe die son uiteindelik deur die mis breek. Wanneer die gety hoog is, is die klippe soms glad en jy moet koes vir ʼn paar rebelse branders. Ek het egter elke tree geniet en sal dit beslis weer wil doen. Die plantegroei, voëllewe en natuurskoon dwing jou gereeld om stil te hou om foto’s te neem. Dit het ons sowat 2,5 ure geneem om die lang roete te voltooi.

Die reservaat is ʼn beskermde area as gevolg van middel tot laat steentydperkfossiele wat hier ontdek is en te danke daaraan, kan ons hierdie lieflike area geniet sonder die geraas en gewoel van die moderne tydperk.

Swem saam met robbe

Swem met robbe (Foto: Marianne Styan)

Waar jy die vorige dag dalk net afgekyk het vanaf Robberg na die massiewe hoeveelheid robbe wat luilekker in die son lê of tussen die branders baljaar, gaan sluit jy in die waters met hierdie avontuur by hulle aan. En wat ʼn avontuur is dit nie?! Net anderkant die parkeerarea van Hobie-strand vind jy die basis van Offshore Adventures in Plettenbergbaai. Red, ons instrukteur, het seker gemaak ons het alles wat ons nodig het om die koue oseaan mee aan te durf. Duikpakke, paddavoete, snorkel en bril. Ná ʼn basiese les hoe om te snorkel en die robbe se natuur te verstaan, vaar ons met volle vaart uit in die see, al met die kuslangs na die Robberg-natuurreservaat, waar ons net gister die kranse beklouter het.

Op pad sien ons selfs ʼn lui olifantrob wat homself tussen die ander robbe kom tuismaak het voor hy na sy natuurlike habitat emigreer. Die robbe raas en gesels al van ver af, asof hulle opgewonde raak oor die besoekers wat saam met hulle in die water gaan kom speel. By die aangewese area gly ons almal die water binne (wat rêrig nie so koud is soos ek verwag het nie) en dan is dit net jy en die robbe. Robbe is uiters sosiale diere en solank jy die natuur respekteer, is hulle baie gelukkig om hulle woonbuurt met jou te deel.

Vir my was dit ongetwyfeld ʼn hoogtepunt. Die robbe speel met mekaar en met jou, terwyl ons almal in die water langs die kranse snorkel. ʼn Hele paar keer skrik jy jouself boeglam wanneer een van hulle volspoed met ʼn oop mond op jou afpyl en dan net betyds wegdraai! Gelukkig het Red ons voor die tyd gewaarsku dat dit hulle manier van speel is, maar dit maak dit nie minder skrikwekkend nie! Verder duik en swem hulle al rondom ons, terwyl van hulle van nader kom kennis maak en kop onderste bo, vinne in die lug, jou met hulle massiewe ronde oë bekyk.

Om hulle privaatheid te respekteer en hulle nie te gewoond te maak aan mense nie, speel en swem mens net ʼn halfuur saam met hulle, maar dit voel soos ʼn leeftyd se ervaring waaroor jy nie uitgepraat kan raak die hele bootrit terug nie.

Bespreek dié onvergeetlike ervaring by 082 829 0809, stuur ʼn e-pos aan [email protected] of besoek die webwerf www.offshoreadventures.co.za.

Knysna Zipline

Hier moet ek ongelukkig sê ons het nie self hierdie aktiwiteit gedoen nie – nie dat ons nie probeer het nie! Die weer het net volstrek geweier om ons tegemoet te kom. Eers het dit gereën en toe waai erge wind die reën weg. Albei nie ideale toestande om aan ʼn tou ʼn hele paar meter bo die grond te hang nie. Die Zipline-span is gelukkig baie professioneel en weet wanneer dit nie gewenste omstandighede is nie en jy kan dus met ʼn geruste hart weet hulle sal die beste vir jou besluit.

Die nuut-oopgemaakte Knysna Zipline van SA Forest Adventures bied van die langste ziplines wat jy al ondervind het, met van oor die 200 m hoë lyne, waar jy oor die Knysnawoud en kranse seil. Dit is gebou om die Kranshoek SanParke-piekniekarea te komplementeer en gee familielede wat aan erge hoogtevrees ly, iets om te doen terwyl jy jou “vlerke” in die lug ontdek.

Ek ly aan hoogtevrees, maar om die natuur vanuit hierdie hoek te verken, het my gemotiveer om dit wel aan te pak, maar ongelukkig gaan ek moet wag vir beter weer.

Besoek die webwerf www.knysnaziplines.co.za of stuur ʼn e-pos aan [email protected] vir hierdie ervaring. Covid-19-regulasies maak dit noodsaaklik om te bespreek.

*Marianne is deur Cape Summer Villas genooi om in The Bungalow Plett tuis te gaan.
*Die Ford Everest waarmee Marianne-hulle gery het, is deur Ford geborg. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jaco ·

Plett Puzzle Park is ook n moet vir die omgewing. Fantastiese gesins pret

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.