Proe-proe deur die wêreldbekende Roete 62

Net om seker te maak jy verdwaal nie en bly op die R62.

Die vlaktes van die Karoo, waar die sterre nader voel as enige ander plek op aarde, is ’n hartsplek. Coenie de Villiers sing in die liedjie, “Karoonag”:

In die môre as dit blou word
En die amber wolke roer
As die son sy eerste lig
Oor die bitterboela stoot…

Die verlange na die Karoo het Maryke Roberts teruggeroep na die R62 en sy juwele.

Dit het eintlik alles begin met ’n geskenk van my vriendin. Die Route 62  se gegeurde sojawasblokkies van Balance Cape Town, wat jy oor ’n teekersie laat smelt en jou huis laat lekker ruik. Die wasblokkies se beskrywing sê die geur is geïnspireer deur die “majestueuse rooi cabernets van die wynlande langs die R62”. Sy gee dit vir my, omdat sy kan sien my voete jeuk vir reis en die inperking maak dit net nie só eenvoudig soos ’n jaar of wat gelede nie.

Stadig maar seker begin die idee van ’n kop-skoonmaak-longe-vol-Karoolug-idee by my posvat. Ek lees na, vra aanbevelings, gesels met gastehuiseienaars en hotelbestuurders.

Die dag breek uiteindelik aan. Die Suidooster waai ons weg in die Kaap en ek kan die Karoo se ooptes begin ruik. Ons druk deur tot op Barrydale vir suurdeegpizza en bier vir middagete.

Ryno Reyneke, die bekende Kaapse fotograaf, vertel ons oor een van sy craftbiere dat hy nooit ’n bierdrinker was nie – tot hy bierbrouery ontdek het.

Ryno Reyneke, die bekende Kaapse fotograaf, het hier saam met sy kunstenaarsvrou, Helen Vaughan, kom nesskop. Haar keramiekwinkel is reg langs sy restaurant. Hy vertel ons oor een van sy craftbiere, dat hy nooit ’n bierdrinker was nie, tot hy bierbrouery ontdek het.

“Die bierbrouproses is so uniek en kreatief!”

Ryno het in 2014 saam met Lucy Corne die boek, African Brew, saamgestel en sê hy kon nie glo watter impak die boek op bierbrouery gehad het nie.

Hy en Helen het vier jaar gelede die gebou teenaan die hoofpad gekoop en dit het vinnig ’n reputasie ontwikkel as dié stopplek in Barrydale as jy deurry, of vir lang kuiers as jy vir die naweek op die dorp oorbly. Ryno maak verskillende soorte bier, maar vier is altyd beskikbaar: Blonde, Amber Ale, Saison en Porter.

Bierbrouery was sy passie, vertel Ryno, maar ná ’n koswaentjie (van ’n ander besigheid wat op sy perseel handel gedryf het) mense se belangstelling geprikkel het, het hy besluit om self te begin pizza maak.

“Ek is mal oor die wonderwerk van fermentasie en nou is my suurdeegpizzas legendaries.”

Sy bestanddele is vars uit die tuin. Die borrelwater kom uit die bergfontein en as jy stil sit en luister, kan jy die windpomp neffens die restaurant hoor pomp.

Daar is lekker groot houttafels buite, onder die prieel, waar jy kan sien hoe jou suurdeegpizza gemaak word. Ons verslind die gepluisde vark en balsamieksous en die vegetariese pizza met sampioene en olywe. Die sampioene snuffel hy en Helen elke jaar naby Heidelberg in die dennewoud uit en maak hul eie sampioenpoeier om die geur te verskerp.

“Selfs mense met glutenweerstandigheid geniet die pizza, omdat die fermentasie die gluten afbreek,” gesels hy.

Ons ry daar weg met ’n hele paar botteltjies van sy bier, want later op dié reis is ons by Gamkaberg-wêrelderfenisgebied en daar onder die sterre met Karootjoppies oor die kole, gaan dit vorentoe smaak.

Mymering Wine and Guest House buite Ladismith in die Dwarsriviervallei, is ook die tuiste van Hillock Wines.

Nie lank ná Barrydale klein geword het in ons truspieëltjie nie, begroet die bordjie na Mymering Wine and Guest House buite Ladismith, ons. Die plaas is ook tuiste van Hillock Wines.

Ons bly in die Mae West-kamer, met sy onbelemmerde uitsig oor die Dwarsriviervallei.

Daar is ’n klein swembadjie op ons stoepie en dis waar ons die middag deurbring – soms sluimerend op die sonstoele, dan weer afkoel in die koue water. Laatmiddag is dit spa toe vir ’n massering en vonkelwyn in die borrelbad.

Die wit wolke dryf bo jou kop verby as jou oë traag toegaan. Dis die baldadige bloupers van die bosse wat elke keer uitstaan as jy jou oë vir ’n paar sekondes oopmaak tussen die sluimering in die warm water deur. Die windjie kom op en die voëltjies wat luidkeels konsert gehou het, word stil.

Die natuur-maestro wuif sy dirigeerstokkie en sê hokaai nou, voëlmusikante, laat die Karoostilte en -reuke nou die besoekers se koppe stilmaak en hul siele heel. Ek kan my verbeel die dirigent is ’n grasieuse bloukraanvoël wat sensitief genoeg is om te besef dat besoekers sielerus nodig het. Hy laat die windjie in die populierbos sing.

As die windjie later gaan lê, is die voëlkoor terug: in die verte ’n hadida, dan die nader getjierp-tjierp-tjierp van ’n kraalogie, suikerbekkie of janfrederik of vinke wat nessies bou.

Terwyl die masseerterapeut die knoppe uit my geliefde se skouers werk, teug ek aan die 2016 Penelope Ann Cap Classique en jy besef dat jy nie ver van die huis hoef te reis vir die paradys nie.

Die sakkende son omsoom later die populiere in fyngoud.

Vinnig stort voor aandete van tamatiesop en saadbrood wat die eienaar Andy Hillock self bak en dan lamskenkel saam met die plaas se merlot. Nagereg van sjokolade fondant en tee, rond die perfekte dag af. Die son gaan goud agter Towerkop onder. Die Franse poedels, Moët en Chandon, en die boerboel, Prins Harry, lê en snork op die dik grasperk.

Ons sit laataand op ons stoepie met Struik Nature se nuwe 2021 Sky Guide Africa South – Astronomical Handbook for Southern Africa. Dit gee inligting oor die planete, maar ook dag-vir-dag aanduidings oor waarvoor jy in die sterrehemel op die uitkyk moet wees. Hoe minder ligte van ander plaashuise, hoe beter die sterrekyk in ’n wolklose aand.

Vroegoggend, toe die eerste strale oor die rantjies kruip, is dit die klein klippaadjie teen die koppies uit wat roep. Van bo is die uitsig oor die vallei in alle rigtings onverwags groen en ruig. Hier word wyn-en tafeldruiwe verbou en die netjiese rye lyk soos die stywe vlegseltjies op ’n skoolmeisie se kop. Die aalwyne se punte is goud van die vroegoggendson en die gastehuis en restaurant lê ver onder ons. Gelukkig nie ver genoeg om die reuk van spek en eiers te verdoesel nie.

Eers vinnig deur ons swembadjie op die stoep “duik”, voor ontbyt. Die loomheid van die Karoo-somersdag lê reeds in die honde se lywe – en ons s’n. Met van die vonkelwyn en ’n pasella boks pikswart en stroopsoet uitvoerdruiwe op die agterste sitplek, begin ons aanstaltes maak om te groet.

Dis skaars 18 uur later wat die R62 weer wink, maar die stram skouers van vroeër, het plek gemaak vir ontspanne lywe.

Die kerktoring is van bykans elke hoek in Calitzdorp sigbaar.

Ons ry deur die Huisrivierpas met sy interessante rotsformasies in verskillende kleure, waar jy eintlik om elke draai wil stop vir foto’s, maar nie kan nie. Calitzdorp se kerktoring in die middel van die dorp, is van ver af sigbaar.

By die toerismekantoor wapper materiaalvlaggies vrolik en ek is so bly om te sien daar is toeriste wat met brosjures en kaarte uitstap. By die oulike museum op die hoek, is tweedehandse boeke te koop en geen besoek aan dié dorp is volledig sonder ’n uur of twee daar nie.

Boets Nel van die bekroonde De Krans Wyne kom skud blad by ons tafel onder die druiweprieel. In die hanepootwingerd neffens die bistro, is daar ’n vrolike gelag en gesels, soos mense hul eie hanepoot pluk. Dis elke jaar vir vier weke ’n aktiwiteit op die plaas en oral langs tafels staan bokse druiwe wat gouewang in die sonnetjie deur die ruie blare loer.

Ons smul heerlik by De Krans aan die gepluisde vark met koolslaai op ’n roosterkoek en teug aan die Pinotage Rosé 2020.

Die Rosé 2020, wenner van Rosé Rocks, is ligpienk en die beste teenvoeter teen die Karoohitte.

Dis die gepluisde vark met koolslaai op ’n roosterkoek, wat my oog op die spyskaart vang. Roosterkoek en kerkbasaars en kuiers met vriende by skoue en feeste, is nog iets wat ek mis en wie het kon raai dat daardie heimwee nou ook hier gevul sou word. Daarmee saam gaan die Touriga Nacional so goed, dat die twee in perfekte harmonie saamwerk om ons vir ure daar te laat sit en kuier.

Boets vertel ons van die ander lede van die Klein Karoo Wynroete waarby ons op Calitzdorp kan aangaan vir uitsonderlike wyne. Die streek is al vir jare bekend vir uitstekende portstylwyne, maar dis ook stilwyne van Portugese kultivars; volronde witwyne en brandewyn wat gereeld pryse huis toe bring. Daar is Axe Hill, Boplaas, Calitzdorp Wynkelder, Du’SwaRoo en Peter Bayly.

Boets laat ons van die plaas se bekroonde wyne proe en noem dat Verdelho dié witwyn van die Klein Karoo is. Die kultivar groei uitstekend in die droë klimaat.

Ons ry dorp uit, op pad na ons verblyf. Teen die pad hang twee blikbekers aan ’n tou neffens ’n hek met ’n teken wat waarsku daar is honde. Ek is nie seker of die bekers ’n klokkie is of afskrikmiddel as die honde storm nie…

Laatmiddag is dit Nell en Andrew Rogers, die gawe eienaars van Calitzdorp Country House buite die dorp, wat ons rondwys en aanmoedig om eers te gaan swem voor ons besluit op ’n middagslapie, boeklees of langs die swembad ontspan. Die gastehuis sit hoog op teen die rante van die vallei en bied onbelemmerde uitsigte oor die landbouaktiwiteite in die omgewing. Hul indrukwekkende versameling antieke meubels, verskeie kuierhoekies – een selfs net vir twee mense voor ’n byderwetse kaggeltjie – laat jou onmiddellik tuisvoel.

Die swembad het ’n uitsig oor die Nelsrivier en vrugbare vallei. Die kerk is alomteenwoordig in die verte, baldadige bougainvillea en wingerde omsoom die prentjie. Kort-kort ry ’n trekker en sleepwa op die grondpad oorkant die valleitjie, swaar gelaai met druiwe na een of ander kelder toe. Die opwinding is tasbaar: ’n vrag wyndruiwe is die begin van nog ’n bekroonde wyn uit hierdie streek.

Die son verkleur die koppies oranje en die gin en tonic in my glas kry later sy eie bekoorlike pienk skynsel op die gastehuis se stoep.

Aandete is nie veel verder as af in die grondpad nie, by Zamani Restaurant. Dis die tuiste van die kleinste kroegie op die R62 en sowaar, as daar drie mense sit en twee staan, is daar nie plek vir ’n koue bier nie! Ons smul aan volstruisburgers en weet ons is regtig in die Karoo. En dit gaan heerlik saam met De Krans se Cabernet Sauvignon.

Ons slaap soos dooies in ons ruim kamer met sy swaar gordyne wat die Karooson en -hitte uithou.

Met ontbyt vroeg die volgende oggend is ons terug op die stoep. Uit die kombuis kom die reuk van gebraaide spek en roosterbrood en op die tafel staan ’n indrukwekkende uitstalling van Nell se tuisgemaakte brandrissiesouse en -konfyt. Sy maak dit al vir jare en omtrent elke gas wat oorbly, koop daarvan omdat dit elke dis se unieke geure uitlig.

Du’SwaRoo – die roete se kleinste kelder.

Daarna gaan stap ons in die wingerde in die vallei, voor die eerste besoek by Du’SwaRoo ’n hanetree van die gastehuis. Ons het voorheen by die plaas se vorige eienaars gekuier en wil graag die nuwe eienaars, Kallie en Pat Calitz, gaan ontmoet. Hulle het Du’SwaRoo – die roete se kleinste kelder – gekoop en veranderinge aan die kelder aangebring. Pat het die bestaande reeks atjars, konfyte en ingelegde produkte uitgebrei. Die wynreeks spog nou met pragtige etikette wat hul kunstenaar-skoondogter, Audrey Andersen, geverf het.

Van die etikette het ook die gesin se geliefde Boston-terriërs op en die oorspronklike kunswerke hang in die proelokaal. Van die druiwe koop hulle in en staan in kratte en wag hul beurt af om deur die pars te gaan.

Dis ongelooflik om te dink dat hulle soveel as 200 tot 600 bottels wyn beskikbaar het. Die plasie mag wel klein wees, maar hul wyne is groot menere.

Kallie het vir 20 jaar in die buiteland gewerk en met sy vroeë aftrede besluit hy wil ’n Karooplasie hê en sy eie wyn maak. Die vorige eienaars, Tony en Nita Bailey, het vir ses maande uitgehelp met raad en daad. Tony kom nou nog gereeld inloer om te help met wynmaaktegnieke.

“Ons is so dankbaar vir al hul hulp,” vertel Pat toe ons die olyfsprinkelsout proe.

Met elke wynproe kan jy ’n heilsame vleis- en kaasbord geniet.

“Ek gebruik Nita se resepte vir die ingelegde produkte en het verskeie nuwe produkte bygevoeg. Gaste kan alles saam met die peuselborde proe,” vertel Pat.

Middagete is by Cafe @ The Rose by Louis de Wet en Retief van der Walt, wat al op verskeie plekke interessante restaurante en gastehuise bedryf het en die ete daar voel soos ’n lang kuier by jou gunstelingfamilielede. Baie van die tuisgebak is resepte van Retief se ma en ouma en hier kan jy nie net weglê aan tuisgebakte brood, pasteie of konfyte nie; die koffie is geurig, die atmosfeer het ’n regte outydse kuiergevoel toe musiek deel was van die agtergrond en gesels en lekker eet die enigste rede vir jou besoek was. Daar is proteas in ’n pot te koop; lemmetjies uit hul tuin en outydse houtwasgoedpennetjies in ’n ou porseleinbak. Dis dié plek vir geskenke koop en tuisgemaakte lemonade is koele lafenis. Retief sê alles op die rakke is sy en Louis se smaak, “Tried and tested”, as’t ware.

In ’n antieke vleiskas pronk die pasteie en kort-kort is een van die dorp se boere daar om ’n pastei en koffie weg te neem.

Die gepluisde lam is een van die wenners en Retief vertel dit word vir agt uur in rooiwyn en vars kruie gestowe.

“Ek het ou tradisionele resepte effe bedink met ’n meer moderne aanslag. Die soet- en gemmerkoekies se resepte is só oud, dis nog in ponde,” vertel Retief.

Sy vegetariese disse is só lekker, dit vind selfs aanklank by vleiseters en sy gebakte kaaskoek wat vir 24 uur moet rus nadat dit uit die oond kom, laat mense van omliggende dorpe en plase ry.

Calitzdorp Country House buite die dorp, sit hoog op teen die rante van die vallei en bied onbelemmerde uitsigte oor die landbouaktiwiteite in die omgewing.

Ons is só versadig toe ons by Boplaas Familie Wingerde aankom. The Fledge & Co is een van die dorp se ander avonture: Margaux Nel, die bekroonde wynmaker by Boplaas, het saam met haar man, Leon, hul eie wynetiket begin.

Hy vertel dat hulle uit 48 verskillende wingerde sowat 28 verskillende kultivars aangekoop het om hul interessante wyne te maak.

“Ons gaan wyd om goeie druiwe aan te koop. Goeie druiwe maak goeie wyn,” vertel hy.

Leon som hul wynstyl as “nuwe wêreld met ouwêreld-sensitiwiteit” op en glo baie aan bottelveroudering. Dié duo het al 45 verskillende wyne gemaak. Almal in baie beperkte hoeveelhede, want soms kan hulle net ’n krat of twee van ’n spesifieke kultivar aankoop.

Leon is passievol oor hul wyn en tussen die proe deur, erken hy dat hy baie by die wynmaker, Nico Vermeulen, geleer het.

“Ek is ’n kelderrot, maar Margaux het die papiere.”

Hy vertel dat hul wyne nou almal kleurkodes het om dit makliker te maak vir die verbruiker en verduidelik dat hul aweregse humor, etiketontwerpe en aanhalings agterop die etiket, mense laat praat en hul wyne koop om te proe. En as hulle eers geproe het, het hulle volgelinge vir altyd.

Hy groet met die woorde: “Jy soek daardie goue draad wat deur al die oesjare te bespeur is, maar terselfdertyd wil jy iets proe van die hillbillies wat die wyn gemaak het.”

Laatmiddag eers weer deur die swembad voordat aandete op die gastehuis se stoep bedien word. Nell se Springbok Carpaccio Caprese-slaai en daarna sy beroemde beesfilet is murgsag en die Katvis Pinot Noir van The Fledge & Co die ideale pasmaat. Ons tafel by die deur bied die beste sonsondergang en eerste sterre. Die beesfilet is met sorg uitgekies en Nell ken die slagter goed.

Gamkaberg Wêrelderfenisgebied het verskeie verblyf-opsies: Tierkloof, Sweet Thorn en Fossil Ridge.

Nell vertel ons oor crème brûlée: “Ons is nie inkommers nie, ek sien ons as oornemers want ons kom neem oor” op klein dorpies soos hierdie. Sy en Andrew het van Johannesburg getrek om in die gasvryheidsbedryf te kom werk. Nell se lasagne-klasse, “Lessons I learnt from Lasagne” is baie gewild en sal hervat word sodra die pandemie agter die rug is.

Tans bied die gastehuis ontbyt en aandete aan en die groot swembad en leunstoele, is die ideale plek om tussen maaltye die ure met ’n boek en drankie te verwyl.

Ons sit op ons laaste oggend op die stoep in die koel oggendlug. By die dam langs die stoep is ‘n voëlbasaar. Vinke vleg nessies in die peperboom, swaeltjies maak sirkels in die lug. Boeretroos is gewis die perfekte beskrywing vir die stomende cappuccino in my beker.

En sieletroos is wat jy daar by die gastehuis se gawe mense ontvang.

Te gou is ons weer op pad. Die Gamkaberg Wêrelderfenisgebied, deel van Cape Nature, wag. Daar is verskeie verblyfopsies. Tierkloof, Sweet Thorn en Fossil Ridge eko-lodges het drie safaristyl tenthuisies met hul eie klein stoepie; ’n reuse braaiplek en vuurput; kombuis; swembad en eetplek met twee hangmatte.

Die voordeel van reis buite seisoen en nie oor naweke nie, is dat dié nuwe weggesteekte huisie en ander in die reservaat, net joune is. Geen baklei oor watter twee mense smiddae in die hangmat dut nie; óf wie in die skaduwee van die natuurlike swembad se riete mag skuil teen die warm Karooson, terwyl jou voete in die sonnetjie in die helder water bak.

Ons bly by Sweet Thorn, ideaal vir ses gaste wat in drie tenthuise gehuisves word. Die kombuis neffens die braai-boma is ruim en goed ingerig.

Die kampplek is omring deur soetdoringbome wat vol geel blommetjies is, amper soos klein pompoms. As die middagwindjie opkom, waai die goudgeel balletjies oral en gaan lê ver in die veld. Jy kan jou indink hoe animasiefilms se skeppers aan hul idees vir goudgeel mannetjies met koddige lyfies kom. Die halftoe blommetjies bied weer vir verskeie voëltjies kos, want die bome wemel heeldag van die geveerdes wat in en uit vlieg.

Boplaas Familie Wingerde is beslis een van die moet stop-plekke op die dorp.

By die spuit van die natuurlike swembad waarvan die water deur riete filtreer word, is daar kort-kort voëltjies wat akrobatiese toertjies uitrig, om onderstebo aan die pyp te hang om van die koel water te drink.

Middagbesoekers wat vanuit die swembad betrag kan word, is streepkoppies, hoep-hoepies, bokmakieries, die Akasia bonthoutkapper, tiptolle, spreeus, muisvoëls, duiwe en suikerbekkies. Baie windmakerig word die een spesie ná die ander op die voëllys afgemerk, wat deel was van die inligtingspakket met die registrasieproses.

Smiddae, wanneer die son begin watertrek, maak ons vuur vir braai of potjiekos. Stadig kom die nagskof aan diens. Muskiete, vlermuise en spinnekoppe wat lank afgly teen hul spinnerakke, neem by die dagskof oor. Hulle bring ook die eerste sterre. Agter ons vuurtjie hang die volmaan.

Soggens vroeg kan jy stap: vier staproetes wat wissel van 0,7 km tot 4,1 km en tussen 20 minute en 2,5 uur duur. Vertoef by die Erfenisskuiling en daarnaas die labirint. By laasgenoemde kan jy waarlik stilword, met net jou voetval binne die klipgrense wat jou aandag hou.

As jy die Karoo vaarwel roep, is die raserige kop waarmee jy arriveer het, iets van die verlede. In die plek van al die muisneste, is Karoosterre, wye vlaktes en vrede.

Kitsfeite

  • Ons het by Mymering Guest and Wine Farm (mymering.com), Calitzdorp Country House (www.calitzdorpcountryhouse.co.za) en in die Gamkaberg Wêrelderfenisgebied (www.capenature.co.za) oorgebly.
  • Uit al die wonderlike wynplase om te besoek as deel van die Klein Karoo Wynroete, besoek kleinkaroowines.co.za en vul jou eie wynkelder met bekroonde stil- en portstylwyne. Ons geniet veral die Portugese kultivars wat hier so goed aard.

Foto’s: Clifford Roberts en verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.