Raad en daad vir sakpasreise

Jy kan baie eenvoudig kampeer en het nie al die fênsie en luukse katoeters nodig wat op kampeerterreine te sien is nie. (Foto: Tommy Lisbin/Unsplash)

Deur Maretha Botes

Miksien trek jou hart met ʼn punt na al wat reisbestemming is, maar wat as jou begroting nie veel spasie vir luukse reise en duur hotelle toelaat nie? Kenners sê jy kan steeds jou tasse pak as inperkings gelig word, want sakpasreise is moontlik en boonop ʼn fees.

Of dit die bos, berge of strand is wat jou roep, met goeie beplanning, geduld en ʼn klein bietjie opoffering (jy weet, soos koffiewinkels en wegneemetes), is dit binne jou bereik om met vakansie te gaan sónder om jou bankrekening heeltemal leeg te trek. Jou vertrekpunt is natuurlik om na jou begroting te kyk. Hoeveel kan jy spandeer sonder om skuld te maak? Tanya de Vente-Bijker, reisjoernalis en skrywer van die blog Rondrits, sê die laaste ding wat jy wil doen is om skuld te maak om vakansie te hou. “Jy gaan mos nie ontspan nie want jy het nou skuld om af te betaal wanneer jy terugkom,” sê sy. Daarom stel sy en haar man altyd ʼn vakansiebegroting op en maak seker hulle hou streng daarby. Op dié manier weet jy hoeveel jy elke dag kan spandeer – van jou petrolgeld en verblyf, tot vermaak – en kom jy nie met ʼn skuldlas vir die nuwe jaar huis toe nie. Sodra jy weet hoe jou geldsake lyk, kan jy op ʼn bestemming besluit. Daar is werklik iets vir almal. Of jy nou op eie bodem wil reis, of internasionale bestemmings wil verken, jy kán dit met ʼn klein begroting doen, sê Rioma Cominelli, direkteur van First Loyalty Plus.

Só kan jy bespaar:

  • Vermy piektye. Hou vakansie buite seisoen. Tanya reken jy gaan baie beter pryse kan beding en dit is boonop minder besig.
  • Kampeer. “Ons kampeer sodat ons twee weke in plaas van net vier nagte kan vakansie hou. Jy kan baie eenvoudig kampeer en het nie al die fênsie en luukse katoeters nodig wat op kampeerterreine te sien is nie. Jy moet in elk geval elke dag eet, jy kan netsowel op die kampeerterrein kosmaak en eet. Boonop is dit baie geselliger by ʼn kampterrein,” sê Tanya.
  • Dink voor jy uiteet. Dit kan dalk baie lekker wees om restaurante te besoek, maar dit verongeluk jou vakansiebegroting in ʼn oogwink. Besluit dalk om een aand of middag ʼn restaurant te besoek en die res van die tyd self kos te maak.
  • Maak jou eie koffie. Tanya sê hulle maak elke oggend hul eie geurige “plonskoffie”. In plaas daarvan om elke oggend R30 per koffie per persoon te bestee, kan jy eerder self in ʼn dompelkoffiepot of moerdrukker (plunger) koffie maak. Pak sommer ook jou eie drank in indien jy van ʼn wyntjie of biertjie saans hou.
  • Spaar jou lojaliteitspunte by supermarkte en ander winkels vir jou vakansies en gebruik dit dan vir van jou vakansie-inkopies.
  • As jy ʼn aandenking wil koop, koop dit op die eerste dag al, want op die dag wat jy huis toe gaan, is jy emosioneel en sentimenteel en is ʼn mens geneig om baie meer aandenkings te koop as wat jy oorspronklik beplan het.
  • Vir jou kinders: gee vir hulle ʼn vaste bedrag sakgeld vir die vakansie en verduidelik dat dit hulle sakgeldjie is wat die hele vakansie moet hou.
  • In plaas van duur uitstappies, besoek gratis parke en markte saam met jou kinders. Besluit saam om iewers in die vakansie een duur uitstappie te doen. Onthou, kinders onthou hoe hulle gevoel het, nie wat hulle gedoen het nie. Solank as wat jy kwaliteittyd saam met hulle spandeer, is hulle gelukkig. Malvalekkers braai om die vuur kan net so lekker wees as ʼn uitstappie akwarium toe.
  • Indien jy wel in ʼn hotel wil bly, gaan loer na die pryse op die besprekingswebwerwe en bel dan die hotel direk. Vra of hulle ʼn beter prys kan gee as jy direk bespreek.

Abrie Snyman, Pretorianer, is ʼn gesoute reisiger en couchsurfing ambassadeur in Suid-Afrika. Hy skroom nie om alternatief te reis nie en kan as die koning van couchsurfing en house swapping bestempel word. Hy het oor twaalf jaar interaksie met honderde couchsurfers in verskeie lande gehad en nog net positiewe ervarings gehad. Abrie sê min Suid-Afrikaners reis egter op dié manier omdat dit nog ʼn vreemde konsep is, en mense inherent bang is om buite hul gemaksone op te tree. Tog is dit groot pret en kan jy heerlik op verblyf spaar as jy jou denke oor vakansie aanpas. Boonop smee jy op dié manier lewenslange vriendskappe.

(Foto: Pixabay/Pexels)

Hy stem saam daar dat daar legio maniere is om meer reis vir jou rand te kry. Vir korttermynvakansies is daar altyd goedkoper bestemmings en spesiale aanbiedinge op vliegkaartjies wat ʼn week se vakansie na drie weke kan rek. Teken in op ʼn verskeidenheid reisverwante webwerwe van aanlyn reisagentskappe (kyk na Flight Centre, Travelstart, Skyscanner) om gereeld inligting van goedkoop vliegkaartjies te ontvang. Hy sê: “Dit is nie net goedkoper nie, maar ook opwindend om jou volgende bestemming deur ʼn vliegkaartjie wat op jou skerm teen ʼn spesiale aanbod verskyn te bepaal.” Ondersoek ʼn verskeidenheid van minder bekende randvriendelike bestemmings – plekke soos Sri Lanka, Madagaskar, Hongarye, Roemenië, Indië, Laos en die Filippyne het baie om te bied teen ʼn fraksie van die koste van tradisionele toeristebestemmings. Die koste van visums moet ook in gedagte gehou word en lande wat nie ʼn visum vereis vir Suid-Afrikaanse vakansiegangers nie, bied dus ʼn ekstra bonus. Moet dus nie lande soos Brasilië, Ecuador, Indonesië, die Filippyne en Rusland uit die oog verloor nie.

Dit is aansienlik goedkoper om by eetplekke te eet waar plaaslike inwoners eet as by restaurante wat op toeriste ingestel is. Kies die besigste eetplek vol plaaslike mense – hulle weet waar die lekkerste kos teen die beste pryse is!

“Goedkoop reis word ʼn leefstyl. Vir gereelde reisigers wat nie net sakpas wil reis nie, maar ook ʼn meer outentieke ervaring wil hê, is daar verskeie opsies om oor ʼn langer termyn deel te word van gemeenskappe wat bekostigbaar en outentiek reis.”

Couchsurfing is ʼn virtuele gasvryheidsnetwerk vir reisigers. Hulle doen hulle slagspreuk, “You have friends all over the world, you just haven’t met them yet”, gestand om lede wêreldwyd met mekaar te verbind. Gebruik Couchsurfing om ʼn plek te vind waar jy deur ʼn “local” gehuisves kan word, en om ook jou blyplek met mede-couchsurfers te deel. Daar is ʼn minimale fooi om deel van hierdie gemeenskap te word, maar geen geld wissel van hande vir akkommodasie enige plek ter wêreld nie. Daar is tans 12 miljoen couchsurfers in 200 000 dorpe en stede, en daar word jaarliks 550 000 funksies deur couchsurfers gereël. Met behulp van verwysings wat deur lede verskaf word, is couchsurfing veilig solank protokol gevolg word.

Servas International is ʼn internasionale, nie-winsgewende, nie-regeringsfederasie bestaande uit nasionale Servas-groepe, wat ʼn internasionale netwerk van gashere en reisigers insluit. Die doel van die netwerk is om wêreldvrede, welwillendheid en begrip te help bou deur geleenthede vir persoonlike kontak tussen mense van verskillende kulture, agtergronde en nasionaliteite te bied. Daar is 15 000 huishoudings in 100 lande wat deel is van dié manier van reis waar gasvryheid die betaalmiddel is.

Daar is ook verskeie internetgemeenskappe, soos Home Exchange, waar dit moontlik is om woonplekke vir kuierplekke oral in die wêreld te ruil.

Van die meer bekende internetgemeenskappe is Couchsurfing, Servas International en Home Exchange.

(Argieffoto: Unsplash)

Rioma se wenke vir internasionale reis:

  1. Vlieg gedurende die week. Vir internasionale vlugte is dit goedkoper om Suid-Afrika op ʼn Sondag tot ʼn Donderdag te verlaat, en weer op ʼn Dinsdag tot Donderdag terug te keer. Vermy Vrydag- en Sondagaande, die dae voor openbare vakansiedae en voor die aanvang of aan die einde van skoolvakansies. Hoë aanvraag beteken verhoogde kaartjiepryse.
  2. Skakel jou 3G en internasionale swerwing (roaming) af, tensy jy ʼn internasionale swerwingsplan het. Indien jy dit nie doen nie, sal jy met ʼn reuseselfoonrekening terugkeer. Koop liewer ʼn plaaslike (waarheen jy ook al gaan) SIM-kaart, of maak op gratis Wi-Fi staat.
  3. Vermy lughawerestaurante en -kafees. Dit kan jou hele dag se kosbegroting insluk. Eet voordat jy lughawe toe gaan, of byt vas tot jou ete op die vlug.
  4. Maak van plaaslike vervoer gebruik. Dit is gewoonlik baie goedkoper as om ʼn kar te huur wanneer jy oorsee vakansie hou. Vra plaaslike mense wat die area ken hoe en waar jy die goedkoopste en betroubare vervoer kan kry.
  5. Gebruik kontant en nie plastiek nie. Só vermy jy wisselkoerskostes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.