Regulasies vir sakereis: Kenner gee antwoorde

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

Sewe bykomende lughawens mag weer vanaf Woensdag 1 Julie vlugte toelaat en Suid-Afrika se vlak 3 van afsondering laat ook nou sakereise toe.

Fikile Mbalula, minister van vervoer, het Maandag aangekondig dat benewens die oorspronklike vier hooflughawens wat beperkte vlugte hanteer het, die volgende binnelandse lughawens ook weer vir binnelandse vlugte heropen word:

  • Bram Fischer Internasionale Lughawe
  • Kruger Mpumalanga Internasionale Lughawe
  • Pietermaritzburg‑lughawe
  • Port Elizabeth Internasionale Lughawe
  • Richardsbaai-lughawe
  • Skukuza-lughawe
  • Upington Internasionale Lughawe

Mbalula het ook die groen lig gegee dat etes aan boord van vlugte verskaf word. Die maaltye moet vooraf verpak word en voor elke passasier se sitplek geplaas word voordat die passasiers op die vliegtuig klim om beweging tydens die vlug te verminder.

Dit lyk asof sakereise stadig maar seker na normaal kan terugkeer, maar is dit regtig so? Het jy vrae oor jou volgende sakereis wat jou snags laat wakker lê?

Oz Desai is algemene bestuurder vir sakereise by Flight Centre. (Foto: Verskaf.)

Oz Desai, algemene bestuurder vir sakereise by Flight Centre, gee antwoorde op sommige van die sakereisigers se kwelvrae oor hul komende vlug:

1.Gesondheid en veiligheid

Stel ek my gesin se gesondheid in gevaar as ek nou gaan reis? Nadat mense vir die laaste paar maande aangesê is om “tuis te bly en veilig te bly”, kan dit effens vreesaanjaend wees om weer op ʼn vliegtuig te klim, meen Desai

“Jy kan gerus wees dat streng veiligheidsmaatreëls op al die lughawens gehandhaaf word om enige gesondheidsrisiko’s te beperk. Slegs die vliegtuigkaartjiehouers word in terminale toegelaat en reisigers mag net op- of afgelaai word. Daar is deurentyd gesondheidsifting en tempertuurkontroles met streng sosialedistansiëringsmaatreëls wat gevolg word wanneer reisigers op vliegtuie klim. Vliegtuie en terminale word gereeld deeglik skoongemaak en heeltemal ontsmet,” sê Desai.

Hy sê reisigers kan hulself beskerm deur by die protokolle en maatreëls te hou, wat die dra van ʼn masker vir die duur van jou vlug insluit. Gebruik ook ʼn handreiniger wat alkohol bevat en hou altyd ʼn botteltjie van ʼn maksimum reisgrootte van 100 ml byderhand.

“Jou reis gaan waarskynlik baie anders lyk as waaraan jy gewoond was met fisieke afstand wat by bagasiepunte gehandhaaf word tot die beskermingstoerusting wat die lugwaardinne dra. En alhoewel dit ʼn mate van angs kan veroorsaak, moet dit ook vir ʼn mens gemoedsrus gee.”

  1. Luggehalte

Almal het al seker gewonder oor die lug wat in die kajuitruim op ʼn vliegtuig gesirkuleer word. Selfs voor die Covid-19-pandemie het reisigers gewonder of dit is waar ʼn hulle ʼn verkoue of griepkiem na ʼn uitstappie op ʼn vliegtuig opgedoen het.

Mbalula het reisigers die versekering gegee dat die risiko om Covid-19 op ʼn vliegtuig op te doen veel skraler is as in die ander beperkte openbare ruimtes en vervoer.

Desai sê vliegtuie word met hoëvlakfiltreerders toegerus wat alle virusse, insluitende die koronavirus, uitskakel.

Volgens FlySafair verwyder die HEPA-filtreerders 99,99% van selfs die kleinste virusse suksesvol, insluitend dié wat slegs 0,01 mikrometer in deursnee is. Die koronavirusfamilie het ʼn deursnee van tussen 0,08 en 0,16 mikrometer en word daarom baie doeltreffend deur die HEPA-filtreerders onttrek.

  1. Maskers

Moet reisigers ʼn gesigsmasker dra vir die hele reis? Ja, ongelukkig vervang die HEPA-filtreerders nie die noodsaaklikheid van ʼn gesigsmasker nie.

Desai sê reisigers moet daaraan dink as nog ʼn laag beskerming vir jouself en vir ander reisigers, asook vir die lughawe se personeel.

“Ek weet baie mense kla oor die feit dat hulle maskers vir ʼn lang tyd moet dra, maar soos die weke verloop het, is maskers ontwikkel wat lugvloei verbeter en selfs die opwasem van jou bril verhoed en gemakliker op jou gesig pas.”

  1. Dokumente wat nodig is

Desai sê reisigers kan ook nou ʼn bietjie meer administrasiewerk verwag as dit by hulle vereiste reisdokumente kom. “Passasiers moet die regte reisdokumente by hulle hê voordat hulle die huis verlaat. Dit sluit jou ID-dokument en ʼn permit vir ʼn sakereis in.”

ʼn Professionele reiskonsultant of -onderneming soos Flight Centre kan jou help om die nuwe regulasies met gemak te navigeer.

“Ongelukkig is permitte en toestemming nodig, ten minste vir die afsienbare toekoms, maar konsultante is beskikbaar om jou te help. Hulle kan seker maak dat jy die regte dokumente vir jou sakereis het en help met die verskillende lugrederye se regulasies en vereistes, asook vir reisigers inligting gee oor hotelle en ander akkommodasie se veiligheidsriglyne,” sê hy.

  1. Isolasie en kwarantyn

Die belangrikste vraag vir reisigers tans is of hulle tyd in isolasie sal moet deurbring voor of na ʼn reis.

“Alhoewel dit nie tans ʼn probleem is wanneer jy binne die grense van Suid-Afrika reis nie, kan die gedagte aan isolasie, of selfs kwarantyn, angsvlakke oor reis verhoog sodra internasionale vlugte weer ingestel word.

“Sommige lande sal self-isolasie toelaat, terwyl ander van passasiers sal verwag om isolasie by regeringsgeriewe of vooraf geïdentifiseerde hospitale te ondergaan.”

Die Verenigde Koninkryke handhaaf nou ʼn isolasietydperk van twee weke en passasiers wat met ʼn vliegtuig, veerboot of trein in die VK aankom, met inbegrip van Britse burgers, sal gevra word om ʼn adres te verskaf waar hulle 14 dae lank hulself sal isoleer.

“Reisigers sal ook die Suid-Afrikaanse regering se vereistes moet verstaan as hulle van hoërisikolande af terugkeer.

“Weereens sal ʼn reiskonsultant die jongste inligting en advies hieroor byderhand hê.”

Volgens Desai is dit belangrik om ʼn betroubare reiskonsultant te kry om jou reis te bespreek sodat hulle jou veilig tuis kan besorg.

“Ander wenke om die angsvlakke van jou reis te verlig is: Bevestig jou vlugbesonderhede vooraf, maak seker jy boek aanlyn in vir jou vlug en kom vroeg genoeg by die lughawe aan. Onthou jy gaan nou bykomende tyd vir veiligheid- en gesondheidsondersoeke moet toelaat.

“As jy wel die riglyne vir gesondheid en veiligheid volg, is daar geen rede waarom jou sakereis nie veilig en suksesvol kan wees nie.”

Wil jy op die hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
marius

Is die sitplekke 1.5m uitmekaar ? Mag die toilet gebruik word of moet mense knyp om beweging te beperk ?

Leon

Moenie glo dat die filters op ‘n vliegtuig werk nie.
Ek het Desember 2018 Ethiopië toe gevlieg. Daar was baie enrstige siek mense op die vlug. Ek het hulle virusse opgetel alhoewel ek vêr van hulle af gesit het. 12 Dae later was ek amper dood van die siekte. Die lugreëling in die vliegtuig het die virusse versprei.
Jammer, ek glo nie hulle uitlatings dat die filters werk nie.