Reisartikel: ʼn Dag in Bratislawa

Bratislawa se nou straatjies met die mooiste argitektuur Foto: Marianne Styan

Bratislawa se nou straatjies met die mooiste argitektuur Foto: Marianne Styan

07:45 – Dis winter in Slowakye, dus is dit nog nie behoorlik lig toe ons wakker word nie. In 1993 het Tsjeggo-Slowakye in twee lande verdeel naamlik Tsjeggië met Praag as hoofstad en Slowakye met Bratislawa as hoofstad.

09:15 – Dit is nou ligter buite en die sneeu val liggies. Na ʼn ontbyt is ons reg om die Ou Stad te gaan verken. Die woonstel wat ons deur AirBnB gehuur het, is net ’n paar blokke van die bekende Danube-rivier sowel as die Ou Stad. Ons bewonder eers die mooi brûe wat oor die wye rivier span. Die een brug het ʼn struktuur met ʼn restaurant hoog in die lug wat bekend staan as die Vlieënde Piering as gevolg van sy sterk ooreenkoms met ʼn Vreemde Vlieënde Voorwerp.

09:45 – Ons verkyk ons aan die ou argitektuur oral. Die geboue is minder “versier” as in Praag maar die styl stem baie ooreen. Op die hoek van Mostova- en Jesenskéhostrate, voor die pragtige Operahuis staan die eksentrieke rooi bussies van Bratislava by Sightseeing-toere. Die vriendelike vrou wat hulle bemark verduidelik op ons navraag dat die bussie vir net so oor ʼn uur rondry en vir 15-20 minute ʼn breek vat by Bratislawa se kasteel (Bratislavský Hrad). Kaartjies kos €10 elk.

10:00 – Ons stap die Ou Stad binne en kom amper onmiddellik af op een van die bekendste Namesties (plein in Slowaaks). Dis Hlavné Námestie veral bekend as gevolg van die verskeie bronsstandbeelde wat jy kan vind en die pragtige ou stadsaal (Stará Radnica). Die beelde sluit in die bekendste Cemil, ʼn straatwerkermannetjie, wat by ʼn mangat uitloer, die vriendelike Schone Naci wat sy keil vir ewig vir almal lig, gegrond op ʼn ware persoon wat die strate van Bratislawa bewandel het. Laastens vind ons die Napoleonsoldaat wat koddig, met sy hoed oor sy oë getrek, op sy gevoude voorarms op ʼn bankie leun.

10:30 – Op die plein sien ons ʼn café met die naam Schococafe. Hulle verkoop sjokolade en die grootste verskeidenheid warm sjokoladedrankies waaraan jy kan dink. Om die koue te verjaag bederf ons onsself elkeen met een. Daar is geure van amandel, peperment, vanilla, en die lys gaan voort. Dit is hemels!

11:00 – Ons klim in die pikante bussie en sit ons oorfone aan om vir die volgende 35 minute na interessante feite oor die stad te luister. Ons ry om die ou stad en hoor die stad met sy 500 000 inwoners is eintlik ʼn universiteitstad.

11:35 – Ons stop by die pragtige Bratislawa-kasteel met sy wit geverfde mure en torings. Van hier kry jy ʼn arendsuitsig oor die stad. Die ryk, soms moeilike geskiedenis wat die kasteel tot sy huidige voorkoms gebring het, wat insluit brande, oorloë, nuwe konings en koninginne, het daartoe gelei dat die plek vandag gebruik word vir kantoorspasie. Jy kan wel die atrium in die middel besoek.

12:15 – Ons stop by ons beginpunt. Ons het gisteraand toe ons in die stad aangekom het, verby ʼn baie oorspronklike restaurant/boekwinkel gestap net buite die ou stad – Gorila.sk Urban Café. Ons besluit om daar middagete te geniet en koffie te drink. Fantastiese ruspunt langs die pad.

12:30 – Middagete is eenvoudige maar smaaklike broodjies terwyl ons ons verkyk aan die mense wat verby stap. Dis opvallend hoe baie mense Engels magtig is. In dié land is Engels of Duits verpligtend op skool om te verseker dat die mense kan werk in die land.

13:45 – Ons besluit om die res van die ou stad te voet te gaan verken. Ons vergaap ons aan die pragtige ou argitektuur. Die groot hoeveelheid graffiti is opvallend op meeste van die geboue. Eg Europees is daar is ʼn paar pragtige kerk soos die St. Martina Katedraal en Franciskaanse Kerk en Klooster.

15:00 –Ons stop om ʼn laaste paar aandenkings van Bratislawa te koop by een van die vele aandenkingswinkels. Party bied handgemaakte produkte terwyl ander die gebruiklike aandenkings verkoop. Die pryse verskil en dus moet mens maar rondsoek vir die beste prys.

17:30 – Dit is al basies donker buite. Europa se dae is kort in die winter, maar nie ondraaglik nie. Ons besluit om in die ou stad te gaan soek na ʼn tradisionele restaurant vir aandete. Ons drentel deur die smal straatjies en oorweeg al ons opsies.

18:30 – Ons keuse val op Verdict. Ons bestel tradisionele geregte soos bokkaasgevulde gnocchi met ʼn romerige dillesous en varknek met suurkool en kluitjies. My gunsteling is verseker die gnocchi.

21:00 – Vir bietjie naglewe gaan besoek ons die Ierse kroeg vir ’n drankie of twee. Dit gaan jolig hier binne te danke aan ʼn manne-aand.

22:00 – Slowakye het pragtige wingerde en dus besluit ons om eerder ons aand te gaan afsluit met ʼn bottel wyn by ʼn baie elegante wynkroeg – The Taste Wine Bar. Ons bestel ʼn bottel Spaanse rooiwyn van ʼn wye verskeidenheid opsies op die wynkaart. Dit kom ook teen ʼn prys: ongeveer €30. Al die beskikbare wyne se bottels word in ʼn glaskas vertoon. Van elke bottel is daar ʼn strooitjie waarvandaan jy vir jouself ʼn glas skink. Daar is selfs ʼn Suid-Afrikaanse wit wyn beskikbaar.

23:30 – Ons stap in die snerpende koue terug na ons woonstel. Wat ʼn lieflike en verrassende stad was Bratislawa nie! Werklik ʼn besoek werd vir enigiemand wat die Oos-Europese lande wil leer ken.

Ritsgids:

  • Jy kan in Euros betaal.
  • Die ou stad, wat ook maar die grootse aantrekkingskrag is, kan maklik in ʼn dag gesien word.
  • AirBnB was ʼn wonderlike manier om bekostigbare goeie verblyf te kry.
  • Ons het per trein vanaf Wenen, Oostenryk na die stad gekom. Dis ʼn uur se ry. Vanaf die stasie kan ʼn mens busse of trams gebruik om tot by die ou stad te kom. Die openbare vervoer is goedkoop.
  • Boedapest is twee en half ure per trein ver.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.