Reisartikel: ‘n Nuwe uitsig op die rug van die Boomslang

Die Boomslang kronkel en draai tussen die bome deur Foto: Marianne Styan

Die Boomslang kronkel en draai tussen die bome deur Foto: Marianne Styan

En so ry ek baie optimisties in die rigting van Kirstenbosch een reënerige, en dus bewolkte Saterdagoggend in Kaapstad, om die Boomslang, waaroor almal praat, van nader te gaan besigtig.

Druppels val op my windskerm die hele pad soontoe… Maar soos die oog van ‘n tornado, kring daar ‘n bloulugopening tussen die wolke deur, reg bokant die botaniese tuine, net toe ek stop. (Dit bevestig my opinie oor die Kaapse weer: “as jy nie hou van die weer nie, wag net 10 minute en dit sal verbygaan”.)

Ek is egter glad nie ondankbaar vir die seën wat my te beurt val nie en my gemoed is ook sommer ligter toe ek my toegangskaartjie na Kirstenbosch koop. Die Boomslang is geleë binne-in die mooi tuine en kos dus niks meer as die goedkoop R45 (Mei 2014) nie. Indien jy die gids-brosjure vir die park ook wil hê, betaal jy R5 ekstra.

By die ingangshek beduie die sekuriteitswag vir ons hoe om ons pad na die Boomslang te kry. Ons volg sy aanwysings mooi, maar sien niks… Dan merk ons ‘n aanwysingsbord op wat aandui ons moet die kronkelpaadjie links opwaarts volg.

Dit voel op ‘n punt of jy letterlik in die bosse gaan verdwaal en dan, ewe skielik, lê die opening voor ons. Geen wonder ons kon dit nie kry nie! Dit is so perfek gekamoefleer soos ‘n tipiese boomslang en kronkel tussen die boomtoppe deur, op sy staal- en houtpilare, 11,5 m hoog die lug in.

Ek geniet die gevoel om Tarzan te speel as ons ons eerste tree gee op die effens wankelrige (dis blykbaar normaal) houtvloer van die stellasie.

Die bome vorm ‘n pragtige blaartak-tonnel die eerste paar meter van die 130 meter lange Boomslang. Dan maak dit oop en bied jou ‘n asemrowende uitsig op Tafelberg reg voor jou, wat die hemel in troon. Regs lê Kaapstad in al haar glorie, wat strek tot by die Stellenbosch-berge.

Met die wind en hoeveelheid mense wat kom en gaan, wieg die slang rustig saam terwyl mense foto’s neem van die uitsig. Ander probeer die interessante Latynse name van die bome uitspreek. Die naamplaatjies is reg langs die handreling aangebring sodat jy die bome vanuit ‘n ander oogpunt kan herken.

Daar is bankies op twee intervalle as jy die uitsig wil sit en geniet of sommer net die mense se reaksies wil dophou.

Een driejarige seuntjie verduidelik ernstig vir sy ma dit voel of hy op die rug van ‘n dinosourus loop. ‘n Student maak grappenderwys die opmerking aan sy vriende dat dit nou nie regtig die Groot Muur van China is nie, maar dit gee darem vir jou ‘n heerlike gevoel van vryheid hier bo die boomtoppe.

Te gou loop jy aan die anderkant weer op vaste grond af…

Dan begin die wolke weer saampak…

Die paar minute daar bo in die boomtoppe het my siel herlaai vir ‘n hele maand. Die druppels op my windskerm pla my glad nie meer nie, toe ek my kar huiswaarts keer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Sollie ·

Maar dit klink nou bakgat man! Kan nie wag om te gaan belewe nie – dankie vir die artikel!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.