Reisartikel: Verruklike Venesië

Die Bridge of Sighs in Venesië Foto: Paolo de Faveri

Die Bridge of Sighs in Venesië Foto: Paolo de Faveri

Venesië is ‘n plek wat so eg Italiaans is soos pizza. Die feit dat dit op water gebou is dra by tot die trekpleister-effek want waar het jy nou al ooit gehoor van ‘n “drywende” stad?

Dit is ‘n stad waar die pragtigste handgemaakte produkte verkoop word wat vermoedelik pryse ‘n hupstoot gee. Dit verseker jou egter van ongelooflike kwaliteit. ‘n Paar leer handskoene wat ek met my eerste besoek hier gekoop het 19 jaar gelede, is nog steeds in ‘n fantastiese toestand.

Behalwe vir pragtige leerprodukte is Venesië ook bekend vir sy glasblaas-produkte. Die glasfabriek, museum en winkeltjies is geleë in n klein “dorpie” noord van Venesië, Murano, wat deur ‘n bootrit bereik word en iets is om te beleef. Dit is ‘n kunsvorm op sy eie en dit is fassinerend om te sien hoe ‘n professionele persoon iets besonders skep uit niks. Indien jy wil, kan jy selfs belê in ‘n stel egte kristalglase.

Een ding wat ongelukkig uitstaan is hoe duur die plek is. Besoekers moet daarop let dat alles in Venesië ‘n prys het, daar’s selfs ’n fooitjie om net te sit by party van die eetplekke.

Min lande het so ‘n groot invloed gehad op argitektuur en kuns soos die Italianers en Venesië spog met ‘n verskeidenheid juwele. Soos die Santa Maria della Salute. Die pragtige Piazza Saint Marco is een van Venesië se grootste besienswaardighede en word deur baie mense as een van die mooiste stadspleine ter wêreld beskou. Die plein bars uit sy nate met asemrowende argitektuur en duisende duiwe.

Op die plein vergaap jy jou aan die kloktoring, politiese historiese geboue, kroeë, winkeltjies, restaurante en die mooiste, die Basilica San Marco, gebou in 1062.

Die Basilica se goue façade is versier met besonderse mosaïekwerk, standbeelde en reusekoepels.

Nog iets om voor uit te kyk is die simbool van die stad en die teken vir die dissipel Markus, die leeu met vlerke. Die legende word vertel dat dié dissipel se beendere bewaar word in die kerk se altaarruimte.

Aangesien die stad op water staan, moet daar tog ‘n paar brûe wees en in Venesië is die bekendstes die Rialto en die Bridge of Sighs. Die Rialto, gebou in die 1500’s (meeste van die geboue in Europa is ouer as Suid-Afrika) was die eerste brug wat die Groot Kanaal oorbrug het. Dit is nou ‘n lekker plek om te besoek vir Venesiese-aandenkings, soos die bekende karnaval-maskers.

Die Bridge of Sighs se storie is effens hartseer. Die brug was die verbinding tussen die stad en die gevangenis waar gevangenes óf lewenslank gevonnis is, óf ter dood veroordeel is. Laasgenoemde gevangenes se staptog oor die brug het dus vir hulle ‘n laaste blik op die stad gegee. Dit het hulle natuurlik laat sug… en van daar die naam.

Daar is nog baie sulke stories om te ontdek in Venesië. Die stad is ‘n drywende stuk geskiedenis en die moeite werd om ten minste een keer in jou lewe te besoek.

Rits-gids
– Die Gondolas is duur… maar ‘n heerlike belewenis. Jy word op die dun kanale wat die stad deurtrek, geroei deur ‘n (meestal) galante Italianer wat selfs soms vir jou sing. Die ritte is gewoonlik tussen 45 en 50 minute lank. Hoe meer mense die Gondola deel, hoe goedkoper.
– Indien jy die stad maklik wil verken en van punt A na punt B wil kom, belê in ‘n dagkaartjie vir die Vaparetto (Waterbus).
– Die hele Venesië is nie die prentjie van waterkanale wat mens meestal in foto’s sien nie. Daar is ‘n nuwe stad (waar die lughawe is) en die ou stad (die waterkanale). Dit kan goedkoper uitwerk om eerder in ‘n hotel in die nuwe stad te bly en dan na die ou stad te ry met die bus.
– Indien jy net voor Lent-tyd (einde Januarie, begin Februarie) in Venesië is, kan jy die bekende Carnevale beleef—die maskertjies het hulle oorsprong hier gekry.
– Aangesien die stad op water gebou is, maak seker jy is voorbereid om tydens die Acqua Alta – dit beteken hoogty in Venesië – in die stad te wees. Die stad vloed elke nou en dan en jy moet met jou skoene in jou hand jou pad kry deur die straatjies. Dis darem nie lewensgevaarlik nie. Dit gebeur gewoonlik teen die einde van die jaar, maar dit het al vroeg in die jaar ook gebeur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.