Reykjavík veel meer as wol en humor

Die oulike prentjie se boodskap bly my vandag nog by. (Foto: Clifford Roberts)

Op een van die vele klein pleine of vierkante in Reykjavík, pryk die woorde: “All is well” in drie tale – Sweeds, Engels en Yslands. Dis nie net die titel van ʼn Ólafur Haukur Símonarson-album nie, dis ook heeltemal in die kol as jy Ysland se gasvryheid en natuurskoon gaan ervaar, skryf Maryke Roberts.

Maar benewens die lekkerte, is daar waarhede in publieke kunswerke, aanhalings teen mure, of plakkate of boekies wat oral jou oog vang en jou besoek net soveel aangenamer maak. Die land vier op 17 Junie hul 79ste jaar van onafhanklikheid en is ʼn lus vir enige toeris.

Suid-Afrikaners het ʼn Schengen-visa nodig om Ysland te besoek en jou paspoort moet vir ten minste nog ses maande geldig wees as jy die land binnegaan. Gelukkig het ons ons reisagent se raad om te onthou dat 27 lande deel is van die Scengen-ooreenkoms onthou en kon ons dus die mees bekostigbare vlug daarheen via ʼn ander Schengen-land beplan.

Daar is geen direkte vlugte na Ysland nie, maar jy kan met die meeste internasionale rederye uit Kaapstad en Johannesburg vlieg en dan vandaar met Icelandair, PLAY of Norlandair na Reykjavik vlieg.

Ons het pas geland en is gewapen met ʼn lysie aanbevelings van die lugwaardin op ons Icelandair-vlug van Amsterdam. Om Reykjavik te ontdek, is die beste om ʼn Reykjavík City Card te koop. Jy kan dit aanlyn bestel en betaal en by verskeie punte optel. Dis beskikbaar in 24, 48 en 72 uur. Dit bied gratis toegang tot ʼn verskeidenheid museums, galerye, die warm poele in die stad, ʼn bootrit na Viðey-eiland en onbeperkte ritte op die bus.

Die eerste plek waar ons inloer, is Reykjavik Roasters, waar die vroegoggend sonnetjie op die bankie in die venster op jou rug bak.

Hier lê ʼn boekie Portrait – stories from a pandemic. Dis deur West & Wadum uitgegee en bevat meer as 100 stories van Dene se ervaring van die Covid-pandemie. Om aan jou cappuccino te teug, terwyl jy die hartverskeurende stories lees, is amper onwerklik. Dit was net ʼn oogknip gelede wat ons nie kon reis nie en hier sit ek 16 195 km van die huis en bestel koffie van ʼn Yslandse barrista met die Noord Atlantiese Oseaan, wat in die verte glimmer.

Die stad is meer as 1 100 jaar oud en die boustyle reflekteer die geskiedenis, maar ook die verandering in gekose boumateriaal. (Foto: Clifford Roberts)

Dis toe ons uitstap, wat die klein plakkaatjie in geel en blou my oog vang: “Put sunflower seeds in your pocket, so they grow when you die”. In bitter fynskrif onderaan die prentjie van ʼn ou vroutjie met ʼn kopdoekie, staan Kamile Pikelyte. Ek wonder wie dit is, maar die boodskap bly my tot vandag by.

As die koue op straat in jou lyf kom sit, glip jy gou by ʼn kuns-, wol- of dekorwinkel in. Bykans elkeen het ʼn slapende kat wat iewers op iets sags dut. Sommige het klein kennisgewings by – moenie vryf nie; vryf asseblief; moenie voer nie; volg my op Instagram. Die Yslanders het regtig die kuns vervolmaak van katte liefhê én in-die-nou-leef!

Gepraat van in-die-nou-leef. Ons gaan soek elke dag skuiling in die Eymundsson-boekwinkel wat sedert 1872 bestaan. Dit beslaan verskeie vloere en eindig in ʼn dakkafee met baie plante, en dis hier waar ek lekker lag vir Ute Knut se boekie, What the hygge (daardie Deense woord vir gerief, saamwees en goed-leef): “Daar is 46 Inuit woorde vir sneeu; daar is 168 Nordiese woorde vir onsin. Hygge is net een daarvan.”

Die stad is maklik navigeerbaar en oortrek met restaurante, koffiewinkels en wynkroegies vir ʼn vinnige glasie wyn. Geen geboue is hoër as een of twee verdiepings nie en dit voel lekker oop en plat. Die gure weer en lang winters maak dat almal later slaap, later saans kuier en effe traer is as wat ʼn mens verwag. Maar dis seker maar waar daardie Deense hygge op almal afgevryf het! Of die boekie dit nou wil erken of nie!

Daar is standbeelde en publieke kuns oral. (Foto: Clifford Roberts)

En gepraat van katte en humor: The Grey Cat (Grái kötturinn) in Hverfisgata is ʼn piepklein ondergrondse restaurant en boekwinkel in een, maar bekend vir sy brood en pannekoeke en ook ontbyte, veral The Truck – Amerikaanse pannekoek, spek, aartappels, gebakte eiers, tamaties en roosterbrood. Dis blykbaar gewild omdat alles op die spyskaart aan ʼn Amerikaanse diner herinner en ʼn welkome afwisseling is van die tradisionele vis of seekos wat volop is.

Dis al sedert 1997 deel van die stad en piepklein. Hier pryk die woorde: “Don’t go bacon my heart” in  neonpienk teen die muur. Die kelnerin vertel: “Daar is ʼn gesegde in Yslands dat as jy lank en gereeld by dieselfde plek vertoef, is jy soos grys kat vir daardie plek. Voordat die restaurant oopgemaak het, was daar ʼn juwelier hier. En ʼn grys kat het gereeld hier kom kuier. Die restaurant se naam is dus dubbel gepas – oor dié kat van destyds en oor die gesegde.”

Wol is natuurlik een van die groot uitvoerprodukte en die Yslandse skape het oorgenoeg daarvan. Behalwe die bekende woltruie, lopapeysa (trui van ongeweefde gare) met hul kenmerkende sirkelpatrone om die nek, is daar verskeie breiprojekte onder die Handmade in Iceland-vaandel, waar ouer mense – en heelwat in versorgingsentrums – musse, serpe en handskoene brei om aan toeriste te verkoop. Wol in elke denkbare kleur is ook te koop en word nog met ou skale geweeg en in bruinpapiersakke verpak.

By Gallery Grásteinn kan jy jou verkyk aan Steinunn Steinars se kunswerke uit wol. Sy gebruik Yslandse skaapwol in hul natuurlike kleure wat wit, bruin, grys en swart insluit. Nie alleen maak sy standbeelde uit velt nie, hele kunswerke word keurig met ʼn naald geweef.

By Rammagerðin – een van die land se bekendste dekor- en ontwerpwinkels – koop ek sepies wat in velt toegeweef is. Jy gebruik dit net so onder die stort of in die bad, of pak dit tussen jou klere om lekker te ruik en vismotte weg te hou, verduidelik die gawe winkel-assistent. Dis ook hier waar twee koffiebekers neffens mekaar staan en verklaar: “Not just cold” en “But also expensive” met die Yslandse buitelyne daaragter!

Dis met die woorde van die bekende Yslandse kunstenaar, Björk, wat teen ʼn glaspaneel op die lughawe pryk, waarmee ek die land groet. (Foto: Clifford Roberts)

Vindingrykheid en kreatiwiteit is ook in die kunstenaars se werke elders te sien. By Galleríð – really made in Iceland, is die buitemure oortrek met opgeplakte skoenlappers waarvan die vlerkies in die ligte windjie bewe.

Die Yslandse kunstenaar, Shoplifter/ Hrafnhildur Arnardóttir, het die installasie wat sy vir die Yslandse paviljoen by die Venesiese Biënnale in 2019 gemaak het, nou ʼn permanente tuiste gegee in Höfuðstöðin, net buite die middestad. Sy het ʼn pakhuis aan die buitewyke van die stad omskep in ʼn multi-sensoriese, grotagtige omgewing met ʼn kakofoniese hoeveelheid van haar kenmerkende materiaal, sintetiese hare. Kleur, klank en onweerstaanbare teksture lei besoekers deur drie afsonderlike kamers wat ʼn meeslepende ervaring van visuele en ouditiewe stimuli uitlok. Die uitstalling word Chromo Sapiens genoem.

Shoplifter se werk val in die niemandsland tussen visuele kuns, bewegingsteater en mode en vloei uit haar fassinasie met popkultuur en massaproduksie. Sit haar skerp sin vir humor en wonderbaarlike vermoë om sintetiese materiale in beeldhoukundige hiper-natuurlike omgewings te omskep daarby en dis ʼn halfuur wat jy nie maklik sal vergeet nie.

As jy die uitstalling binnegaan, is dit eers Primal Opus met sy donker kleure en musiek deur die Yslandse kult-groep, HAM, wat jy ervaar, voor die tweede vertrek met sy skokkleure, getiteld Astral Gloria, jou lok. Hier gaan lê ek op my rug op die dik mat en gee oor aan die kleur-ontploffing bo my kop. Die laaste vertrek is Opium Natura, ʼn rustige, wit en ligte pienk skepping waar jou siel tot rus kom in die stilte.

By die badkamer gekom, is die oulike teken om te wys dat almal hier verwelkom word, vis én vlees, in rokke of nie, wat weer beklemtoon hoe oopkop die Yslanders is. Behalwe vir hul hoë geletterdheid, fyn humorsin en liefde vir gesels, is hulle baie tegemoetkomend teenoor alle kulture, geslagte en rasse en wil graag meer van ander leer. Daar is selfs ʼn Gay Trots-vlag geverf op die voetgangervriendelike straat op pad na die Hallgrim-kerk, en Gay Trots-kleurige trappe voor ʼn kerk in die Westfjords.

Fish Company (Fiskfélagið) is vir tien agtereenvolgende jare aangewys as beste seekosrestaurant in die stad. Ons kry Durbanville Hills Collectors Reserve Pinotage en Nederburg Manor House Cabernet Sauvignon op die spyskaart en verlang sommer huis toe! En net ingeval jy vergeet het waar jy is, ʼn takboklig met al die restaurant se trofees daarby. (Foto: Clifford Roberts)

In die Nasionale Galery van Ysland (Listasafn ĺslands) is ʼn uitstalling, Creation 2021, waar ons lank verpoos en wat die samelewing se stereotipes bevraagteken. Die boodskap daarneffens tref diep: “Onder die grillige oppervlak van Valgerður Gualaugsdéttir se werke skuil daar altyd ʼn kritiese perspektief op vroue se plek in die samelewing en stereotipes wat die vroulike liggaam as objek beskou. Die lewendige jukstaposisie van liggame in Creation 2021 bring ʼn verskeidenheid biologiese geslagsrolle na vore, wat lei tot die idee dat die kreatiewe proses twee verg. Tussen manlike stamme met ereksies, word klein vroulike wesens gesien wat in hul eie buik wriemel in ʼn soeke na identiteit, in ʼn gemeenskap wat wil hê dat hulle almal dieselfde moet wees.”

Die stad is oortrek met beeldhouwerke, sommige modern, ander bring hulde aan die stadsvaders soos Ingólfur Arnarson wat dit in 874 gestig het, of die bekende gesangdigter, Hallgrím Pétursson,

Twee kunswerke naby die water is ook die moeite werd om op te soek – een in die hawe om vertrekkendes af te sien en aankomelinge te verwelkom, getiteld Looking Seawards deur Ingi Þ. Gíslason, wat in 1997 opgerig is om die 80ste herdenking van die hawe te vier; en die ander The Sun Voyager (Sólfar) deur Jón Gunnar Árnason, geleë langs die Sæbraut-pad. Laasgenoemde word beskryf as ʼn droomboot, of ʼn ode aan die son – die belofte van onontdekte grondgebied, ʼn droom van hoop, vooruitgang en vryheid.

As jy nie tyd het om die res van die land te besoek nie, is die Imax-agtige ervaring by Fly Over Iceland, net die regte manier om die mooiste van die land te sien. Jy hang in jou stoel in die lug voor ʼn 20 m skerm en daar is wind in jou hare en koue sproeireën as jy oor die watervalle vlieg. Die fotografie is asembenewend en die stoel beweeg saam met die helikopter, wat jou waarlik laat voel of jy vlieg.

Tussenin is daar genoeg seekos, Yslandse skaapvleis en seekossop om die maag vol te hou en wyn en bier van regoor die wêreld om die dors te les.

Wol is natuurlik een van die groot uitvoerprodukte en die Yslandse skape het oorgenoeg daarvan. Wol in elke denkbare kleur is ook te koop en word nog met ou skale geweeg en in bruinpapiersakke verpak. (Foto: Clifford Roberts)

Dis met die woorde van die bekende Yslandse kunstenaar, Björk, wat teen ʼn glaspaneel op die lughawe pryk waarmee ek die land groet:

I feel

 emotional landscapes

They puzzle me”

Beter kan ek dit nie stel nie.

Gaan ontdek ook:

By Rammagerðin – een van die land se bekendste dekor- en ontwerpwinkels – koop ek sepies wat in velt toegeweef is. (Foto: Clifford Roberts)

  • Gaan sit vir ʼn paar minute in die Hallgrím-kerk – die stad se hoogste gebou – wat aan die einde van ʼn voetgangervriendelike straat, wat in die Gay Trots-kleure geverf is, pryk of steek ʼn kersie vir ʼn geliefde aan. Gaan ook op met die hyser in die kloktoring op vir die mooiste uitsig oor die stad.
  • Gaan kuier by Ikea vir slim maniere om jou huis optimaal in te rig vir ʼn lekker lewe. Die bus loop tot oorkant die straat en daar is ook lekker groot kettingwinkels as jy in selfsorgverblyf woon en wil lekker kosmaak teen meer bekostigbare pryse. Moenie vergeet om die frikkadelle, bruinsous en kapokaartappel in die Ikea-restaurant te eet nie!
  • Gaan loer gerus by Chromosapiens.art na die video’s van die Yslandse kunstenaar, Shoplifter/ Hrafnhildur Arnardóttir se uitstalling.
  • Twee heerlike, bekende restaurante in die stad is Borg en Fish Company (Fiskfélagið). Albei het uitstekende wynlyste, bekroonde sjefs wat watertandkos maak en lekker klassieke dekor. Albei is in historiese geboue ingerig. Borg bedien vir ons die beste Yslandse salm en ons vind Blank Bottle Wines van Somerset-Wes op die wynlys, wat heerlik is saam met dié vis. Fish Company is vir tien agtereenvolgende jare aangewys as beste seekosrestaurant in die stad. Ons kry Durbanville Hills Collectors Reserve Pinotage en Nederburg Manor House Cabernet Sauvignon op die spyskaart en verlang sommer huis toe!
  • Ysland is bekend vir sy natuurskoon, vars seekos en natuurlik die warmwaterpoele, waarvan Blue Lagoon net buite Reykjavík, sekerlik die bekendste is. Gaan kuier vir ʼn dag daar in die mineraalryke warm water en beplak jou hele lyf met modder.
  • Die Reykjavik Maritieme Museum (Sjóminjasafnið ĺ Reykjavík) Grandagarður bied ʼn indrukwekkende versameling en is ʼn lekker plek om ʼn uur of twee te verwyl, voor jy die klein eetplekkies en winkeltjies in die omgewing verken. Die klein vierkant voor die museum is ook dié plek vir vis en skyfies terwyl jy uitkyk oor die see.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.