Robertson: ’n Vallei vol vriendskap en wyn

Robertson se valleie en berge. (Foto verskaf)

Verby Worcester neem ek die R60, reguit Robertson toe. Ek wou ontsnap uit die rumoer in Kaapstad. Hier ontdek ek alles waarna ʼn hart soek wat moeg is vir die stadslewe. Die natuurskoon is soos merlot vir die siel.

In Robertson se berge vind ek avontuur, maar ek vind ook rus. In sy valleie vind ek vrede, kameraadskap en wyn van elke soort. Die hoogtes en dieptes van die plek het elkeen sy eie verrukking, wat maak dat jy aan alle aspekte van Robertson verknog raak. ʼn Naweek hier laat jou siel in die wingerde in weef, asof die dinge wat jy saambring deel word van die karakter. Met elke asemteug word die plek net mooier, die wyn smaakliker.

Ek proe dit steeds. Dis Tangled Tree se cabernet sauvignon, Rooiberg se merlot en Viljoensdrift se sauvignon blanc, Four Cousins se rosé. Maar dis Van Loveren se pinotage wat ek agter in my karretjie laai, saam na die huisie in die berge.

By ʼn stil paadjie net voor die dorp draai ek in. Die berge staan majestueus in die oggendson en skape wei reg voor my. Hulle skrik toe ek uitklim en ʼn paar jonger skapies hardloop weg. “Gaan djy dorp toe, mevrou?” vra iemand skielik langs my. Toe eers merk ek die informele huisies op. ʼn Kreupel man met ʼn kierie staan langs ʼn jonger vrou. “Nee, nie nou nie,” jok ek. ʼn Leuen wat die res van die dag my soos ʼn dolk in die hart steek.

My rustige huisie en sy stoepie wat uitkyk oor die berge. (Foto verskaf)

Ek ry deur Robertson se hoofstraat, verby Robertson-wynmakery en die reuk van wyn hang in die lug. Hierdie is ʼn plek waar jy wyn proe, praat en ruik soos jy deur die strate ry. Ek kies koers na my oornagverblyf. De Hoop Cottages is net soos wat ek my voorgestel het: Ek neem ʼn paadjie uit die dorp en ʼn paar draaie later loop die pad dood tot by Laaiplaas. Daar waar ek oorslaap is dit ʼn wêreld op sy eie.

‘n Vuurtjie op die plaas se stoep. (Foto verskaf)

Laaiplaas se bosse het voetspore wat diep trap. Ek voel sommer aan dat hierdie gedeelte al vir eeue ʼn tuiste was. Sy damme is verfrissend. ʼn Windjie waai deur die riete en die plaashonde se geblaf weergalm deur die klowe.

Die hele dag lank kyk ek vir die berg en neem elke stuk detail in. Dit is hoeka Laaiplaas se resep vir stres: “Neem iets om te drink, sit op jou stoel en kyk ʼn halfuur lank vir die berg.”

Saans sit ek op my stoepie, met ʼn sterrehemel vir myself: ek kan nie ophou kyk nie. Daar is kriekies, my boek, ʼn wyntjie en ʼn vuur. ʼn Plaashond kom groet voordat ek inkruip en my deure sluit. Die volgende oggend toe die rantjies van die hoë berge ʼn warm dag in die buitewêreld verklik, vou ek myself net nog ʼn bietjie langer toe in die bergkombers. Ek haal net nog ʼn bietjie asem tydens ʼn oggendstappie na die ou wynkelder op die plaas.

“Leef jy nog?” vra die boodskappe toe ek weer dorp toe ry. Die plaas waar ek oorgeslaap het, het juis weer nuwe lewe in my wakker gemaak. Ek is nuuskierig om meer van Robertson se geskiedenis te ontdek. My hart gaan soek stories. Dit is wat Robertson doen. Hy nooi jou eers rustig binne en as jy weer sien, is jy vas. Dan loop jy rond in sy museum en in sy strate. ʼn Kerkklok lui ʼn klassieke deuntjie wat – so voel dit – deur die dorp se watervore vloei, tot binne in my hart.

ʼn Entjie uit die dorp is Rooiberg. Moeë reisigers kom drink ʼn vinnige koffie en groet die donkie en ganse. Afrika se grootste rooi stoel pronk by die ingang en gryp selfs volwassenes se verbeelding aan. Ek klouter daar op en kyk uit oor die vallei. Een ding is baie seker, dink ek. Vriendskap en wyn loop hier hand aan hand.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.