Ry die Ntintwa-pas – met ’n fiets

Cobus by die agtergkant van die “welkom in Geluksburg”-bordjie. (Foto: Verskaf)

As jy met ’n buitepad uit Harrismith op ’n fiets kan wegkom, het jy klaar die gevoel dat die wêreld aan jou voete is, skryf Cobus Olivier.

’n Fietsrit oor ’n paar dae op pad na ’n onbekende plek hou nuwe bekoring in. Met ritmiese getrap en die fietsrak wat jou bondeltjie vashou, ry jy hierdie vryheid binne. Langs die pad wuif onbekende mense terwyl die omgewing voortdurend verander.

Toe tannie Alta de Jager van Harrismith my van die Ntintwa-pas vertel, val die “gezing” van die naam so lekker op my oor, dat ek dadelik besluit om die pas met die fiets aan te durf.

Ons tweedagroete neem mens van Harrismith eers deur plaaswêreld en golwende heuwels na die platorand waar die Ntintwa- en Middledale-pas mens teen die platorand af na Geluksburg neem, en van daar lei die roete na Bergville.

Op die vooraand van die rit sluit getroue vriend, Dirk van Zyl van Trichardt, by my aan. Ons oornag by Rheola’s-gastehuis in Harrismith.

Net voor dagbreek trap ons opgewonde op ons fietse deur Harrismith se Murraystraat tot die teerstraat grondpad word. Ná ’n paar kilometer skuif Platberg langs ons weg en die dagbreek se goue son verkleur die grasvelde, bloekoms en grondpad in goud-oranje. Doer in die verte voor ons lê die Drakensberge.

Hier is amper geen verkeer nie. Boere in hul wit bakkies waai vriendelik, ’n paar stop om te gesels. Ná 15 km lap ons die eerste en enigste pap wiel van die tog in die skadu van ’n laning bloekombome. Weer aan die trap, skuif beeste en grasvelde verby ons en die horisonbruin Drakensberge kom al hoe nader. Dit is ’n lekker gevoel om te weet dat dit vandag net jy, die berge en die groter-as-die-berge is.

Cobus en Dirk by dag een se halfpadmerk. (Foto: Verskaf)

Ons halfpadmerk is by die groen, geroeste Geluksburg-padbordjie, ’n raps groter as ’n straatnaambord wat die afdraai na Geluksburg aandui. By hierdie mylpaal klim ons af om asem te skep. Vir twee middeljarige manne met grendeltydvet, wat die fietse eers vanoggend afgestof het, is dit baanbrekerswerk om 22 km in vier of vyf uur te ry.

Ons is klaar gerus en saal weer op. Die pad skud minder en die berge kom nader.  Ons kruis die provinsiale grens na KZN, maar die land van Natal is nog nie groen nie…

In die landskap voor ons met sy heuwels, hellings en dale lê die Ntintwa- en Middledale-passe. Dikwels word die twee passe as dieselfde gesien, maar tegnies is die grondpad die Ntintwa en die latere teerpaadjie die Middledale-pas.

Met stywe, reguit arms, pynlike konsentrasie en hoë spoed, jaag ons teen die grondpad-afdraandes van die Ntintwa-pas af tot in die driffies. Daarna volg slakkepas teen die steil opdraandes uit en dan die onvermydelike afklim en verder stoot. Die grootsheid van die 180 miljoen jaar oue berge (so skat ons) slaan my asem weg. Die spruitjies kerf en kronkel al dieper deur die aarde.

’n Stukkie landelike tuisland skuif ná die plaaswêreld voor ons in met hutte en klein steenhuisies, dwalende beeste, hoenders en gillende kaalbaskleuters. ’n Prentjie wat my met heimwee terugvat na my kinderdae in Limpopo se Lebowa.

My bene word moeër en my asem blaas hewig toe ons die driffie bereik waar ’n outydse handpomp die gemeenskap se bron van drinkwater is. Die handpomp is sekerlik publieke kapitaal, maar ek wil vriendelik wees. Ek vra die mooi jong ma in my beste Zoeloe: “Sawubona, mfuna amanzi?” (Hallo, [ek] soek water).

Haar witgesmeerde gesig kyk op terwyl haar liggaam gebuk bly, vir ’n oomblik skuif haar hande van die klere in die waskom na haar knieë, sy antwoord met ’n sin waarin ek net “pump” kan herken. Kindertjies wat in die nat grond speel, groet vrolik terug voor ek die blou hefboom op en af begin pomp. Gou maak die dun straaltjie water ons bottels vol.

Ek stoot teen die laaste moordende opdraande uit voor ons die Ntintwa-dorpie bo-op die Ntintwa-plato bereik. Voetgangers groet vriendelik. Ek kyk oor my skouer na die Drakensberge se basaltkranse wat in ligte sandsteenlae invloei, soos ’n olieskildery oor die wydte van die landskap agter my. Die twee Zoeloe-tannies wat verby my stap, stop om te gesels. Ek verstaan hul Zoeloe nie en vat ’n kans met my gebroke Sotho. Die een slaan oor in Sotho en wil weet waarnatoe ons op pad is.

“Geluksburg,” antwoord ek. Sy vra of ons vandag daar wil aankom en snak van verbasing as ek ja sê. Sekerlik nie teen hierdie stootpas nie, moes sy dink?

Die dorpie is landelik met sy grond vir mielies en diere om elke huis. Ons is honger en kry afsaalplek langs die pad waar ons rus en laasnag se oorskietpasta en kaassous vir middagete geniet. In die stilte van die middaguur klink die vriendelike groet van verbygangers.

Net verby die skool stop ons by Ntintwa se spazawinkeltjie. Ons geniet koue koeldrank en koekies op die sementstoepie. Kliënte kom drupsgewys nader. Bokke, hoenders en varke op soek na kos en skadu sukkel om van die hitte van die middag te ontsnap. Ek wonder of siësta-tyd hier in die berg ooit oorgaan…

Nie veel verder nie staan ons op die platorand. Ons kyk af oor die Middledale-pas se haarnaalddraaie en na Geluksburg, doer onder. Die groot afdraandes lê “hef aan” voor. Gaan my silwer bergfiets se remme die onbegonne teerpaadjie se vallende afdraandes kan hanteer? Die pas val om en by met 500 m oor die volgende 5 km. Soms moet ek die remme los, die fiets begin ruk van die spoed en onverwagse slaggate skep hoëspoeduitdagings.

Ná die ergste afdraandes maak ons kondensmelkkoffie onder ’n doringboom en kyk uit op die onherbergsame Verlore Vallei waar agt Voortrekkerfamilies vir 150 jaar in absolute afsondering geleef het. Hulle was total onbewus van oorloë, konsentrasiekampe, die Spaanse Griep, regeringsveranderinge, die maanlanding en apartheid. Die destydse regering het hulle gaan uithaal en in Geluksburg gevestig om hulle “beskaafd te maak”. Nou kan hulle aan politiek, besoedeling, lang ure op skoolbanke Coca-Cola en rugby blootgestel word.

Die son is skaars verby die middaguur toe ek en Dirk in Geluksburg aankom. By die Geluksburg-bordjie op die rand van die gehuggie neem ons foto’s, ons dagtaak is gedaan.

Geluksburg se erwe is groot, met hoenders en selfs ’n koei hier en daar. Die winkeltjie by die padbord in die hoofstraat is toe vir die Saterdagmiddag wyl donkies rustig daar wei.

Die aand in Geluksburg oornag ons in een van Gina’s se oulike byekorfhutte. ’n Lieflike plek met swembad, kampeerplek en ook luukse kamers. Die eienaars, Ina en Phil gee ons inligting oor die omgewing en kontreistories. Gina’s dien as basis vir baie bergfiets- en 4×4-roetes.

Sondagoggend se skof is 30 km Bergville toe. Tien kilometer voor Bergville by Bethany word die grondpad teerpad. Ons ry die laaste lang afdraande Bergville in en stop by die Hoofstraat-garage. Voor ek my beursie vir koeldrank koop uit het, het Dirk reeds ’n geleentheid na Harrismith vir ons en die fietse in ’n platbakinsleeplorrie gebedel

Ons sit styf teenmekaar ingedruk voor in die lorrie terwyl ons die Oliviershoekpas uitbeur. Laas wat ek en maat Dirk styf saamgepers voor in ’n lorrie gesit het, was tydens ’n duimgooi-studentevakansie langs die noorde van die Malawimeer – en heelwat jonger. Dalk was ons bene tóé nie so middeljarig nie.

As jy gaan:

  • Rheola’s gastehuis in Harrismith (waar ons oornag het, ’n motor gelos en ná die tyd kon stort): Skakel 060 952 7005
  • Gina’s Akkommodasie in Geluksburg: Skakel 084 583 1596 of besoek hul webblad by www.ginas.co.za
  • Indien jy vanaf Harrismith na Geluksburg ry, moet jy versigtig wees in die Middledale-pas. Die afdraandes is lank en skerp met onverwagse slaggate en draaie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.