SA’ners in die buiteland: Só vier ons Kersfees in Nederland

Madelein Geurden du Toit en haar gesin.

Madelein Geurden du Toit en haar gesin.

In Suid-Afrika het ons ons eie, eg Suid-Afrikaanse Kersfees-kultuur: sonskyn, swem, tafels wat kreun onder die kos, Kerssangdienste met Kersfeesliedjies, bedrywige winkelsentrums vol Kersversierings en veral gehaltetyd saam met ons geliefdes. Maar vir baie Suid-Afrikaners in die buiteland het Kersfees ʼn heel ander gedaante. Maroela Media het in samewerking met Wêreldwyd gaan kers opsteek by Suid-Afrikaners wat in ander lande woon om te hoor hoe hulle Kersfees vier, en watter van die Suid-Afrikaanse tradisies en gebruike hulle steeds in die buiteland deel van hul Kersfees maak. Ons plaas vandag die tweede van ʼn reeks van vyf stories oor Suid-Afrikaners in ander lande se Kersfeesvierings.

Hoewel die Kersseisoen in Europa prentjiemooi is, vier Nederlanders Kersfees heel anders as die Suid-Afrikaners, vertel Madelein Geurden du Toit, wat al die afgelope 13 jaar in Nederland woon. Sy vertel:

“In die 13 jaar wat ek in Nederland woon, was die Kersseisoen nog nooit soos ek dit onthou uit my grootwordjare in Suid-Afrika nie.

Sint Nicolaas kom kuier.

Sint Nicolaas kom kuier.

“In die middel van November kom Sint Nicolaas (oftewel Sinterklaas) met ʼn stoomboot in Nederland aan. Dit is vir al die klein kindertjies so ʼn groot belewenis dat die kinders wat nie daar kan wees nie, dit selfs regstreeks op televisie kan kyk. My dogtertjie, nou 21 maande oud, het hierdie jaar vir die eerste keer dié intog beleef.

“5 Desember is “pakjesavond”. Dan word die laaste geskenkie uitgedeel en vertrek Sinterklaas weer terug “Spanje” toe.

“Kersdag is meer uitgebreid en deftig en daar word lekker geëet. ʼn Mens kan die maaltyd met Paasfees vergelyk. Soms is daar geskenke, maar soms ook nie.

“Ek het grootgeword met die tradisie om vir elkeen iets te gee, al is dit ietsie kleins. Hier saam met my skoonfamilie trek ons egter lootjies en vir die persoon wie se naam jy trek, koop jy ʼn geskenk met ʼn waarde wat vooraf bespreek is.

“Wat ek wel fantasties vind, is dat Kersfees in Europa prentjiemooi is. Dit is winter, koud, en daar is kersies aan die bome. En as dit nog sneeu ook, dan is dit die spreekwoordelike kersie op die koek.”

  • Hou Maroela Media Dinsdag dop vir ons volgende artikel in dié reeks.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.