SA’ners in die buiteland: Só vier ons Kersfees in Thailand!

OLYMPUS DIGITAL CAMERAIn Suid-Afrika het ons ons eie, eg Suid-Afrikaanse Kersfees-kultuur: sonskyn, swem, tafels wat kreun onder die kos, Kerssangdienste met Kersfeesliedjies, bedrywige winkelsentrums vol Kersversierings en veral gehaltetyd saam met ons geliefdes. Maar vir baie Suid-Afrikaners in die buiteland het Kersfees ʼn heel ander gedaante. Maroela Media het in samewerking met Wêreldwyd gaan kers opsteek by Suid-Afrikaners wat in ander lande woon om te hoor hoe hulle Kersfees vier, en watter van die Suid-Afrikaanse tradisies en gebruike hulle steeds in die buiteland deel van hul Kersfees maak. Ons plaas vandag die eerste van ʼn reeks van vyf stories oor Suid-Afrikaners in ander lande se Kersfeesvierings. Geniet dit!

Hulle het verlede jaar gesmag na ʼn eg Suid-Afrikaanse Kersfees, en selfs net om op Kersdag ʼn Kersdiens in ʼn kerk by te woon. Daarom het sy en haar man besluit om vanjaar ʼn bietjie Suid-Afrikaanse nostalgie in hul Kersfees in te werk, skryf Marietjie Klynsmith uit Thailand. Sy vertel:

“Kersfees is maar moeilik vir ons in Thailand. Die meeste Westerse buitelanders wat hier woon en wat ons ken, steur hulle nie juis aan Kersfees nie, en dus is ons gewoonlik op onsself aangewese.

“Die mense van Thailand vier Kerstyd op hulle eie manier, maar dit het geen godsdienstige konnotasie nie.  Oral in Bangkok kry ʼn mens pragtige Kersfeesuitstallings so ʼn week of twee voor Kersfees tot Nuwejaar, maar dis meestal net op die toeriste gemik. Op een van die onderstaande foto’s is ʼn goue rusbank wat spesiaal daar geplaas is sodat mense daarop kan foto’s neem.  Die Thaise mense is baie goed met die skep van sulke tonele waar ʼn mens kan foto’s neem.

“(Vir interessantheid: in Thailand vier hulle hul eie Nuwejaar, en op 1 Januarie ook die Westerse Nuwejaar.)

“Kersfees 2013 het ons alleen deurgebring.  Ons het gaan eet by een van die hotelle in Bangkok (sien foto’s) wat darem ʼn Kersete teen ʼn bekostigbare prys aangebied het.  Niemand in die restaurant het Kersfees gevier nie en het net, soos gewoonlik, middagete kom eet. Dit was vreemd en ons het skielik gewens ons kon kerk toe gaan en dan huis toe, na ʼn regtig Suid-Afrikaanse Kersete.  Ons het egter lekker gesmul aan al die eetgoed in die buffet.  Die foto’s wys ook die Kersversierings wat ons opgespoor het.

“Omdat ons in Bangkok studeer en nie net skoolhou nie, het ons al baie gawe uitlanders ontmoet saam met wie ons graag vanjaar Kersfees wil vier.  Ons het reeds gepraat daaroor dat ons Kersdag saam wil eet. Dit sal ons almal help om nie so eensaam te voel nie. Ek en my wederhelf gaan ook probeer om ʼn Kersdiens op die internet op te spoor en daarna te luister, sodat dit regtig soos Kersfees sal voel.

“Ek en my eggenoot wil graag almal ʼn wonderlike Kerservaring toewens. Ons wens is dat julle nie eensaam sal wees nie en dat die nuwe jaar ook net vreugde sal inhou.”

  • Hou Maroela Media Vrydag dop vir ons volgende artikel in dié reeks.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.