Seestrome, duikbote en geheime van Afrika se suidelikste kus

Die kanon by die NSRI in Struisbaai. (Foto: Verskaf)

Deur Pierre Massyn

Die suidelikste kus van Afrika staan nie om dowe neute bekend as die Skeepswrakkus nie. Hierdie verraderlike kus tussen Gansbaai en die mond van die Breërivier het al sedert die dae van die vroeë Portugese seevaarders minstens 122 opgetekende skepe en vaartuie geëis. Daar is waarskynlik heelwat meer wrakke in hierdie onstuimige waters wat deur die Agulhas-seestroom omspoel word. Twee van die kus se mees onlangse slagoffers wat nog nie eens na behore gekarteer is nie, was die vistreiler Meishu Maru wat tussen die beroemde vuurtoring en Suiderstrand lê, en die seiljag Honey Bee wat tussen Stinkbaai en Struisbaai aan sy einde gekom het.

Maar hoekom is hierdie kus so gevaarlik?

Een van die oorsake lê in die feit dat golwe wat in die verre Suidelike Oseaan ontstaan, vir duisende seemyl aangestorm kom met geen natuurlike versperrings soos kontinente of eilande om hul aantog na ons kus te stuit nie. So ’n golf kan ontsettende momentum opbou teen die tyd dat hy die kontinentale bank van die Afrika-vasteland tref. Sy basis word letterlik onder hom uitgeruk en hy begin breek. Ons vind hierdie effek veral op die Agulhas-bank, waar die see drasties vlakker word selfs tot 250 kilometer van die kus af. Soms oorvleuel golwe en vorm ’n supergolf wanneer ’n vinniger golf ’n stadiger een “inhaal” en saamsmelt. Die heersende wind is die Suidooster[1] wat drukking op die see veroorsaak en “bots” teen die Agulhas-stroom wat suidweswaarts langs die kus van Afrika vloei.

Hierdie Suidooster kan soms onverwags omswaai. My seiljoernaal wys dat ek op 21 Oktober 1996 op my 31 voet-seiljag Sea Cottage (’n Van der Stadt Dogger-model), saam met Pieter van der Westhuyzen en Mark van der Sandt van Knysna na Simonstad geseil het. Pieter was destyds hawemeester van die Valsbaai-seiljagklub en later mede-eienaar van die jag Swerwer, en Mark die eienaar van Firefly.

Daardie dag is ons regoor Witsand, sowat agt seemyl van die kus. Die wind verander in ’n oogwink van suidoos na suidwes. Voor ons oë sien ons ’n trog so groot soos ’n rugbyveld in die see verskyn. So ’n “gat” is dikwels die gevolg van seestrome wat teen mekaar werk. Soms swenk die noordwesvloeiende koue Benguela-stroom wat in die Suidpoolstreke ontstaan, ver genoeg oos om met die suidoosvloeiende Agulhas-stroom kontak te maak. Hierdie stroom – ’n warm seestroom – omspoel die suidoos- en suidkus van Afrika. Die plaaslike botsing van strome veroorsaak dat die Agulhas-stroom “terugkrul” na die suidooste. Hierdie verskynsel staan bekend as die Agulhas-retrofleksie. Dit veroorsaak sekondêre kringstrome – draaikolke suid en oos van die samevloeiingsone. Die trog wat Sea Cottage byna ingesluk het, was waarskynlik die gevolg van die Agulhas-retrofleksie.

Die see bewaar sy geheime goed en mens kan maar net bespiegel hoeveel wrakke hul in ’n ewige watergraf in ons gebiedswaters bevind. Op ’n dorp soos Swellendam kan twee ou kanonlope van wie-weet-wanneer by die Voortrekker-geloftemonument naby die brug op die noordoewer van die Koornlandsrivier gesien word, en in Struisbaai voor Stasie 30 van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) is daar ook ’n ou kanonloop van onsekere herkoms. Voor wyle Con Krüger, skrywer en historikus, se huis op Struisbaai (Dooierus) was daar ook ’n misterieuse kanonloop. Die grootste versameling van gebergde wrakstukke en artefakte vind jy egter in Bredasdorp se Skeepswrakmuseum – die enigste in sy soort ter wêreld[2].

Soms geluk dit jou om sonderlinge vondste te ontdek. Só duik ek eenkeer lewendige ammunisie by die historiese suidpunt van Afrika uit – nie die werklike suidpunt nie, maar die tradisionele suidpunt, die naald, in die berugte maalgat waar ek self byna ’n waterdood gesterf het. Oor hoe die skietgoed daar beland het, kan jy maar net wonder.

Kanonne by Swellendam. (Foto: Verskaf)

Maar hierdie storie gaan eintlik oor duikbote. Suid-Afrika besluit met sewe stemme om die land tydens die Tweede Wêreldoorlog aan die kant van die Geallieerdes – prakties-gesproke, Engeland – te dompel. Onder leiding van Jan Smuts word Duitsland oornag Suid-Afrika se vyand. Pro-Duitse sentiment, veral onder die Afrikanerbevolking, het egter nie agterweë gebly nie. Die bekende Duitse simpatiseerder en Olimpiese Springbok-bokser, Robey Leibbrandt, wie se Springbokbaadjie in Grey Kollege se heldesaal uitgestal word[3], is een van die sprekendste voorbeelde. Tot vandag toe is daar op ons kus hier ter plaatse stories in omloop van Duitse bemanningslede wat op boereplase onthaal is en van proviand vir hul skepe voorsien is. In Bredasdorp was daar die geval van ’n hakekruis wat ’n boer op sy waenhuisdeur geverf het.

Dit is bekend dat Duitse duikbote aan die Suid-Afrikaanse kus aktief was, aangesien die skeepsroete om die Kaap van Goeie Hoop as strategies belangrik beskou is vir die vervoer van materiale vir die Britse oorlogspoging. Kaappunt is egter nie die suidelikste punt van Afrika soos “toergidse” gereeld verkondig nie. Nee, dis Kaap Agulhas, ’n hele 150 kilometer verder suid![4]

In 1942 word Operasie Eisbär van stapel gestuur en in 1943 Operasie Seehund. Die duikbote opereer in “wolftroppe” en voer ’n skrikbewind onder Geallieerde skeepvaart. Eisbär is so suksesvol dat die U-bote[5] binne drie dae – van middernag 8 Oktober 1942 – nie minder nie as 14 skepe in Kaapse waters kelder, en daarna nog sewe om die Kaap Agulhas-kus. Dis die U-159, U-509, U-182, U-506 en U-177 wat verwoesting saai om Afrika se suidelikste kus. As teenoffensief vir die knaende duikbootbedreiging, stuur Suid-Afrika en Engeland Operasie Wicketkeeper van stapel, waarmee hulle beperkte sukses behaal.

Die Amerikaners loop ook deur onder die dood uit die dieptes. Volgens een bron kelder ’n U-boot op 22 September 1943 die Amerikaanse handelskip, die USS Julia Luckenbach, aan ons kus. Dis insiggewend dat die tydskrif Outspan op 17 September 1943 berig dat ’n duikboot se wagtoring in daardie tyd “gereeld” deur ene Dunn (James William Pearson)[6] opgemerk is.

Hy en sy medeboer Pot Beyers, van die plaas Brakfontein naby Waenhuiskrans, was besig om skape by Potberg te dip toe hulle die boot gewaar wat “soos ’n groot tenk uit die water kom” net nadat hulle ’n wit bootjie op die oppervlak bemerk het. Hulle hou die duikboot dop terwyl hy in ’n oostelike rigting vaar. Beyers, ’n lid van die nasionale vrywillige reserwekorps, ruik lont en jaag in sy Chevrolet-bakwa na Bredasdorp waar hy die landdros in kennis stel, wat weer die weermag verwittig, en kort voor lank bestook drie bomwerpers die Duitse vlootskip. Die plaaslike boere sien ’n groot oliekol in die seewater. Later skryf ’n Suid-Afrikaanse vlootoffisier genaamd De Villiers aan Beyers om hom te bedank en lig hom in dat die duikboot gekelder is.

Was dit dieselfde duikboot wat die Luckenbach na die dieptes gestuur het? Die twee datums suggereer so ’n chronologiese moontlikheid. Wat ’n navorser se taak bemoeilik, is die owerhede se tendens om militêre geskiedenis wat vir hulle ’n verleentheid kan skep, toe te smeer, te verswyg of as “geklassifiseerd” te bestempel.

Maar as jy jouself met geskiedenis bemoei, duik ’n stukkie geluk af en toe vir jou op. Paul du Plessis, ’n plaaslike duiker, vertel aan Carl Lohann, ’n afgetrede professor van Pukke en daarna kurator van die einste Skeepswrakmuseum op Bredasdorp, dat hy op ’n duikbootwrak naby die kusplaas Hamerkop[7] – in ’n hol krans naby die mond van die Breërivier – afgekom het. Die Duitse owerhede laat hom en ’n duikspan egter nie toe om nadere ondersoek in te stel nie aangesien gekelderde duikbote oorlogsmonumente is. By implikasie erken hulle dus die bestaan van daardie wrak.

Een van die meese bisarre staaltjies is dié van ’n Duitse seeman wie se lyk aan ’n Kaapse strand uitgespoel het. Die owerhede stel nie net vas dat hy ’n Duitse duikbootmatroos was nie, maar vind boonop ’n kaartjie van die Alhambra-skouburg in Kaapstad in sy uniformsak!

‘n Skets van ‘n Duitse duikboot. (Foto: Verskaf)

In 1943 kelder ’n Duitse duikboot ’n Britse skip op sy eerste vaart sowat 400 seemyl (ongeveer 740 kilometer) van Kaap Agulhas. Die oorlewendes kry met hul 36 voet-reddingsbote koers in ’n noordelike rigting. Ná ’n martelvaart van byna twee weke op see in oop bote met byna geen kos of water nie, land die een groep in Valsbaai. Dis eers toe ’n matroos ’n sigarethouer met die inskripsie “Gemaak in Suid-Afrika” optel, dat die uitgeputte manne weet waar hulle hulself bevind. Die ander boot bereik die Potberg-kus en word deur plaaslike boere versorg.

Die suidelikste kus het die interessantste name – Die Borrelgat, Die Brood, Rasperpunt, Natslaanbankies, en ander. By ’n plek genaamd Die Las, by Struisbaai, lê ook ’n Duitse duikboot wat dateer uit die Eerste Wêreldoorlog, vertel die Bruwers van die wynplaas Bon Courage, wie se voorsate daar dikwels agter die vis aan was. Die bekende duiker Jimmy Herbert het ook eenkeer laat glip dat hy eenkeer, toe hy in Struisbaai gaan vis skiet het, ’n “ding gesien het wat vir hom baie soos ’n duikboot gelyk het”.

Daar lê ook ’n derde wrak hier aan ons kus, en dis ’n Engelse duikboot. En hy lê sommer hier op my voorstoep op Suiderstrand.

In die oorlogsjare ry die plaaslike polisie eendag teen laatmiddag patrollie by Suiderstrand en kom af op ’n groepie bedremmelde manne. Hulle stel vas dis seemanne, klaarblyklik van ’n gestrande vaartuig. Hoe nou gemaak? Hulle prop die groepie in hul vangwa en sit af Bredasdorp toe. Hulle verlaat hulle op ’n mnr. Vermeulen, ’n gesiene inwoner met sy eie vervoeronderneming. In ’n toekaptrok jaag Vermeulen in die middel van die nag na die Vlootbasis op Simonstad met die klomp verwese Britte. Hierdie gebeurtenis word aan prof Lohann bevestig deur Vermeulen se seun, wyle Sarel. En hy het ’n artefak om dit te bewys: ’n flits wat een van die Engelse matrose aan sy pa gegee het!

Hierdie insident word tot vandag toe deur die owerhede verswyg. Hoekom? Die Britse duikboot is deur ons eie mense gekelder! “Friendly fire” is die Engelse term daarvoor.

As jy die see respekteer, sal hy jou verdra, maar net solank jy hom respekteer. En as jy hom respekteer, sal hy dalk, net dalk, nóg meer van sy geheime openbaar.

  • Pierre Massyn is ’n aflandige seiljagmeester en navorser. “Ek is dank verskuldig aan Graham Pienaar wat vir Radio Overberg ’n onderhoud waarop aspekte van hierdie artikel berus, met wyle professor Carl Lohann gevoer het. Professor Lohann is op 14 Junie 2015, kort ná die onderhoud, oorlede.”
  • Bykomende bronne: The Confiscated Coast, deur Marius Diemont en Jean Tresfon; Agulhas Erfenis-vereniging, Toerisme-biljet, Colyn, Chris, et al.

Voetnota:

[1] ’n Wind kry sy naam van die rigting van waar hy waai.

[2] Lees “Die suidelikste houtvrou het nóg ’n geheim” (Maroela Media, 18 Januarie 2019).

[3] Lees “Drie berugte helde was drie Grey-manne” (Maroela Media, 11 Oktober 2019).

[4] Lees “Hoe ver lê die suidelikste punt?” (Maroela Media, 12 Oktober 2018).

[5] Die woord “U-boot” staan vir “Unterseeboot”. Lees “Die Watergrafte van Scapa Flow” (Maroela Media, 31 Mei 2019).

[6] Prof. Lohann noem nie sy voornaam nie, maar Diemont en Tresfon wel. Die Dunns het van 1916 tot 1927 by Stilgat en daarna tot in 1946 op die plaas Elandspad (vroeër Eilands Pad) op die Potberg-kusstrook tussen Waenhuiskrans en Infanta, wes van die Breederiviermond geboer. Potberg is op die destydse kaarte Potteberg genoem, en afgelei van die bergreeks met dieselfde naam (Potteberg), en is vandag deel van die De Hoop-reservaat wat voorheen “verbode terrein” was, oftewel Krygkor/Denel-staatsgrond. Dit was afgesonder vir, onder meer, missieltoetse, maar behoort teenswoordig aan Kaaplandse Natuurbewaring. ’n Lid van die Dunn-familie het vir jare der jare die pont oor die Breërivier by Malgas (Malagas) beman.

[7] Op vroeë kaarte soos dié van die landmeter-generaal gedateer 1912, word die naam as “Hammerkop” aangedui.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.