Selfsorgwenke vir jou Somervakansie

Foto: Bigstock

Die somer is uiteindelik hier ─ jy sien al maande lank uit na jou welverdiende somervakansie en dis byna tyd om jou tasse te pak. Maar wanneer jy ’n selfsorgvakansie beplan, is daar egter meer om aan te dink as net watter klere jy moet inpak. Daarom het LekkeSlaap ’n nuttige lysie selfsorgwenke saamgestel sodat jy nie dié keer wéér iets by die huis vergeet nie. So, moenie met jou hande in jou hare sit nie, vra net die vakansiekenners!

Om seker te maak jy pak nie onnodige items in of vergeet ’n noodsaaklikheid by die huis nie, stel ons voor jy kontak die betrokke instansie-eienaar nog voor jy begin pak.

Vind uit of die volgende items voorsien word:

  • Beddegoed
  • Bad- en strandhanddoeke
  • Toiletpapier
  • Genoeg breekware
  • Genoeg eetgerei
  • Opwasmiddel
  • DStv-koppelpunt
  • Braaigeriewe
  • Braai-toerusting
  • WiFi
  • Haardroër
  • Tweepuntkragproppe
  • Veilige parkeerplek
  • Vriesplek

Vra ook uit oor die volgende:

  • Watter doendinge word in die omgewing aanbeveel?
  • Word troeteldiere toegelaat?
  • Hoe lyk die weersomstandighede?
  • Wat is die plaaslike winkels se handelsure?
  • Wat is die toestand van die pad?

Daar is egter ’n paar items wat jou om een of ander onverklaarbare rede altyd ontglip. Dis natuurlik ook gewoonlik die belangrikste items en dan wil jy jouself skop omdat jy dit vergeet het. Om seker te maak jy onthou alles het ons dié wenklysie volgens vertrek ingedeel:

Slaapkamer

Augusta De Mist ─ LekkeSlaap

  • ’n Ekstra laken is altyd ’n móét! As jy dit nie in die slaapkamer nodig het nie, kan jy dit altyd as ’n piekniekkombers of ’n skadunet in die motor inspan.
  • Moenie dat die muskiete jou slapelose nagte gee nie ─ pak jou muskietweermiddel.
  • Indien jy ’n ligte slaper is of in ’n omgewing gaan oorbly wat redelik raserig is, is oorpluisies ’n goeie oplossing.
  • Onthou jou haardroër as dit nie voorsien word nie.

Badkamer

Klein Slangkop House ─ LekkeSlaap

  • Sommige selfsorg-eenhede voorsien ’n rol of twee, maar dis altyd ’n goeie idee om jou eie toiletpapier saam te bring.
  • Onthou al jou toiletware!
  • Pak handdoeke in as dit nie voorsien word nie, en moenie jou strandhanddoek vergeet nie!

Kombuis

Urchin Cottage ─ LekkeSlaap

  • Beplan jou etes.
  • Maak seker wat die plaaslike winkels se handelsure is, sodat jy jou inkopies daar kan doen. Jy wil ook nie voor ’n toe deur staan as die hongerpyne knaag nie.
  • ’n Bottel- en blikoopmaker is gewoonlik die twee items wat altyd in ’n selfsorgkombuis vermis word ─ as die een daar is, is die ander een dikwels nie beskikbaar nie.
  • Kombuispapier is altyd nuttig vir opvee en afvee.
  • Pak Sunlight-seep in sodat jy sommer die skottelgoed én wasgoed kan was.
  • Maak seker of, én hoeveel, koffie, tee en suiker voorsien word. Jy wil nie soggens sonder jou koppie boeretroos wakker word nie!
  • Swartsakke is belangrik vir die vullisdrom en kan ook as ’n wasgoedsak dien.
  • Pak peuselhappies vir stranduitsappies in Ziploc-sakkies.
  • Onthou plastiekbakkies vir die vorige aand se oorskiet-braaivleis.
  • Plastiek-eetgerei is nie net ideaal vir die kinders nie, maar sal ook handig te pas kom indien daar nie genoeg eetgerei in jou selfsorg-eenheid is nie.
  • ’n Koelkas sal jou kos koel hou op pad na jou vakansiebestemming.
  • Bring yssakkies om in jou koelkas te sit. Dis ook goed om byderhand te hê as iemand ’n besering opdoen.
  • Moenie die speserye vergeet nie!

Vermaak

Abalone House & Spa ─ LekkeSlaap

  • Vind vooraf uit watter doendinge jou vakansiebestemming bied, sodat jy weet watter toerusting en klere om in te pak.
  • Bordspeletjies sorg altyd vir hope gesinspret.
  • Pak kaarte in vir ’n luilekker, reënerige dag by die huis.
  • ’n Binneband sal die kinders (en selfs die ouers) ure in die water besig hou.
  • Onthou die visvangnetjies, sodat die kleingoed ook ’n paar vissies kan uittrek.
  • ’n Goeie boek ─ dis die ideale geleentheid vir lekker lees!
  • Vind uit of daar ’n DStv-koppelpunt is en of jy jou eie dekodeerder en slimkaart kan saambring.

Reis

Chapman’s Peak Accommodation ─ LekkeSlaap

  • Gebruik ’n lapsak eerder as tasse en koffers ─ dis makliker om te hanteer en in klein, oop spasies in jou kattebak te manipuleer.
  • Spaar en vermy die skares langs die pad deur jou eie padkos in te pak!
  • Vind vooraf uit hoe die pad se toestand is en of daar enige padwerke of ander oponthoude is, sodat jy genoeg tyd kan inwerk en nie onkant betrap word nie.

Ander

La Cotte Forest Cottages ─ LekkeSlaap

  • Kragonderbrekings is ’n werklikheid in ons land, so onthou ’n flitslig en kerse.
  • Vuurhoutjies of ’n aansteker gaan hand aan hand met braai!
  • Of jy nou ’n splinter wil uithaal of biltong wil kerf, ’n mens sal altyd ’n nut hê vir ’n knipmes.
  • Jy kan nie ’n vleisie oor die kole gooi sonder ’n braairooster nie!
  • Laai ’n sak hout in sodat jy voorbereid is vir jou vakansie se eerste braai.
  • Onthou ys, sodat jy ’n yskoue glasie wyn op ’n goeie jaar kan klink.
  • Bring ’n ekstra tweepuntkragprop vir die selfoon- en skootrekenaarlaaiers.
  • Pak kersversierings in om jou selfsorg-eenheid op te kikker.
  • Maak ’n nota van die omgewing se belangrike noodnommers en hou dit byderhand.
  • Moenie die noodhulpkissie by die huis vergeet nie!

Kry ’n voorsprong op jou vakansieplanne vir volgende jaar en besoek LekkeSlaap.co.za vir selfsorgopsies reg oor die land!

Nou ja toe, met dié lekker lysie vol wenke sal jy nooit weer iets by die huis vergeet nie. Merk elke item een vir een af, pak alles in die motor, laai die jongspan in en kies koers na jou somervakansiebestemming!

Hierdie artikel is verskaf deur Lekkeslaap.co.za en is opgestel deur Nanje Lourens.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.