Ses van die bestes: Multidag-staproetes vir jou wenslys

Otter-staproete (Foto: Carina Stander)

Een sekerheid wat die mensdom in 2020 geleer het, is hoe tydelik die lewe is – daarom sal daar waarskynlik in die toekoms dalk minder gereis word, maar meer na spesifieke droombestemmings wat jare lank uitgestel is.

Plaaslike reise sal vir eers die enigste (en veiligste) opsie wees. Op risikovlak 3 van die afsonderingsperiode is dagstappe oop en sommige van die roetes wat ek hier noem, het ook dagstap-opsies. ʼn Multidagstap is egter ʼn tree in die regte rigting en ʼn uitstekende manier om weer bande op te tel met vriende en familie wat jy maande laas kon sien.

As medestappers aan virusvrees ly, kan jy hulle gerusstel dat hulle slegs in kontak met die groep gaan wees. ʼn Staptoer is ook een van die goedkoper maniere van reis. Boonop kon die natuur asemskep in die afsonderingsperiode en gaan uitgevars wees, die paadjies minder vertrap. Wink daarom solank jou mense nader en besluit op ʼn stapavontuur waarmee julle jul vryheid in 2021 kan vier: beplan nou en bespreek sodra besprekings open. As lusmaker lys ek ses van die wild-wonderlikste multidag-voetslaanpaaie in Suid-Afrika. (As daar meer spasie was, sou ek nog drie hier wou bylas: die Outeniekwa, die Fanie Botha en Drakensberge.)

Amatola: Droomstap vir die dapperes

Amatola-roete (Foto: Charley Lewis/Amatola Trails)

Die sprokiesagtige Oos-Kaapse dorpie Hogsback met sy akkerbome en fraai kothuise herinner aan die Engelse platteland. Hogsback is die basis vir die Amatola: een van die allermooiste en allermoeilikste staptogte in ons land. Dié sesdagroete van 100 km kronkel verby die fabelagtige ou Ciskei en neem jou deur ruie inheemse woude.

Dag 1 stap jy onder stokou kalanders, broodbome, ysterhoute, assegaaie en knoppiesdorings. Die boomwortels is trappe. Jy oornag by Gwili-gwili-hut wat uitkyk oor die veraf berge.

Dag 2 stap wemel dit van varings, hangende mos en sampioene. Daar is meer as ʼn dosyn watervalle op die roete en mens verstaan hoe fantasieskrywer JRR Tolkien sy inspirasie vir The Hobbit in dié woude kon kry. Jy oornag in Dontsahut op die rant van ‘n krans.

Dag 3 kronkel verby tweelingwatervalle. Op die plato is die grasveld besprinkel met veldblomme – malvas, watsonias. Die oornaghut is Cata.

Die vierde dag skop af met ʼn stywe stap teen Gejupiek (1 850 m). Vanaf die bergrif kyk jy uit oor Keiskammahoekvallei, Elandsberg, Gaikaskop, Hangklip en die Indiese oseaan. Die terrein is ru. Die oornaghut is Mnyameni wat beteken “Donker plek tussen die berge”.

Dag 5 klim jy deur woude tot by ‘n grasveld. Die kontoerpad swenk na Wolfriviervallei waar jy dalk ʼn sekretarisvoël, valk of forel kan gewaar en kan swem in die groot poel. ʼn Steil kloof lei na ‘n versteekte vlei en Zingcukahut.

Die laaste dag stap jy terug na Hogsback.

Afstand: 100 km in ses dae. Die pad is betowerend, maar lank en swaar. Pak lig en stap sodra dit lig word, sodat jy tyd het om die wonderlike watervalle en uitsigte te geniet. Amatola beteken “Plek van jong kalwers”, maar hierdie is nie ʼn kalfie nie – jy beter stapfiks wees!
Skakel Bosbou: 043 642 2571
E-pos: [email protected]
Besoek die webwerf

Dolfynroete: Lieflik en gerieflik

Dolfynroete (Skermgreep uit video)

Die Dolfynroete in die Oos-Kaap is die ideale kombinasie van mooiheid en gemak. Die wegspringplek is Stormsriviermond, die oudste marinepark in die land.

Dag 1 stap jy slegs vanaf die parkeerterrein tot by die houthuis op die strand – branders voor, die kuswoud agter. Salig slaap jy met die seegedruis in jou ore.

Dag 2 ontmoet jy die veldgids. Hy deel interessante natuurfeite en dra die drinkwater, noodhulpgoed en snorkels, sodat stappers net ‘n kamera en swemklere hoef te dra. (Alle rugsakke word vervoer.) Die klipdassies loer skalks en die meeue skater terwyl mens die hangbrûe oorsteek en die steilte uitklim. Bo by die plato wag oggendkoffie en beskuit, blommende heide en proteas. In die winter kan jy walvisse van hier bo af gewaar. Hierna kronkel die roete na onder tot by ʼn snorkelpoel met seesterre en anemone. Ons het ook twee otters deur die water sien glip – besonders om dié menssku dierasies te sien. Ná ʼn bielieberg is dit gelykpad tot by Misty Mountains – ʼn  oornagplek op ‘n platorand 230 m bo die see met ‘n 180° uitsig oor die Indiese oseaan. Aandete word in die restaurant bedien.

Dag 3 swoeg mens weer ‘n hoë berg uit, maar bo gekom wag daar ‘n piekniek in die woud. Verblyf is by Forest Ferns in ʼn kothuis met ‘n pootjiesbad en leiklipstort. Die jacuzzi bo die afgrond kyk uit oor die rivierkloof en waterval. Aandete by Forest Ferns se restaurant is topklas.

Dag 4 word jy op die 4×4-rit van Stormsrivierpas geneem wat lank terug ‘n migrasieroete vir olifante was. Terug by Stormsriviermond neem jy die bootrit na die druppende grotte.

Afstand: 17 km in vier dae. Die Dolfynroete sluit drie nagte se luukse verblyf, stap met ʼn opgeleide veldgids, alle etes, vervoer van bagasie, ‘n 4X4-rit en bootrit in.
Skakel: 042 280 3588
E-pos: [email protected]
Besoek die webwerf

Magoebaskloof: Woudwandeling in silwer mis

Magoebaskloof (Foto: Sandi Leigh Moore/Facebook)

Die magiese Magoebaskloof in Limpopo is die habitat van driehonderd voëlspesies – kanaries, loeries, bosuile, woudpapegaaie, houtkappers. Dis ʼn dwaalplek vir bosbokke, bosvarke, rooiduikers en samango-ape. Clivias blom in die hoogste mikke en in die subtropiese bergwoude is varings en sampioene. Op dag 1 verskyn ‘n bosreus op jou pad: ‘n sydneybloekom (Eucalyptus saligna) van 82 m, die hoogste aangeplante boom in die Suidelike Halfrond.

Deur die verloop van vyf dae swenk die pad deur inheemse woude, oor houtbrûe en verby watervalle. Jy kruis vele strome en plantasiepaaie. By die Dap Naude-dam swiep visvangers oor die water. Dokolewa is ʼn besonderse houthut wat bereik word deur met ‘n hangbrug oor die waterval te stap. Van Dokolewa na Woodbush stap mens al langs die rivier, op en af tussen silwer-eike en bergrose en mistigheid.

Afstand: 62,4 km in vyf dae. Ons het Magoebaskloof saam met ons ouerpare gestap wat in daardie stadium in hulle laat-sestigerjare was. Die oupas kon dit maklik baasraak, maar die oumas het swaargekry, want mens is lank op die voet. Dagstappe is moontlik. Skakel Komatiland Ekotoerisme: 013 754 2724
E-pos: [email protected]
Besoek die webwerf

Otter-wandelpad: “The Grail of Trail”

Otter-staproete (Foto: Carina Stander)

Jip, dié Otter. Of soos stappers die legendariese roete noem: The Grail of Trail. Dit skop ook af by Stormsriviermond in die Oos-Kaap, maar in die teenoorgestelde rigting as die Dolfynroete. Dag 1 kronkel al langs die see, verby aronskelke, rotse oortrek met oranje korsmos en ʼn Khoisan-grot. Kusblomme en vet dassies verras jou langs die pad. Ná ongeveer 3 km bereik jy ʼn waterval met ʼn fantastiese swempoel. Van hier swaai die pad op en af en weer op tot by uitsigte oor die bergwoud en see waar dolfyne dikwels deur die branders boogspring.

In die dae wat volg, sal daar nog spesiale swempoele opduik – in riviere, in rotspoele, in die branders. Hoe verder die roete vorder, hoe meer wissel die landskap van gedaante. Die woude maak gaandeweg plek vir ruwe sandsteen en kwarts. Die bergrif is ‘n blomtuin met speldekussing-proteas en ritsellende sewejaartjies, oranjerooi heide, suikerbossies en koningsproteas so groot soos ‘n kind se kop. Jy stap deur biesies en fluitjiesriet en oor spoelklippe.

As dit hoogwater of springgety is, is Lotteringrivier stampvol en dan beter jy flink op die voete wees. Bloukransrivier moet ook betyds oorgesteek word, want selfs met laagwater kom die gety soms vinnig in. André-se-hut is op ‘n idilliese klipperstrand; tot die toegerankte toiletkamertjie is mooi.

Die laaste dag word jy beloon met uitsigte oor die straatliglose Nature’s Valley – die enigste dorpie in Suid-Afrika wat binne-in ʼn nasionale park geleë is. Vanaf die hoë krans kyk jy uit oor die wye see aan jou een kant en aan die ander kant ʼn ongerepte strand van 4 km en ʼn strandmeer omring deur berg en woud. Droommooi.

Afstand: 42,5 km in vyf dae. Die roete is redelik kort wat afstand betref en kinders mag dit vanaf twaalf jaar oud stap, maar dis tegniese terrein. Dis met rede een van die gewildste roetes in die land – bespreek betyds! Jy kan dwarsdeur die jaar warm bergwinde of koel reëndae verwag, maar as jy rustig wil stap en die pragtige oornaghutte benut, stap September tot April wanneer dagligtyd langer is.
Skakel SANParke: 012 426 5111
Besoek die webwerf

Tsitsikamma: Stap langs sprankelende water

Tsitsikamma-roete (Foto: Carina Stander)

Die Tsitsikamma-staproete begin waar die Otter eindig: in die kusdorpie Nature’s Valley. Hierdie keer stap jy egter vanaf die Wes-Kaap na die Oos-Kaap. Dis ʼn roete wat wemel van veldblomme, gebergtes en water. Mens hoor sommer die borrelklank van water in die Khoiwoord, Tsitsikamma, wat “plek van sprankelende water” beteken.

Dag 1 neem jy die woudpad rondom die strandmeer van Nature’s Valley, wandel onder dik rankers, ysterhoute en reuse-kalanders en oornag in Kalanderhut naby die see.

Dag 2 sal die roep van ʼn visarend of bobbejaan dalk weerklink terwyl jy Apiesrug uitklim – eers deur die woud, dan deur die fynbos waar die suikerbekkies rinkink. Verkyk jou aan uitsigte oor die versteekte valleidorpie en see. Later stap jy weer deur ʼn woud en is daar wilde-irisse en kershout wat stekelvruggies oor jou pad strooi. Dis ʼn belewenis om onder Staircase-waterval te swem. Blaauwkranshut is op die rant van ‘n afgrond met ʼn onvergeetlike uitsig oor Formosapiek (1 675 m), die hoogste piek in die bergreeks.

Dag 3 steek jy eers die heuningkleurige poele oor waar die paddatjies tjirpsing en daarna is jy tussen proteas, watsonia en heide. Buffelsbos is ʼn donker kloofvallei – die ene bobbejaantoue en boomvarings. Waterwitelsgat is verfrissend. Weerskante van die pad is berge en blommende fynbos. In Benebos lyk die boomwortels soos slapende gedrogte. Die oornaghut is in die klam Keurboswoud.

Dag 4 stap jy onder die pienk bloeisels van die keurbome tot by Lotteringrivier. Bo vanaf Rushespas kyk mens uit oor bergwoude en kronkelende riviere. Ná ʼn moerasagtige strook van modder en biesies, bome en watervalle, bereik jy die oornaghut in die geheimsinnige Heuningbos.

Dag 5 begin weer met ʼn stap deur die keurbome. In Mostertsbos is die stokou bome die ene knoetse en holtes. Nademaalsnek is steil – vrek steil. Maar die uitsigte gee mens weer nuwe krag! Jy stap deur ʼn tonnel van varings tot by Sleepkloofhut.

Dag 6 is jy spoedig terug in die teerpadbeskawing by Stormsrivierbrug.

Afstand: 60 km in ses dae. Die eerste en laaste dag is kort, maar die middelste vier dae vereis stamina. Cape Pine kan teen ʼn ekstra fooi kooigoed, kos en klere tussen die hutte vervoer. Dagstappe is moontlik. In die Tsitsikamma (soos met die Otter en Dolfynroete) kan jy regdeur die jaar sonskyn én reën verwag. September tot April is die dae heelwat langer.
Skakel MTO Ecotourism: 042 2811 712 of 083 968 5111
Besoek die webwerf

Walvisroete: Beleef die waterreuse

Walvisroete (Foto: Carina Stander)

Op die Walvisroete in die Wes-Kaap beleef jy renosterveld in volle blom, fynbos en kusbos. Die ware betowering van dié roete is egter nie net die Overbergse landskap nie, maar veral in die seeskap. De Hoop Reservaat waar die staproete geleë is, is immers as Wêrelderfenisgebied verklaar omdat dit een van die plekke op aarde is met die grootste bevolking suidelike noorkappers (Eubalaena australis). Die kalf- en paarseisoen van die migrerende waterreuse vind in die dieselfde tyd plaas, dan wemel die see van nuwe lewe.

Dag 1 skop af met die uitdagendste deel van ʼn andersins maklike roete: ʼn lang klim na die hoogste punt (611 m). By Cupidoskraal word jy egter beloon met heide- en proteaspesies wat nêrens anders op aarde voorkom nie en ʼn hut met ʼn groot, gesellige vuurherd.

Dag 2 spring weg met ʼn klim na Potberg vanwaar jy uitsigte oor Breederivier en Indiese Oseaan kan geniet. Noetsiehut is ʼn klimgooi van die see af met getypoele en ʼn vlei daar naby.

Dag 3 moet jy die kans om by Stilgat te snorkel nie misloop nie. Vertoef daarna ook lank op die groot rotse sodat jy die walvisse met hulle pasgebore kalwers kan bekyk. (Ons het op een slag sewe-en-twintig walvisse getel!) By Hamerkophut in die digte kusbos het ek op die stoep onder die sterre geslaap.

Dag 4 stap mens meestal op die seesand, verby rotspoele wat krioel van lewe. Vaalkranshut is een van die mees onthoubare oornagplekke waar ek al ooit was. Dis gebou bo die kranse waarteen die branders in yswit spatsels breek en die seeswaeltjies en kormorante deur die seesproei swerm.

Die laaste dag kronkel die pad deur kusfynbos. Om by Hippo Pools naby Koppie Alleen te swem, is ʼn wonderlike afsluiting vir die stapavontuur.

Afstand: 55 km in 5 dae. Die reservaat strek 5 km in die see in en is een van die grootste marinebewaringsgebiede in Afrika. Bagasie word tussen oornaghutte vervoer, asook koelbokse – dit beteken jy kan smul op dié staptoer! Om die ware uniekheid van dié roete te beleef, bespreek vir die walvisseisoen, Augustus tot Oktober.
Skakel: 021 483 0190
E-pos CapeNature: [email protected]
Besoek die webwerf

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.