Slanghoekvallei bied stilte vlakby die snelweg

Met hierdie uitsig van jou voorstoep af, kan geen mens mos vir die wêreld kwaad wees nie. (Foto: Clifford Roberts)

Elke keer as ons in die Slanghoekvallei, binne die Breedekloof-wynvallei, gaan kuier, is daar iets nuuts aan’t gebeur. Hierdie somer se kuier was geen uitsondering nie, skryf Maryke Roberts.

Dit verbaas my elke keer dat daar net langs die besige N1 van die Kaap noordwaarts anderkant die tonnel, platteland op sy beste jou inwag. Wanneer die wit klippe ʼn paar kilometer voor Worcester “Goudini Spa” aan jou linkerkant teen die koppies uitspel, weet jy dis tyd vir afdraai – van die snelweg af en ook jou motorvensters – sodat die ooptes in jou kop kan kom nesskrop.

Weerskante van die pad is ou plase. Wasgoed wapper vrolik in die middagwind by werkershuisies. Ek vind Vrydagwasgoed anders as die res van die week se wasgoed. Dis die fyngoedjies en kleurvolles wat dan wapper. Dis asof alles vir die naweek regmaak, vir laat slaap, kuier, jou vryheid bietjie leisels gee. Sondag- of Maandagwasgoed is skoolklere, blou oorpakke en frokkies.

Drie dae van salige stilte, sonsondergange oor die Slanghoekberge, goeie wyn en ontdekking is ons voorland toe ons by Slanghoek Mountain Resort se ontvangs indraai. Terwyl my wederhelf die Covid-vorms invul, dwaal my oë by die venster uit en dan terug na die kantoor. ’n Klein bordjie verkondig: “Everybody brings joy to this office. Some by entering and some by leaving.” Ek lag kliphard. Hierdie gaan ’n goeie kuier wees!

Met die hekkode in ons koppe is ons die steiltes na ons huisie uit, een van ses weelderige berg-kothuisies aan die Badsbergkant van die vallei. In die verte, aan die oorkant van die vallei teen die Slanghoekberge, is die dam met hul ekohuisies te sien en onder ons is die oulike klein kapel onder die bome. Mense sit by permanente tente en braai, terwyl kinders sorgeloos op die groot grasperk baljaar.

Die nuwe huisies is die jongste toevoeging tot die gewilde oord wat in 2002 geopen het. Daar is kampstaanplekke, safari-tente, houthutte, chalets en weelderige eko-eenhede, asook fasiliteite vir troues en ander geleenthede.

Die kothuisies is na die peerkultivars wat op die plaas verbou word vernoem, naamlik Celina, Packham, Rosemarie, Bon Chretien, Cheeky en Forelle. Elke selfsorgkothuisie kan vier mense gerieflik huisves – een hoofslaapkamer met ’n koningingrootte bed en badkamer, en ’n tweede met twee beddens en ’n afsonderlike badkamer. Die ten volle toegeruste kombuis laat jou toe om kos te maak én die uitsig te bewonder. ’n Braai-area maak dit ’n eg Suid-Afrikaanse ervaring en ’n warm bad, wat deur ’n houtvuur verhit word, plaas die spreekwoordelike kersie op die koek!

Met panoramiese uitsigte van die vallei uit die gerief van die sitkamer of warm bad, is dit nét die regte medisyne om van die alledaagse gejaag weg te kom en die batterye te herlaai.

Ons sakke is skaars in die kamer toe my geliefde die vuur op die stoep aansteek. Die vallei, wat bykans elke minuut anders lyk danksy die wolkpatrone en die son wat aan die ondergaan is, hou ʼn mens se oë gevange en ons moet kort-kort nog hout op die kole gooi om die braaityd uit te stel, want genade, soveel pienk, blou, oranje en goud sien jy nie elke dag nie!

Die wind peper ons egter heelaand en die kaggel binne word gou aangesteek terwyl die tjoppies buite braai. Die Slanghoek Kelder se Camerca, ’n rooi versnit, is die perfekte drinkwyn vir ’n luilekker Vrydagaand. Ons steek kerse aan en gesels tot ounag. Dis asof ʼn mens in die elke dag se warboel nooit kans kry om net te praat nie; of dit nou ’n grappie van drie dae terug is wat jy nooit gedeel het nie, of die jongste nuus oor ’n vriendin se chemo. Dit val so maklik in die krake tussen alles in.

Vroegoggend is manlief aan’t woel om die vallei met sy fiets te gaan verken. Hy het die bergfietsroete van Slanghoek Kelder op sy slimfoon afgelaai. Ek klim met koffie en my boek terug in die bed, gordyne wyd oopgetrek. Ek kom egter nie ver met die lesery nie, want as ek nie indut nie, verkyk ek my aan die berge buite …

Na ’n stort en koffie kies ons koers na Huis te Merwede, die nuwe proelokaal by Merwida Wynkelder op Rawsonville. Joel Prins behartig ons wynproe bestaande uit nege wyne van die twee reekse in die stylvolle vertrek met sy marmervloer, kandelare en fluweelbanke wat aan ’n chateau op die Europese platteland herinner. Die plaas is sedert 1844 in die Van der Merwes se besit en die sesde geslag maak nou hier wyn.

Joel glimlag oor my opmerking van ’n chateau en wys na die etikette van die Huis te Merwede-reeks: ’n Regte kasteel op die oewers van die Merwederivier in Dordrecht, Nederland, waar die familie hul wortels het. Ek verstaan opeens.

“Die plaas lê langs die Holslootrivier aan die voet van die Du Toitskloofberge en strek oor 800 hektaar, wat dit een van Suid-Afrika se grootste privaat kelders maak,” vertel hy.

Die prettige etiket van die Papenkuils-reeks eer die unieke natuurerfenis van die Papenkuils-vleiland tussen Rawsonville en Worcester in die Breederivierstreek van die Boland, waar verskeie bedreigde plantspesies voorkom. Die Waterblommetjie (Pinot Grigio), Vlei Vygie (Pinotage Rosé) en Kukumakranka (ongehoute Chardonnay) spog met pragtige botaniese sketse van dié spesies op die etiket. Lieza van der Merwe, Kaapse wynmeester, het dié nuwe wynreeks as huldeblyk aan hierdie natuurerfenis bekendgestel. Sy is deel van die sesde geslag Van der Merwes, een van vyf afstammelinge wat steeds wingerd plant en uitsonderlike wyn op Merwida, die familiegrond, maak.

Die kelder spog met verskeie toekennings vir hul wyn waarvan Chenin die grootste deel van die aanplantings uitmaak. Hul gehoute Family Vintners Chenin Blanc het in 2019 vier sterre in die Platter’s Wine Guide verwerf. Daar is ook ’n Cap Classique-vonkelwyn op pad.

Ek druk my neus in die glas toe Joel die Family Vintners Chenin Blanc 2017 skink, wat deel uitmaak van die Breedekloof Makers – 14 wynmakers uit die omgewing wat elk ’n spesiale Chenin Blanc maak. Die voorwaarde soos deur die groep wynmakers ooreengekom, is dat dit ʼn hoë risiko moet inhou, maar terselfdertyd ook vir hoë beloning moet sorg. Die vallei is vir sy uitmuntende Chenin Blanc bekend.

“Hy praat vir homself,” voeg hy half ingedagte by. Voorwaar. Vier jaar oud, vol en ryk. My mond water vir die voorgestelde risotto of romerige pasta op die proenotas.

Langs die proelokaal geniet mense tee en koek in die mooie Cecile’s Tea Room en buite op die breë stoep is die atmosfeer lig en feestelik. Ons kuier met Joel se besprekings van elke wyn oor ’n ruim kaas-en-vleisbord en voor ons dit besef, word die minute ’n paar uur.

Verken gerus die Breedekloof-wynroete se ander lede in en om Rawsonville, Slanghoek, Goudini en Breederivier. Daar is vele name wat jy sal herken en wat van klein boetiekkelders tot groot landgoedere insluit: Badsberg, Bergsig, Botha, Du Toitskloof, Jason’s Hill, Kirabo, Lateganskop, Belle Rebelle, Mountain Ridge, Olifantsberg, Opstal, Stofberg en uniWines.

Die vallei is ʼn buitelugliefhebber se droom met voëlkyk, bergfiets ry, stap en forel vang, maar die meeste mense kom net om te wees. Die loomte in ons lywe moet vir eers wag, want daar is ’n jenewer-proe by Monks Gin wat oor ’n uur of wat wag. Ons gaan stap ʼn ent op die plaas om die vars lug diep in ons longe in te trek; verkykers en voëlboek byderhand.

Terug op die natuurskone paadjies kronkel ons by Kleinberg Kleiduifklub verby, waar rooi vlaggies wapper en aandui daar is mense agter die plantegroei. Oor die Breërivier, verby die “Welkom in Wolseley”- toerismestreek bordjie. Oorkant die vallei hou Bosjes se indrukwekkende kartelende kapel wag.

Net voor jy die Mitchellspas aandurf, draai die pad na links, na Monks Gin op Tierkopplaas.

Die oulike distilleerdery met sy reuseruite wat oor die vallei uitkyk, rivier wat nie ver weg nie kabbel en die reuk van sitrus en jenewerbessie in jou neus is net ’n klein lusmaker vir die vreugde wat wag.

Die jenewer het uit vriendskap (en natuurlik ’n liefde vir jenewer ontstaan. “Die storie gaan só,” vertel Coenie Lategan van Lateganskop Wynkelder en River Edge akkommodasie my. “Ek en my vrou, Edelgard, is al vir jare vriende met Nic en Di Davis. Ons is die vyfde geslag wynboere hier en met een van hul kuiers by River Edge het hulle besef ’n deel van hul harte bly elke keer hier agter as hulle na ’n kuiernaweek terugkeer stad toe. Ons het toe hierdie stukkie aarde vir Nic en Di uitgesit om hul jenewer-droom te verwesenlik.

“In 2017 het almal hul talente en vaardighede saamgegooi en die lieflike Monks Gin gestook. Die proelokaal is in 2018 gebou.”

Daar is drie jenewer in die reeks, met interessante name soos Mysterium (skeutjies fynbosgeure), Medella (met vars bloubessies van die plaas) en Mary Jane (hemp, slangbos en renosterbos). Al drie spog met verskeie internasionale toekennings. Dis natuurlik die Hemp-gin (oftewel cannabis-gin) wat almal se voorkoppe in vraagtekens laat trek.

Nic se seun, Connor, doen die jenewer-proe. Sy regterhand, Jack Baajies, pak die laaste houtplankies met glasies uit.

“Ek kom van ’n lang geskiedenis alkoholiste, nie distilleerders nie,” breek hy die ys.

Connor verduidelik dat sy pa tien jaar gelede met meervoudige sklerose gediagnoseer is en dokters voorspel het dat hy nooit weer sal kan loop nie. Hy het begin om cannabis te gebruik en stap nog steeds vandag. Dit het sy belangstelling in die medisinale waarde van cannabis geprikkel en het gevolglik daarmee begin eksperimenteer.

Die klein ruimte is stampvol, want net 20 mense kan per proe geakkommodeer word. Almal ken die jenewer, maar min ken die storie. “Die gin is geïnspireer deur die 11de eeuse Benediktynse monnike wat die eerste mense was wat koperketels gebruik het om medisyne vir Romeinse soldate te stook. Dis met jenewerbessie-infusies gemaak.” Hy verduidelik dat dit voorheen in keramiekpotte gedoen is, maar koper vang al die sulfaat en gifstowwe vas, wat dit gesonder maak om te drink.

Die tonikum is van Barker & Quinn in die Paarl en saam-saam het Monks en Barker ’n CBD-tonikum ontwikkel.

Al die produkte wat in die jenewer gebruik word, is natuurlik en uit die omgewing, vertel Connor. Sy pa se reis het hom geïnspireer om medisinale cannabis te bestudeer.

Laatmiddag sit ons op die stoepie met ons glase Monks gin & tonics en kyk hoe daar oral braaivure aangesteek word. Daar is stilte in die vallei en min ligte, maar gesels en lag klink op en styg bo die wingerde, vrugtebome en bloubessies-in-tonnels op en neem gemoedelik hande voordat dit by die vallei uitdryf om elders vreugde te bring.

Ons vuurtjie brand self en ons aankope uit die oord se klein winkeltjie het ons voorrade goed aangevul. Ek het ook sommer plaasbeskuit gekoop en ’n geskenk of twee vir verjaardae wat om die draai is. Natuurlik ook die plaas se eie olyfolie wat werkers self in die skuur uitdruk. Die naam is Klipheuwel en dit kom in 2 liter- glasbottels. Ses staan in ’n ry, reg vir inpak, want al ons vriende is net so mal oor dié olie.

Geen besoek aan die Breedekloof sal volledig wees sonder om by die Rietdakkie Padstal en Restaurant in te loer nie. Ek onthou nog die dae van witgekalkte mure, gewels, varsgebakte brood en ’n oulike grasdak. In 2019 het dié baken afgebrand en weer in 2020 met ’n moderne gewaad geopen. Dis nie net dié plek vir waterblommetjies, skilpadjies, vars suurlemoene of amandels uit die omgewing nie, maar ook vir lekker moerkoffie en ’n vars roosterkoek.

Dis ook altyd ons laaste stop vir ingelegde lekkernye, heuningbostee in lapsakkies en gedroogde vrugte om saam te neem vir vriende tuis.

Ons het nooit die warm bad op ons stoepie getoets nie, bloot omdat die wind ons nie kans gegee het nie, maar ook omdat daar net soveel vreugde in “net sit” is. My vriendin oor die waters sê “net sit” is wanneer jy nêrens hoef te wees nie, jou voete op is en jy óf wyn, óf koffie óf jou boek in die hand het. Daardie salige ure van tevredenheid met die nou en die hier.

Dis wat Slanghoek vir drie dae vir baie mense bring. Ja, ja, met lekker buitelug-goeters tussenin, maar selfs met piekniek of wynproe of pizza eet is daar groot gedeeltes van “net sit” tussenin.

ʼn Mens kan nie in die vallei kuier sonder om deurentyd bewus te wees van die magtige Breërivier wat aan die vallei sy vrugbaarheid besorg nie. (Foto: Clifford Roberts)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.