Snorkel en vang vis in ’n gesellige Sodwana

(Foto: Dalene de Vente)

Sodwana duik sommerso skielik op in die pad, sonder enige aankondiging. Hier is die perfekte kombinasie van natuur, geselligheid, visvang en snorkel. Nog voor die opspraakwekkende besetting van een van die oorde in Sodwana bevind ek my ʼn in boot, op pad om te snorkel…

Dit is makliker gesê as gedaan.

“Nee, ek weier. Ek gaan nie uitklim nie.”

In die middel van ʼn onstuimige see en ʼn oneindige klomp deinings het my moed my skielik begewe. Die stem binne-in my sê: Jy moet gaan, Dalene. Dit is Sodwana. My vriende spoor my aan en ek spring in die water. Maar enkele sekondes later help die toerleier van Adventure Mania my weer terug op die boot.

(Foto: Dalene de Vente)

Daar sit ek toe. Ek staar droomverlore vir die blou, blou waters op die dobberende boot. Die man wat die boot bestuur bied vir my ʼn kosblik vol gesmelte lekkers aan en ek aanvaar dit dankbaar.

Ek sien my vriende deur die water baljaar en gesels tussen die deinings van golwe deur. En ék en die see? Net daar besluit ek: Ons het respek vir mekaar, maar ons bly eerder uit mekaar se vaarwater.

Ons sien hoe ʼn skeurtandhaai lug kom hap en hoe ʼn skilpad verby ons swem… Ek geniet die bootrit ongelooflik baie. My een vriendin maak my touwys – letterlik – oor die gebruik van die toue op die boot.

“Jy moet jou een hand hier hou by die tou by jou bene,” vertel my een vriendin wat die oggend nog gaan diepseeduik het, “en die ander hand hier teen die tou by jou hande.”

Ons ski deur die water – iets waarop ek verlief kan raak.

(Foto: Anita van Renssen)

Terug op die strand is dit die ene geselligheid – 4×4-voertuie staan soos sardientjies op die strand langs mekaar. Hulle moet vroeg opdaag, anders word hulle die deur gewys. Musiek speel kliphard deur die karre se luidsprekers en ander mense vang vis. Mense snorkel en bietjie verder speel kinders in die branders. Nou-nou, as dit laagwater is, gaan ek weer tussen die rotse naby aan die strand snorkel – opgewonde soos ʼn kind. Die snorkelwaters wil-wil jou dieper intrek en maak dat jy vergeet van alles rondom jou. Jy ontspan werklik as jy vissies in die water dophou en hul eenvoud jou lok om saam te swem.

Bring jou eie vleis en drinkgoed saam as jy Sodwana besoek, want hier is nie ʼn Checkers nie. Om ʼn OTM te vind, is ʼn onbegonne taak. Ons slaapplek vir die aande hier is by Camp Jonathan. Dit het ʼn backpacker-atmosfeer, met ʼn groot gemeenskaplike kombuis. Hulle voorsien eetgerei soos borde, koppies, messe en vurke. Daar is seker lepels ook, maar jy moet vroegoggend vir jou een kry, anders is dit neusie verby.

Dit voel of jy op die strand kosmaak, met die sand tussen jou voete. Daar is ingeboude bankies in die swembad waar ouers hul drankies geniet, terwyl die kinders in die water baljaar. ʼn Mengsel van musiek speel in die agtergrond: Dire Straits, Justin Bieber en Juanita du Plessis.

Ons slaapplek is ’n huisie, toegerus met 5 staalbeddens en ʼn yskas. Op die dun sypaadjies tussen die huisies speel mense krieket en by die braaiplek kyk die manne wie die beste kan braai en deel die dag se visvangstories. Die bestuurders van ons kampterrein is baie behulpsaam – een van ons was op die WhatsApp-groep waar hulle al die reëlings rondom Kersfees en Nuwejaar gedeel het.

Sodwana is die laaste bestemming op ons reis deur die Noordelike deel van Suid-Afrika se kus, ʼn vakansie waar ons ook Ithala Game Reserve; Kosibaai; Bhanga Nek en Mabibi verken.

(Foto: Dalene de Vente)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.