Spaar geld en huur eerder ’n woonwa

Sprite Tourer SP Gravel Roader (2014-model). (Foto: Kampi.co.za)

Met die stand van die plaaslike ekonomie is verbruikers altyd op soek na nog maniere om geld te spaar. Die petrolprys het rekordhoogtes bereik, maar tog voel dit of ons almal steeds ʼn wegglipkans benodig.

Kampering is nou maar eenmaal in Afrikaners se bloed, want wie geniet nie ʼn aand saam met familie en vriende om die kampvuur in jou gunsteling-vakansieoord nie?

Wel, vantevore was jou opsies ʼn tent, ʼn duur chalet of om jou eie woonwa aan te skaf, maar met Kampi.co.za kan jy nou direk by eienaars hul woonwaens huur om daardie wegbreektyd saam met die gesin nog lekkerder en bekostigbaar te maak.

Nou is jou vraag dalk: Hoe kan ek geld spaar deur ʼn woonwa te huur?

“Kom ons vat iets soos die Sprite Tourer SP Gravel Roader. Hierdie 2014-model kan jy huur teen R849 per dag wat beteken as jy vir ʼn langnaweek wil wegbreek, gaan dit jou R3 795 kos. Dit sluit die verhuringsfooi, ʼn skoonmaakfooi van R250, asook ʼn administrasiefooi van R149 in,” verduidelik JP Voogt, een van die stigterslede van Kampi.co.za.

Nou kan ʼn mens dalk wonder hoe hierdie prys jou kan help spaar, want is dit nie net beter om jou eie woonwa aan te skaf nie?

“Die gemiddelde huishouding gaan slegs twee keer per jaar weg. As ons sou bereken dat albei geleenthede oor langnaweke gebeur en jy inflasie van 5,5% in gedagte hou, gaan jy net meer as R120 000 bestee om die woonwa twee langnaweke per jaar vir die volgende tien jaar te huur,” verduidelik Voogt.

Hy erken dit is ʼn groot bedrag vir die huur van ʼn woonwa, maar ʼn mens moet ook gesels oor die koste van eienaarskap van ʼn woonwa.

Om ʼn Sprite Tourer SP Gravel Roader (2014-model) in goeie toestand aan te koop, gaan jou sak met R210 000 ruk. As jy ʼn lening daarvoor moet aangaan, gaan jy omtrent ʼn verdere R70 000 aan rente moet betaal.

“Nou wil jy sekerlik jou nuwe trots verseker. Volgens Kampi.co.za se versekeringsmakelaar, Multirisk Brokers saam met King Price, gaan dit jou omtrent R500 per maand kos om jou woonwa ten volle te verseker.

“Dit is ook baie belangrik om hom jaarliks te laat versien om seker te maak jy ondervind nie probleme nie. So ʼn diens gaan jou in die omgewing van R1 800 per diens beloop, en laastens moet jy jou jaarlikse lisensiefooie ook kan dek wat ook omtrent R500 per jaar gaan kos.”

So, wat kos dit om dieselfde woonwa oor die volgende tien jaar te besit?

Voogt meen dit kan R360 000 beloop, as niks op jou woonwa breek nie. Om jou eie woonwa oor 20 jaar te onderhou, kan R446 000 kos. Al die berekening het ook glad nie stoorplek in ag geneem nie, wat jou ʼn verdere R8 000 per jaar kan kos as jy mooi rondsoek.

“Om dieselfde waarde te kry uit jou eie woonwa oor tien jaar, gaan jy minstens agt langnaweke per jaar met jou eie woonwa moet gaan kampeer,” sê Voogt.

Kampi.co.za verskaf ʼn platform waar woonwa-eienaars én -huurders met gemoedsrus kan handel in die wete dat albei partye geverifieer en gekeur is. Ná talle verlengde grendeltydperke het Suid-Afrikaners die waarde van ʼn buitelewe-leefstyl opnuut besef. Hulle is nou meer opgewek en lus vir die kamplewe as ooit tevore. Kom besoek Kampi.co.za om vas te stel of ʼn woonwavakansie ʼn beter opsie vir jou en jou gesin is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

VaalDonkie ·

Op hierdie stadium kan ek die karavaan bekostig, maar nie die petrol om hom te sleep nie.

pompies ·

Die berig is nie heeltemal korrek nie, na 10 jaar kan jy jou eie woonwa verkoop vir heelmoontlik wat jy hom gekoop het, so die huur is n opsie maar bespreek alby kante van die storie.

Zollie ·

Stem saam en as jy R500 se versekering per maand vir ‘n R210,000 se karavaan betaal is jy beslis by die verkeerde versekeringsmaatskappy.

Gerhard ·

As jy dit kan bekostig en die karavaan hou sy waarde kan ek met jou saamstem. Heelwat mense kamp so gereeld dat koop vir hulle beter is.

Vir my gesin maak dit baie meer sin om te huur. Dan betaal ek net vir wanneer ek dit gebruik en goed soos versekering en onderhoud is iemand anders se probleem. Ek het nie die geld, plek of tyd om n karavaan vir 10 jaar as n belegging te hanteer nie.

Nico ·

Nee, ek stem glad nie met hierdie berig saam nie
1. Die aankoop waarde van die karavaan word in alle waarskynlikheid of heeltemal of grotendeels terug gewen by die verkoop van hierdie bate. Woonwaens vermeerder in waarde, en is oor die algemeen ‘n uiters goeie belegging.
2. Die “jaarlikse diens ” hier tersprake – en dit na 2 kamp ondervindinge per jaar (!), is bog. Die diens sluit in die nagaan van wiellaers. Wiellaers, waar die oorspronklikes korrek gepas en reg gepak is met ghries behoort nie elke jaar oorgedoen te word nie. Vergeleke met jou motor se wiellaers (wat BAIE meer kilometers doen, teen ‘n baie hoe”r spoed) word tog nie so gereeld nagegaan nie? Ander punte, soos die battery in die karavaan, skokbrekers, bedrading , remskoene en die remsilinder voor by die hak het ook minimale aandag nodig, en sou moontlik een keer per 5 jaar diesulke behandeling regverdig. Uiteraard sal hierdie, waar die karavaan meer gereeld diens doen, meer gereeld gedoen word.

Gerhard ·

Op jou eerste punt moet jy inflasie en die rente op die moontlike lening in ag neem. As jy dit kan verkoop vir meer as koopprys + inflasie+ rente + ander kleiner kostes kan ek met jou saamstem. (Jy moet n R200 000 karavaan (wat jy sonder n lening gekoop het) vir ten minste R330 000 kan verkoop na 10 jaar net om met 5% inflasie gelyk te breek.)

Met 2de punt – ek kan saamstem met van jou punte maar die impak op totale koste is eintlik klein. Om wiellaers elke jhaar te moet oordoen is onnodig maar die berig se naagaan (toets of dit steeds reg is).

Elmarie ·

n mens spaar glad nie geld om met n woonwa te gaan kamp nie. Ordentlike kamp plek staanplekke is al amper net so duur soos om n charlet per dag te huur. Dan praat ek nie eers van die diesel en petrol pryse wat die hoogte in geskied het nie dit kos n fortuin om dit te sleep.

Gerhard ·

As ek hoor dat mense se maar 20 jaar terug met gemiddelde werke vir 6 weke oor desember by die see kon gaan kamp, wonder ek hoekom het kamp so luuks geword. Dit is al basies R1000 n nag om by die see te kamp. Dan kry jy net n stuk grasperk en toegang tot n toilet. Kyk ek is ook baie lief vir kamp maar as jy na alle kostes kyk is dit seker goedkoper, en gemakliker ook, om n woonstel te huur vir bietjie duurder.

Mallie ·

Teen die kostes vir die huur van n woonwa, huur ek eerder n rondwel. Dankie

Ben ·

Ek stem 100% saam met Mallie. Mens moet die woonwa staanplek se koste ook in ag neem saam met die huur. Dan moet jy ook n voertuig aanskaf wat in staat is om die woonwa gemaklik te sleep, en jou brandstof verbruik is meer. So, die motor mag dalk meer kos as die een wat jy sou koop as jy nie gesleep het nie. Ons het ons eie woonwa vir baie jare gehad en kamp baie geniet. Maar na ons die voordele en nadele van n woonwa (koop of huur), vergelyk het met die vakansiehuis opsie, het ons oorgeskakel na vakansiehuise. Ons het natuurlik ook ouer geword en minder lus gevoel vir die moeite wat met n woonwa gepaard gaan. Maar ek moet ook saamstem dat jy nie net na koste moet kyk nie. Kampeer is leefstyl wat jou n breek gee van jou normale leefstyl, en as dit is wat jou die beste pas vir vakansies, dan moet mens doen. Ek is nie n oomblik spyt oor ons kamp jare nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.