Spaar só vir daardie droomvakansie

Foto: Anete Lūsiņa/Unsplash.com

Droom jy ook van vakansie hou in eksotiese plekke en kleurvolle mengeldrankies op die strand te drink, maar jou bankbalans wil dit net nie toelaat nie?

Volgens Shaun Lamont van First Group, wat tientalle vakansiebestemming reg oor Suid-Afrika bestuur, is dit nie nodig om meer geld te hê om te reis nie, die geheim is eerder om minder te bestee.

Volg hierdie maklike wenke om jou droomvakansie ʼn werklikheid te maak:

  1. Kies ʼn bestemming

Jy kan nie vir ʼn vakansie spaar as jy nie weet waarheen jy gaan nie, en as jy nie weet waarheen jy gaan nie, kan jy nie ʼn begroting opstel nie.

As jy reeds voel of jou salaris voor die einde van die maand opgedroog het, is dit nie slim om byvoorbeeld Kaapstad as jou bestemming te kies as jy in Johannesburg bly nie. Bespaar eerder geld op vliegtuigkaartjies en karverhurings deur plaaslik te reis.

Die Magaliesberge is minder as ʼn uur se ry van Johannesburg af en die pragtige berge beloof om jou asem weg te slaan.

  1. Spoor winskopies op

Praat met jou vriende en familie oor hul begrotingsvriendelikste vakansie en soek die internet deur vir goeie kopies – maar moenie vergeet om direk op die hotel se webtuiste te bespreek nie. Daar kry jy beter pryse as deur ʼn aanlyn reisagentskap.

As jy nie kinders het nie, reis eerder buite seisoen, want pryse is dan aansienlik billiker. Onthou ook dat talle hotelgroepe spesiale aanbiedings het vir mense wat vooruit bespreek.

  1. Stel ʼn begroting op

Sodra jy besluit het waarheen jy gaan, moet jy ʼn dokument opstel waarop jy vir al die koste soos vervoer, verblyf, maaltye en aktiwiteite kan begroot.

Wanneer jy die bedrag vir die begroting uitgewerk het (dit sal nie presies reg wees nie, maar dan het jy darem ʼn idee), deel dit deur die maande wat oor is voor die vakansie en jy sal sien hoeveel jy elke maand moet wegsit om die bedrag te behaal.

  1. Spaar

Waarop gee jy tans jou geld uit wat nie noodsaaklik is nie? Voordat jy sê jy bestee niks van jou geld op so ʼn manier nie, oorweeg dit om met ʼn fyner oog na jou bankstaat te kyk.

Jy kan byvoorbeeld sowat R2 500 per maand bespaar deur bloot nie elke dag ʼn cappuccino te koop nie. Om jou eie middagete werk toe te bring, eerder as om dit te koop, kan jou tussen R1 000 en R3 500 per maand bespaar.

Jy kan ook bespaar deur kruideniersware maandeliks eerder as weekliks te koop. Stop ook vir eers jou Apple-musiek‑ en televisiepakket-intekening, of skaal dit af na ʼn goedkoper een. Jy kan daardeur sowat R300 per maand bespaar.

  1. Hergebruik en herverkoop

Gaan deur jou kas en verkoop goed wat jy nie meer nodig het of nie meer van hou nie. Maar moenie daar ophou nie; gaan deur elke kamer in die huis en verkoop alles wat onnodig is en spaar die geld.

  1. Maak ʼn aparte bankrekening oop

Spaar die geld wat jy wegsit in ʼn vakansie-spaarrekening. As jy nie gedissiplineerd is nie, oorweeg dit om ʼn debietorder op te stel wat geld na jou vakansie-spaarrekening toe oorplaas. Op daardie manier kan jy nie vergeet om dit te doen nie, en jy sal ook nie in die versoeking gelei word om die geld te gebruik nie.

“Die lewe gaan oor ervarings, nie oor aardse goed nie. Die herinneringe wat jy op vakansie maak, sal ʼn leeftyd hou, so wees gedissiplineerd, hou by jou spaarplan en voor jy jou oë kan uitvee, drink jy ʼn drankie op die strand,’ sê Lamont.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.