Span uit by die see: Kampplekke op die strand

Morgan Bay Caravan Park (Foto: LekkeSlaap)

’n Behoorlike vakansie by die see is een waar jy voortdurend die see kan sien, voel, hoor en ruik. Die geruis van die branders moet saans jou drome inkleur, jou vroeg soggens welkom heet wanneer jy die tentflap ooprits, en jou daarna saam met jou stomende koppie koffie by die vuur geselskap hou.

’n Kampwegbreek op die strand is bes moontlik van die mees onskatbare ervarings in enige buitelugvraat se lewe. Soos te verstane word sulke liggings egter al lank voor die somervakansie soos soetkoek opgeraap. Dis hoekom LekkeSlaap jou nóú al aanspoor om jou agterstewe in rat te kry en jou staanplek by die see te bespreek vóór dit onder jou neus weggeraap word.

Hier volg ons lysie kampplekke op die strand:

1. SANParke-kuskampeerplekke ─ Namakwa Nasionale Park, Noord-Kaap

Die Namakwa Nasionale Park is oor die laaste paar jaar baie uitgebrei en bied nou agt kampterreine reg langs die see. Die kampe is baie basies, sonder krag, water of ablusie, slegs kompostoilette.

SANParke Delwerskamp (Foto: LekkeSlaap)

Die ongereptheid en afgesonderdheid maak die ongerief oor en oor die moeite werd. Hier is dit net jy, die see en die woestyn ─ nie eers selfoonsein om jou aandag af te lei nie. Die klipmuur by elke staanplek se boma bied beskutting teen die ysige Weskusbriesie, en ook lekker privaatheid en gesellige aande om die vuur.

’n 4×4 word sterk aanbeveel as jy soveel as moontlik uit die ervaring wil put. Twee van die kampe, Boulderbaai en Skuinsbaai kan met ’n hoë 2×4 bereik word. Vir die res is ’n 4×4 noodsaaklik.

Boulderbaai | Skuinsbaai | Koringkorrelbaai | Skuinsklip | Bamboeskamp | Varswater | Kwass se Baai | Delwerskamp

Pretfeit: Vir ’n semiwoestyn het die Namakwa Nasionale Park ’n ontsettende ryk verskeidenheid flora. Na beraming kom sowat 16% van die wêreld se vetplantspesies hier voor.

2. Dwarswegstrandoord ─ Groot-Brakrivier, Tuinroete, Wes-Kaap

Dwarswegstrandoord merk al die boksies: Dis langs die strand. Die kamp het al die nodige geriewe. Opwindende trekpleisters soos Mosselbaai, Hartenbos en De Dekke is net om die draai. En tog is die oord afgesonder genoeg vir dié wat uit die gewoel wil onttrek en bietjie rustigheid soek.

Dwarswegstrandoord (Foto: LekkeSlaap)

Die karavaanpark met ablusie en ’n waskamer, is baie netjies en die gras-staanplekke het krag en water. Saam met die bogenoemde lys voordele is Dwarswegstrand beslis ’n plek waarby almal, van oumagrootjie tot agterkleinkind, aanklank sal vind.

Vorige gaste het die volgende te sê gehad:
Fantastiese, rustige tydjie langs die strand met gesuis van branders om jou aan slaap te sus. ─ Elouise G
Loopafstand van strand met myle se witsandstrande. Goeie kombinasie van beskutte- en reg op die see-staanplekke. Lekker naby Groot-Brakrivier vir inkopies en eetplekke. ─ Anton D

Pretfeit: Klipwerktuie van sowat 160 000 jaar oud is naby Mosselbaai gevind en verteenwoordig moontlik ’n mylpaal in die geskiedenis van die mensdom. Doen gerus ’n begeleide toer om meer hieroor te leer.

3. SANParke Stormsriviermond-ruskamp ─ Tsitsikamma, Oos-Kaap

Dié area se ligging tussen die vars rivier, lowergroen woud en potblou see maak dit duidelik waarom dit Tsitsikamma, oftewel “plek met baie water” genoem word. Hier waar die Stormsrivier en die Indiese Oseaan ontmoet is ’n ekologiese sprokiesland waar dolfyne, noorkappers, swarttobies en otters baljaar. Dan is daar Stormsrivier se ikoniese hangbrug oor die riviermond tussen die kranse, en die beskutte strandjie waar jy tot by die vlot, wat permanent geanker is, kan swem.

SANParke Stormsriviermond-ruskamp (Foto: LekkeSlaap)

Die kampterrein bied 100 staanplekke, met of sonder krag, vir tente en karavane. Die hoogtepunt is die inheemse bos se inwonende bokkies en Knysnaloeries wat dikwels by die perseel kom besoek aflê.

Hierdie resensie van ’n vorige gas som die ervaring by Stormsrivier die beste op:
Jy kry woudervaring, maar is by die see. Heerlik koel onder die enorme bome. ─ Ronell L

Pretfeit: Die oudste geelhoutboom in Suid-Afrika is hier in die Tsitsikamma en staan tereg as “Die Groot Boom” bekend. Dis sowat 800 jaar oud en 35 meter hoog met ’n omtrek van sowat nege meter.

4. The Willows Resort & Conference Centre ─ Port Elizabeth, Oos-Kaap

The Willows is ons topkeuse vir ’n somerkampwegbreek saam met jou gesin. Die rotspoele, strandjies en getypoele gee almal die kans om die see te geniet soos dit hulle pas, en die oord bied speletjies en aktiwiteite aan oud en jonk.

The Willows Resort & Conference Centre (Foto: LekkeSlaap)

Willows is ook net ’n hanetreetjie buite Port Elizabeth en dus ideaal vir diegene wat nie kans sien om dit te ver van die beskawing af te waag nie. So, gaan verken sommer ook die Vriendelike Stad terwyl julle daar is.

Trek jy jou neus op wanneer jy ablusiegeriewe met ander kampeerders moet deel? Twaalf van die kampterrein se 70 staanplekke het hul eie ablusie!

Vorige gaste is vol lof:
Mens hoef nêrens heen te ry nie, baie veilig, die kinders speel hier onder jou neus op die strand. ─ Anita P
Dis baie na aan ons huis in Port Elizabeth en ons wat in ons 80’s is, het dit geniet om nie ver hoef te reis nie. ─ Michael H
Sussend met die geraas van die see aan die slaap geraak. ─ Henro D

Pretfeit: Die kusstrook tussen Port Elizabeth en Oos-Londen staan as die Sonskynkus bekend omdat dit die meeste sonskyn-ure in die land kry ─ 320 uit 365 dae van die jaar.

5. Morganbaai-karavaanpark ─ Morganbaai, Oos-Kaap

Morganbaai se karavaanpark skuil langs die betowerende Wildekus, aan die oewer van die Inchara-strandmeer oorkant die strand. Die piekniektafels langs die braaiplekke maak die opset lekker gerieflik met dié dat jy een minder tafel hoef saam te karwei. Dus is dit die ideale plek as jy nog ’n kampgroentjie soos Sharon is:

Absoluut amazing. Beveel dit graag aan. My eerste kamp by die see en dit was heerlik. ─ Sharon B

Morganbaai-karavaanpark (Foto: LekkeSlaap)

Pretfeit: Antieke Ming-erdewerk en Karneool-krale het by ’n strand daar naby uitgespoel. Niemand kon nog met sekerheid vasstel of die skeepswrak die Santo Esperito van 1608, of dalk net ’n ongeïdentifiseerde skip sonder enige oorlewendes, is nie. Hoe dit ook al sy, gaan snuffel self ’n bietjie op Bead Beach en kyk watter skatte jy kan kry!

6. Rocky Bay Resorts-karavaanpark ─ Scottburgh, KwaZulu-Natal se Suidkus

Hier onder die melkhoutbome is nog ’n lekker plek vir ’n gesinsvakansie ─ daar is tot ’n swembad en ’n speelplek vir die kleingoed. Tydens die jaarlikse Sardienloop kom ontelbare sardiens hier verby, en word die oseaan ’n geroesemoes van seelewe, van seemeeue tot haaie en dolfyne kom by die feesmaal aansit. Dit maak dié stukkie van ons land se kus baie gesog, so moenie te lank sit en dink voor jy bespreek nie.

Rocky Bay Resorts (Foto: LekkeSlaap)

Vorige gaste getuig:
Ons was so gelukkig om ’n reuseskool dolfyne te sien verby swem, en het ook 9 walvisse reg voor die park sien baljaar. ─ Patrick N
Fantastiese ervaring gewees! Was te lekker om reg teen die strand te kon kamp. ─ Erika D

Pretfeit: Die Aliwalbank is ’n fossielduin in die see, vier kilometer van Umkomaas af. Die koraalriwwe, skeepswrakke en verskeidenheid seelewe, soos haaie en seeskilpaaie, maak dit een van die toptien duikbestemmings in die wêreld.

Jy het die plek, nou kort jy net die kundigheid! LekkeSlaap het raad en daad vir enige moontlike kampkopseer.

  • Wil jy weet hoe om die koue af te weer? Hier is ʼn paar kampwenke vir die winter.
  • Hier is ʼn paar boererate om die kwale en skete tydens jou kampwegbreek hok te slaan.
  • Is jy nie lus om jou hele huis saam te bring nie? Ons wys jou hoe om te improviseer met wat jy ook al byderhand het. Klik hier om meer te lees.

Danksy ons gids sal jy hopelik nou jou volgende vakansie behóórlik kan beplan. Wees wys en bespreek nóú al!

Hierdie artikel is verskaf deur Lekkeslaap.co.za en is opgestel deur is Jana Barnard.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.