Stellenbosse hotel ideaal vir sakereisigers

Die ontspanningsarea by Protea Hotel Dorpshuis & Spa in Stellenbosch. (Foto: Marriott.com)

Ek moes onlangs vir ʼn week in Stellenbosch wees om ʼn seminaar, wat deel vorm van my nagraadse studie by die Universiteit Stellenbosch, by te woon. Een van die groot uitdagings wanneer ʼn mens reisreëlings vir so iets moet tref, is die verblyf.

My reisbehoefte was om ʼn plek te kry wat naby aan die universiteit en eetplekke is, dit moet stil en ingerig wees sodat ek nauurs rustig kon sit en werk, en dit moet gemaklik by my begroting inpas.

Die dag toe ek by Protea Hotel Dorpshuis & Spa in Stellenbosch aankom, was dit die personeel se hartlike verwelkoming in Afrikaans wat my dadelik op my gemak laat voel het.

Met die intrapslag was die hotel egter in donker gehul weens ʼn vlaag van beurtkrag (die ergste sedert Desember 2019) wat die land getref het. Dit is op sigself genoeg om enige reisiger se moed te breek, maar die personeel het my gerusgestel dat hulle gerat is daarvoor.

Nuraan en Gerty Munro, algemene bestuurder van die hotel. (Foto: Christa Steyn-Bezuidenhout/Maroela Media)

Nadat ek ingeteken het, het Nuraan my bagasie na my kamer toe geneem en seker gemaak dat ek gemaklik is.

Dié elegante boetiekhotel met ʼn vierster-gradering het ʼn Victoriaanse styl en dit is ʼn lid van die Marriott-groep. Dit is op die hoek van Dorp- en Weidenhoffstraat geleë en met ʼn verskeidenheid kamers is dit geskik vir individue en sakereisigers, sowel as groepe en families.

As alleenreisiger wat daardie week in Stellenbosch was vir ʼn seminaar, verskil my behoeftes waarskynlik van ʼn gesin of vakansieganger s’n. Braaigeriewe was byvoorbeeld nie op my prioriteitslys nie, maar ʼn stil omgewing en ʼn lessenaar of ruimte waar ek kon sit en werk, was ʼn hoë prioriteit.

Dit is inderdaad wat Dorpshuis se luukse solderkamer vir my gebied het.

Een van die solderkamers by Protea Hotel Dorpshuis & Spa in Stellenbosch. (Foto: Marriott.com)

Die kamer bestaan uit twee vlakke en op die grondvlak is daar ʼn klein sit- en TV-kamer met ʼn rusbank en stoele, ʼn kombuisarea met ʼn yskas en mikrogolfoond, en ʼn lessenaar met genoeg proppe waar jy jou rekenaar, laaiers of ander elektroniese toestelle kan indruk.

Die ruim kamer met ʼn TV, koninggrootte bed, en suite‑badkamer met ʼn bad en ʼn stort, ʼn spieëltafel en kas met genoeg hangplek, is op die eerste vlak.

Nog ʼn hoogtepunt van my week by Dorpshuis was die stewige bord ontbyt wat deur die Oak Leaf Restaurant op die perseel bedien word. Ek het weggeval met vars vrugte, muesli en jogurt, en daarna weggelê aan eiers, spek, roosterbrood en gebraaide sampioene.

Gerty Munro, algemene bestuurder van die hotel, het een oggend tydens ontbyt vir my vertel dat die hotel eintlik ʼn kultuurskat is wat te danke aan weldoeners se opknappingswerk behoue gebly het.

“Al drie geboue is tot nasionale gedenkwaardighede verklaar voor dit in ʼn gastehuis omskep is,” vertel Gerty.

Die binnehof van Protea Hotel Dorpshuis & Spa in Stellenbosch waar gaste buite kan sit wanneer hulle by die restaurant gaan eet. (Foto: Marriott.com)

Dit het begin by ʼn ou Victoriaanse hoekhuis wat in 1912 gebou is en ʼn dubbele skakelhuis uit 1890. In 1991 het prof. Gerard en Alvina van Noort ʼn projek van stapel gestuur om dié historiese eiendomme te restoureer en as eenheid te verbind.

Dit het die elegante Dorpshuis-gastehuis geword en is nou bekend as die Protea Hotel Dorpshuis & Spa.

Wanneer ek terugdink aan my verblyf by die Dorpshuis-hotel is daar een ding wat vir my uitgestaan het, en ook een van die redes waarom ek die hotel sal aanbeveel, en dit is die manier hoe Gerty en haar span uitdagings hanteer het: geduldig, vriendelik, professioneel en boonop nog in Afrikaans.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.