Stolpersteine laat gestorwe Jode se name voortleef

Ons was nog net enkele ure in die stad toe ek heel toevallig op hierdie vier Stolpersteine in Berlyn afkom. (Foto: Clifford Roberts)

Op 2 September vanjaar is dit 76 jaar sedert die Tweede Wêreldoorlog amptelik ten einde geloop het; toe Japan die oorgawedokument geteken het. Die Duitsers het reeds op 8 Mei oorgegee, maar vir baie was die oorlog vir etlike maande nog nie verby nie. Op 29 Desember 2019 is die 75 000ste Stolpersteine in Memmingen (Bavaria) vir Martha en Benno Rosenbaum geïnstalleer, skryf Maryke Roberts.

My eerste kennismaking met Stolpersteine was in Deon Maas se Witboy in Berlyn (uitgegee deur Jonathan Ball, 2019), waar hy skryf van “die klein ‘struikelblokkies’ met brons plaatjies, net ’n bietjie groter as ’n pakkie sigarette, wat jy oral in die keisteensypaadjies voor woonstelblokke aantref.”

Dit dui aan waar Jode wat voor en tydens die Tweede Wêreldoorlog deur die Nazi’s vermoor is, gewoon het. Die slagoffer se naam, geboortedatum en die datum waarop hulle uit hul woonstelle of huise geneem en vermoor is, is daarop gegraveer. By vele is hul sterftedatum onbekend; ander het die marteling oorleef en elders ʼn lewe gelei.

Op die laaste bladsy van Deon se boek is ’n foto van sy skaduwee oor vyf Stolpersteine – ’n hele gesin en bure of vriende, uitgewis. Dit is die beeld wat ek met my saamdra toe ons vroegoggend Berlyn se strate invaar, presies op dié dag, wat die 75 000ste een meer as 600 km suid van ons geïnstalleer word.

Ons is effens vlugvoos ná ure se oorstaan tussen verbindingsvlugte toe ek heel toevallig amper op die vier brons blokkies trap. Jy moet amper oor hulle val, want hul ongerieflike teenwoordigheid moet jou laat stop en dink … Die Lebzelters – pa, ma, twee sussies.

Jy kan nie help om daar op die vuil sypaadjie geweldig deel te voel van iets groter nie, al het dit ’n rapsie meer as ’n kwarteeu gelede gebeur en 25 jaar voor jou geboorte ten einde geloop. Die stille ongemak van daardie klein steentjie maak jou deel van die stad en die oorlog se hartseer.

’n Gids op ’n staptoer bietjie later help ons om ’n lekker Duitse bratwurst te koop en so in die stap en eet vertel hy die Stolpersteine blokkies is 10 cm x 10 cm en die werk van Gunter Demnig, Duitse kunstenaar, wat in 1992 daarmee begin het. Dis die wêreld se grootste gedesentraliseerde gedenkteken. Dit het ten doel om elke individu wat by hul woon- of werksplek deur Nazi-troepe verwyder is en/óf doodgeskiet, na konsentrasiekampe weggeneem is, gedeporteer is of tot selfdood gedwing is, te eer.

Dae later vind ek hierdie een alleen en weet nie wat my hartseerder maak nie: een of vier bymekaar.(Foto: Clifford Roberts)

Demnig het verduidelik dat die naam “Stolpersteine” verskeie beelde oproep: dis ’n potensiële probleem (Jode was ’n probleem vir Nazi-Duitsland); jy struikel per ongeluk oor iets en iets word aan jou ontbloot (Jode wat weggekruip het). “Die term ontlok ’n anti-Semitiese gesindheid van jare gelede, maar terselfdertyd dwing dit jou tot oordenking van ’n vreeslike onreg wat hier gebeur het,” vertel ons gids.

Gunter sê jy is net vergete as jou naam vergeet word. Met hierdie blokkies van hom hou dit mense se name lewendig.

Stolpersteine is ook doelbewustelik nie groot, prominente standbeelde of grafstene nie; dit moet half onverwags ontdek word. Die kunstenaar glo mense ignoreer maklik monumente en grafstene, maar Stolpersteine moet ’n baie dieper inbreuk op jou gedagtes maak.

Die grootste gedeelte van die 75 000 steentjies is vir Joodse slagoffers van die massamoorde (Holocaust) onthul, maar ook heelwat vir ander groepe soos sigeuners, homoseksueles, gestremdes, Jehovasgetuies, swartmense, verraaiers, Vrymesselaars en vele meer.

Die klein blokkie maak beslis inbreuk op jou gedagtegang – ure daarna is jou oë ongemaklik soekend op die sypaadjie. Jy weet ook net omdat jy nie meer sien nie, dit nie beteken daar is nie duisende ander nie. Daar is reeds in meer as 1 200 plekke in Duitsland, Oostenryk, Hongarye, Noorweë, Rusland en vele ander plekke van hierdie klein ongemaklike blokkies gelê.

Soos jou oë later onbewustelik na die blokkies soek, wel daar ook ’n vrees op dat jy een van die name sal herken. Die een ding wat ek nooit voor ons besoek aan Berlyn en die konsentrasiekampe van Auschwitz en Birkenau geweet het nie, is hoeveel vriende en kennisse geliefdes in dié oorlog verloor het, en wat beslis ook elkeen ’n Stolperstein verdien.

Dis eers laatmiddag toe ek by St. Mary’s kerk instap en ’n rak met brandende kersies sien, wat my gemoed effens bedaar. Terwyl ek die kersie uit die boksie haal, met ’n ander se vlammetjie aansteek en kyk hoe die see van kersies brand, hoop ek vir vrede in ’n baie deurmekaar wêreld en dat hierdie gruwels nooit weer sal gebeur nie.

Daar is egter geen genade nie. Iewers op jou wandelinge deur die stad is daar weer iets grof onder jou skoensool. Hierdie keer is dit plaveistene wat links en regs oor teerpaaie loop, en brons plaatjies wat in dié plaveilyne aandui waar die Berlynse Muur die stad deurkruis het. Só bly jy gedurig bewus van die pynlike verlede en dat hierdie gruwels hulself inderdaad herhaal. Die muur is in 1989 afgebreek en het ook talle lewens – 140 in totaal – in die verset teen dié inperkende muur geëis.

Etlike dae later in Kraków in die suide van die land, die stad naaste aan Auschwitz, is dit nie ’n Stolperstein wat my aandag trek nie – al is daar ook heelwat regoor dié land versprei – maar wel ’n teken bo ’n deur.

By St. Mary’s kerk in Berlyn steek ek ’n kersie met ’n ander se vlammetjie aan. Terwyl ek kyk hoe die see van kersies brand, hoop ek vir vrede in ’n baie deurmekaar wêreld. (Foto: Clifford Roberts)

Ons gaan op ’n toer deur die Joodse woonbuurt, Kazimierz, waar die bekende Schindler’s List verfilm is. Kazimierz is die plek waar Jode vir eeue ’n tuiste gevind het nadat hulle uit baie Europese lande verjaag is. In Kazimierz het Jood en Katoliek sy aan sy in vrede geleef.

Teen die einde van die 1930’s was meer as ’n kwart van Kraków se bevolking Jode, tot ʼn ene Adolf Hitler sy meesterplan op die wêreld afforseer het. Dié bevolking is bykans heeltemal tydens die oorlog uitgewis.

Dis weer by ’n St. Mary’s kerk – dié keer een uit die 14de eeu op die reusemarkplein – waar ons toer begin en eindig.

Ons gids, Eugene Dashevsky, kom van die Oekraïne waar hy voorheen ’n prokureur was. Die onlangse oorlog daar het hom ook van sy land beroof en dis soveel meer ontstellend as hy die storie van die Jode wat voor die Nazi’s uitvlug vertel, omdat hy self alles weens ’n ander, meer onlangse, oorlog verloor het. Die gruwels duur dus steeds voort.

Kazimierz is ’n Joodse woonbuurt wat voor die oorlog 68 000 Jode gehuisves en binne die bestek van twee jaar verminder is tot net meer as 3 000 wat ná die oorlog oorgebly het.

Daar is soveel helde wat die Jode probeer help het tydens die Holocaust. Ons stop by ’n brons standbeeld van Jan Karski, lid van die Poolse ondergrondse weermag, wat probeer het om die Holocaust te stop deur boodskappe en bewyse daarvan na presidente soos Roosevelt te stuur. Hier neem almal foto’s van die man wat half ingedagte op ’n rusbank sit.

Nie ver daarvandaan nie, vang ongewone graffiti ons oog, waarvan een ’n enorme muurskildery wat gedurende die Joodse kultuurfees, wat elke jaar in Junie gehou word, geverf is. Dis deur ’n Israeli-groep, Broken Fingaz, gedoen en is aan Maurice Lilien, bekende Joodse art nouveau-kunstenaar, opgedra.

Net skuins onder die graffiti is muurverfwerk vir die Bosak-familie, wat van 1633 tot 1941 daar in Kazimierz gewoon het, maar in die Holocaust gesterf het. Die woorde is langs hul voordeur geverf.

Ons stap ook by ’n gesluite Oskar Schindler se fabriek verby; nou ’n museum. Die fabriek was die kern van die Spielberg-film, Schindler’s List. Buite op die hoek van die gebou is daar foto’s van die mense wie se lewens hy help red het. Hy het ongeveer 1 200 mense se lewens gered deur hulle in emaljeware en ammunisiefabrieke te laat werk, eerder as om toe te laat dat die Nazi’s hulle deporteer of teregstel. Die foto’s is van gewone mense; hulle kan mense uit jou familiealbum wees. Dit ruk my tot stilte.

Nie ver van die standbeeld nie, vang ongewone graffiti ons oog: een is ’n enorme muurskildery wat gedurende die Joodse kultuurfees, wat elke jaar in Junie gehou word, geverf is. Dis deur ’n Israeli-groep, Broken Fingaz, gedoen en is aan Maurice Lilien opgedra, ’n bekende art nouveau-kunstenaar van Joodse afkoms. (Foto: Clifford Roberts)

Teen baie van die huise waarby ons verbyloop kan ’n mezuzah gesien word. Dit is ’n dun ornament waarin daar gewoonlik ’n stukkie opgerolde perkament, ’n klaf genoem, met spesifieke verse uit die Tora op is. Dit is dan by Jode se voordeure aangebring. Ons vriend, wie se hele familie uit Duitsland gevlug het, wou graag so ʼn mezuzah as aandenking huis toe neem. Die gruwels is nader aan ons boesem as wat ʼn mens besef.

Terwyl ons tussen die klein straatjies rondloop, sê hy dat hy die enigste uit sy familie is wat die moed het om hierdie geskiedkundige plekke te kom besoek. Wat nie alles deur sy gemoed moes gaan nie …

Hy gaan soek kort voor toemaaktyd by die Austeria-boekwinkel, wat deel is van die Hoë of Lang sinagoge (die stad se derde oudste sinagoge wat dié naam gegee is omdat dit vir eeue die stad se hoogste sinagoge was), ʼn mezuzah om in sy huis in Kaapstad vas te spyker. Daar is verskeie uit hout gekerf. Dis egter by die Galicia-museum waar hy een kry met pragtige inlegwerk.

Dis pikdonker toe ons aan die einde van die toer kom. Ons laaste stop is ’n oop plein in die hartjie van die Podgórze-distrik wat in 1941 in die Kraków Ghetto omskep is. Eugene vertel die voormalige Concord-vierkant is gebruik om al die Jode opeen te jaag voor hulle gedeporteer is. Omdat hulle stoele moes bring om op te sit terwyl hulle wag, en dit al is wat oorgebly het nadat hulle gedeporteer is, is daar besluit om die vierkant in ’n kolossale gedenkmonument te omskep met 68 stoele wat die buurt se voormalige Joodse bevolking huldig. Elke stoel verteenwoordig 1 000 Jode, vertel hy.

Dis nou bekend as Plac Bohaterow Getta (Ghetto Heldeplein) en hier staan die brons-en-ysterstoele wat saans verlig word. Elke stoel is effens van die grond gelig, sodat dit steeds hoog bo die sneeu uitstaan, wat die vierkant elke jaar in ’n digte wit kombers hul.

Ons toer eindig hier waar die lewe vir baie Jode geëindig het. Baie is daar op die plein, in die straat of in hul huise doodgeskiet. Met hierdie beelde wat voor hulle afgespeel het, is familielede uit hul huise geboender en na die vierkant marsjeer, daar waar hul heil beslis is.

Lank nadat almal al gegroet het en in die donker nag verdwyn het, staan ons nog daar met ons asems wat wolkies in die bittere koue vorm. Ek kyk na die hoek waar die apteek Apteka Pod Orlem van Tadeusz Pankiewicz uit nommer 18 bedryf is. Dit is die enigste apteek in die buurt wat deur die Nazi’s toegelaat is, omdat hulle bang was dat die Jode siektes sou versprei.

Tadeusz het egter veel meer as medisyne versprei: hy het gehelp met gesmokkelde kos, korrespondensie, haarkleurmiddels en blosser, omdat Jode wat gesonder en jonger gelyk het, dikwels as arbeiders ingespan is en nie na die konsentrasiekampe gestuur is om vergas te word nie. Dis vandag ’n klein museumpie en val onder die stad se geskiedenismuseums.

Eugene se woorde bly my vandag steeds by: “Onthou asseblief wat hier gebeur het. Moet nooit vergeet nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jaco ·

Bavaria is die Engelse naam vir die Duitse deelstaat Bayern. Die korrekte Afrikaanse naam is Beiere.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.