Stormsrivierkloof: kajak deur die waterwildernis

(Foto: Carina Stander)

Stormsrivier in die Oos-Kaap is die oudste marinepark in die land. Om in die Stormsrivierkloof op te roei, is om ʼn geheim te ontdek. Hoe dieper jy die waterwildernis in vaar, hoe meer voel dit of jy terugbeweeg in tyd. ʼn Ongerepte tyd, onbesoedel deur die mens. Dít is moontlik omdat die rivierkloof nie maklik bereik kan word nie – jy kan slegs die waterpad daarheen neem.

Vandag durf ek, Gerrit en ons vyftienjarige en elfjarige seunskinders dié roei-avontuur aan saam met ʼn dosyn ander vakansiegangers. Die gidse maak seker elkeen op die toer is op hulle gemak. Hulle is uiters ervare, lees die branders sommerso met die oog en beduie hoe ons agter mekaar aan moet string, twee mense per kajak. Eers roei ons oor die see, seesproei in die gesig, verby robbe wat in die branders baljaar. Dan roei ons onderdeur die beroemde hangbrug. Waar die rivier in die see uitmond, raak die water al hoe donkerder, verander die seewater geleidelik in rivierwater. Dis die boomwortels wat die rivier so tannienbruin verkleur, die kleur van Coca-Cola.

Talle visspesies en selfs haaie swem in die monding op, vertel die gids, en in die seegrot waar ons invaar, woon twee soorte vlermuise. “Eggo”, eggo my stem deur die grot. Die rotse is roesbruin en geel van die korsmos. Weerskante van die kloof troon die steil kranse uit met aronskelke, bloulelies en vygies, boomvarings en geelhout, ysterhout en kamassie. Die kormorante broei in swermpies op die kranse en sprei hulle vlerke om te sondroog. Hoog bo swiep swaeltjies deur die lug.

Ons roei verder, tot waar die water so vlak is dat ons die kajaks vir lilo’s moet verruil. Lilo’s is klein opblaasbootjies wat spesiaal ontwerp is vir die smal waterstrook. Plat-op-die-maag dryf ons daarop stroom-op, ons arms soos vinne wat die water roer. (Gelukkig geen mensvretervisse hier nie!) By die groot rotse klim ons uit en verken die omgewing te voet tot by ʼn klein waterval. Op pad terug por die mense mekaar aan om van die hoë rotse af in die diep poele te spring. Ek is te bang, maar my drie manne vlieg sommer een, twee, drie daar af. En weer. En weer en weer. Skaterend en salig van geluk.

(Foto: Carina Stander)

Een van die vreugdes van dié ervaring is beslis die gidse. Hulle het volop kennis en is vol pittige sêgoed. Die meeste is jong bruin mans wat in die nabye dorpies grootgeword het. Untouched Adventures het behoorlik belê in die opleiding van een van die top toerismespanne van die Tuinroete. Meer as sewentig plaaslike inwoners is deur hulle opgelei in noodhulp en kajakry. Hulle is ook die wenner van gesogte pryse soos die Lilizela-toekenning vir Most Beautiful Adventure in South Africa en op Tripadvisor wen hulle die Excellence-toekenning, jaar ná jaar. ʼn Beginsel wat uitstaan, is dat Untouched Adventures nie met ʼn toe vuis leef nie – hulle saai terug in die gemeenskap deur maandelikse inkopies vir ʼn groepie bejaardes, deur steun aan ʼn ma-en-baba-kliniek, deur borgskap aan die plaaslike rugbyspan en opleiding van die seereddingspan. Hulle vat nie kanse met veiligheid nie: As die see te rof is om te kajak, word die avontuur ʼn bietjie aangepas, dan lei die gidse jou op ʼn stap deur die lieflike inheemse woud tot by die hangbrug, vanwaar die roei-avontuur op die rivier begin.

Wanneer ons 2,5 ure later weer terug is op vaste aarde, is die landskap gehul in ʼn namiddaggloed. Suikerbekkies rinkink in die aalwyne en dolfyne boog deur die branders. Ons kan sommer die klank van water hoor in die Khoekhoe- of Strandloperwoord, “Tsitsikamma”. Dis saamgestel uit tse-tsesa, wat skoon beteken en gami, vir water. Ander betekenisse is “plek van baie water”, “plek van sprankelende water” of “waar die water begin”. In Spaans gepraat van die Rio Abajo Rio: “Die rivier onder die rivier”.  Só ʼn plek is Stormsrivierkloof, ’n plek waar stories vandaan kom, ʼn ruimte waar jy terugroei na jouself, ʼn verkenning van ʼn binnelandskap.

Reisraad:

  • Stormsrivier is die wegspringplek vir die wêreldberoemde Otter-wandelpad en Dolfynroete. Daar is egter ook pragtige gratis dagstaproetes – jy betaal slegs toegang by die ingangshek. Indien jy ʼn Wild Card het, is toegang natuurlik gratis.
  • Die 2,5uur lang kajak-en-lilo-toer op Stormsrivierkloof is die gunsteling-natuuravontuur wat Untouched Adventures aanbied, maar daar is ook ʼn verlengde halfdag kajak-en-lilo-toer op Anvil witwater-kajaks en snorkelavonture.
  • Die 2,5uur lang kajak-en-lilo-avontuur is gesinsvriendelik en geskik vir kinders bo vyf jaar oud wat vergesel word deur ʼn volwassene. Gesonde grysaards geniet ook die ervaring.
  • By die beginpunt ontvang jy ʼn reddingsbaadjie, helm, roeispane, kajak en waterdigte sak waarin jy jou kamera en/ of selfoon kan bêre. (Glo my, jy wíl die herinneringe met foto’s verewig!) Swempakke kan ekstra gehuur word, maar dis nie nodig in die somer nie.
  • Die kajakgroep vertrek elke uur vanaf 9:00 tot 14:00 vanaf Stormsrivier se hawetjie anderkant die restaurant. Aanlyn besprekings is die maklikste deur Andersins, skakel Untouched Adventures: 073 130 0689 of 076 959 2817. Vonkpos: [email protected] Webwerf: www.untouchedadventures.com

(Foto: Carina Stander)

(Foto: Carina Stander)

(Foto: Carina Stander)

(Foto: Carina Stander)

(Foto: Carina Stander)

(Foto: Carina Stander)

(Foto: Carina Stander)

(Foto: Carina Stander)

(Foto: Carina Stander)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.