Suid-Afrikaanse Immigrasiewet: Persone onder 18 wat na en van Suid-Afrika reis

reis-met-kinders

Die nuwe vereistes vir kinders wat reis van en na Suid-Afrika word op 1 Junie geïmplementeer. Foto: Roughguides.com

Die nuwe vereistes vir addisionele dokumentasie vir kinders onder die ouderdom van 18 jaar wat na en van Suid-Afrika reis, sal op 1 Junie geïmplementeer word. Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) het ʼn paar vrae aan die Suid-Afrikaanse Departement van Binnelandse Sake hieroor gestel.

Maroela Media het hierdie berig van Wêreldwyd.co.za ontvang, en publiseer dit graag ter inligting aan ons lesers:

Suid-Afrikaanse Immigrasiewet (Nr. 13 van 2002)

Persone onder 18 wat na en van Suid-Afrika reis

Nuwe vereistes vir addisionele dokumentasie vir persone onder die ouderdom van 18 wat na en van Suid-Afrika wil reis, is deur die Departement van Binnelandse Sake bekend gestel. Hierdie reisigers sal met elke vlug gevra word om die vereiste dokumentasie by die vertrektoonbank te toon.

Vir meer inligting en hulp, kontak asseblief:

  1. die Suid-Afrikaanse Departement van Binnelandse Sake, 0800 60 11 90 (tolvry binne Suid-Afrika); of
  2. 2. jou plaaslike Suid-Afrikaanse Ambassade.

Vrae wat dikwels gevra word:

A) Wat bepaal die regulasies vir ouers wat met kinders reis?

Regulasie 6 (12)(a):

As ouers met ʼn kind reis, moet die ouers ʼn volledige geboortesertifikaat van die kind toon met die besonderhede van die kind se ouers daarop.

  1. Wat is ʼn volledige geboortesertifikaat?

Dit is ʼn geboortesertifikaat waarop albei ouers se besonderhede voorkom.

  1. Geld dit vir alle kinders?

Ja. Die Suid-Afrikaanse regulasies beskou ʼn kind as enige persoon onder die ouderdom van 18 jaar. Dit geld vir alle nasionaliteite wat uit Suid-Afrika vertrek en in Suid-Afrika aankom. Dit geld nie vir passasiers wat in transito (onderweg) is nie, tensy hy/sy ʼn deurgangsvisum benodig. Die volledige geboortesertifikaat moet ingedien word tydens die proses om aansoek te doen vir die deurgangsvisum en die sertifikaat sowel as die visum moet tydens die reis by die persoon wees.

  1. Wat van volledige geboortesertifikate of gelykwaardige dokumente wat nie in Engels uitgereik is nie?

Dokumente wat in ʼn ander taal as Engels uitgereik is, sal aanvaar word.

  1. Wat van lande wat nie volledige geboortesertifikate uitreik nie?

In gevalle van ander lande wat nie volledige geboortesertifikate uitreik nie, moet ʼn gelykwaardige dokument met al die besonderhede van die kind en sy/haar ouers wat deur die betrokke land se bevoegde owerhede uitgereik is, getoon word.

  1. Moet ek met die oorspronklike dokument reis?

Volgens die regulasies is ʼn gewaarmerkte kopie voldoende. Dit moet deur ʼn kommissaris van ede (of die gelykwaardige as kommissarisse van ede nie in die betrokke land bestaan nie) gewaarmerk word as ʼn egte afskrif van die oorspronklike.

  1. Kan die dokument geskandeer en gepos word?

Ja.

B) Wat bepaal die regulasies oor kinders wat saam met een ouer reis?

Regulasie 6 (12)(b):

In gevalle waar een ouer met ʼn kind reis, moet hy/sy ʼn volledige geboortesertifikaat toon asook:

  1. ʼn beëdigde verklaring met die ander ouer op die geboortesertifikaat se toestemming wat hom/haar magtig om die Republiek van Suid-Afrika binne te kom of te verlaat met die kind wat saam met hom/haar reis; of
    ii. ʼn hofbevel wat volle ouerlike verantwoordelikheid en regte of wetlike voogdyskap oor die kind aan die ouer toeken as hy/sy die ouer of wetlike voog van die kind is; of,
    iii. waar van toepassing, ʼn doodsertifikaat van die ander ouer op die geboortesertifikaat;
    met dien verstande dat die Direkteur-Generaal in gevalle waar ʼn kind se ouers albei oorlede is en die kind saam met ʼn familielid of ander persoon reis wat aan hom/haar of sy/haar ouers verwant is, aan daardie persoon toestemming verleen om die Republiek met die kind binne te kom of te verlaat.
  2. Wat is die tydlyn vir die beëdigde verklaring?

Die beëdigde verklaring mag nie ouer as vier maande wees op die datum van die reis nie.

  1. My land reik nie beëdigde verklarings uit nie. Watter alternatief het ek?

ʼn Suid-Afrikaanse ambassade in die reisiger se land van verblyf kan gevra word om die eed of plegtige verklaring gratis uit te reik.

C) Wat bepaal die regulasies oor persone wat met ʼn kind reis wat nie hul biologiese kind is nie?

Regulasie 6 (12)(c):

As ʼn persoon met ʼn kind reis wat nie sy/haar biologiese kind is nie, moet hy/sy die volgende toon:

  1. ʼn kopie van die kind se volledige geboortesertifikaat;
    ii. ʼn beëdigde verklaring van die kind se ouers of wetlike voog om te bevestig dat hy/sy toestemming het om met die kind te reis;
    iii. kopieë van die kind se ouers of wetlike voog se identiteitsdokumente of paspoorte; en
    iv. die kontakbesonderhede van die kind se ouers of wetlike voog;
    met dien verstande dat die Direkteur-Generaal in gevalle waar ʼn kind se ouers albei oorlede is en die kind saam met ʼn familielid of ander persoon reis wat aan hom/haar of sy/haar ouers verwant is, aan daardie persoon toestemming verleen om die Republiek met die kind binne te kom of te verlaat.

Vrae en antwoorde 1 – 8 is ook van toepassing.

  1. Geld dit ook vir kinders wat saam met skoolgroepe of hul grootouers reis?

Ja. Enige kind onder die ouderdom van 18 wat saam met iemand anders as sy/haar ouers reis, moet in besit wees van al bogenoemde dokumente.

  1. Is ʼn kopie van die volledige geboortesertifikaat voldoende of moet dit die oorspronklike wees?

Volgens die regulasies is ʼn gewaarmerkte kopie voldoende. Dit moet deur ʼn kommissaris van ede (of die gelykwaardige as kommissarisse van ede nie in die betrokke land bestaan nie) gewaarmerk word as ʼn egte afskrif van die oorspronklike.

  1. Moet die kopieë van die ouers se paspoorte/ID’s gewaarmerk wees?

Dit moet deur ʼn kommissaris van ede (of die gelykwaardige as kommissarisse van ede nie in die betrokke land bestaan nie) gewaarmerk word as ʼn egte afskrif van die oorspronklike.

  1. In watter formaat moet die ouers se kontakbesonderhede wees?

ʼn Beëdigde verklaring met die ouers se toestemming (voorgestelde formaat aangeheg) met die ouers se name en vanne, fisiese adresse, telefoon- en selfoonnommers sal voldoende wees.

  1. Hoe verkry jy die Direkteur-Generaal se toestemming as jy nie in Suid-Afrika woon nie?

Gaan na die naaste Suid-Afrikaanse diplomatieke of konsulêre verteenwoordiger oorsee.

 D) Wat bepaal die regulasies oor kinders wat as alleen reis?

Regulasie 6 (12)(d):

Enige onbegeleide minderjarige moet die volgende aan die immigrasiebeampte toon:

  1. bewys van een of albei sy/haar ouers of wetlike voog se toestemming, na gelang van omstandighede, in die vorm van ʼn brief of beëdigde verklaring dat die kind die Republiek mag binnekom of verlaat, met dien verstande dat as net een ouer toestemming verleen, daardie ouer ook ʼn kopie moet lewer van ʼn hofbevel wat aan hom/haar volle ouerlike verantwoordelikheid en regte oor die kind toegeken het;
    ii. ʼn brief van die persoon wat die kind in die Republiek moet ontvang met sy/haar huisadres en kontakbesonderhede waar die kind sal woon;
    iii. ʼn kopie van die persoon wat die kind in die Republiek moet ontvang se identiteitsdokument of geldige paspoort en visum of permanente-verblyfpermit; en
    iv. die kontakbesonderhede van die kind se ouer of wetlike voog.

Vrae en antwoorde 1 – 12 is ook van toepassing.

  1. Wat is die ouderdom van ʼn onbegeleide minderjarige in hierdie geval?

Enige kind onder die ouderdom van 18 wat alleen reis, word deur Immigrasie as ʼn onbegeleide minderjarige beskou. Dit raak nie die lugdiens se beleid en prosedures oor onbegeleide minderjariges nie.

  1. In Regulasie 6 (12)(d) verwys punte (i) en (ii) na ʼn brief. Moet hierdie brief gewaarmerk wees?

Ja, dit moet deur ʼn kommissaris van ede (of die gelykwaardige as kommissarisse van ede nie in die betrokke land bestaan nie) gewaarmerk word as ʼn egte afskrif van die oorspronklike.

  1. Moet een of albei ouers toestemming gee?

Volgens die regulasies moet albei ouers toestemming gee.

E) Wat bepaal die regulasies oor twee ongebruikte bladsye in die paspoort?

Regulasie 2 (1)(d):

Passasiers wat na Suid-Afrika reis, moet in besit wees van ʼn paspoort met twee ongebruikte bladsye wat gebruik kan word vir endossemente met ʼn visum vir ʼn hawe van binnekoms, ʼn visum, ʼn permanente-verblyfpermit of ʼn vertrekstempel.

  1. Geld dit vir alle passasiers wat na Suid-Afrika reis?
  • Die twee ongebruikte paspoortbladsye het spesifiek betrekking op buitelandse (nie-Suid-Afrikaanse) paspoorte.
  • Dit moet visumbladsye wees.
  • Die vereiste geld nie vir buitelanders wat in besit is van geldige permanente-verblyfpermitte in Suid-Afrika nie.
  • Die eerste ongebruikte bladsy in ʼn buitelandse paspoort word deur ʼn Suid-Afrikaanse missie oorsee of deur die Departement se hoofkantoor in Suid-Afrika (laasgenoemde in geval van ʼn verlengde verblyf) gebruik om ʼn visum uit te reik indien dit vereis word.
  • Die tweede bladsy word deur Immigrasie in die Suid-Afrikaanse hawe van binnekoms gebruik vir die endossering van die aankoms- of vertrekstempel en, in geval van buitelanders wat nie ʼn visum benodig nie, vir ʼn visum vir ʼn hawe van binnekoms (een bladsy word benodig vir die aankoms- en vertrekstempels sowel as die visum vir die hawe van binnekoms).

 F) Wat sal gebeur met ʼn passasier wat nie hierdie dokumente het nie?

Regulasie 6 (9):

Wanneer die persoon voor sy vertrek uit die Republiek ondersoek word, moet ʼn immigrasiebeampte seker maak dat die persoon nie:
I. ʼn voortvlugtige is; of
ii. onderworpe is aan ʼn hofbevel wat die Departement opdrag gegee het om sy/haar vertrek te voorkom nie.

Regulasie 6 (10):

Enige kind wat in alternatiewe sorg is, soos gedefinieer deur die Kinderwet (Nr. 38 van 2005), moet voor sy/haar vertrek uit die Republiek ʼn gewaarmerkte kopie hê van ʼn toestemmingsbrief van die Provinsiale Hoof van die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling waar die kind woon, soos voorgeskryf in Artikel 169 van die Kinderwet.

Regulasie 6 (11):

ʼn Immigrasiebeampte sal weier om enige persoon wat in subregulasie (9) genoem is of wat nie aan subregulasie (10) se vereistes voldoen nie, toe te laat om die Republiek te verlaat.

  1. Wat sal gebeur as ons nie teen vertrektyd die vereiste dokumentasie het nie?

SAL is gebonde aan die Suid-Afrikaanse immigrasieregulasies en moet daarvolgens optree. Reisigers wat nie in besit van die vereiste dokumentasie is nie, sal nie toegelaat word om te reis nie.

  1. Is hierdie wet slegs van toepassing op persone wat die Republiek verlaat?

Nee, die regulasies geld vir alle passasiers wat Suid-Afrika binnekom of verlaat.

  1. Is hierdie wet van toepassing op persone wat voor 1 Junie 2015 na of van die Republiek gereis het?

Nee, die regulasies geld slegs vanaf 1 Junie 2015. Daar sal nie van kliënte wie se reise voor 1 Junie 2015 begin het en dit kan bewys, verwag word om met hierdie dokumente te reis nie, met dien verstande dat die kliënt binne vier maande terugkeer van die reis wat voor 1 Junie 2015 begin het.

G) Wat moet ek doen as ek as ongewens verklaar word?

Persone wat as ongewens verklaar is volgens Artikel 30(1)(h) (lees saam met 50(1)) van die Immigrasiewet (Nr. 13 van 2002), gewysig deur Wet Nr. 13 van 2011, word nie toegelaat om tydens die tydperk wat in die verklaring gespesifiseer is, na Suid-Afrika terug te keer nie. Hulle mag egter geskrewe versoeke rig soos aangetoon in die verklaring.

Die volgende dokumente moet ingedien word:

  1. geskrewe verteenwoordiging;
  2. ʼn kopie van die verklaring van onwenslikheid (vorm 19) wat by die hawe van binnekoms uitgereik is;
  3. ʼn kopie van die betrokke bladsye van die paspoort, insluitend die biodatabladsy;
  4. ontvangserkenning (in gevalle waar die aansoeker aansoek gedoen het om ʼn permit en die uitslag nog hangende is); en
  5. as die aansoeker om mediese redes te lank gebly het, ʼn mediese sertifikaat.

Die aansoek moet per e-pos gestuur word na [email protected].

 H) Met wie kan ek praat as ek nog vrae het?

As u nog vrae oor hierdie regulasies het of om aansoek vir ʼn volledige geboortesertifikaat te doen, kontak asseblief die Suid-Afrikaanse Departement van Binnelandse Sake by 0800 60 11 90 (tolvry in Suid-Afrika), of jou plaaslike Suid-Afrikaanse Ambassade.

Let wel:

SAL het met die Suid-Afrikaanse Departement van Binnelandse Sake saamgewerk om ʼn gebruikersvriendelike gids oor die nuwe immigrasieregulasies op te stel. SAL se rol is om seker te maak dat die wet en die nuwe immigrasieregulasies aan sy kliënte gekommunikeer word en dat hulle daaraan voldoen. SAL is egter glad nie verantwoordelik vir die wet en die nuwe immigrasieregulasies nie. SAL sal seker maak dat dit alle nuwe wysigings of regulasies van die wet betyds kommunikeer, maar SAL aanvaar geen aanspreeklikheid vir enige onakkuraatheid in die inhoud nie.

  • Hierdie artikel is aan Maroela Media verskaf deur Wêreldwyd, ‘n inisiatief van AfriForum, waar Suid-Afrikaners wat tans in die buiteland woon en/of werk kan kontak met Suid-Afrika hou. Besoek Wêreldwyd se webblad vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Gerhard Bezuidenhout ·

Wat n klug want intussen stroom hulle aaneen onwettig oor ons grense.

VJ ·

Nou wil ek weet: Net my besonderhede as ouer is op my kind se geboorte sertifikaat. My kind het ook my van. Beteken dit nou dat ek my kind se pa MOET opsit alhoewel ons al voor sy geboorte vervreemd is van mekaar en geen kontak het nie?

Annalize ·

Net jammer Binnelandse sake kan nie eers hulle kantore bestuur nie. Het 3 weke terug al aansoek gedoen vir altwee my kinders se unabridged geboortesertifikate en die departement van Binnelandse sake het nog net die een kind sʼn geprosesseer want ” hulle is nog binne die 6 weke” wat dit vat om ʼn geboortesertifikaat te druk!!!!

Tima Essex ·

Wat van die mense wat reeds ‘n jaar terug aansoek gedoen het en dit nog nie ontvang het nie?

Tina Essex ·

Ek het reeds ‘n jaar terug aansoek gedoen. Al wat ek tot dusver het is die aansoek vorm. Ons moet middel Junie terugvlieg vanaf Ghana na SA. Gaan hulle my kind toelaat met net die aansoek?

Ampie ·

Nog ‘n totaal absurde regulasie soos net die regstellende regeerders in hul KFC-besmette raadsale kan uitdink. Vir ‘n begin skaad dit die ekonomie, omdat baie buitelanders eenvoudig net nie weer SA sal besoek en in ‘n administratiewe rompslomp betrokke sal wil raak nie. Tweedens het die Department (Binnelandse Sake) nie die vermoee om vinnig genoeg sertifikate uit te reik nie. Ek het onlangs eers my 6-jarige se “unabridged” sertifikaat ontvang – na ‘n ses jaar lange stryd! Ek voorspel menslike treurspelle en groot frustrasie, asook ‘n traag-my-nie-agtige houding van die amptenare wat met die publiek werk. Soos ons weet gaan dit ook nie in sy doel slaag nie. As iemand ‘n kind land-uit wil “ontvoer”, gaan hy eenvoudig die amptenaar ‘n paar rand in die hand stop en hy’s weg. Terloops, watter doeane amptenare gaan Russies, Sjinees en Arabiese “unabridged” sertifikate kan lees?

Jenette Theron ·

Dogtertjie van 2+ wettiglik in my sorg. Het hofdokumentasie., Moeder is oorlede. Moet ek nogsteeds aansoek doen sodat hierdie kind saam met my kan reis of is die geboortesertifikaat, brief van die social worker, moeder se sterfte sert nie genoeg nie? Ons wil vanaf Namibia na SA reis

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.