Foto’s: Talana-museum is ’n erfenis-ervaring soos min

Die ingang by die Talana-museum se hoofgebou. (Foto: Verskaf)

Ek staan op die Talana-slagveld, waar die eerste veldslag van die Anglo-Boereoorlog op 20 Oktober 1899 plaasgevind het. Ek maak my oë toe. Die vroeë Natalse son brand my, soos dit ook op daardie dag meer as 120 jaar gelede moes gebrand het. Die kanonskote fluit by my ore verby, die geweerskote sing hul oorlogsliedere op pad na hul teikens – die Britse veroweraars wat ons land wil oorneem. Daar word bevele geskree, dié wat getref is, gil van die pyn voordat hulle sneuwel. Die reuk van gebrande kruit meng met die wind en gaan sit op elke kryger se beswete voorkop – hulle proe dit in hul droë monde.

Op hierdie dag, met dié skote wat vlieg, slaan Suid-Afrika daadwerklik ʼn nuwe rigting in. Die Slag van Talana los ʼn blywende merk op ons evolusie, ontwikkeling en moderne geskiedenis.

Toe ek my oë oopmaak is die slagveld stil, maar die eensame monumente, roerlose begraafplaas en museumgeboue hou wag oor die gebeure van ouds.

Binne die oorspronklike Smith-kothuis. (Foto: Verskaf)

Talana, wat beteken “die rak waarop waardevolle dinge gebêre word”, is ʼn gepaste naam vir dié groot museumkompleks met sy verskeidenheid uitstallings. Die museum is oorspronklik in 1979 geopen om die Anglo-Zoeloeoorlog te gedenk, maar in 1982 is grond van die oorspronklike plaas Dundee en die woning van een van die dorpstigters aangekoop met die doel om ʼn museum daar te vestig ter herdenking van die dorp se eeufeesviering. In die museum beeld die wapens, foto’s en artefakte wat uitgestal word, die konflikte tussen die Zoeloes, Boere en Britte dramaties uit. Daar is ook uitstallings oor die Boesmans, die vroegste bewoners van die omgewing, Ook Mahatma Gandhi se rol in die vroeë 20ste eeu in daardie omgewing, en die plaaslike mense se deelname aan die Eerste Wêreldoorlog.

Mettertyd is uitstallings oor die vroeë mynbouaktiwiteite, wat ʼn belangrike rol in die omgewing se ontwikkeling gespeel het, bygevoeg. Die geboue, soos die oorspronklike Peter Smith-kothuis en ander plaasgeboue, huisves vandag kulturele, landbou- en vervoeruitstallings, en die Talana-heuwel staan wag by hul agterstoep.

Wanneer mens dié heuwel uitstap, is daar nog oorblyfsels van die slag te vinde. Sersant Arthur Harrington, wat die slag oorleef het, het dit so beskryf:

“Ek sal nooit die skrikwekkende storm koeëls wat in daardie aaklige oomblikke op ons afgevuur is, vergeet nie. Met kruisvuur vanuit duisende gewere wat op ons afgevuur is, het manne die een ná die ander ineengesak, terwyl die lug en die grond rondom ons deur die vreeslike haelskote oopgekloof is … Tot my geluk het ek die rand van die woud bereik op ʼn plek waar daar ʼn stukkie muur was, waaragter ek neergeval het, net voordat twee koeëls die boonste klippe getref het.”

Luitenante Taylor, Pechell en Gunning het op die Slagveld van Talana gesneuwel. (Foto: Verskaf)

Buiten die fisieke skrapnel en forte, loop die spoke van die verlede ook blykbaar daar rond – spesifiek met die jaarlikse herdenking van die slag op 20 Oktober. Die museum bied elke jaar ʼn sogenaamde spookwandeling aan. Teen skemer kom belangstellendes by die begraafplaas byeen, waar die geskiedenis en konteks van die slag vertel word en hulle kranse by die grafte kan lê. Daarna loop die groep in die voetspore van die Britse soldate teen Talana-heuwel op. Die oorspronklike begraafplaas word besoek, asook die plek waar luitenante Taylor, Pechell en Gunning gesneuwel het. Op hierdie plek het mense in vorige jare al perde gebruik, vermoedelik van die Utrecht-kommando wat terug is na die slagveld om hul gewondes en dooies te gaan haal.

Die gedenkteken vir die Voortrekkers by die voet van die Wenkommando-pas. (Foto: Verskaf)

Pamela McFadden, kurator van die museum, vertel dit is ʼn eienaardige ervaring om met die herdenking op die slagveld te wees, omdat die spoke van die gesneuwelde soldate dan soms hul verskyning maak. Kolonel Gunning staan gewoonlik onder een van die bloekombome.

Nog ʼn verhaal wat rillings teen die ruggraat afstuur, het in Lootjie de Jager se plaashuis in die Wasbankvallei afgespeel. Die Britte het die huis en skuur tydens die oorlog geannekseer. Teen die mure van die klipskuur is die merke waar hulle teiken geoefen het, nog te siene. Binne die plaashuis het die troepe een aand kaart gespeel. Een soldaat het ʼn ander van kroekery beskuldig en hom net daar en dan doodgeskiet. Ten spyte van talle pogings oor die jare heen om daardie bloedkol uit die vloer te skrop, is die merk vandag nog sigbaar.

Elk van die 23 geboue op die terrein het ʼn ander storie om te vertel. Daar is verskillende aanbiedinge heel jaar lank, soos praatjies en maanligtoere, nabootsing van veldslae en ʼn jaarlikse kuns- en vlytmark, wat vanjaar van 19 Oktober tot 15 November aangebied word.

In 2021 gaan Talana-museum ʼn klomp spesiale herdenkingstoere aanbied. Die personeel werk ook hard aan die beplanning om ʼn “Amazing Race” deur die slagvelde aan te bied.

ʼn Besoek aan hierdie besonderse museumkompleks is beslis die tyd en moeite werd. Of jy spesifiek daarheen wil ry, of daarlangs gaan op jou pad na die Natalse kus, sit sommer ʼn halwe dag opsy – dis ʼn erfenis-ervaring soos min.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.