Te voet deur die Wesfront van die Anglo-Boereoorlog se slagvelde

Die vasbyters stap die 25 km deur die Anglo-Boereoorlog se Wesfront in die Vrystaat. (Foto: Willen van Zyl/Verskaf.)

Deur Nina Breytenbach

Dit is nou byna ʼn maand sedert die Wesfrontvasbyt-2020-staptoer en die verlange brand in my: ʼn verlange na die Vrystaat, verlange na die stap en bowenal verlange na my vasbyters.

In Januarie 2020 het ek vir die eerste keer van AfriForum Jeug se vasbyttoere te hore gekom en met die meesterbrein daaragter, dr. Louis Bothma – of oom Louis soos ons hom leer ken het – kennis gemaak. Ek het daar en dan besluit dat ek beslis die volgende toer moet meemaak.

Nadat die Covid-19-pandemie die eerste toer in die wiele gery het, was ek redelik seker dat ek ongelukkig nog ’n jaar sou moes wag vir ’n vasbyttoer. Toe ek egter in Julie die inskrywingsvorm vir die Wesfrontvasbyt ontvang, het ek onmiddellik my vorm voltooi en deurgestuur. Ek het dadelik besef dat die toer nie tydens my vakansie plaasvind nie en dat ek gedurende die toer ’n toets sou moes skryf, maar ek was vasberade om die toer mee te maak en ek is baie bly dat ek het.

Die Wesfrontvasbyt is ’n geskiedkundige staptoer wat handel oor sommige van die slagvelde op die Anglo-Boereoorlog se Wesfront. Tydens die toer het Bothma ons meer oor die geskiedenis van die slagvelde vertel asook die oorlog se verwikkelinge as ’n geheel.

Gedurende die vier dae van die toer het ons die Paardeberg-koppie uitgeklim en Gun Hill, Signal Hill en Oskoppies verken. By genl. Cronjé se laer langs die Modderrivier het ons vir skrapnel en ammunisie gesoek en ek was gelukkig genoeg om ’n Webley-rewolwerpatroon as aandenking huis toe te kon vat. Ander lede van die toer het potskerwe, Mauser-patrone en boeliebiefblikkies opgetel. Op ons laaste dag het ons die Slag van Driefontein besoek en ook by die Oertels se spookhuis op Abrahamskraal aangedoen.

Ek het my verstom aan die grootte van die slagveld wat meer as 30 km ver strek en die groot oop vlaktes wat min skuiling bied. Ons het die voorreg gehad om in ’n matige seisoen die prag van die Wesfront te kon bewonder, maar selfs in September is die dae maar warm en het ons onverhinderde toegang tot lopende water gehad. Ek kan my nie indink hoe ongenaakbaar die son 120 jaar gelede in Februarie moes gebrand het nie. By die monumente het ek verslae gestaar na al die dapper boere wat hul lewe geoffer het vir ons vryheidsideaal, sodat ek in 2020 Suid-Afrika nog my vaderland mag noem.

“Kyk na die name op hierdie grafte: wie kan dan ooit wonder of ons hier hoort?” het Bothma gesê.

Gedurende die vier dae van die toer het ons die Paardeberg-koppie uitgeklim en Gun Hill, Signal Hill en Oskoppies verken. (Foto: Verskaf.)

Ná hierdie toer is ek trotser as ooit om ’n Afrikaner te wees. Wat ’n belewenis was dit nie om vanjaar Erfenisdag daar op die Wesfront te kon deurbring nie, omring deur mense wat net so lief vir ons kultuur is soos ek.

Die toer was egter nie net geskiedkundig nie en ons het ook hope pret gehad. In die aande het ons om die kampvuur gesit en kuier. Op Erfenisdag was daar vir die bittereinders wie se voete nog nie seer genoeg was nie, ’n sokkie om die heupe te swaai. Op die laaste aand het ons selfs ʼn ware cantus gehad waar ons ou gunstelinge soos “Sarie Marais” gesing het. Die brawes onder ons het die Modderrivier aangedurf, terwyl die res van ons net met ons voete in die yskoue water gesit het.

Die hoogtepunt van die toer was egter die mense saam met wie ek dit ervaar het. Só ’n groep fenomenale mense wat altyd gereed staan om hand uit te steek na hul naaste, hul kultuur en geloof opreg uit te leef en met so ’n positiewe uitkyk op die lewe kom nie aldag oor jou pad nie, so ek beplan om ieder en elke vriendskap te koester solank ek leef. Ek dink dat ’n vriendskap met iemand wat spesiaal vir jou skons en appeltert bêre terwyl jy eksamen skryf, beslis en ten alle koste bewaar moet word! So ook die uitstekende paramedikus wat elke aand met ’n glimlag almal se seer voete behandel het en die persoon wat ná die 25 km lange staptog met yskoue water en Energade aangery kom.

Noudat ek terug is by die huis en my voete glad nie meer seer is nie, kan ek net ons Hemelse Vader dank. Dankie vir mense soos die boerekrygers wat hul lewe vir ons opgeoffer het, dankie dat daar mense is wat die geskiedenis so bewaar het dat ek en my tydgenote nog steeds daarvan kan leer, dankie vir jong mense wat my inspireer om my kultuur met meer passie uit te leef, dankie vir mense wat my hoop vir die toekoms gee en dankie vir hierdie pragtige land aan die suidpunt van Afrika waarvoor ek so lief is. My tassie staan al klaar gepak vir die volgende vasbyt.

  • Nina Breytenbach is die sekretraris van AfriForum Jeug se Maties-tak.
  • Stuur ʼn e-pos aan Marike na [email protected] as jy deel van die volgende toer wil wees.

‘n Sonsopkoms gedurende die Wesfrontvasbyt-2020-staptoer. (Foto: Willem van Zyl/Verskaf.)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Nou pra' jý

Jy moet deel van Maroela-fontein wees om kommentaar te lewer.

of word deel

Geen kommentaar