The Donkey Dairy: Van klein plaasdroom tot groot moontlikhede

Zak Hendrikz (links), bekend as akteur, en Jesse Christelis (regs) is die eienaars van The Donkey Dairy in Magaliesburg. (Foto: Verskaf)

Met die intrapslag by The Donkey Dairy in Magaliesburg word jy nie net deur die vriendelike personeel begroet nie, maar ook deur ʼn trop donkies wat gretig is om “hallo” te sê aan stadsbesoekers wat hier besoek kom aflê.

The Donkey Dairy, die enigste donkieplaas in Suid-Afrika, is sowat twee uur se ry buite Pretoria en Johannesburg geleë en is die tuiste van honderde donkies, boerbokke, alpakkas en vele ander plaasdiere.

Wat begin het as ʼn klein plaasdroom is vandag ʼn uitgebreide sakeonderneming, wat deur die akteur Zak Hendrikz en sy vennoot, Jesse Christelis, besit en bestuur word.

Dié twee het reeds sowat tien jaar gelede op ʼn klein plaas van sowat sewe hektaar in Randfontein, Gauteng, met donkies en bokke begin boer, maar hulle het later soveel diere op dié plaas gehad dat hulle genoop was om ʼn groter tuiste vir hulle diere te kry.

Zak, wat al vir byna twee dekades in die vermaakbedryf werk, het in 2015 naam gemaak in die rolprent Ballade vir ʼn enkeling, waarin hy die rol van Gavin Greeff vertolk het.

Daarna het ʼn horde televisierolle in sepies soos Binnelanders en Getroud met rugby gevolg en sy loopbaan in musiekspele en rolprente het van krag tot krag gegaan.

Nou voeg hy ook die rol van boer by sy reeds indrukwekkende curriculum vitae en bring hy sedert die aanvang van die inperking in Maart 2020 die meeste van sy tyd op die plaas deur.

Zak Hendrikz. (Foto: Verskaf)

“Ons het aanvanklik die klein plaas in Randfontein gekoop net sodat ons uit die stad kon kom. Ons het later die sakemoontlikhede begin raaksien om meer selfvolhoubaar te wees en toe koop ons ʼn paar bokke, twee donkies en ʼn paar Damara-skape. Toe ek weer sien, het ons meer as 100 Damara-skape gehad,” vertel Zak oor die geskiedenis van The Donkey Dairy.

Hy voeg laggend by dat hy en Jesse aanvanklik nie ʼn idee gehad het wat hulle doen nie. “My oupa was ʼn boer, maar hy is dood toe ek twee jaar oud was, so nie een van ons twee het iemand gehad by wie ons kon leer nie. Google was ons dokter en veearts.”

Dit was Jesse se droom om met blouoog-bontdonkies te teel, sodat hulle iets uniek kon bied vir die Suid-Afrikaanse mark.

“Die blouoog-bontdonkies waarmee ons boer is die enigste genepoel [van sy soort] ter wêreld. Wat ons hier doen is baie spesifiek en uniek. Dié donkies word hoofsaaklik deur boere aangekoop omdat hulle baie goeie kuddebeskermers is wat saam met skape loop en ook omdat hulle so mak soos honde word en ʼn baie lojale maat vir ʼn mens kan wees.”

Jesse en Zak het ook begin navorsing doen oor donkiemelkprodukte en vandag is donkiemelk, donkiemelkseep, gesigroom, dagroom, nagroom en handeroom aanlyn en op die plaas beskikbaar vir aankope.

Hulle het ook onder hulle sekondêre maatskappy, Donkeys and Dwarf Goats SA, meer as 720 donkies van slagpale gered en hervestig.

“The Donkey Dairy is egter nie ʼn beskermingsreservaat nie. Ons is die enigste donkieplaas in Suid-Afrika waar donkies wettiglik aangekoop kan word,” benadruk Zak.

Hulle het eindelik die plaas in Randfontein ontgroei en het ʼn nuwe heenkome gesoek vir hulle diere, waar hulle ook dagbesoeke vir die publiek kon inpas.

The Donkey Dairy het sowat vier maande gelede begin om dagbesoekers oor naweke toe te laat en ontvang nou tot 200 gaste per dag.

Produkte van donkiemelk, soos gesigroom en handeroom, is aanlyn en op die plaas beskikbaar vir aankope. (Foto: Verskaf)

Hulle het twee dae voor die aanvang van vlak-5-inperking in Suid-Afrika na die plaas in Magaliesburg verhuis. “Covid-19 het die vermaakbedryf só geknou en ek is gelukkig dat ek die plaas het as alternatiewe uitweg om myself geldelik te ondersteun,” sê Zak, wat eers op die ouderdom van 32 sy deurbraakrol in Ballade vir ʼn enkeling losgeslaan het.

“Daar is so ʼn groot behoefte vir mense om uit die stad te kom en te beleef hoe ʼn werkende plaas lyk en bestuur word. Ons het nie al die fieterjasies van ʼn venue nie, en ek dink dit is juis wat mense na ons toe lok. Ons gee nie voor nie en wat jy sien is wat jy kry. Dit is vir ons lekker dat ons mense uit die stad kan ontvang en dat hulle in die kampe interaksie met die diere kan hê.”

Hy vertel dat hy binnekort terugkeer na die stel van Getroud met rugby, waar hy die rol van die skobbejak JJ vertolk. Hy wag ook om te hoor of hy ʼn permanente rol op die kassie losgeslaan het en is intussen besig om solank sy tasse te pak om permanent terug te trek na die woonstel wat hy in Johannesburg besit.

“Voor die pandemie was ek soms net drie maande uit die jaar tuis op die plaas en dit was oukei, want ek was dit gewoond. Nou voel dit vir my ʼn bietjie vreemd om te dink ek moet weer permanent teruggaan Johannesburg toe. Die prentjie van die plaas lyk heel anders met dié dat dit nou in ʼn volwaardige sakeonderneming ontwikkel het en ek ken nie myself in die vermaakbedryf met dinge soos wat dit nou op die plaas lyk nie,” vertel Zak oor die nuwe lewensreis wat voorlê.

Zak is ook die eienaar van ʼn produksiemaatskappy, Pit Produksies, wat die prosa en poësie van die Afrikaans tweede taal IEB-sillabus vir gr. 12-leerders in teatervorm by skole regoor die land opvoer.

“In die verlede sou ek gesê het die nuwe rol is al wat ek wil hê en ek wil net my passie as akteur uitleef – op vyfjarige ouderdom het ek al geweet ek wil ʼn akteur wees en om toneelspel is my hart en siel – maar ek besef ook die waarde wat die plaas tot my lewe toevoeg en dit voel nou amper asof ek moet kies en ek wil nie.

Dié vriendelike donkies begroet jou by The Donkey Dairy in Magaliesburg. (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

“My kop is nog nie heeltemal weer terug in Johannesburg nie, maar ek glo ek moet net weer my ritme vind,” sê hy.

Vir meer inligting oor The Donkey Dairy besoek die webwerf hier. Bestel ook donkiemelk en ander produkte aanlyn hier en hier.

Dagbesoekers kan op Saterdae en Sondae van 09:00 tot 15:00 die diere in die kampe voer, die bokke met bottels voer, op donkies ry en heerlike kos, soos hoender- of biefburgers, boereworsrolle en eisbein-stukke op ‘n stokkie van The Meat and Eat Deli geniet.

“Dit is vir ons uiters belangrik dat gesinne by ons die soort herinneringe moet bou wat hulle ʼn leeftyd kan hou,” sê Zak.

Toegang is R60 per persoon, R45 vir pensionarisse, en kinders onder twee kan gratis ingaan. Daar is ʼn grondpad van 6 km wat verkieslik nie met laesuspensiemotors aangedurf moet word nie.

Besoekers kan ook by die kothuis op The Donkey Dairy se perseel tuisgaan. Besprekings kan deur AirBnB of Lekkeslaap gemaak word.

Weens Covid-19-regulasies is dit ook belangrik om ’n bespreking te maak vir die besoeke. Die besprekings kan per Whatsapp gemaak word by 072 262 5369.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
AW

Donkie Melk, …..

Sal moet eers drink, om vir myself te besluit!

Maar tog, n Wonderlike Idee/projek , veral vir Kinders en die wat Lief is vir Diere.

Dalk minder bevoorregte kinders daar kry?