The Rand Club: Die hart van die ou Goudstad

Die voordeure van die Rand Club met 33 daarbo. (Foto: Verskaf)

The Rand Club hou nog altyd vir my ʼn bekoring in. So ʼn ou, misterieuse, soms kontroversiële gebou in die middel van Johannesburg se woelige middestad. Toe ek toevallig raaklees dat daar ʼn historiese toer van die klubhuis aangebied word, spring ek byna uit my vel. Ek spring wel op my foon en tref gou die reëlings – ons gaan op ʼn Vrydagaand dié eksklusiewe klub verken en boonop nog ʼn maaltyd geniet in die kroeg met die langste toonbank in Afrika!

Nadat ons deur die middestad se berugte verkeer geworstel het, kom ons by die statige gebou aan, waar ons parkeerplek vir ons regstaan. Ek voel baie belangrik en sukkel so bietjie om my waardig te gedra in my verpligte semiformele kleredrag, so hoog loop die opwinding. Vanaand kry ons ʼn minder bekende blik op Johannesburg – en daarom ook Suid-Afrika – se verlede.

ʼn Gebou vir groot gebeure en mense

Standbeeld van Cecil John Rhodes. (Foto: Verskaf)

Die goudstormloop wat in 1886 in volle vaart begin het, het die behoefte aan ʼn mansklub laat ontstaan. The Rand Club is in Oktober 1887 deur Cecil John Rhodes gestig – slegs ʼn jaar nadat die dorpie Johannesburg geproklameer is. Die eerste gebou was ʼn eenvoudige baksteen-en-grasdak-struktuur, maar dit was ʼn welkome toevlug van die elemente in die nuwe myndorp. Toe die gebou te klein word, is ʼn nuwe een in 1889 gebou, met ʼn ekstra verdieping. Ná die Anglo-Boereoorlog in Mei 1902 beëindig is, het die klublede besluit dat hulle ʼn beter klubgebou wil hê. In Desember 1904 is die gebou wat vandag nog daar staan, voltooi.

Ons sluit buite die gebou by ons toergroep aan. Ons is die enigste drie Afrikaanse mense in die groep, maar die Engelse gaste en toergids verwelkom ons hartlik. Die gebou troon voor ons op, met die nommer 33 bo die voordeur. Snaaks, want sy bure is nie 31 en 35 nie. Die toergids verduidelik dat die vroeë Vrymesselaars waarskynlik dié nommer laat aanbring het, omdat hulle die getal 33 as volmaak beskou.

Twee bankies wat nes kerkbanke lyk, is in 1907 buite die voordeur staangemaak, sodat lede daar kon sit en die dorp se gewoel en werskaf dophou. Die oorspronklike bankies is ongelukkig tydens die mynwerkerstaking van 1913 vernietig, maar daar is presiese replikas gemaak – die einstes waarop mens vandag ook kan sit.

Ons betree die gebou en dit tref my dat baie belangrike mense voor my hier ingeloop het. Die klub en sy lede was deel van byna elke groot gebeurtenis wat die goudstad gevorm het. In Januarie 1896 is talle van die bekendste klublede in hegtenis geneem en later van hoogverraad aangekla weens die rol wat hulle gespeel het in die beplanning van die Jameson-inval teen president Paul Kruger se regering. In Mei 1913 is die klubhuis tydens die mynwerkerstaking beleër, en in April 1947 het die Britse koninklikes die klub besoek.

Die koninklikes se besoek moes ʼn kopseer vir die klub gewees het, want vroue was sedert die stigting streng verbode. Hoe gemaak met ʼn koningin en prinses wat dié eksklusiewe drumpel wil oorsteek? Vir prinses Elizabeth is daar ʼn uitsondering op dié reël gemaak, sy is die eer gegun om die groot trappe te bestyg. Maar daarna is die reël weer streng toegepas, totdat dit in 1986 opgehef is – byna ʼn eeu nadat die klub gestig is!

ʼn Skatkis vol verrassings

Die biblioteek van die Rand Club. (Foto: Verskaf)

Die gebou se binnekant is steeds statig en spoggerig, al het die glans van vroeër effens verdof. Die swaar houtmeubels, dik matte en skilderye spreek van rykdom en klas. Net waar jy kyk, is die klub se kenteken aangebring – van die voordeur, mat en hysbak, tot die wynglase en servette. Ek verkyk my aan die brandglasvensters met uitbeeldings van sterretekens, bewonder die vleuelklavier in die een hoek.

ʼn Hoogtepunt is die biblioteek, met rakke vol boeke tot by die dak. Ek asem die geur van regte, egte boeke met behae in – geen tablet of rekenaarskerm kan dié reuk van kennis en verryking vervang nie! ʼn Leer staan gereed sodat jy die boonstes in die hande kan kry. Terug op die aarde kan jy jou in ʼn leergemakstoel tuismaak en jou in ’n boek verdiep.

Die gebou bevat elemente en stelsels wat hul tyd ver vooruit was. Een so ʼn stelsel is die sentrale stofsuigstelsel, met die stofsuierkonneksiepunte wat vandag nog sigbaar is op elke vloer. Nog een is die hysbak, wat in 1904 ingebou is en tans die tweede oudste hysbak in die land is. Sy is indertyd Bettie gedoop – die enigste aanvaarde dame in dié klub. ʼn Rit in dié outydse masjien, wat nog met ʼn traliehek sluit, is weliswaar ietwat senutergend. Tog neem sy jou steeds getrou na die volgende verdieping, ten spyte van haar jare.

ʼn Wynkurkmasjien uit die jare toet wat in die kroeg uitgestal is, vang my oog. Ek staan verstom toe ek hoor hoe dié masjien die geheim van huiswyn, soos dit vir jare verkoop is, dig hou. Dit werk so: Ná ʼn gesellige aand in die kroeg is al die halwe bottels wyn bymekaar gemaak – rooiwyn en witwyn apart – en dan gemeng, weer in bottels gegooi en met die kurkmasjien toegemaak. Dié gemengde bottels is dan as “huiswyn” verkoop.

Oom Paul red The Rand Club (teësinnig)

Paul Kruger se standbeeld wat Rand Club. (Foto: Verskaf)

Om in die glorieryke jare lid van The Rand Club te word, was nie eenvoudig nie. ʼn Man moes eers benoem word, waarna die benoeming deur ses ander lede goedgekeur moes word. Sou een lid die benoeming afkeur, is die persoon wat jou benoem het, ook sommer uit die klub geskop! Dit was dus baie eksklusief en jy moes in die regte kringe beweeg om ʼn lid te word. Tog het die klub aan die beginjare baie lede gehad, maklik meer as 2 000. Vandag is daar net meer as 200 lede.

Staatshoofde was outomaties lede van The Rand Club. Maar blykbaar het president Paul Kruger geen ooghare vir die plek gehad nie en nooit sy voete daar gesit nie – iets wat ek hom nie verkwalik nie – onder die omstandighede van sy tyd. Daarom is dit besonder amusant om te hoor dat hy, jare later, die klub van ondergang gered het.

Die storie loop so: Daar was twee standbeelde wat by die ingang van die kroeg gestaan het – een van Cecil John Rhodes en een van Paul Kruger. Toe finansies die klub in die 2000’s ernstig begin knou, soveel so dat die klub gesluit is, besluit die lede om “Oom Paul” te verkoop. Sy standbeeld het net minder as R10 miljoen behaal. So het hy eiehandig gesorg dat die klub wat hy self geminag het, se deure vandag weer oop is.

Teëspoed het die Klub egter getref toe ʼn groot vuur in 2005 enorme skade aan die klubhuis aangerig het, maar die grootste deel van die gebou, buiten die boonste twee verdiepings, is gelukkig gerestoureer.

The Rand Club se kleurvolle en dikwels dramatiese geskiedenis is verweef met die wel en weë van die wêreld se rykste goudvelde en sy mense. Vandag verteenwoordig The Rand Club die kontemporêre Suid-Afrikaanse gemeenskap en staan sy deure oop vir enige iemand wat sy etos deel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.