Tien jaar in die tweede oudste huis op Agulhas

Die gastehuis omsoom deur ‘n blommeprag. The Sea House was 25 meter van die groot getypoel op Agulhas. Die gastehuis was so in aanvraag dat sy eienaars nooit adverteer het nie – dit was nie nodig nie, want die deurklokkie het nooit ophou lui nie – almal wou daar slaap! (Foto: Verskaf)

Deur Pierre Massyn

 Ek en Tisha het die dag uit die Kaap in Agulhas opgedaag met die vae idee om te kom kyk of hier op die Suidpunt dan nie vir ons ’n ou aftree-erfie sou rondlê nie. Tisha verjaar en ons gaan tuis in Meg Cowper-Lewis se Southermost – die oudste huis op die Suidpunt en ook die suidelikste private woonhuis in Afrika.

Meg is ’n aktivis, kom ons gou agter, ’n Groene. Later sou ons drie die Suidpunt-omgewingsalliansie stig, wat tot vandag toe bestaan.

Dit was een van daardie idillies-perfekte dae wat jy hier in Februarie kry. Ons kyk en ons droom en die prentjies begin vorm aanneem… daar’s ’n vuurtoring (dié vuurtoring!) en ’n getypoel wat jou uitnooi om te kom swem. Daar is ’n ruwe punt wat in die see uitskiet, feitlik loodreg suid… En ons raak smoorverlief op die plek… hier sal ons kan bly…En toe gaan skou ons op Beaufort-Wes met PTH.

Tisha besluit ons moet in die karavaankamp in die karoodorp bly, maar Trudie van der Westhuizen, die kampbestuurder, het nie ’n karavaan beskikbaar nie. Ek stap straataf om ander herberg te soek, maar Tisha bly staan.

“O dear, o dear Trudie! Het jy nie ’n stukkende ou karavaan waar ons kan slaap nie?”

Oplaas gee Trudie bes. “Slaap sommer by ons in ons huis.” En net daar begin die stukke van ons legkaart op hul plek val, asof dit vooraf so bestem sou wees. Haar man, Oeloff van der Westhuizen, is die hospitaalsuperintendent op Beaufort-Wes.

“Julle braai vanaand by ons.”

Jy stry nie met Oeloff van der Westhuizen nie. Oelfie en Trudie is uithaler-onthalers. Ons smul aan egter Karoo-skaapvleis. Oeloff het hoë cholesterol en mag nie vet eet nie, maar wat, hy het ’n pil vir enige kwaal of skeet. En Oelfie kan die Bells góói. Die tonge raak los. En na die tweede Bells om die vuur, deel ek ons Agulhas-droom met Oeloff.

Hy raak eers stil, toe kyk hy my stip aan. “Ek het jou huis”, sê hy afgemete. In die kombuis vertel Trudie vir Tisha van ’n tragedie in hul familie. Haar suster Ralet se man, Boetie-John, is kort vantevore oorlede.

“Julle kan hul waterfronthuis op Agulhas uit die boedel koop. Hy is ideaal vir ’n gastehuis.”

Oeloff-hulle moet van ons hou, want Trudie bel Ralet du Toit tienuur daardie aand op Bredasdorp met die nuus dat hulle die kopers van die strandhuis gekry het.

“Dis mense van Noordhoek in die Kaap.”  En Oelfie gooi nog Bells.

Pierre se kroeg was op sy dag die Suidelikste kroeg in Afrika en het die naam Uhuru gedra – vernoem na die hoogste piek in Afrika op Kilimandjaro waar hy die Suidelikste munisipaliteit in Afrika – die Kaap Agulhas Munisipaliteit – se vlag geplant het. (Foto: Verskaf)

En so het ’n nuwe hoofstuk in ons lewe begin. Ons kon nie wag om ons “nuwe” huis van nader te gaan beskou nie. Dit is ’n dubbelverdieping teenaan die see – ’n groot vierkantige blok met ’n pragtige rietdak en ’n dubbelmotorhuis. Maar dis eintlik die kroeg wat die pièce de résistance is. ’n Pragtige houtkroeg. Met die hand gemaak, want Boetie-John kón met hout werk.

Ons koop die grasdakhuis met drank en al. In party van die bottels in die kroeg is so ’n groen doepa waarin daar sweerlik wurms ronddryf. Soos uitgelate kinders huppel ons deur ons nuwe woning, snuffel deur elke hoekie en gaatjie. As jy 25 tree van die stoephekkie aftel, is jy by die getypoel.

Die huis is duur, veel meer as ’n ou “aftree-erfie.” Maar as jy iets wil hê en jou beursie is ietwat plat, maak jy plan. Ons raap en skraap, ek likwideer hier ’n polis, verkoop daar  ’n seiljag… en Nedbank help met die res. En êrens in 1998 trek ons twee en Breker en Thandi met ons wit BMW en ons gehawende bakkie Suidpunt toe. Neem ons intrek in die tweede oudste huis op Agulhas. Die tweede oudste, want Meg se “Spookhuis” is mos die oudste…

Die huis wás oud. Jy kon dit sien aan die outydse linoleum bedekte vloere. En hy het ’n spens gehad, en ’n enorme sitkamer met glasvensters dat jy vir altyd oor die ewige see kon tuur. En vyf groot slaapkamers, ’n eetkamer, en dan daardie kroeg… waar jy al die wêreld se probleme kon oplos.

’n Gastehuis? Ja! Maar daar wag harde werk vir my en Tisha. Die linoleumvloere moet uit, die roomkleurige binneverf moet waai. Ons dryf onsself soos slawe. As jy nog nooit verf van ’n houtdeur of vloerlyste met ’n brander wat lyk soos ’n haardroër laat afdop het nie, moet dit nie probeer nie. Dis hel. Ons maak die ou Oregonvloere skoon met ’n skuurmasjien. Die stof en rookdampe staan soos ons inklim met die herstel- en opknapwerk.

Maar dis alles die moeite werd. Ons plekkie lyk nou al leefbaar. Tisha met haar gawe vir dekor sal ons voornemende gaste beslis laat welkom voel in The Sea House.

Ons registreer by die toerismeburo. Die klokkie hou nooit op met lui nie. Die voete trap die drumpel plat. Mense van oor die hele planeet wil opsluit in The Sea House slaap.

Op die Suidpunt werk dit so: jy moet die suidelikste punt in Afrika besoek – toevallig ook die plek waar die Indiese- en Atlantiese Oseane bymekaar kom – en jy moet darem die vuurtoring van nader beskou. (In daardie dae was daar nog ’n ding soos Die Vriende van die Vuurtoring.) En as jy nog krag oorhet, gaan swem jy in die getypoel. En as die son begin water trek, besef jy jy het darem ’n slaapplek nodig. Dan loop jy jou vas in The Sea House, op die hoek van Van Breda- en Quarrystraat. Ons adverteer ook nooit nie, want dis eenvoudig nie nodig nie. Soos Daan de Vries en Strepies van Wyk altyd sê: “Ligging, ligging, ligging!”

Ons het ons gastehuis vir tien wonderlike jare bedryf. Wat ’n onbeskryflike voorreg. Ons het nou nog ons besoekersboek, met inskripsies van mense uit ’n menigte lande op hierdie aarde. Ons het vriendskappe gesmee wat tot vandag toe bestaan.

Dwight Blackshear was Amerika se eerste swart vlootvlieënier. Ek onthou sy naam, want hy het sy verjaarsdag op die Suidpunt kom vier en hy stuur nog gereeld vir my groete. ’n Duitser met die naam van Arné en sy bejaarde moeder kon eenvoudig nie van ons gastehuis wegbly nie. Vir jare der jare stuur Arné getrou vir my ’n boks Havana-sigare en vir Tisha sjokolade uit Switserland. Nog twee gereelde besoekers was twee middeljarige Duitsers wat hul vrouens by die huis gelos en met hul motorfietse afgepiekel het Suidpunt toe. Die kookeier-tweeling noem ons hulle later, want die een se eier moes presies 3 minute en 10 sekondes gekook wees en die ander een s’n 3 minute en 35 sekondes! Jan is dié Noorweegse ambassadeur in Suid-Afrika en het al takbokke in Lapland sien migreer.

Die beroemde kroeg in Pierre en Tish Massyn se gastehuis op die Suidpunt van Afrika. Al Suid-Afrika se probleme is al daar opgelos, maar sterk manne het ook al daar geknak. (Foto: Verskaf)

In Die Kroeg stel ek Jan voor aan Olifant – egte olifantmis van Etosha in Namibië waar ek gebore is. Ek hou die Olifant om te rook by spesiale geleenthede. Op Suiderstrand is my pêlle vandag almal deel van die Olifantdrol-fynproewersgilde. En my Olifant hét ’n skop. Wel, nie soos ’n muil nie, maar soos ’n olifant. Hy skop vir Jan dat hy skoon bedwelmd na sy suite op die boonste vloer steier, en in die proses stamp hy sy kop dat die bloed loop. Maar hy kom sowaar terug en vra vir nog ’n skyf. My groot vrind Chris kuier op ’n kol met twee Switsers in Die Kroeg. Hulle gebruik meer as so ’n ietsie van Boetie-John se “versnaperinge” wat oorgebly het. Twaalfuur se kant verskoon ek myself en gaan kruip agter Mammie se blad in. Teen tweeuur hoor ek harde, verergde stemme, want die kuiery in die kroeg bo ons slaapkamer het in ’n hewige argument tussen Chris en die Switsers ontaard. Toe is daar ’n slag wat die geraamtes in enige kerkhof sou skud, soos Chris van die trap afdonder… Ja, Die Kroeg het al menige slagoffer geëis, van Jan Malan tot Thys Dassiekop.

Toe breek die jaar 2000 aan – die geleentheid om Die Millennium op die Suidpunt te vier. Ons vriende pak die gastehuis vol – 18 van hulle. Die meeste is kennisse van Justin van Breda. Hulle kom van orals, van New York, Londen en Wene. Dis ook heel gepas dat Justin daar is, want sy ouma was die oorspronklike eienaar van the Sea House – gebou in om en by die 1920’s.

Ons het The Sea House in 2008 verkoop om te fokus op ’n ou plaasskuur wat ons in die suide van Frankryk aan’t restoureer was. The Sea House was tien jaar van louter geluk – die einde van ’n wonderlike, emosiebelaaide hoofstuk. Hoe bevoorreg kan mens nie wees nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Frank ·

Lekker gelees, dankie Pierre! Nou wag ons vir die storie oor die plaasskuur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.