Tien wenke om gou tuis te voel in ʼn vreemde stad

Foto: Marianne Styan

Foto: Marianne Styan

Daar is niks so erg as om jou in ʼn vreemde stad, in ʼn vreemde land te bevind en nie ʼn idee te hê waarheen om te gaan nie…

Maar my ervaring het my al geleer dat hierdie selfde vreemde stad binne enkele ure kan verander in ʼn tweede tuisdorp.

Ek deel graag tien wenke wat jou vinnig sal laat tuis voel in ʼn nuwe stad as jy op reis is.

  1. Indien moontlik, bekyk die stad se uitleg voor die tyd op ʼn kaart. Kyk hoe ver en waar jou hotel geleë is vanaf die lughawe of stasie (hang af hoe jy besluit om te reis). Maak baie seker na watter lughawe jou vlug vlieg, aangesien groot stede deesdae meer as een lughawe het. Laekoste-vlugte vlieg ook dikwels na sekondêre, meer afgeleë lughawens.
  2. Wanneer jy jou verblyf bespreek, maak seker hoe ver dit van die bekendste besienswaardighede af geleë is. Alhoewel die verblyf naaste aan die besienswaardighede dikwels duurder kan wees, is daar dikwels ʼn gelukkie of twee wat mens kan losslaan as jy betyds bespreek.
  3. Die oomblik wat jy “voet aan wal” sit, kry ʼn kaart van die stad in die hande. Ja, deesdae is ʼn GPS baie handig, maar dit gee mens dikwels nog steeds nie ʼn duidelike prentjie van waar jy jou bevind in die stad nie. Mens leer werklik ʼn stad ken deur met ʼn kaart in die hand rond te loop. Kaarte is vrylik beskikbaar by hotelle, stasies, inligtingsentrums en lughawens.
  4. Indien jy nie geld gekry het in Suid-Afrika nie, trek ten minste ʼn paar euro’s, dollars, ponde, ens. op die stasie of lughawe. Hang af van die land waarin jy jou bevind, maar meestal is die wisselkoers op ʼn lughawe of stasie meer as elders. Daarom is dit wys om sommer met ʼn kaart, indien moontlik, net die nodige geld hier te trek.
  5. Vind uit van publieke vervoer. Meeste lande het wonderlike publieke vervoer, wat nie net die lewe vir ʼn vreemdeling maklik maak nie, maar ook jou sak baie beter gaan pas as ʼn huurmotor.
  6. Indien jy wel jou hotel sonder moeite gekry het en nou die stad wil verken, sal ek sê die “Hop-on, Hop-off”-busse is die beste manier om jou nuwe omgewing beter te leer ken. Meeste groot stede bied hierdie diens. Ek is mal oor dié manier van verkenning, omdat dit jou na al die bekendste besienswaardighede neem terwyl hulle vir mens ʼn breë geskiedenisoorsig gee. Meestal is daar verskillende pakkette waaruit jy kan kies, en jy kan ook ʼn kaartjie koop wat vir ʼn sekere hoeveelheid dae geldig is. Dit maak dit nogal maklik om dan elke dag ʼn paar van die besienswaardighede te besoek en genoeg tyd daar deur te bring.
    Sommige van die pakkette sluit ook ʼn bootrit in, indien daar ʼn kanaal of rivier is wat deur die stad vloei.
  7. Gesels met die personeel by die hotel, gastehuis of eienaar van die woonstel waar jy bly. Indien jy verkies om, soos ek, die plaaslike lewe te ervaar, is hulle die beste mense wat jy moontlik kan vra. Indien jy die lekkerste plaaslike restaurante, kafeetjies of kroeë wil gaan opsoek, gaan hulle raad die waardevolste wees.
  8. In vandag se tegnologiese era is die internet jou beste vriend. Een app wat ek kan aanbeveel, is TripAdvisor. Laai dit af op jou foon voor jy die stad besoek en doen navorsing daarop oor restaurante, besienswaardighede, kuierplekke en meer. Die raad en menings wat deur ander reisigers, soos jy, daarop gegee word, is baie handig en gewoonlik baie eerlik.
  9. Indien jy georganiseerde toere verkies, bespreek een selfs voor jy na die stad vertrek of vind uit by die hotel waar jy tuisgaan of hulle ʼn goeie toer kan aanbeveel. Weereens gee dit mens ʼn maklike manier om die stad beter te leer ken. Doen dit verkieslik al die eerste dag sodat dit jou nie net jou oriëntering kan gee nie, maar sodat jy kan teruggaan na die plekke waarvan jy die meeste gehou het en meer tyd daar spandeer.
  10. Indien die plek bekend is vir ʼn groot verskeidenheid van besienswaardighede en museums, sal die stad dikwels ʼn kaart/ paspoort vir toegang daarna aanbied. Dit gee mens meestal maklike en vinnige toegang, teen ʼn laer koste as gewoonlik na meeste van die groot aantrekkingspunte. Doen navorsing hieroor op die internet.

Marianne onderneem al hierdie ervarings en bring jou reisartikel op haar eie onkoste.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Emile ·

‘n Klein knoopkompas (button compass) is ook handig om navigasie en rigtinghou te vergemaklik, veral in groot stede tydens grou noordelike winters wanneer koershou moeilik is sonder die son. Daar hang die son hang ook Suid en nie Noord nie soos ons in SA gewoond is nie en verwar maklik ons rigtinginstinkte. Dit het my menigmaal weer help rigtinghou na ‘n moltrein afstap by ‘n vreemde stasie in London en Parys.

Sophie van Vuuren ·

Ek vermoed ek sal nooit kan bekostig om op reis te gaan na ander lande. Die tien punte klink baie waardevol

Adriaan ·

Die ou gesegde wat ek hier in Ireland geleer het en waar is”Fail to plan , Plan to fail” so navorsing is belangrik want Joe Meer Jy inset hoe Meer plesier gaan Jy uit jou toer uitkry

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.