Tosca de Villiers reis deur Parys, Frankryk

Parys in Frankryk. (Foto: Stephen Leonardi/Unsplash)

Deur Tosca de Villiers

Die geleentheid om die stad van lig en liefde op ʼn rustiger, ondersoekende manier te verken, laat jy nie deur jou vingers glip nie. Hierdie kans kry ek toe my niggie met ʼn Fransman trou en ek hul woonstel in Parys vir bietjie meer as twee weke oppas.

Vroegoggend sit ek met my reisboek en kaart by een van die straatkafees en beplan my dag. In my rugsak ʼn toebroodjie, gemaak van die immer bekende baguette; dié brood se bestanddele word deur wetgewing vasgestel, en die lang, stokvormige voorkoms is indirek te danke aan wetgewing wat in Oktober 1920 ingestel is: Niemand mag tussen tien saans en vieruur in die oggend in ʼn bakkery werk nie. Die ronde brode wat langer neem om te rys en te bak, het toe plek gemaak vir die lang brode. Een laatmiddag staan ek in die ry om brood te koop en sien ʼn teken teen die bakkery se venster – dis bekroon as die tweede beste baguettebakkery in Parys, daarna het ek doelbewus van die ander bakkerye, wat onder die tien bestes was, probeer raakloop en my eie broodproe gehou.

Kort ná my aankoms in ʼn nuwe stad verken ek dit graag oorsigtelik: ry met die rooi toeristebus of gaan na een van die hoogste punte, hetsy dit ʼn berg of gebou is. In Parys is daar vele opsies en ek kies Montparnasse. Toere word na die hoogste vlak van hierdie gebou aangebied, maar my reisboek het gefluister van ʼn spesiale stel trappe waarmee ek kan afklim na die draairestaurant op die tweede hoogste vlak. Ek sorg dat ek so skuins ná middagete by die restaurant is en die kelner ontvang my met tipiese Franse sjarme, sien die kamera en neem my na ʼn tafel teen die venster. Ek bestel nagereg en koffie en terwyl die ander gaste vertrek en die tafels vir die aand gedek word, sit ek daar en verkyk my aan die 360°-uitsig wat stadig voor my verby draai.

Die gewilde Louvre-museum in Parys, Frankryk. (Foto: Verskaf)

Terwyl ek nou geheime verklap, daar is minder bekende ingange na die Louvre: Carrousel du Louvre, 99 Rue de Rivoli is een. Ek het ʼn hele paar keer daar verbygestap en daar was nie een keer mense wat in ʼn tou gestaan het nie. Die Louvre was eens ʼn kasteel, maar is sedert 1793 ʼn museum en is in agt afdelings ingedeel wat werke van oor die aarde huisves. Die bekendstes is seker die Mona Lisa, die Winged Victory of Samothrace, en die Venus de Milo. Ek vra ʼn kaart van die museum en die beamptes is baie behulpsaam om merkies te maak waar die belangrikste werke te siene is. Die dae om die Louvre te vermy, is Maandae en Dinsdae. Omdat die meeste van die museums in Parys op ʼn Maandag gesluit is, veroorsaak dit ʼn toestroming en Dinsdae is die Louvre weer gesluit.

By die Mona Lisa was dit ʼn gedruis van mense wat selfies neem. Die wag sien raak dat ek graag na die bekende kunswerk wil kyk en wink my nader.

“Wag net tot vyfuur, dan begin ons die mense uitjaag, jy sal dan ʼn kansie kry om na haar te kyk,” fluister hy in my oor.

ʼn Algemene wenk vir die museums in Parys is om te kyk watter dag in die week bly dit tot laat die aand oop – die Louvre, byvoorbeeld, bly op ʼn Woensdag en Vrydag tot tienuur die aand oop. Laatmiddag raak die museum stil en jy kan rustiger rondloop omdat die meeste mense al weg is. Dis ook die ideale manier om groepe te vermy. Iets anders wat ek agtergekom het, is dat die meeste museums nie gedurende die uur voordat hulle toemaak, kaartjies verkoop nie. Jy kan dus verniet ingaan en net gou na een of twee spesifieke werke gaan kyk. Toegang tot al die museums is ook een dag per maand gratis, gewoonlik die eerste of laaste Sondag.

Die Orsay-museum (Musée d’Orsay), op die linkeroewer van die Seinrivier is ʼn logiese volgende stap ná die Louvre. Dit bevat hoofsaaklik Franse kuns uit die tydperk tussen 1848 en 1914 en sluit die grootste versameling van impressioniste soos Monet, Manet, Degas, Renoir, Cézanne, Seurat, Sisley, Gauguin, en Van Gogh in. Die gebou is ʼn treinstasie wat tussen 1898 en 1900 gebou is, en is op sigself ʼn besienswaardigheid.

Ek ontdek gou ʼn hele paar plekke om bietjie van die stad se gewoel weg te kom. Een van my gunstelinge is Musée Rodin. Toegang tot die hele museum kos €15, wat die huis insluit, maar net €1 as jy slegs na die tuine toe gaan – ʼn paradys van rus en vrede. In die betowerende tuine gaan sit ek ʼn rukkie aan die voete van Die Denker. Rodin het in 1908 sy intrek in die Hotel Biron, ʼn agtiende eeuse herehuis, geneem waar hy tot met sy dood gewoon en gewerk het. Sy muse Camile Claudel het by hom aangesluit en van haar werk is ook hier te sien. Ander bekende beeldhouwerke wat in die tuine uitgestal word, is Die Soen, Die Burgers van Calais, Die Hellepoort en die beeld van die kolos Honoré de Balzac.

Parys is vir my sinoniem met die Eiffeltoring. Rondom dié landmerk is dit ʼn gedruis, maar suidoos is ʼn groot park wat strek tot by die indrukwekkende geboue van die École militaire, wat vry vertaal kan word as die militêre skool. Oor die eeue heen het Franse soldate hier geoefen en gemarsjeer. Fliekvlooie sal dit dalk herken uit die James Bond-fliek, A Time To Kill.

Die Arc de Triomphe, waar twaalf van die stad se groot strate bymekaarkom, is een van die stad se bekendste landmerke. Lynreg, en net vier kilometer wes, is Arche de la Défense of soos die Franse daarna verwys La Grande Arche – wat minder bekend en beroemd is, maar baie indrukwekkend. Dit vorm deel van Parys se sakekern en is omring deur wolkekrabbers wat die hoofkwartiere van baie maatskappye huisves. Hier is ʼn groot buitelugkunsversameling en sluit werke van Calder, Miro en César Baldaccini in. Daar is ʼn hele paar werke op die plein, maar van die ander is tussen die geboue versteek.

Ek het graag op die hitte van die dag by die Medici-fontein (vernoem na Marie de Medici, die weduwee van koning Henri IV) aan die oostekant van die Luxemburg-tuine op een van die gemaklike stoele gaan sit en lees. Om hierdie tuine te besoek is gratis en na gelang van die seisoen is dit oop van 07:30 of 08.30 in die oggend tot so 16:45 in die middag of 21:45 in die aand.

Montmartre in Parys, Frankryk. (Foto: Verskaf)

ʼn Ervaring is iets wat niemand by jou kan wegvat nie, so ook die kennis in jou kop. Dis hoe ek myself omgepraat het om in te skryf vir die gevorderde macaron-klas by La Cuisine Paris. Ons leer dié wispelturige koekies op die Italiaanse en Franse metode bak en ook hoe om vier verskillende vulsels te maak. Sedertdien kry ek elke maand hul nuusbrief met interessante kos en ander dinge om in Parys te doen en daar is altyd ʼn resep en wenke ook by.

Ná die klas gaan stap ek in die Les Halles-area rond waar daar eens ʼn groot varsproduktemark was, dié is nou tot niet, maar al die winkels in dié area is steeds ʼn Mekka vir Parys se sjefs wat hul kombuistoerusting hier kom koop. Maar, maak seker jy weet wat iets in Suid-Afrika kos voordat jy daar koop; jy wil tog nie met ʼn swaar Le Creuset-kastrol in jou tas sukkel net om agter te kom dit kos maar min of meer dieselfde tuis nie. BTW in Frankryk is baie hoog en as ʼn prys met HT (hors taxe) aangedui word, gaan daar nog so 19,6% by die prys gevoeg word as jy betaal. Ander winkels dui weer die pryse aan met BTW aan – die beste is om te vra en seker te maak.

In dieselfde omgewing is die bekende boekwinkel, Shakespeare and Company wat in 1951 deur die Amerikaner George Whitman begin is. As jy ʼn boekliefhebber is, laat genoeg tyd toe om hier te snuffel en sommer iewers tussen die rakke te sit en lees. Ou antieke boeke, splinternuwe en tweedehandse boeke stoei vir ʼn plekkie op die rakke. Bokant die deur van die leesbiblioteek is die winkel se slagspreuk geverf. “Be not inhospitable to strangers, lest they be angels in disguise” En dit word uitgeleef in die gasvryheid van die winkel.

Skoon drinkwater is gratis in Parys, en as jy weet waar om te kyk, kan jy uit ʼn historiese kunswerk drink. Voor Shakespeare and Company staan een van hierdie fonteine. Ná die Pruisiese beleg in 1871 het Richard Wallace die behoefte aan skoon drinkwater raakgesien en ʼn ruwe skets gemaak wat Charles-Auguste Lebourg verfyn het. Die vier vrouefigure beeld die deugdes vriendelikheid, eenvoud, liefdadigheid en soberheid uit. En in die eg Franse tradisie lig hulle die rokke net genoeg dat daar ʼn mooi stukkie been wys.

Die Sacré-Coeur is een van die gewildste besoekpunte in Parys, maar van die oorspronklike wingerde wat agter hierdie bekende landmerk staan, weet bitter min besoekers. Clos Montmartre produseer nog ongeveer 1 700 bottels wyn per jaar, en jy sal dit moeilik in ʼn drankwinkel raakloop. Jou beste opsie is maar om die Fête des Vendanges de Montmartre by te woon.

Parys is soveel meer as sy bekende landmerke, smaaklike kos, inkopiegeleenthede, die straatkafees, kuns, parke en tuine – dis iets om te belééf. Gaan sit net met ʼn koppie koffie, glas wyn of bier by ʼn straatkafee en adem die stad in.

  • Om te reis is op die oomblik amper nie moontlik nie – maar in jou kop kan jy gaan rondloop. Tosca de Villiers, wat hierdie artikel geskryf het, het ook ʼn liefdesroman Prins van Margaux se hart Die heldin, Margaux Malherbe, is op pad Parys toe waar sy haar droom, om ʼn kunstenaar te word, gaan najaag. Sy draai haar rug op die familie, hul besigheid en ʼn amperse gereëlde huwelik. Haar visum is egter nie gereed nie en sy moet ʼn dag daarvoor wag.

Die Kaapse wynboer Dawid Malan kom haal sy Franse paspoort in Johannesburg. Met die waterkwotas dié oesseisoen op hande op die familie se landgoed in Bordeaux, is hy besig genoeg om hom nie deur twee sexy bene te laat verlei nie. Veral nie as dit aan ʼn kunstenaar behoort nie – daardie les het hy op die harde manier geleer.

Sal een nag van passie die vuur tussen hulle blus of net tot meer versoeking lei? Veral as hulle mekaar weer in die Stad van Liefde raakloop?

Die boek is op Amazon beskikbaar en ook op Kindle Unlimited. Hier kry jy dit. Klik hier om ‘n uittreksel uit die eerste hoofstuk van die boek te lees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.