Toweragtige Turkye: 7 onvergeetlike ervarings in Istanboel

(Foto: Carina Stander)

Hierdie is deel 5 van ʼn gesinsreis deur Turkye deur Carina Stander. Lees deel 1, deel 2, deel 3 en deel 4 – Red

In Oktober vanjaar het ons ʼn gesinsavontuur na Turkye aangepak. In hierdie reeks van vyf rubrieke vertel ek van die reisplan wat ek en Gerrit saamgestel het: 2 500 km per huurmotor en 110 km te voet, wat ons binne tien dae saam met ons seuns afgelê het, deur een van die mees fassinerende lande op aarde.

Vir iemand wat nie juis ʼn stadsmeisie is nie, het Istanboel my voete onder my uitgeslaan. Die Grand Dame van die wêreldstede is die ene sintuiglike verleiding met haar speserye en seelug, eksotika en glorie.

Enigmatiese Istanboel

Konstantinopel is 330 n.C. deur keiser Konstantyn die Grote gestig. Dis ʼn stad wat drie jaar onder beleg was en telkens deur aardbewings, brande en weermagte verwoes is. Die stadsmure het die sewe heuwels van die stad omsirkel en vir 757 jaar lank die invallers uitgehou. Konstantinopel was die magiese ontmoetingsplek tussen die Ooste en Weste en vandag is Istanboel steeds die enigste stad op aarde wat op twee kontinente geleë is. Dit was die hoofstad van vier magtige koninkryke: die Romeine, Bisantyne, Latyne en Ottomanne. Elke heerser het sy stempel op haar gelaat. Jy kan ʼn week hier spandeer en slegs ʼn proeseltjie van die eeu-oue kultuurerfenisse beleef. In die drie dae tot ons beskikking, was dié sewe ervarings onvergeetlik:

Topkapı-paleis: Die weelderige sultanpaleis

Tokapi Paleis (Foto: Carina Stander)

Topkapı-paleis was vir vier eeue lank, van 1465 tot 1856, die amptelike woning van die sultans. Dis gebou op heuwelagtig terrein, een van die hoogste punte naby die see. In die hoogbloei het tot 4 000 mense hier in die paleiskompleks gewoon – ’n stad binne ’n stad. Hier was moskees, hospitaal, skole, kasernes, stalle, bakkerye, ʼn munt, ʼn koninklike roostuin, ’n park vol poue en wildsbokke en ʼn kombuis met 800 personeellede. Die paleis was so selfvoorsienend, die howelinge het nie nodig gehad om dit te verlaat nie. Hier was ook ʼn gemeenskap van kunstenaars en ambagslui, die Gemeenskap van die Talentvolles, wat uitstekende werk gelewer het. Die biblioteek het meer as 3 500 manuskripte gehad, party met inlegwerk van perlemoen en ivoor.

Vandag is die prag en praal van die paleis steeds duidelik in die goudvergulde kalligrafie, pragtige İznik-teëls en porseleinware wat met kameel-karavane ingevoer is. Die 10 700 stukke porseleinware is van die seldsaamste ter wêreld. Hier word ook die mooiste horlosies uit Europa en China uitgestal en wapens wat oor ʼn tydperk van 1 300 jaar strek – wapenrustings, helms, dolke versier met edelgesteentes, byle en selfs ʼn Hongaarse swaard wat in die 1300’s vir ʼn reus gemaak is. Die troon van Sultan Ahmed I laat ʼn mens duisel: Dis van okkerneuthout en ingelê met pêrels, skilpaddop, robyne, goud, silwer, chrisoliet en kwarts. Wanneer die visiere en ambassadeurs hulle verslae hier aan die sultan voorgelê het, het hy hulle met geskenke en hoër ampte beloon óf deur sy doofstom eunugs laat verwurg.

Tokapi Paleis (Foto: Carina Stander)

Die harem het meer as vierhonderd kamers. Die keiserinmoeder het hier gebly, asook sy driehonderd vroue en byvroue, sy kinders en die tweehonderd eunugs wat hulle bewaak. Niemand anders is hier toegelaat nie. (Harem beteken “verbode” of “privaat” in Arabies.) Islam verbied dat Moslemvroue slawe word, daarom het die harem uit buitelandse meisies bestaan, meestal van Oos-Europa, wat geskool is in Turkse en Islamitiese kultuur, musiek, lees, skryf, dans en borduurwerk.

In die sultan se slaapkamer is ʼn fontein wat ontwerp is om soos ʼn waterval te klink, sodat niemand hom kon afluister nie. Want dié paleis is ʼn plek van stories oor wellustige sultans, howelinge wat konkel en knoei, beeldskone byvroue en slim eunugs. Webwerf: www.topkapipalace-tickets.com/about-topkapi-palace-istanbul/

Aya Sofya: Die argitektoniese wonder

Aya Sofya (Foto: Carina Stander)

Die Aya Sofya (Hagia Sophia in Grieks, “Heilige Wysheid”) is ʼn simfonie van koepels en boë wat die geskiedenis van argitektuur verander het. Selfs in Istanboel met sy talryke besonderse geboue, staan die Aya Sofya kop en skouers uit weens haar interessante geskiedenis, nuutdenkende argitektuur en suiwer skoonheid. Dis deur ’n fisikus en wiskundige ontwerp en keiser Justinian die Grote het 10 000 mense in diens geneem vir die bouwerk. In 537 n.C. is dit luisterryk ingewy. Vir ʼn duisend jaar was dit die grootste katedraal ter wêreld. By die ingang groet ʼn mosaïek van Christus jou met die woorde: “Vrede vir julle. Ek is die Lig van die Wêreld”. Die goue mosaïekwerk teen die plafon is verruklik, veral die mosaïek van ʼn seraf, ʼn sesvlerkige engel. Die koepel is 56 m hoog en 30 m in diameter en word ondersteun deur enorme pilare wat in die binnemure versteek is. Die reusagtige kandelare is ook indrukwekkend. Die bronshek dateer uit die tweede eeu voor Christus; ʼn keiser het dit 838 n.C. uit ʼn heidense tempel in Tarsus gesteel en hier ingebou. Die buitegeboue sluit in ʼn fontein, skool en grafkelders. Die Aya Sofya is al deur brande en aardbewings verwoes, maar telkens herstel. Die was eers ʼn Oosters-Ortodokse basilika, later ’n moskee, toe ’n museum en nou is dit weer ʼn moskee. Vroue se koppe, skouers en knieë moet bedek wees.

Bosporus-veerbootrit: Die beroemde seestraat

Die Bosporus-seestraat op die grens tussen Europa en Asië is al vir eeue die roete van avonturiers, handelaars, soldate en keisers. Die veerboot verby klein vissersbote en groot vragskepe, geskiedkundige brûe, 667 luukse yalıs (strandhuise) paleise, moskees, forte, teetuine, somerhuise en seemeeue. Neem die sononder-vaart wanneer die buitelyne van die koepels en spitse afgeëts is teen die stofpienk skemerlug. Wees ʼn halfuur voor vertrektyd daar en kies ʼn sitplek op die boonste dek met die wydste uitsigte. Die vaart was twee ure retoer – eers teen die Europese kant en dan teen die Asiatiese kant.

(Foto: Carina Stander)

Groot Basaar: Die Middeleeuse inkopiesentrum

Die grootste en oudste onderdakmark ter wêreld is kleurmal en chaoties. Vandat dit in 1461 deur Mehmet die Veroweraar as handelsentrum opgerig is, lok en verlei dit mense met eksotiese kleure en geure. Daar is 58 onderdak-strate met duisende florerende stalletjies wat tapyte, kilims, juwele, keramiek en wat nog verkwansel. Ons gesin het ons enigste Turkse items hier gekoop: ʼn skaakstel van Ottomanne vs Bisantyne en ʼn bont lampie. Daar word van jou verwag om baie tee te drink terwyl jy onderhandel en oor ʼn prys knibbel wat verkoper en koper laat glimlag.

Basilika-watertenk: Sie ondergrondse “waterpaleis”

Istanboel is ʼn waterlose stad, water word elders vanaf opgaardamme verkry. Die Basilika-watertenk is in 532 n.C. deur keiser Justinian gebou om die paleis van water te voorsien. Dit kon 80 000 kubieke meter water stoor. Ná die Groot Verowering was dit vir eeue vergete, en eers in 1545 herontdek toe plaaslike inwoners vir ʼn navorser vertel van die vis wat hulle uit hul kelders vang! Die Ottomanne het die watertenk nie na waarde geag nie en selfs kadawers daarin gegooi. In 1985 is dit uiteindelik gerestoureer en sedertdien is die spelonkagtig, katedraalgagtige ondergrondse ruimte baie gewild. Om onder die gewelfde plafon te stap, tussen 336 pilare (sommige met pragtig beitelwerk, omdat dit uit ou tempels geroof is), is ʼn grootse ervaring.

(Foto: Carina Stander)

Hippodroom: Die kuierplein

Die Hippodroom (“perdpad” in Grieks) is al vir duisende jare lank die sosiale middelpunt van die Oustad. Lank gelede is die plein vir strydwa-renne gebruik en versier met obeliske en beelde van gode, keisers en helde. Politieke dramas het ook op die plein afgespeel, met ʼn bloedbad in 532 n.C. tydens ʼn burgerlike opstand teen belasting. Vandag kan jy op die promenades wandel, ʼn gaar mielie of roomys koop en die mensdom vanaf ʼn bankie by die agthoekige fontein betrag. Want glo my, jy gáán mense uit álle uithoeke van die aarde hier gewaar!

(Foto: Carina Stander)

Eet en oornag in Sultanahmet

Die buurt Sultanahmet is die hartklop van ou Istanboel. Palatium Restaurant is gebou op die ruïnes van Groot Paleis van Konstantinopel (Palatium Magmum) wat die koningshuis was van 330 tot 1081. In 1996 het die familie wat die restaurant besit ʼn gedeelte van die paleis ontdek en 600 trokke se grond ontruim – nou stap jy op glasvloere met die antieke geskiedenis ondervoets! Die restaurant is atmosferies met bont liggies en Turkse kussings, die kos is bekostigbaar (ʼn groot hoofgereg is ongeveer R100). Smul hier aan tradisionele kleipotdisse, lamsbredies en kebabs. Die diens is besonder flink en vriendelik. Webwerf: www.palatiumcafeandrestaurant.com/magnaura-palace—palatium-magnum–.html

Parkering in Istanboel is ʼn nagmerrie. Dis heerlik om eerder loopafstand van álles in dié artikel te oornag en die stad te voet te verken. Marmara is ʼn sjarmante gastehuis. Dit word al vir dertig jaar deur dieselfde familie bestuur. Dis fluitskoon, verwelkomend en ongelooflik stil vir hoe sentraal dit geleë is. Ontbyt is op ʼn dakstoep met wye uitsigte van meeue wat oor die see sweef. Jy kan deur die loop van die dag tussen jou stadsverkennings op die rankplantversluierde dakstoep rus met ʼn koppie tee in hand. Die vyftien kamers het gerieflike beddens en badkamers. Ons het in die familiekamer-vir-vier oornag. WhatsApp Ahmed Falahat: +90 542 109 06 84. Vonkpos: [email protected]. Webwerf: www.marmaraguesthouse.com/

(Foto: Carina Stander)

ALGEMENE REISRAAD:

Waarom Turkye? Behalwe vir die eksotiese kos, kultuurskatte en fassinerende landskap waaroor ek in die artikels uitbrei, is daar ook praktiese redes wat ʼn reis deur Turkye aanloklik maak vir Suid-Afrikaners:

* Brandstof is goedkoper as in Suid-Afrika. (Dis tans R20 per liter.) Die hoofweë is oop, skoon en goed vir ʼn sloertoer. Slegs in woelige Istanboel het ons nie ʼn kar gehuur nie, maar te voet en boot rondbeweeg.

* Turkye is ʼn mengsel van Asië en Europa. Dis deel van die Europese Unie wat ʼn sekere standaard vereis, maar kos, vervoer, verblyf, straatmarkte en toegangsfooie is goedkoper as Europa.

* Turkey het misdaad, maar is tans veiliger as ons land met minder moorde per kapita: 2 000 in vergelyking met ons 6 000.

* Groot pluspunt: ʼn Mens kan aanlyn aansoek doen vir jou visum en dit binne ʼn dag kry. Dis gratis en geldig vir 180 dae. Vergelyk dit met Europa of Amerika waar jy lank moet wag vir ʼn visum en duisende rande opdok.

*Turkish Airlines het in 1933 met vyf vliegtuie begin. Vandag het hulle 338 vliegtuie, is deel van Star Alliance en het die toekenning vir Best Airline in Europa verower. Hulle motto is “Widen your World” en sowaar, hulle vlieg na 265 bestemmings en na meer lande as enige ander lugredery. Hulle is die enigste lugredery met direkte vlugte vanaf Suid-Afrika na Turkye. Dit neem nege uur en veertig minute vanaf Johannesburg na Istanboel; tien ure vanaf Kaapstad na Istanboel. Ons vlugte was stiptelik, gerieflik en vriendelik met ʼn groot verskeidenheid flieks en ander vermaak om van te kies. Webwerf: www.turkishairlines.com Vonkpos: [email protected] Skakel: 086 0666 828.

* Ek het besonder baie moeite gedoen om verblyf te soek wat eie aan die karakter van elke omgewing is. Nie by een van die ses verblyfplekke moes ek ʼn deposito betaal nie. As die Turke sê hulle hou jou kamer, doen hulle dit – wees jy ewe eerbaar en daag betyds op.

(Foto: Carina Stander)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.