Toweragtige Turkye: Die travertyne van Pamukkale en ruïnes van Efese

(Foto: Carina Stander)

Hierdie is deel 5 van ʼn gesinsreis deur Turkye deur Carina Stander. Lees deel 1, deel 2 en deel 3. – Red

In Oktober vanjaar het ons ʼn gesinsavontuur na Turkye aangepak. In hierdie reeks van vyf rubrieke vertel ek van die reisplan wat ek en Gerrit saamgestel het: 2 500 km per huurmotor en 110 km te voet, wat ons binne tien dae saam met ons seuns afgelê het, deur een van die mees fassinerende lande op aarde.

Die skitterwit travertyne van Pamukkale en antieke Hiërapolis

Toe ons negeuur die oggend Pamukkale aandurf, skitter en skyn die berg in die son. Blindwit. Pamukkale (“katoenkasteel” in Turks) is ’n fassinerende natuurterrein van warmwaterbronne en travertyne: terrasse van kalkiet, ʼn soort kalksteen wat deur die vloeiende water agtergelaat word.

Die water stoom oor die skitterwit steen en omskep dit in stoepe, trappe, mure en pieringvormige travertyne gevul met turkooisblou poele.

Ons loop van die onderste dorpshek af teen die berg op. Dis ʼn stiller roete, want die toerbusse parkeer doer bo. Omdat dié ʼn beskermde landskap is, ʼn Unesco-wêrelderfenisgebied, stap ons kaalvoet en kuitdiep deur die water. Dis louwarm en mineraalryk – dit borrel vulkanies uit die buik van die aarde. Die fyn tekstuur van die steen keer dat ons gly. Ek het al voorheen foto’s van die travertyne gesien, maar die grootte hiervan vang my onkant. Dit hou aan en aan vir 2,7 km. Dis anderwêrelds, soos niks anders wat ek al beleef het nie. Onwerklik, soos iets uit Star Wars.

(Foto: Carina Stander)

ʼn Ligte bries waai, maar dis skelwarm toe ons vanaf die travertyne berg-op stap na die slingerende ruïnes van Hiërapolis (“heilige stad” in Grieks). Dié antieke stad is in 190 v.C. bo die wit “kasteelberg” gebou en is so groot, dit kan 20 km verder vanaf die oorkantste vallei gesien word. Hiërapolis was ʼn multikulturele spa-stad in die Romeinse en Bisantyne tye. Hier was ʼn biblioteek en gimnasium en ʼn tempel waar die eunugpriesters diere aan die gode geoffer het deur hulle met swaeldampe te versmoor. Blykbaar het net die priesters die truuk geken om hulle asems in te hou wanneer die giftige walms uit Hades verys. In die amfiteater van 12 000 sitplekke is strydwa-resies, diere- en gladiotorgevegte gehou.

Vandag het Hiërapolis ʼn gevoel van ou-ou glorie. Baie beelde is windverwaaid, afgeskilfer en versplinter, maar derduisende heel marmerblokke wag om sorteer te word – spiralende pilare met fyn-fyn beitelwerk. Ons sien argeologie studente en vrywilligers doenig in ʼn afgekampte gebied. Die Romeinse baddens van Hiërapolis is juis omskep in ʼn uitstekende museum wat selfs artefakte uit die Bronstydperk uitstal. Ons verkyk ons aan die olielampies, seëlringe, goudjuwele, pylpunte en traanbottels. Die bosgod, Pan, drink aan ʼn bok en die gladiators wys die lewe was nie kinderspeletjies nie. Die pragtige sarkofae (groot doodskiste van klip) dien as monumente vir die afgestorwenes, hulle lewenshoogtepunte is in die gebeitelde marmer verewig.

Die aand in die dorpie Pamukkale word ons deur ʼn kelner by ʼn eetplek in gelok: “Not happy with food, no pay!”. Hy plak ottomanhoedjies op my manne se koppe en ʼn serp op myne en laat ons op vloerkussings sit. Die tradisionele musiek is vrolik en die vertrek is verfraai met kleurvolle lampe en tapyte. Die adana kebab, hoender döner en raki (anysdrankie) gly goed af in die keel.

By ons verblyfplek verwelkom die vriendelike eienaar, Coşkun, ons sommer met die intrapslag in sy enigste en beste Afrikaans: “Welkom! Lekker geëet?”. Coşkun is duidelik ʼn geoefende hand in die gasvryheidsbedryf. In sy huishotel is die algemene Turkse boumateriaal, marmer, mildelik gebruik. Geeloranje marmervloere, blouwit marmerteëls. Rondom die swembad dra die granaatbome swaar vrugte. “Die granate bars uit hulle nate,” merk ons vyftienjarige op terwyl hy swem. Hier is ook olyfbome vol olywe. Ons slaapkamer-vir-vier by Melrose House was 65-euro (ongeveer R290 per persoon), ’n groot ontbyt ingesluit. Vonkpos: [email protected]. WhatsApp Coşkun: +90 536 842 21 72. Webwerf: https://www.melrosehousehotel.com/.

(Foto: Carina Stander)

Die volgende oggend kraai ʼn hoenderhaan ons wakker – ʼn tikkie landelike sjarme. Ná ontbyt rits ons verder na Efese, 180 km en 3 ure se ry vanaf Pamukkale. Die roete neem ons verby olyfbome en granaatboorde, katoenlanderye en vroue wat pragtige kleipotte, gemaak uit rooiklei van die omgewing, langs die pad verkoop. Die waatlemoene by die padstalle is minder as R2 per kg! Gerrit bestuur, die broers lê agter en luister terwyl ek, soos altyd, hardop voorlees oor ons volgende bestemming.

Die antieke ruïnes van Efese

Volgens legende moes prins Androklos van Athene in die tiende eeu voor Christus sy land verlaat ná die dood van sy pa. ʼn Orakel het voorspel: “’n Vis en ’n varkbeer sal vir jou die pad wys.” Androklos en sy manne het glo ná ʼn lange reis op die strand gerus en vars vis gebraai – so vars, dit het uit die pan gespring, die vuurkole in alle rigtings laat kletter, die bome aan die brand gesteek en ʼn wildevark uit die woud gerook! Androklos, die heldhaftige prins, het die ondier ingedraf, gejag, gebraai en die stad Efese daar gestig.

Efese is ʼn dramatiese pragstad. In die eerste eeu voor Christus was daar sowat 250 000 inwoners, wat dit die tweede grootste stad ter wêreld gemaak het. Die Grieks-Romeinse leefwêreld word behoorlik lewend in Efese. Ná ʼn eeu en ʼn half van opgrawings, is dit die volledigste klassieke ruïnes in Europa, al is 80% van die stad nog nie ontgin nie! Dis ook ʼn Unesco-wêrelderfenisgebied.

As ʼn uiters welvarende stad was Efese ʼn samekomsplek vir filosowe, kunstenaars, pelgrims en handelaars. Onder Romeinse beheer het dit een van die mees gevorderde akwadukstelsels gehad. Die amfiteater is 41 n.C. gebou en kon 25 000 toeskouers neem. Apostel Paulus het glo in dié teater gepreek. Hy het in Efese gewoon vanaf 52-54 n.C. Die akoestiek is uitstekend. Dis meestal gebruik vir dramas, maar ’n gladiatorbegraafplaas is ook hier naby ontdek. Ons gesin sit op die boonste ry van die heel grootste amfiteater in die Klassieke Wêreld en slag ʼn waatlemoen vir middagete. Daarna dans ek en Gerrit ʼn paar draaie op die verhoog.

Teen vyfuur die middag is hier byna niemand meer in Efese nie, die toerbusse is weg. Die namiddaglug is koel en soel en sag. Ons stap in Marmerstraat. Die marmerblokke is enorm, die marmer is glad van eeue se gebruik en die merke van perdekarre is steeds sigbaar. In die outyd is die marmerstrate met water gesprinkel om inwoners af te koel. Ons sien die holtes in die klip waar publieke bordspeletjies gespeel is en waar die olielampies gehang is wat saans ʼn magiese atmosfeer geskep het. Hawestraat is 530 m lank en van die mees stylvolle winkels van Efese het eens op ʼn tyd gevoerde goedere hier verkwansel. Saans het vyftig lampe op die kolonnades gesorg vir lig in Hawestraat.

(Foto: Carina Stander)

Die allerpragtigste Celsus-biblioteek is in 110 n.C. gebou. Dis ontwerp om 12 000 perkamentrolle te beskerm teen hitte en vog. Die leeskamer kry die beste oggendlig. Die beelde van die vier Deugde, uitgebeeld as vier vroue, hou hier wag: Wysheid, Goedheid, Denke en Kennis. Betowerend.

Die rykste stedelinge het in die terrashuise naby die biblioteek gewoon. Vir drie ure aaneen wandel ons verby die oorblyfsels van wonings met mosaïekvloere, fonteine, tempels, pilare met dansende figure, poorte, ʼn bordeel, agoras (vergadersale), terracotta-waterpyle en openbare baddens. Die toilette was ook ʼn publieke gedoente. Daar is geen afskortings nie, jy moes in ʼn daklose vertrek sit, maar die vloeiende Romeinse togas het glo ʼn bietjie privaatheid geskep.

Ons rus in die Odeon – ʼn teater wat 150 n.C. gebou is en waar 1 500 toeskouers kon kyk na konserte en debatte. So skatryk was Efese daardie jare, dat party van die godebeelde edelgesteentes vir oë gehad het. Maar dis intussen geroof. Naas Konstantinopel (Istanboel) was Efese in 400-500 n.C. die belangrikste stad van die Bisantynse Ryk in Asië. Toe die Kaystros-rivier die hawe toeslik, het moerasse gevorm wat tot baie malaria-sterftes gelei het. Die einde van die hawe was ook die einde van handel.

Die stedelinge het op die heuwels gaan woon. Hulle het die tempels se boustene vir nuwe huise gebruik en die marmerbeelde verpoeier vir pleistermateriaal. Plundertogte deur die Germaanse Gote, Arabiere en Seldjoekse Turke en ʼn paar aardbewings het die verval van die stad bespoedig. Vandag glo die straatkatte hulle is die enigste oorblywende gode – hulle poseer die hele plek vol!

Naby die ruïnes, is die Spelonk van die Sewe Slapers. Volgens legende is sewe jong Christenmans in 250 n.C. vir hulle geloof vervolg deur Keiser Decius. Hulle het in ʼn spelonk gaan skuil en daar aan die slaap geraak. Die keiser het die spelonk laat seël. Op ʼn dag wou ʼn nuwe landheer die spelonk gebruik en toe hy dit oopmaak, vind hy die Sewe Slapers binne. Hulle het gedink hulle het net ʼn nag lank geslaap, maar toe hulle na Efese stap om kos te koop, was hulle verbaas om te sien dat die Christendom floreer. Die munte waarmee hulle vir die kos wou betaal, was tweehonderd jaar oud, want dit was die jaar 450 n.C.! Die plaaslike biskop het die Sewe Slapers ontmoet en ʼn wonderwerk verklaar. Die spelonk is ʼn belangrike plek vir pelgrims en die Sewe Slapers word deur Ortodokse en Katolieke gelowiges as heiliges beskou.

Ons oornag in Selçuk, 2 km vanaf Efese. Eienaar, Derviş, is ʼn timmerman en antiekversamelaar en gevolglik wemel sy huis van ou meubels en interessante snuisterye. Alles is kleurbont. Dis net klokkies, tossels, tapyte, antieke lampe en outydse botteltjies waar jy kyk. Soos iemand dit stel: “This ain’t no minimalist hip hotel.” Maar ʼn mens reis mos nou juis om iets uniek te beleef! Die badkamers is kleinerig, maar voldoende en dis heerlik om op die dakstoep te kuier. Homeros Pension se kamer-vir-vier, ontbyt ingesluit, was 56-euro (ongeveer R246 per persoon.) WhatsApp Dervis: 00 90 507 715 78 48. Vonkpos: [email protected]. Webwerf: http://www.homerospension.com.

In die laaste artikel oor Turkye vertel ek meer oor een van die mees spesiale stede op aarde, die enigmatiese Istanboel.

ALGEMENE REISRAAD:

Waarom Turkye? Behalwe vir die eksotiese kos, kultuurskatte en fassinerende landskap waaroor ek in die artikels uitbrei, is daar ook praktiese redes wat ʼn reis deur Turkye aanloklik maak vir Suid-Afrikaners:

* Brandstof is goedkoper as in Suid-Afrika. (Dis tans R20 per liter.) Die hoofweë is oop, skoon en goed vir ʼn sloertoer. Slegs in woelige Istanboel het ons nie ʼn kar gehuur nie, maar te voet en boot rondbeweeg.

* Turkye is ʼn mengsel van Asië en Europa. Dis deel van die Europese Unie wat ʼn sekere standaard vereis, maar kos, vervoer, verblyf, straatmarkte en toegangsfooie is goedkoper as Europa.

* Turkey het misdaad, maar is tans veiliger as ons land met minder moorde per kapita: 2 000 in vergelyking met ons 6 000.

* Groot pluspunt: ʼn Mens kan aanlyn aansoek doen vir jou visum en dit binne ʼn dag kry. Dis gratis en geldig vir 180 dae. Vergelyk dit met Europa of Amerika waar jy lank moet wag vir ʼn visum en duisende rande opdok.

*Turkish Airlines het in 1933 met vyf vliegtuie begin. Vandag het hulle 338 vliegtuie, is deel van Star Alliance en het die toekenning vir Best Airline in Europa verower. Hulle motto is “Widen your World” en sowaar, hulle vlieg na 265 bestemmings en na meer lande as enige ander lugredery. Hulle is die enigste lugredery met direkte vlugte vanaf Suid-Afrika na Turkye. Dit neem nege uur en veertig minute vanaf Johannesburg na Istanboel; tien ure vanaf Kaapstad na Istanboel. Ons vlugte was stiptelik, gerieflik en vriendelik met ʼn groot verskeidenheid flieks en ander vermaak om van te kies. Webwerf: www.turkishairlines.com Vonkpos: [email protected] Skakel: 086 0666 828.

* Ek het besonder baie moeite gedoen om verblyf te soek wat eie aan die karakter van elke omgewing is. Nie by een van die ses verblyfplekke moes ek ʼn deposito betaal nie. As die Turke sê hulle hou jou kamer, doen hulle dit – wees jy ewe eerbaar en daag betyds op.

(Foto: Carina Stander)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.