Toweragtige Turkye: Safranbolu en Kappadosië

Carina Stander en haar gesin het deur Turkye gereis. (Foto verskaf)

In Oktober vanjaar het ons ʼn epiese gesinsreis deur Turkye aangepak. Mens kan maklik versoek voel om slegs die rykdomme van Istanboel te ontgin, maar ons was ook aartsnuuskierig oor die ander kultuurskatte van die land. In hierdie reeks van vyf rubrieke vertel ek van die reisplan wat ek en Gerrit saamgestel het; van die 2 500 km per huurmotor en 110 km te voet wat ons en ons twee skoolseuns binne tien dae afgelê het deur een van die mees fassinerende lande op aarde.

Safranbolu: ʼn Storieboekdorp uit die Ottomaanse Ryk

Ek en Gerrit het ʼn ou reistradisie: Wanneer ons in ʼn nuwe land aankom, huur ons ʼn motor en mik reguit vir ʼn stiller gebied. Die stede hou ons vir die einde van die reis wanneer ons al lekker gemaklik is met die nuwe kultuur.

Die pad van Istanboel na Safranbolu is 400 km, vyf ure se rytyd. Safranbolu kry sy naam van die kosbare spesery, saffraan, wat steeds hier verbou word. Die dorp is deel van die Unesco-Wêrelderfenisgebied, omdat die oudorp, Eski Çarşi, ʼn volle 1 300 geskiedkundige geboue het wat meestal uit die Ottomaanse Ryk dateer. As een van die magtigste ryke van die mensdom, het dit vir sowat 450 jaar bestaan en eers in die Eerste Wêreldoorlog tot ʼn val gekom. Vandag is dit ʼn vreugde om deur die kronkelende keisteenstrate van Safranbolu te wandel waar die geskiedenis nog asemhaal. Ons koop Turkish Delight in allerlei kleure en geure direk by ʼn sjef – pistasieneut, granaat, sjokolade, roosblaar, amandel. Die metaalwerkersbasaar is ʼn hoogtepunt. Mens hoor die geklingel van hamers en beitels voordat jy die werksplekke bereik waar die pragtigste gegraveerde skinkborde, deurhandvatsels, swaarde en lampstaanders opgetower word; ʼn metaal-ambag wat oorgedra word van oupa na pa na seun.

By die straatkafeetjie, Atiş Cafe, verlustig ons ons aan egte Anatoliese geregte soos tereyağli köfte iskender (frikkadelle), etli keşkek (koring met kekerertjies en lamsvleis), safranli zerde (saffraanpoeding) en tuisgemaakte limonade. Daarna maak ons ʼn vinnige draai by Cinci Hani – ʼn karavanserai van vier eeue gelede met ʼn koffiemuseum.

Die draalsang weergalm vanuit die moskee toe die son sak. Ons kyk vanaf die heuwelparkie, Hıdırlık Tepe, hoe die skemerte oor die dorp daal. Rondom ons is die straatkatte goed gevoed en die Turke is ewe gemoedelik – vroue in kopdoeke en mans met welige wenkbroue. Die lamppaal is ʼn mannetjie wat ʼn sambreel bo my kop vashou.

Om in Safranbolu in ʼn Ottomaanse herehuis met ʼn rooiteëldak te oornag, voel net reg. Omdat marmer hier volop is, word dit oral gebruik, self op die stoep met sy druiweprieel, appelbome, bont bogonia en uitsig oor die oudorp waar huise soos swaeltjieneste teen die kranse gebou is. Çeşmeli Konak is gebou in die 1800’s en word die afgelope dekades as ʼn klein hotel bedryf. Dis deel van die Unesco-Wêrelderfenis en stapafstand vanaf die geskiedkundige oudorp. Die badkamers is kleinerig, maar voldoende. ʼn Familiekamer met slaapplek vir vier, badkamer en ontbyt ingesluit, is €50 (sowat R900 of ongeveer R222 pp). Webwerf: www.cesmelikonak.com.tr of WhatsApp Serhat: +90 532 303 78 65.

Kappadosië: Surrealistiese kliptorings vanuit ʼn warmlugballon

Vanaf Safranbolu na Kappadosië is dit 512 km, vyf ure se rytyd. Eers kronkel ons deur dorpies met leivore en vrugtebome, verby dolomietberge en inheemse dennewoude. Die paaie krul en draai soos die Ottomaanse alfabet. ʼn Woonstelblok in die middel van nêrens nie is sommer van bo tot onder met mosaïek geteël – fyn, soos borduurwerk. Dan ry ons skuins verby die ekonomiese spilpunt, die hoofstad Ankara, wat van die wolkekrabbers wemel.

Kappadosië is vir my die verrassendste deel van Turkye en om dit vanuit die lug te beleef, is onvergeetlik. Dis nog naglugblou met net ʼn paar verligte klipwonings toe ons gereedmaak om met ʼn warmlugballon oor die valleie van Kappadosië te vlieg. Vandag is 160 ballonne in die lug en onder ons strek die vreemdsoortige kliptorings so ver soos die oog kan kyk. Ons vlieg vir die uur van sonsopkoms oor ʼn maanlandskap en heuningkleurige rots, wingerde en wonings. Lank gelede het vulkane hier uitgebars, die lawa se as het sagte rots gevorm wat saam met die besinksels van die riviere ’n massiewe gebied bedek het. Die asklip het verweer, sodat slegs dié klipspitse staande bly soos reusagtige, gemantelde towenaars. Dis waar die eerste Christene eeue gelede kerke uit die rots gekerf en geskuil het teen vervolging. Uit die klippilare is ook huise gekerf wat tot vandag bewoon word. Ons oornag juis in die dorpie Göreme in ʼn grothotel. Die gesinsslaapkamer is so groot soos ʼn klein saal, gebou aan die onderkant van ʼn “sprokieskoorsteen”. Rakke is gekap uit die klipmure en behang met kleurvolle lampies en Persiese tapyte. Die algemene en goedkoop boumateriaal, marmer, word mildelik gebruik in die badkamer. Die ontbyt is enorm en ons kuier alte lekker op die dakstoep met sy kussings en wye uitsigte. Vineyard Cave Hotel se webwerf: Vineyardcavehotel.com Vonkpos: [email protected]. WhatsApp Osman: +90 537 731 81 93

In die volgende artikel vertel ek oor ʼn antieke ondergrondse stad, die versteekte grotkerkies van die Opelugmuseum en ʼn staproete deur die magiese Roosvallei van Kappadosië.

Reisraad

Waarom Turkye? Behalwe vir die eksotiese kos, kultuurskatte en fassinerende landskap waaroor ek in die artikels uitbrei, is daar ook praktiese redes wat ʼn reis deur Turkye aanloklik maak vir Suid-Afrikaners:

Ware Turkish Delight in Safranbolu. (Foto verskaf)

* Brandstof is goedkoper as in Suid-Afrika. Dit beloop tans net R20 per liter. Die hoofweë is uitstekend; oop, skoon en goed vir ʼn sloertoer. Slegs in woelige Istanboel het ons nie ʼn motor gehuur nie, maar te voet en boot rondbeweeg.

* Turkye is ‘n mengsel van Asië en Europa. Dit is deel van die Europese Unie wat ʼn sekere standaard vereis, maar kos, vervoer, verblyf, straatmarkte en ingangsfooie is goedkoper as Europa.

* Turkey het misdaad, maar is tans veiliger as ons land met minder moorde per kapita: 2 000 in vergelyking met ons 6 000.

* Groot pluspunt: Mens kan aanlyn aansoek doen vir jou visum en dit binne ʼn dag kry. Dis gratis en geldig vir 180 dae. Vergelyk dit Europa of Amerika waar jy lank moet wag vir ʼn visum en duisende rande opdok. Webwerf: www.evisa.gov.tr/en/

*Turkish Airlines het in 1933 met vyf vliegtuie begin. Vandag het hulle 338 vliegtuie, is deel van Star Alliance en het die toekenning vir Best Airline in Europa verower. Hulle motto is Widen your World en sowaar, hulle vlieg na 265 bestemmings en na meer lande as enige ander lugredery. Hulle is die enigste lugredery met direkte vlugte vanaf Suid-Afrika na Turkye. Dit neem nege uur 40 min vanaf Johannesburg na Istanboel en tien uur en tien minute vanaf Kaapstad na Istanboel. Ons vlugte was stiptelik, gerieflik en vriendelik met ʼn groot verskeidenheid flieks en ander vermaak om van te kies. Webwerf: www.turkishairlines.com Vonkpos: [email protected] Skakel: 086 0666 828.

* Onthou warm klere, plat skoene en ʼn kamera vir die warmlugballon. Voyager Balloons is uiters ervare en betroubaar. Ons was twintig mense in ʼn mandjie. Webwerf: www.voyagerballoons.com

* Ek het besonder baie moeite gedoen om verblyf te soek wat eie aan die karakter van elke omgewing is. Nie by een van die ses verblyfplekke moes ek deposito betaal nie. As die Turke sê hulle hou jou kamer, doen hulle dit – wees jy ewe eerbaar en daag betyds op.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Kobus ·

Turkye is beslis ‘n uitgebreide besoek werd. Dankie vir die lekker onthou; sien uit na die volgende aflewering.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.