Toweragtige Turkye: Top-8 reiservarings in Kappadosië

Carin se seuns geniet roomys in Göreme. (Foto verskaf)

In Oktober vanjaar het ons ʼn gesinsavontuur na Turkye aangepak. In hierdie reeks van vyf rubrieke vertel ek van die reisplan wat ek en Gerrit saamgestel het: 2 500 km per huurkar en 110 km te voet, wat ons binne tien dae saam met ons seuns afgelê het, deur een van die mees fassinerende lande op aarde.

Kappadosië, ʼn streek in Sentraal-Turkye, is ʼn Unesco-wêrelderfenisgebied. Dis ʼn ware natuurwonder, ʼn geologiese fantasie, ʼn vreemdwonderlike plek van rotsspitse en grotwonings. Al my reise is ook navorsing: Kappadosië hét opgeduik in my onlangse roman, Die Waterplek: Afrika, en gaan beslis weer verskyn in die slotboek van die Bergengel-reeks wat ek tans skryf. Hier is agt storieboekervaringe in Kappadosië:

1. Güllüdere Vadisi (Roosvallei) se versteekte spelonkkerke

Rondom die dorpie Göreme is agt fantasmagoriese valleie wat jy gratis kan bewandel. As jy net tyd vir een het, kies Roosvallei. Dis wonderlik om die “feëskoorstene” (soos die rotstorings genoem word) saam met ons seuns te verken en so stap-stap te aas aan die druiwe wat wild groei. Die seuns is ideale reismaats: nuuskierig, aanpasbaar en interessante geselskap. Hulle wys vir ons die derduisende duiwehokkies uit wat in die berge gekerf is. Hier is groot met duiwe geboer om die valleie vrugbaar te maak. In die ruim spelonkkerk, Kolonlu Kilise (Kolomkerk) vlieg die duiwe steeds in en uit – vry. Byna hemels. Dié wit kruisvormige kerk is in 1 000 n.C. gebou en deur die jare omvorm deur die erosie van die nabye spruit. ʼn Mens kan die kerk binnegaan deur die duifkamer, die smal traptonnel of grafkelder. Elke pilaar staan op ʼn blok waaruit broeihokkies vir die duiwe gekerf is. Die troonstoel vir die priester is ook uit klip gekap. Die plafon se pilare is geboog om ʼn geriffelde “ribbekasdak” te vorm. Geboë pilare het geen strukturele funksie nie – dis net ʼn draakstekie met tradisie en ʼn speelse manier om die landskap te eggo.

Gerrit staan by die Roosvallei. (Foto verskaf)

Verder af in voetpaadjies van Roosvallei vind ons Üç Haclı Kilise (Driekruiskerk). Ek waag my voortande om teen die krans na die kerk op te klouter, maar word beloon met drie groot kruise gekerf teen die plafon, aartsengele en Jesus. Lank gelede het boere die grotkerk gebruik as ʼn kuip om gesaaides te besproei. Die mure is ook verkleur deur rook, roet en eeue-oue graffiti.

Haçlı Kilise (Kruiskerk) is 1 200 jaar oud. Dit het ʼn uitgekerfde kruis en pragtige beskilderde plafon. Jesus is omring deur profete en martelare, engele en heiliges, serafs met ses vlerke en die hemelse wesens met vier gesigte van Openbaring. Later stap ons eenkant en gaan sit in ʼn natuurlike grotkamertjie met asemrowende uitsigte oor die Roosvallei – roospienk, groen, dofgoue kliptorings so ver soos die oog kan kyk. Hier bid ons ʼn seënwens oor die uitsonderlike land.

2. Göreme-opelugmuseum: fresco-versierde kerke gekerf uit klip

Kappadosië word in Handelinge 2:9 genoem as een van die groepe wat die Boodskap op Pinksterdag in hul eie taal gehoor het. Vanaf 300 n.C. tot 1200 n.C. was die Göremevallei ’n kloostersentrum vir monnike. Die vallei het glo minstens sestig kerke, kapelle en honderde grafte. Waarom soveel? Die antwoord is prakties én geestelik: Dis maklik om leefspasies uit die rots te kerf én die anderwêrerldse landskap skep ʼn mistieke belewenis waarna die Christene en kluisenaars gehunker het. Sedert die 1600’s het baie pelgrims hierheen gereis vir gebed. Nadat die gebied deur Seljuk Turke ingeneem is, het boere gate in die kerkvloere gekerf vir wynperse en bakoonde en duiwehokkies in die mure om duiwemis te oes vir bemesting vir die vrugteboorde.

Donkerkerk by Göreme Opelugmuseum. (Foto verskaf)

Vandag kan nege kerke by die Göreme-opelugmuseum besoek word. Binne vind jy koepels en pilare; sleutelgat-nisse en tafels gekap uit klip; gate vir grafte en kleipotte; fresco’s van draakslagters en aartsengele, soldate en heiliges. Karanlık Kilise (Donkerkerk) is so genoem weens die min vensters, maar die donkerte het ook die helderkleurige fresco’s beskerm. Vir ʼn salige vyf minute kon ons gesin heeltemal alleen die geboorte, lewe, dood en verheerliking van Jesus in die Donkerkerk inneem. Die teks in die oop boek op die fresco is Johannes 8:12: “Ek is die lig vir die wêreld”- heel gepas vir ʼn Donkerkerk. Die indrukwekkendste grotkerk, is Tokalı Kilise (Gespekerk) met sy kosbare nagblou pigment, egte goud en okerrooi geometriese patrone. Dit was eers ʼn kluisenaarshut, maar is deur ʼn dankbare ryk Bisantynse beskermheer vergroot nadat ʼn monnik vir hom gebid het en die gebed verhoor is.

3. Zelve: die mistieke spelonkdorpie

Zelve-opelugmuseum se toegangsfooi is slegs R25, aansienlik goedkoper as Göreme Opelugmuseum. Die spelonkkerke by Zelve het min fresco’s, maar die landskap is allerlieflik en die besoekers is veel minder. Doen albei opelugmuseums.

Zelve was ʼn trogloditiese dorpie wat in 300 n.C. die Christengeloof aanvaar het. Die 2 km-stappaadjie deur die Y-vormige vallei neem jou verby kerke wat uit 500 n.C. dateer. Zelve het vyftien grotkerke, maar net ʼn paar soos die Druifkerk en Viskerk kan besoek word. Die baie duiwehokke gekerf uit rots, wynparse en koringmeule bewys dat dit ʼn landboudorpie was. Dis tot 1952 bewoon toe dit te gevaarlik geword het weens rotsstortings. Om in Zelve te stap is soos om ʼn geheim ontdek, die kliptorings gloeiend in die skemerlig.

4. Beleef Kappadosië vanuit ʼn lugballon

In die vorige artikel (lees hier) het ek vertel van die onvergeetlike ervaring om vir die uur van sonsopkoms oor die feëskoorstene van Kappadosië te vlieg. Dis voorwaar die één epiese reiservaring waarvoor jy gerus kan spaar. Voyager Balloons is ervare en betroubaar. Ons was twintig mense in ʼn mandjie. Webwerf: www.voyagerballoons.com

Sonopkoms by Sunset View Hill. (Foto verskaf)

5. Oornag in ʼn grothotel

As jy onder die vel van Kappadosië wil inklim, oornag in ʼn grothotel. Die ruim gesinsslaapkamer van Vineyard Cave Hotel is gebou aan die onderkant van ʼn sprokieskoorsteen. Rakke is gekap uit die klipmure en behang met kleurvolle lampies en Persiese tapyte. Marmer is mildelik gebruik in die badkamer. Die ontbyt op die dakstoep is feestelik: Turkish delight vol neute, waatlemoen, druiwe, groente, kase, heel heuningkoke, vars uitgedrukte lemoensap, kaaskoek (sommerso op ʼn nugter maag) saam met sterk Turkse koffie uit pikante silwerkoppies. Die uitsigte is verruklik. Webwerf: https://vineyardcavehotel.com/ Vonkpos: [email protected]. WhatsApp Osman: +90 537 731 81 93

Carina sit by die Vineyard Cave-hotel. (Foto verskaf)

6. Kaymakli: die antieke ondergrondse stad

Kappadosië was die tuisland van die Hetiete in die laat-Bronstydperk. Die Griekse geskiedkundige, Xenophon, het reeds 400 v.C. die ondergrondse stede van Kappadosië beskryf. Vanaf 500 n.C. het Christene die ondergrondse stede uitgebrei en hier geskuil teen vervolging. Wanneer ʼn Persiese of Arabiese weermag op pad was, is ʼn reeks bakens verlig as waarskuwing – binne ure kon die waarskuwingsboodskap vanaf Jerusalem vir Konstantinopel (Istanboel) bereik. Gepraat van antieke WhatsApp: die Christene het dan in die ondergrondse stede van Kappadosië gaan skuil vir maande aaneen. Van buite lyk die heuwel van Kaymakli doodgewoon, maar binne is dit fassinerend, ʼn ingewikkelde labirint van agt verdiepings onder die grond (waarvan vier besoek kan word). Lugtoevoeringskagte is verbloem as waterputte. Van die skagte is 100 m diep. Die rook van kookvure is geabsorbeer deur die sagte rots. Hier is ʼn koringmeule, stalle vir diere, bakoonde, dooppoele en altare. Ons elfjarige seunskind was veral gaande daaroor om in die doolhof van tonnels rond te kruip. Sover is 37 ondergrondse stede reeds ontdek; sommiges in Kappadosië kon tot 10 000 mense huisves. Kaymakli is die mees fotogeniese van die ondergrondse stede en kon 3 000 mense huisves.

Kaymakli se antieke ondergrondse stad. (Foto verskaf)

7. Sonopkoms by Sunset View Hill

Vroegoggend klim ons die steil bult uit vir pragtige panoramiese uitsigte oor Göreme. Modelle en ander mooi beïnvloeders (influencers) neem graag hier foto’s en ons gesin het lekker daarmee gespot deur ons eie “Instagram Queen”-fotosessie. Ek stel voor dat jy Sunset View Hill eerder vir sonsopkoms opstap om die lugballonne te beleef.

8. Eet Turks

Turkse koffie by die Vineyard Cave-hotel. (Foto verskaf)

Turkye is beroemd vir geurige kos. By Büyük Adana Kebap in Göreme het ons ons verlustig aan jogurt kebap en karişik kebap. Binne is die nissies mooi beskilder en as jy buite sit het jy uitsigte oor die klipspitse.

Koop tog op ʼn warm dag roomys op straat. Turkse roomysverkopers is ʼn spesie van hulle eie. In hulle tradisionele bont jurke lui hulle klokke, kap die roomys kamma met ʼn swaard uit jou hand en maak amok. Pistasieneut-en-bosbessie-roomys is ʼn treffer.

In die volgende artikel vertel ek van die meredistrik Eğirdir en die verstommende mooi ruïnes van Sagalassos.

Algemene reisraad:

Waarom Turkye? Behalwe vir die eksotiese kos, kultuurskatte en fassinerende landskap waaroor ek in die artikels uitbrei, is daar ook praktiese redes wat ʼn reis deur Turkye aanloklik maak vir Suid-Afrikaners:

* Brandstof is goedkoper as in Suid-Afrika. (Dis tans R20 per liter.) Die hoofweë is oop, skoon en goed vir ʼn sloertoer. Slegs in woelige Istanboel het ons nie ʼn kar gehuur nie, maar te voet en boot rondbeweeg.

* Turkye is ʼn mengsel van Asië en Europa. Dis deel van die Europese Unie wat ʼn sekere standaard vereis, maar kos, vervoer, verblyf, straatmarkte en toegangsfooie is goedkoper as Europa.

* Turkey het misdaad, maar is tans veiliger as ons land met minder moorde per kapita: 2 000 in vergelyking met ons 6 000.

* Groot pluspunt: ʼn Mens kan aanlyn aansoek doen vir jou visum en dit binne ʼn dag kry. Dis gratis en geldig vir 180 dae. Vergelyk dit met Europa of Amerika waar jy lank moet wag vir ʼn visum en duisende rande opdok.

*Turkish Airlines het in 1933 met vyf vliegtuie begin. Vandag het hulle 338 vliegtuie, is deel van Star Alliance en het die toekenning vir Best Airline in Europa verower. Hulle motto is “Widen your World” en sowaar, hulle vlieg na 265 bestemmings en na meer lande as enige ander lugredery. Hulle is die enigste lugredery met direkte vlugte vanaf Suid-Afrika na Turkye. Dit neem nege uur en veertig minute vanaf Johannesburg na Istanboel; tien ure vanaf Kaapstad na Istanboel. Ons vlugte was stiptelik, gerieflik en vriendelik met ʼn groot verskeidenheid flieks en ander vermaak om van te kies. Webwerf: www.turkishairlines.com Vonkpos: [email protected] Skakel: 086 0666 828.

* Ek het besonder baie moeite gedoen om verblyf te soek wat eie aan die karakter van elke omgewing is. Nie by een van die ses verblyfplekke moes ek ʼn deposito betaal nie. As die Turke sê hulle hou jou kamer, doen hulle dit – wees jy ewe eerbaar en daag betyds op.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.