Tradisionele warmte in die hartjie van Stellenbosch

Eendracht Hotel in Dorpstraat, Stellenbosch (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

In Dorpstraat, tussen die welige akkerbome wat oortrek is met groen blare, staan die Eendracht Hotel & Apartments in sy volle glorie. Dié hotel is ʼn lid van die Cape Country Routes.

Dié viersterhotel is in die hartjie van die oudste deel van Stellenbosch geleë en is binne stapafstand van die meeste restaurante, koffiewinkels, museums, kunsgalerye, teaters, sportterreine en die botaniese tuin.

In die hotel, in eg Kaaps-Hollandse styl, raak jy deel van die gebou se geskiedenis en omvou ʼn tradisionele warmte jou. Die sjarmante atmosfeer word deur die eg Suid-Afrikaanse dekor geskep en ook die vriendelike, persoonlike diens wat daarmee gepaardgaan.

Met die intrapslag by die hotel het Edmore Gavakava my en my vier medejoernaliste met ʼn vriendelike glimlag ontvang. Ek is na my kamer vergesel en Edmore het selfs my tas met die trap opgedra.

Ons het daarna ʼn middagete by die Senobia’s-restaurant in die hotel geniet en gesmul aan ʼn heilsame Suid-Afrikaanse bord kookkos. Dit het gevoel soos ʼn Sondagmiddag by my oorlede ouma se huis.

Die aand is ons met ʼn heerlike ligte aandete getrakteer en het ons skemerkelkies op die hotel se tuinstoep geniet – by die kobaltblou plonspoel.

‘Tasbare geskiedenis’

(Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Die geskiedenis van die gebou en kamers by die Eendracht Hotel is byna tasbaar.

Die gebou dateer terug na die ontstaanjare van Stellenbosch toe goewerneur Simon van der Stel die eerste keer die Eersteriviervallei verken het. Die oorspronklike gebou – ‘n klein tweevertrek-kothuis – is in 1710 gebou.

Tussen 1890 tot 1960 is die gebou herbou en het ‘n dubbelverdieping studentekoshuis geword. Die Lutz Trust het daarna die gebou gerekonstrueer, maar hy het getrou gebly aan sy oorspronklike argitektoniese styl. Dit het die Eendracht Gastehuis geword en is nou bekend as die Eendracht Hotel.

Die hotel spog vandag met 13 en suite-slaapkamers en drie nuut opgeknapte selfsorgeenhede.

Die hotel het in Maart ook sy 25ste bestaansjaar gevier deur laaipunte vir elektriese voertuie te installeer. Dit is een van die eerste hotelle in die land wat oor hierdie laaipunte beskik.

Die hotel het nie die tipiese “hotelgevoel” nie omdat die atmosfeer huislik is. Die Senobia’s-restaurant straal ook ’n warm, vriendelike atmosfeer uit.

Daniel Lutz, eienaar, het Senobia’s na sy ma, Senobia Lutz, vernoem. Die meeste van die geregte op die spyskaart is deur van Senobia se resepte geïnspireer – wat Daniel van sy kinderdae af onthou.

Die restaurant is elke dag oop en bedien ontbyt en middagete.

Wandel in Dorpstraat

In Dorpstraat is die atmosfeer lewendig, joviaal en sorgvry. Dit het gevoel asof ek vir ʼn oomblik vergeet het dat ek wel in Suid-Afrika is en nie in ʼn klein Hollandse dorpie nie. Selfs in die aand is ʼn wandeling in die maanlig bekoorlik en kry jy die gevoel van dat die dorp nooit gaan slaap nie. Waar in Suid-Afrika sal jy nog dit kan doen?

Stellenbosch bied genoeg om jou vir 24 uur lank besig te hou. Al is dit net om jou te vergaap aan die stylvolle geboue wat wissel van ʼn Kaap-Hollandse tot Victoriaanse styl.

By die Stellenbosch Dorpstraatmark op ʼn Sondag kan jy die plaaslike mark ondersteun en byna enigiets onder die son koop. Dit is ook ʼn heerlike uitstappie saam met vriende en familie, wat dan kan kies en keur by watter restaurant hulle ʼn ontbyt of middagete wil geniet.

Vir die koffieliefhebbers is daar hordes koffiewinkels. Een waaroor ek beslis sal huis toe skryf, is die Turkse koffiewinkel Turkspirit Cafe. Eg Turkse koffie word bedien in tradisionele Turkse koppies, bekend as fincan. Die kruie wat saam met die koffiesmaak in jou mond wegsmelt, maak dit ʼn unieke koffie-ervaring. In dié winkel kan jy ook regte Turkish Delight koop en selfs ʼn stukkie kry om aan te smul saam met jou koffie.

Ons het ook een aand ʼn heerlike aandete by De Warenmarkt-restaurant geniet. Dié restaurant is in ’n 18de eeuse historiese gebou geleë.

De Warenmarkt bied ’n reeks watertand spesialiteitsvleise, gourmet-burgers, eksotiese Thaise beesvleisslaai met klapper en oesters van Saldanhabaai, wat dan ook saam met ʼn verskeidenheid plaaslike wyne afgesluk kan word.

Kuns

Pierneef-skilderye pronk op die mure van die Rupert Museum (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Vir die kunssinniges is die Rupert-museum en Dylan Lewis Sculpture Garden ʼn blywende ervaring – wat jy nog lank na jou besoek sal onthou.

In die Rupert-museum, wat in Stellenbosch geleë is, hang skilderye van JH Pierneef, Irma Stern, Maggie Laubser, Cecil Higgs, Jean Welz en Anton van Wouw.

Meer moderne kunswerke wat as die Art of the Space Age bekend staan, het my verwonderd gelaat. Kunstenaars maak gebruik van nuwe materiale soos plastiek, gevormde glas, Perspex, deursigtige skerms en elektriese motors om bewegende beelde, vervormings of illusies te skep.

Die Dylan Lewis Sculpture Garden is in Paradyskloof geleë, sowat 5 km van Stellenbosch. Jy moet eers ʼn afspraak maak voordat jy die tuin kan besoek.

In die tuin – wat uit meer as 60 beeldhouwerke van Lewis bestaan – probeer dié beeldhoukunstenaar die Jungiaanse idee van “die binneste wildernis” ondersoek.

Sy beelde wissel van Afrika-diere, wilde katte, voëlspesies, gefragmenteerde luiperd‑bolywe wat later tot halfmens-halfdier‑figure getransformeer het en laastens na volledige vroulike en manlike menslike figure.

Lewis het aanvanklik deur middel van dierbeelde sy emosie uitgedruk, maar het meer onlangs sy fokus na die menslike figuur verskuif.

Die volgorde van beeldhouwerke in die tuin kan gesien word as ’n illustrasie van die kunstenaar se reis na selfaanvaarding.

Trap fiets na Boschendal

 

Dit het behoorlik gevoel of ek die wêreld aan my voete gehad het (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Die Adventure Shop in Stellenbosch, ook ’n lid van Cape Country Routes, bied avonture vir diegene wat na adrenalien smag.

Ons het ʼn 25 km-roete met ’n e-fiets van Stellenbosch na die Boschendal Wine Farm aangepak en dit het behoorlik gevoel of ek die wêreld aan my voete gehad het.

Met die aankomslag by die Adventure Shop, het ek in my binneste gehoop dat ek op die fiets sal kan bly. (Ek was seker op skool laas op ’n fiets.) As ʼn nuweling in die gebied, het ek glad nie geweet wat om van die roete te verwag nie.

Ons vriendelike gids het al die ins en outs mooi vir ons verduidelik en die rit heel aangenaam gemaak met sy skerpsinnigheid.

Om 25 km met ʼn e-fiets deur berge en dale te trap, is nie grappies nie, maar dit is beslis ʼn avontuur wat ek nooit sal vergeet nie. Hoewel dié help-my-trap-fiets jou bietjie woema gee by die opdraandes, ry jy steeds jou bene stomp. Die ongerepte natuurskoon om jou is egter prysloos.

Daar was hou-bene-hou-oomblikke wanneer ek berg op moes ry, en dan lipbyt-oomblikke wanneer die fiets op die gruis of dik sand wankel. Met die afdraandes het ek moeiteloos my voete op die fietspedale gehou en net gefree.

Die Adventure Shop is ʼn pro-omgewingsonderneming wat sy deure in 2000 oopgemaak het. Die onderneming bied begeleide fiets- en e-fietstoere deur Stellenbosch en die omliggende wynlande, die Vine Hopper hop-on-hop-off‑diens op die Stellenbosch‑wynroete, 4×4-wyntoere en verskeie staptogte.

Besoek Eendracht-hotel , Adventure Shop en Cape Country Routes se webwerwe vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.