TransCape: Verken die beeldskone Wes-Kaap per fiets

(Foto: Jacques Marais)

Deur Jacques Marais

Jaarliks in Februarie laat internasionale veld- en bergfietsryers die speke sing vanaf George tot in die hartjie van die wynlande as deel van die ikoniese TransCape MTB-uitdaging. Dié byeenkoms is soveel meer as net ʼn fietsresies, want dit bied deelnemers ook die geleentheid om ʼn reis deur die beeldskone Kaap te neem.

Die bestemming

Die Wes-Kaap is ʼn glorieryke provinsie. Hier kan jy sommer alles ondervind, reg van antieke woudreuse, oeroue bergreekse en kronkelende riviere, tot uitgestrekte plase en fantastiese fynboshange. Dit, en die feit dat jy deur byna ʼn dosyn natuurreservate en private bewaringsgebiede ry, is wat waarlik die TransCape-uitdaging so spesiaal maak.

(Foto: Jacques Marais)

Die wedren

Die beste manier om hierdie asemrowende meer as 600 kilometer roete te ervaar, is verseker vanuit ʼn fiets se saal, en elke jaar stem die TransCape-fietsryers heelhartig saam. Hulle kom van regoor die wêreld, onder meer van Kanada, die VSA, Luxemburg en België, en heelwat kom jaar na jaar terug om ons asemrowende landskappe en versteekte dorpies te geniet.

(Foto: Jacques Marais)

Die roete

Ses dae in die saal is ʼn uitdaging soos min, maar die Wes-Kaap is werklikwaar ʼn pedaalparadys. Die kettings begin in George op die Tuinroete draai, met die beroemde Montagu-pas as die eerste groot uitdaging voor jy die wiele oor die eindelose vlaktes op pad Van Wyksdorp toe laat rol.

Dit is nog sterk somer vroeg in Februarie, dus moet fietsryers maar vrede maak met die son wanneer hulle die ikoniese pad na die Hessequa hinterland vat. Wat opgaan moet uiteindelik ook weer afkom, maar jy kan seker wees Rooiberg se 500 meter klim oor 14 kilometer gaan kwaai aan jou kuite knaag.

Los gruis, erosieslote, klippe so groot soos koppe en bloedige hitte is alles deel van hierdie opwindende fietswedren, en gelukkig raak dit darem effens koeler deur die Overberg se dale. Elke jaar is daar ʼn reënbui of twee, wat beteken daar is ʼn propperse modderbad wat op die puik enkelspoor deur die Grootvadersbosch Natuurreservaat wag.

Dan, voor jy kan sê mes, trap jy deur die wynlande se wingerde, met TransCape se eindstreep wat by Gabriëlskloof wag.

Dit is geen wonder dat deelnemers hierna as ʼn beeldskone reis te fiets deur die Kaap verwys nie. En die kersie op die koek is dat die oopkopruimtes en ongelooflike fietsplesier saam met hemelse kos, uitstaande verblyf, puik roetes en lekker mense kom. Wie kan nou vir meer vra?

Gaan loer gerus by www.transcapemtb.co.za vir meer inligting of om solank vir 2023 in te skryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.