Troeteldiere oor internasionale grense: Wat jy moet weet

(Foto: Brett Jordan/Unsplash)

Oorweeg jy dit dalk om in die nabye toekoms oorsee met jou troeteldier te reis? Hier is ʼn paar moets vir die reis wat jy wil aanpak.

Vir elke kat- en hondeienaar is die proses om internasionaal te reis, uiters stresvol. Die administrasie vir jou gesin is reeds uitdagend en dié vir jou hond of kat des te meer. Daar is talle agentskappe wat spesifiek daarop fokus om mense met die immigrasieproses vir hul troeteldiere te help. Dit word hoofsaaklik bepaal deur jou troeteldier se ouderdom, watter inentings hy reeds gehad het en na watter land jy op pad is.

Moenie alleen voel as jy met jou troeteldier op reis wil gaan nie. Na raming vlieg sowat tweemiljoen troeteldiere jaarliks op kommersiële vlugte. Sowat 6% van Amerika se troeteldiere vlieg jaarliks en 27% van alle mense sê hulle wil graag hê daar moet meer hondvriendelike hotelle en parke wees. En raai watter lande word as die dierevriendelikste beskou? Frankryk, Switserland, Italië, Kanada, Brittanje, Duitsland en Nederland!

Hier is ’n paar basiese riglyne wat jou reis met jou troeteldier kan vergemaklik:

Mikroskyfie

Maak seker jou troeteldier het ’n mikroskyfie. Nie alle lande vereis dit nie, maar die meeste weier om diere daarsonder toe te laat, selfs al het hulle al die nodige inentings ontvang.

Inentings

Jy moet altyd jou troeteldier se inentingsboekie en gesondheidsertifikaat byderhand hê. Die meeste lande vereis ’n inenting teen hondsdolheid, maar nie noodwendig ontwikkelende lande in Afrika en Asië nie. Inentings teen hondsdolheid is gewoonlik geldig vir een jaar. Dit moet tussen 12 maande en 30 dae voor jou vertrek toegedien word. Dit is belangrik dat inentings toegedien word deur ’n veearts wat by die Suid-Afrikaanse Veterinêre Raad (SAVR) geregistreer is. Inentings deur ’n teler, veeartsassistent of instansies wat troeteldiere red, word nie aanvaar nie.

Ander noodsaaklike inentings is die 3-in-1 vir katte en die 5-in-1 vir honde. Dit moet tussen 12 maande en 30 dae voor jou vlug toegedien word.

Titrasietoetse

Titrasie van teenliggaampies vir hondsdolheid kan ook vereis word. Dit staan ook bekend as ’n RNAT-toets en kan eers ’n maand ná die toediening van die entstof gedoen word.

Elke land het natuurlik sy eie reëls en regulasies oor troeteldiere, kwarantyn en inentings. Jy kan die Europese Unie (EU) byvoorbeeld eers 90 dae ná die titrasie binnegaan.

(Foto: Artem Beliaikin/Unsplash)

Hier is meer spesifieke riglyne vir Kanada, Australië, Nieu-Seeland en die Verenigde Koninkryk:

Kanada

  • Die volgende riglyne geld vir honde ouer as agt maande en katte ouer as drie maande:
  • ’n Mikroskyfie is nie ’n vereiste nie.
  • ’n Geldige bewys van inenting teen hondsdolheid word vereis. Kanada erken nie inentings vir hondsdolheid wat vir drie jaar geldig is nie. Die sertifikaat moet in Engels of Frans wees en moet deur ’n gelisensieerde veearts uitgereik wees.
  • Geen wagperiode ná die toediening van inentings word vereis nie.
  • Die lugredery mag ’n gesondheidsertifikaat van jou veearts aanvra.

Australië

Volgens Australië se verblyfreggroeperings val Suid-Afrikaners in Groep 3. Dit beteken jy moet aan die volgende vereistes voldoen:

  • Honde en katte moet ’n ISO 11784/11785-mikroskyfie met 15 syfers hê. Indien jy ’n ander mikroskyfie het, moet jy jou eie skandeerder saamneem. Jou mikroskyfie se nommer moet ten alle tye beskikbaar wees.
  • Troeteldiere wat nie teen hondsdolheid ingeënt is nie of wie se vorige inenting verval het, moet titrasie ondergaan. Australië erken inentings teen hondsdolheid wat vir een jaar sowel as vir drie jaar geldig is.
  • Voor jou hond of kat Australië kan binnegaan, moet hulle twee maal vir parasiete behandel word. Die tweede behandeling moet binne vyf dae voor jul aankoms in Australië plaasvind, en daar moet 14 dae verloop tussen die eerste en tweede behandeling.
  • Troeteldiere word met hul aankoms vir tien dae in Melbourne in kwarantyn geplaas. Aangesien talle inentings vir die kwarantynperiode vereis word, sal dit wys wees om jou hond vooraf reeds teen hepatitis, die Parvovirus, para-influensa en Bordetella bronchiseptica in te ent. Honde uit Afrika moet ook teen Babesia canis ingeënt word.

Nieu-Seeland

Die volgende riglyne geld indien jy met jou troeteldier van Suid-Afrika na Nieu-Seeland wil reis:

  • Jou troeteldier moet ’n mikroskyfie hê.
  • Inenting teen hondsdolheid is ’n vereiste. Dit moet een of twee jaar geldig wees en die vervaldatum moet op die sertifikaat aangedui word.
  • ’n Verslag van titrasie vir hondsdolheid is ook ’n vereiste.
  • Jy moet ’n amptelike verklaring deur ’n veearts (OVD) hê dat die inenting teen hondsdolheid, mikroskyfie en titrasie geldig is.
  • Ander inentings wat vereis word, is die 5-in-1 vir honde en die 3-in-1 vir katte.
  • Troeteldiere word met hul aankoms in Nieu-Seeland vir tien dae in kwarantyn geplaas. Daar is geprivatiseerde kwarantynfasiliteite in Auckland en Christchurch en jy kan kies na watter een jy jou troeteldier wil stuur.

Verenigde Koninkryk

Troeteldiere mag die Verenigde Koninkryk vyf dae ná hul eienaar binnegaan. Jy moet ’n Transfer of Residence (ToR)-vorm invul en aan die volgende vereistes voldoen:

  • Jou troeteldier moet ’n mikroskyfie hê.
  • Jy moet kan bewys dat jou troeteldier tussen 12 maande en 30 dae voor jou aankoms in die Verenigde Koninkryk teen hondsdolheid ingeënt is.
  • Titrasie vir hondsdolheid is ook ’n vereiste. Dit moet 90 dae voor jou aankoms in die Verenigde Koninkryk gedoen word. Indien jy nie bewys daarvan kan lewer nie, sal jou troeteldier onderworpe wees aan ’n baie duur kwarantynperiode.
  • Jy moet kan bewys dat jou troeteldier die 5-in-1- of 3-in-1-inenting gekry het.

Wat maak jy as jy nie jou troeteldier kan saamneem nie? Amerikaanse veghonde (pit bull terriers) en boerboele word, byvoorbeeld, in die meeste lande nie toegelaat nie. Dit is dan tyd om ’n alternatief te soek.

Daar is talle goeie instansies en liefdadigheidsorganisasies wat jou hond of kat kan versorg. Die ander opsie is om self vir hulle ’n goeie huis te kry. As jy nie jou troeteldier wil laat aanneem nie, vind uit of familie of vriende hulle sal huisves. Dit is nooit maklik om sonder jou troeteldier te wees nie, maar die tweede beste opsie is om vroegtydig ’n plek te kry waar hulle goed versorg sal word.

  •  Hierdie artikel is met die vergunning van Wêreldwyd geplaas. Lees die oorspronklike artikel hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.