Trots Afrikaans in Malta

Die Crystal-strandmeer by Malta. (Foto: Verskaf)

Dis ʼn rugbydag en mense smul aan boereworsrolle en koeksisters terwyl boeremusiek in die agtergrond blêr. Dan sing hulle “Die Stem” uit volle bors.

En nee, dis nie ʼn toneel in Suid-Afrika nie, maar ʼn geselligheid tydens ʼn Suid-Afrikaanse dag op die idilliese eiland Malta, wat in die Middellandse See geleë is. Malta is deesdae ʼn tuiste vir derduisende Suid-Afrikaners wat mekaar daar vind en met ʼn tikkie nostalgie heerlik saamkuier. Luidrugtig en uitbundig. Dis mos hoe ons is.

Hoekom woon al hoe meer Suid-Afrikaners op hierdie spikkeltjie op die wêreldkaart met ʼn bevolking van bykans ʼn halfmiljoen, terwyl so baie van ons mense na plekke soos Australië en Kanada verhuis? Baie Suid-Afrikaners belê ook in eiendom op Malta.

Dis die weer, die veiligheid, die vriendelikheid, omdat mense benewens Maltees ook Engels praat, ʼn sterk ekonomie en lae werkloosheidsyfer het, en die feit dat dit maklik is om werk te kry, vertel hulle.

‘n Klompie Suid-Afrikaners op ‘n Phoeboe se blakom die dag van die Rugby Wêreldbeker-oorwinning teen Engeland. (Foto: Verskaf)

AJ van Deventer (31) wat in die IT-bedryf werk, woon al agt maande doodgelukkig in Malta.

Omdat hy ʼn alleenloper is, was dit maklik om sy ankers te lig en na die sonnige eiland te vertrek.

Soos die geval met van die ander Suid-Afrikaners is, was hy aanvanklik nie eers van Malta se bestaan bewus nie en moes hy daaroor gaan oplees.

AJ van Deventer (Foto: Verskaf)

“Die Suid-Afrikaners hier verleen ʼn helpende hand aan mekaar. Ons het WhatsApp-groepe gestig en gaan soms saam uit.

“Ons het verlede jaar ʼn geselligheid in Gozo, die klein eilandjie bo Malta wat deel van Malta is, gereël. Nagenoeg 50 Suid-Afrikaners en hul metgeselle het opgedaag. Die Biltong Boys van Malta wat ʼn florerende onderneming hier het en ʼn egpaar wat ʼn stukkie grond gekoop het en wynmakers is, was ook teenwoordig. Nog ʼn dag met pap en wors is ook onlangs rondom Erfenisdag vir expats gehou. Ons loop mekaar ook in winkels raak en begin dan gesels.

“Malta se pluspunte is die ryk geskiedenis en kultuur, die weggesteekte erfenisse, die feit dat jy tweeuur in die nag veilig in die strate kan rondloop, en die weer wat baie met die Kaapse weer ooreenstem. Die humiditeit is wel hoog, maar niemand kla daaroor nie en dan spring jy maar net in die see en swem heeldag,” sê AJ.

“Die plek is mooi en dit wemel van monumente en standbeelde van Maria of een van die heiliges in hierdie Rooms-Katolieke land.”

Die huise is wel minder ruim as in Suid-Afrika en baie is op mekaar gebou, maar hy is verstom oor hoe die Maltese die ruimte optimaal benut.

“Hulle het min breedte om mee te werk, maar hulle wend diepte en hoogte goed aan.”

Hy mis wel die kleur in Suid-Afrika soos die pers Jakarandas en groen berge en velde.

“Die kleurskema hier is eerder geel en oranje weens die sand en klip.

“Ek is aanvanklik as ʼn vreemde buitestaander beskou, maar groet almal altyd vriendelik. As die mense jou eers leer ken, nooi hulle jou na hul huise toe. Ek het baie maklik hier aangepas en is van plan om nog lank hier te bly. Die regering is ook besonder behulpsaam, en die land het ʼn voordelige belastingstelsel.”

Franz en Tertia Jäckel. (Foto: Verskaf)

Tertia Jäckel (52) en haar man, Franz (50), het drie jaar gelede in Malta kom aftree nadat hulle elf jaar lank in Abu Dhabi gewoon het.

Toe hulle met vakansie in Malta was, het hulle dadelik op Gozo verlief geraak. Omdat hulle kinderloos is, was dit ʼn makliker besluit as vir mense met skoolgaande kinders.

Hulle woon in ʼn ruim drieslaapkamerwoonstel.

“Omdat ons eers in ʼn Moslemland gewoon het, was die aanpassing op Malta maklik. Die eiland is soos ʼn vars bries.”

Hulle het ook talle Suid-Afrikaanse vriende daar.

“Gozo is minder bedrywig as Malta waarheen jy per veerboot reis en op ʼn manier meer ongerep en plattelands.

“ʼn Mens moet natuurlik aan die rustiger tempo hier gewoond raak, want die winkels sluit maklik ure lank vir siësta, party sommer al om 13:00.”

Sy vind weer dat die Maltese nie maklik met die expats meng nie, maar eerder saam met hul eie families kuier.

“Gelukkig kry ek al my inligting van my plaaslike haarkapper.”

Hulle is baie gelukkig in Malta, maar raai voornemende expats aan om Malta eers te besoek.

“Jy moet beslis jou huiswerk doen, Malta besoek en by Facebook-groepe aansluit waar ʼn mens met mense wat reeds in Malta gevestig is kontak kan maak om al die nodige vrae te vra.”

Ronelle en Detlev Meyer saam met hulle seun Haiko (voor). (Foto: Verskaf)

Ronelle en Detlev Meyer, albei in hul laat vyftigs, woon al vier jaar op Malta nadat hy ʼn werksgeleentheid aangebied is om ʼn maatskappy daar te bestuur. Hulle kinders is al uit die huis.

Ronelle beskryf die grootte van huise en erwe in Malta as “meer Europees”.

“Ons sien op Facebook-groepe dat jong Suid-Afrikaners hier baie gelukkig is.

“Jy moet egter oopkop wees as jy hier kom woon en nie probeer om Suid-Afrika te dupliseer nie. Jy moet ʼn globale instelling hê.

“Die kultuurmengsel bestaan uit Arabies, Marokkaans en Europees. Ek is gek oor die eiland se geskiedenis en landelike plekke langs die kus waar ʼn mens veilig kan gaan stap.

“Hier is baie Middeleeuse geboue en geboue wat ouer as die piramides is. Dit voel asof jy op ʼn rolprentstel woon.

“Die mense is vriendelik en behulpsaam en die ondernemings hier floreer. Ons het ʼn groot Suid-Afrikaanse vriendekring op Malta en het bybelstudie- en rugbygroepe gestig.

“Ons besit nie eens ʼn motor nie en spring net op ʼn bus of ʼn veerboot en voer ʼn buitelugbestaan.”

Schalk en Phoeboe du Plessis saam met hulle kinders Gustav en Jana. (Foto: Verskaf)

Phoebe (51) en Schalk du Plessis (42), en hul kinders, Gustav (20) en Jana (17), is al ses maande op Malta, maar sal waarskynlik permanent daar woon. Die egpaar is IT-deskundiges.

Hulle het na Malta verhuis nadat Schalk ʼn werksaanbod gekry het.

Gustav het maklik aangepas omdat hy aanlyn studeer, maar vir

Jana wat skoolgaan was dit ietwat moeiliker.

Phoebe meen daar is groot kultuurverskille tussen Malta en Suid-Afrika.

Daar is wel “eilandtyd” wat afsprake betref, en busse wat soms nie opdaag nie wat jou geduld beproef, maar toe sy en haar dogter Covid gehad het, het mense na hulle uitgereik. ʼn Winkeleienaar het eendag sy sambreel vir hulle gegee toe dit begin sous het.

“Hulle het ons laat tuis voel.”

Eiendomme is duur, maar goedkoper op die platteland.

“Ons huis bestaan uit drie verdiepings waarvoor jy 20 trappe moet klim en dan nog 17 tot by die waskamers. Alle huise se dakke is plat wat as ʼn pluspunt beskou word omdat dit ʼn mooi uitsig bied.”

Hoekom Malta?

Vallettastraat in Malta. (Foto: Verskaf)

  • Dis een van die veiligste lande ter wêreld wat misdaad en natuurrampe betref.
  • Hulle het 300 sonskyndae per jaar en ʼn Mediterreense klimaat.
  • Met Maltese burgerskap kan ʼn mens sonder visums reis.
  • Daar is ʼn groot expat Suid-Afrikaanse gemeenskap, en Suid-Afrikaanse produkte soos koeksisters is beskikbaar.
  • Eiendom is ʼn goeie belegging in terme van euros.
  • Openbare skole is gratis en die standaard is hoog, maar daar is ook privaat skole.
  • Mediese dienste is uitstekend.
  • Die plat dakke met daktuine is ideaal vir onthaal.
  • Lees meer oor Malta by Franksalt.com en Malta-residency.com

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.