Tsitsikamma-staproete: Asemrowend in elke opsig

(Foto: Verskaf)

Toe my seuns voorskolers was, was ek voltyds by hulle, maar een keer per jaar het ek ʼn stapavontuur saam met my vriendinne bewimpel terwyl my dapper man tuis gebly en manalleen na ons telge omgesien het. Vanjaar is albei ons kinders uiteindelik oud genoeg om toegelaat te word op ʼn multidagstap en ons durf die epiese Tsitsikamma aan; ʼn wild-wonderlike voetslaanpad van 62,5 kilometer oor ses dae. Dis die eerste staproete in ons land wat met die Groen Vlag-status kan spog. Hierdie is ʼn storie oor vriendskap, veldblomme, boomvarings, gebergtes, vuurvlieë en die borrelklank van water in die Khoiwoord, Tsitsikamma.

Dag 1: Nature’s Valley na Kalanderhut (3,6 kilometer)

Vanaf die bergpas kyk jy af in Kalanderkloof met sy agthonderd jaar oue geelhoute. Kronkel-kronkel beweeg jy soos ʼn boomslang tot by die kusdorpie, Nature’s Valley – ʼn straatligafwesige blyplek vir honderd permanente inwoners en troppe bosbok, blouape en bobbejane.

Dis vieruur die middag en van heinde en verre kom ons by die MTO-stapperkantoor in De Vasselot-kampeerterrein byeen: ʼn tjor vol Kaapstedelinge, Overbergers en Tuinroetebewoners. Ons is altesaam twaalf stappers, waarvan twee manne, ses vriendinne en vier seuns. Sommiges is vriende uit my studentejare en ander is ma’s wat ek laas jaar by die skool ontmoet het. Helfte het nog nooit ʼn multidagroete gestap nie, maar hier is ook ʼn oud-Ysterman en berghardlopers. Ek het hulle met die hand uitgesoek, want elkeen is fieterjasieloos, avontuurlustig, het ʼn grappie in die mou en geniet die wildslewe – nie net op ʼn spitvurk nie!

MTO het die lekker slackpacking-opsie: Teen ʼn ekstra fooitjie vervoer hulle jou kooigoed, kos en klere tussen hutte. Bederfbare kos word in hulle yskas en vrieskas gestoor en elke dag saamgebring hut toe, dus kan jy tot die laaste aand braaivleis en vars groente eet en ʼn glas wyn geniet! Nadat ons die pakkasies mooi gemerk het, kies ons koers. Die seuns stap die 3,6 kilometer, om Grootrivierstrandmeer tot by die oornaghut, terwyl ons grootmense kortpad oor die strand kies. “Wanneer ʼn mens met jou rugsak oor die skouer by die kuswoud instap, voel dit of jy sopas van ʼn skip af geklim het op ʼn verlate eiland,” sê een van die stappers.

Kalanderhut het ʼn ruim stoep met houttafels, ʼn lapa vir kosmaak en stapelbeddens. Ek deel altyd my stapmaats in kosspanne in sodat elkeen net een aandete hoef te maak en lekker aan tafel kan saamkuier. Die vier seuns het die eerste kosbeurt. Hulle maak vuur en bederf ons met braaibroodjies, wors en roomys-op-horinkies.

In die donker stap ons af see toe, verras deur die gloeialge (wat mense soms fosfor noem). Dit lyk of die branders, aangevuur deur die gloeialge, in vlamme opgaan. Waar ons voete aan die nat sand raak, gloei ons spore. Ons trippel rond en skryf ons name in die blinkertjie-sand. In skitterskrif.

Dag 2: Kalanderhut na Blaauwkranshut (14,7 kilometer)

Vroegdag klim ons Apiesrug uit. Heide blom op die plato en die suikerbekkies rinkink om die speldekussingproteas en suikerbosse. Vir oulaas kyk ons hoe die mistigheid vanaf die see oor die valleidorpie doer onder waai.

In die woude wemel dit van die sampioene: groot oop kelke, oranje frilletjies en valletjies, ou bruin sampioene soos trappe teen ʼn stam. Die wilde irisse blom en die fyn pers blomme het die meisierige naam, Lobelia.

Nadat ons die stil R102 oorsteek en met ʼn duikweg onderdeur die N2 stap, het ons die teerpadbeskawing heeltemal agtergelaat. In Heksekloof sê iemand: “Dis hier waar die Bergengel haar vlerke flap.” Ons baljaar behoorlik onder die lieflike Trappe-waterval en ʼn paar van die dapperes spring van die kranse af tot in die swemgat.

Onse aarde, die laaste deel van die pad het min koeltes! Maar Blaauwkranshut is soos ʼn droom op die rand van ʼn afgrond. In die verte verrys Formosapiek, die hoogste piek in die bergreeks (1 675 meter), soos ʼn magtige fort. Ons noem die drie splinternuwe driehoekraamhuisies die “wittebroodhuisies” en die seuns slaap op hulle eie in ʼn hut wat nog so nuut is dat jy die skaafsels kan ruik. Skemertyd speel hulle ʼn potjie kaart. Elke nou en dan skaterlag iemand.

Vanaand is dit my en Gerrit se kookbeurt. Hy braai biefstukke en soetpatat-in-foelie terwyl ek ʼn slaaibord uitpak: kersietamaties en hartjievormige komkommerskyfies met ʼn koekievorm uitgedruk. Die blitspoedinkie wat ek aanmekaar slaan, is ʼn sny opgerolde witbrood vir elk gevul met sjokoladesmeer, amandelvlokkies en gedroogte bosbessies (cranberries) – oor die kole gerooster. Ons dek die tafel met feetjieligte en sitronellakerse; alte feestelik.

Laatnag gewaar iemand ʼn rooikat naby die hutte. Wanneer ons in ons beddens lê, kan ons die sterre sien terwyl ons die hele nag lank hoor hoe die rivier kabbel.

Dag 3: Blaauwkranshut na Keurboshut (13,4 kilometer)

Ons stap berg-af deur die fynbos tot onder by die goue Tolbospoele waar die paddatjies met trillende kele sing. Al is dit vroegoggend, is dit so warm dat ons sommer in ons stapklere swem – niemand bodder eers met swemklere nie.

Buffelsbos is ʼn toweragtige kloofvallei. Onder bobbejaantoue en kalanders vat ons ʼn ruskans. Hierna stap ons ʼn vallei van boomvarings binne. Die swem in die heuningkleurige Waterwitelsgat is hemels … Maar elke paradys het ʼn slang. Hiert! ʼn Boomslang swem verby! En nog een! “Vandag is dit nie so warm dat die kraaie gaap nie, dis so warm dat die boomslange swem!” grap een van die manne.

Dis 42 °C. Skelwarm. Ten minste kan ons die swempoele behóórlik benut! Nadat ons die Bloukransrivier oorsteek, is dit tyd om die koel poele vir ʼn bielie van ʼn bult te verruil. ʼn Mens verstaan skielik waarom die Tsitsikamma-staproete se motto “asemrowend op elke manier” is! Ons is uitasem, maar aan weerskante is die mooie berge. Gelukkig ly ons aan opvroliking en toe ons onsselwers weer kan kry, is daar weer baie gelag en krag in die lug.

Benebos is ʼn verkwikking van koeltes; die soort woud wat jou verbeelding op loop sit. Die ou bome lyk soos slapende trolle en die klippe is met mos en varings oortrek.

Ons oornaghut is in die klam Keurboswoud. Langs die hut vreet ʼn skilpad blommetjies. Hy lyk so stokhoringoud, ons vermoed dis sy laaste rusplek. Sal ʼn blouaap so wragtag die wortel kom steel wat ons vir die bejaarde skilpad voer! ʼn Padda kwaak vir my in die stort en daarna pamperlang ek die blase op my tone.

Toe die sterre skyn, sit ons aan tafel en smul soos die adelstand van die berge aan geroerbraaide garnale en rys met malvalekkers oor die kole. Die verrassings hou nie op nie, want kyk, vanaand is hier flikkervliegies in die woud!

Dag 4: Keurboshut na Heuningbos (13,4 kilometer)

Vandag is voorspel om weer vrek warm te wees, daarom vat ons douvoordag die pad deur die hoë keurbome tot by Lotteringrivier. Die klim na Biesiespas is steil, maar ons word met uitsigte oor bergwoude en kronkelriviere beloon, saam met die heuninggeur van fynbos in blom. Die ligpienk heide lyk soos glas wanneer die sonlig daardeur skyn en die proteas is geil. Die diep poele van Elandsbosrivier is ʼn lafenis vir liggaam en siel. Ons sitlê soos seekoeie in die hol klippe terwyl die water oor ons spoel. Ons verkyk ons aan die naaldekokers – rooi, amber, blou.

Iemand kry die blink plan om ʼn dun, sopnat staphanddoek oor haar skouers te gooi teen die felle sonskyn en ons volg almal die voorbeeld terwyl ons voortbeur. Ná ʼn moerasagtige strook verdwyn ons al dieper die wildernis in. Die geheimsinnige Heuningbos se boomwortels is trappe. Die varings is volop – seweweeksvarings, koraalvarings, varings soos groen insekvoelers, jong varings met koperpienk blare en die grootste kolonie boomvarings wat ek al ooit gesien het. Oor die hitte van die dag rus ons sommer vir ʼn uur langs ʼn stroom en die seuns swem onder ʼn glinsterende waterval. Kort daarna verdwyn ʼn bosbokram agter die oumansbaard (hangende mos) en ʼn rooikeelfisant laat spaander in die onderbos.

Hygend hert, ons is so poegaai, vanaand bad ons net uit liefde vir ons medemens! Saam stap ons weer teen die bult af om in die pragtige poele te baljaar.

Hierna het ons die aptyt van The very hungry caterpillar en verorber ʼn groot pot pasta en geurige maalvleis, malvalekkers en sjokolade. Lank ná sononder is dit nog so warm dat helfte van die stappersvriende hulle matrasse uitdra om op die stoep te slaap. Ons vriendin met die engelstem sing vir ons onder die maan. Die naghemel dra ʼn spikkelkleed.

Dag 5: Heuningbos na Sleepkloofhut (16 kilometer)

Vandag is ons bietjie laat uit die vere. Een van die stappers is ʼn voëlkenner en bewapen met ʼn verkyker wys sy die geveerdes vir ons uit: Daardie is die klokhelder roep van ʼn suidelike waterfiskaal. Dis die swartkopwielewaal wat fieeoee fluit. ʼn Kaapse bosbontrokkie wip op ʼn tak en ʼn Knysna loerie klouterspring deur digte blare – sy ondervlerke vlamrooi, terwyl hy ʼn kras ghor-ghor roep; seker een van die mooiste, onmusikaalste voëls!

Die vallei is vol keurbome. Ons klim hoër en hoër. In die verte herken ons Robberg en Plettenbergbaai. Die helling is die ene bergfynbos. Met ʼn nuwe lied in die litte stap ons deur blommende boegoe, malvas met pienk rokkies, geel rietlelies, taai sewejaartjies, kuikensagte kol-kol en meer van watsonias as wat ek gedink het moontlik is.

Mostertsbos se oeroue bome is vol holtes en knoetse. Ons trap oor bosvarkmis en bobbejaanmis en rus langs ʼn stroompie. Met wantroue betree ons Nademaalsnek – die steilste klim van die staproete. Op en op klim ons, swoegend deur die hitte. Daar blaas sowaar ʼn pofadder langs die paadjie, waarskuwend. ʼn Jakkalsvoël sweef deur die blou lug, soekend. Heelbo by die klipstapel val ons sommer plat op die grond neer, geskaad deur die ontberinge van ʼn stapavontuur, maar ʼn klaagpot kry jy nie onder mý makkers nie, want magtag, dis mos lekker! Al die oppe en affe, die mooiheid en die grappies in die mou.

Die uitsig is ook genoeg om ons weer op die hoogtes te laat huppel. Kyk net die kreatiewe krag van water in die Stormriviervallei! In die middel van die wye woud is ʼn huisie. Haastig klim ons af deur die fynbos en ʼn varingstonnel. Party van die saamstappers bad sommer met ekovriendelike seep in ʼn poel. Meer as een keer mymer iemand: “Dis seker hoe die hemel lyk …” Sleepkloofhut is aan die rand van die woud, omhels deur berge. Ná die lange stapdag het die vier seuns sowaar nog die oemf om in Heidi-styl by die grasheuwel voor ons hut af te rol! Ons smul aan ʼn aandete van polenta, hoendersosaties, kraakvars kool-en-wortelslaai en ʼn spesiale glas rooiwyn.

Toe die mans en die seuns gaan slaap, kuier ons vriendinne alleen by kerslig. Sag kom die reën …

Dag 6: Sleepkloofhut na Groot Boom (6 kilometer)

Die volgende oggend is die aarde afgekoel. Die sonstrale sliert deur die blou-ertjieboom se vlerkagtige blomme en die blare van bokbessies, bosdruiwe en bosreuse in sewe skakerings van groen.

Vandag het ons die keuse om drie kilometer tot by die Paul Sauer-brug (die petrolstasie) te stap of ses kilometer na die Groot Boom. Ons almal is lus vir die tweede opsie – lekker ingestap en tuis in die wildernis.

Stappers is dalk nie die mees gesofistikeerde spesie nie, maar ons het ons trots en, uitgevat in ons fynste maniere, begroet ons die beskawing by die Groot Boom. “Hulle ruik so skoon,” fluister ons vir mekaar wanneer ons ander toeriste gewaar. Dit lyk soos ʼn prentjie uit my backpacker-era: Vuilerig en vrolik sit ons op ons stapsakke en wag dat ons mense ons kom oplaai. Ons neem van mekaar afskeid met hande wat na veldblomme ruik en die woorde van Laurika se liedjie op ons lippe: Die mense wat ek liefhet, kom groei op my soos mos.

(Foto: Verskaf)

Reisraad

  • Jy kan dwarsdeur die jaar sonskyn én reën in die Tsitsikamma verwag. September tot April is die dae heelwat langer en warmer –  dan kan jy die swempoele benut.
  • Jy hoef nie ʼn berghardloper te wees nie, maar wees behoorlik stapfiks. Die eerste en laaste dae is kort, maar die ander dae se afstande, steiltes en die wisselende weersomstandighede kan dinge uitdagend maak. (Ek het die Tsitsikamma-staproete voorheen in September gestap en dié keer in Januarie: eerste keer gebibber en tweede keer gebraai.)
  • Wat om in jou saamrysak te pak: ʼn ekstra paar skoene ingeval een breek en plakkies om jou voete saans ʼn ruskans te gee. Kies laag-op-laag-klere wat vinnig droograak, ʼn hoed, ligte reënjas en genoeg stapkouse. In die winter, herfs en lente neem jy ʼn mus, handskoene en termiese onderklere saam. Bring ʼn slaapsak en opblaaskussing. Die berge is onvoorspelbaar, pak dus ʼn noodkombers (emergency blanket) per groep. Die hutte het gietysterpotte, panne, ketels en braairoosters, maar vat jou eie braaitang en eetgerei. Die hutte is sonder elektrisiteit – bring ʼn kopflits en sorg dat jou selfoonbattery gelaai is.
  • Wat om in jou dagsak te pak: swemgoed, songoed, reëngoed en goggagoed. Ook die dag se kos en water. Verpak jou selfoon, kamera en pleisters in waterdigte sakkies. ʼn Fluitjie kan jou uit penaries soos verdwaling red.
  • Hoe om vir die Tsitsikamma-staproete te bespreek: Skakel 087 158 2110. Vonkpos: [email protected] of [email protected] of besoek die webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.