Udolpho soos ʼn kuier by familie op die plaas

Rivier-oewer (Foto verskaf)

As jy net buite Parys by FAK Udolpho Rivierplaas se hek indraai, wag ʼn trossie nuuskierige eekhorinkies jou in. Die kinders spring uit om nader kennis te maak, maar die eekhorings laat spat na hul gate en net hul nuuskierige neusies en oë bly bokant die grond uitsteek soos hulle sake op hul werf dophou.

Jy haal diep asem. Dit ruik na plaas. En wanneer Trudie en Jane wat die fort in die kantoor hou, jou letterlik met ope arms verwelkom, voel jy behoorlik asof jy by familie op die plaas aangekom het.

ʼn Klompie selfsorghuise, elk met sy eie karakter, nestel onder diep skadubome op die oewer van die Vaalrivier. Elke huis is vernoem na ʼn Afrikaanse ikoon, liedjie of kunstenaar, met name soos die Droomvrou- en Trek Ferreira-oewerhuise, Nalekoker-rivierwoonstelle, Voshaarnooi- en Mannetjies Roux-slaapsale. Ons dra ons tasse in by die Sally Williams-oewerhuis en stoot die houtdeure rivier se kant toe oop. ʼn Trop eende sketter hier vlak by ons in die water; die rivier vloei diep en stil.

“Die plaashuis was aanvanklik deel van Henning Klopper se plaas – die trekleier van die 1938-ossewatrek en later speaker van die parlement,” vertel Trudie terwyl sy ons op ʼn toer deur die plaas neem.

In 1993 is die plaas aan die FAK geskenk vir ʼn bruikhuurooreenkoms van 99 jaar, met die voorwaarde dat dit vir jeug- en kultuurprojekte gebruik word.

Geskiedenis en kultuur soos min

En dié voorwaarde het die FAK gestand gedoen. Die plaas kreun onder die kultuur en geskiedenis. Ons loop ʼn draai deur die oorspronklike plaashuis wat uit die veertigerjare dateer met sy houtblokkiesvloere, sinkdak, swaar ou houtmeubels, toegeboude stoep en vierkantige vensters waardeur die son geel skyn. As jy die plaashuis vir jou akkommodasie bespreek, voel dit seker kompleet asof jy by jou ouma op die plaas kuier.

Penkopmonument (Foto verskaf)

Die Saterdag laatmiddag stap ek en ons meisiekind met die grondpad langs op tot by die Penkopmonument naby die plaashuis, terwyl die manne met hul visstokke op die rivierwal sit. Dié sandsteen-standbeeld van ʼn jong seun, oftewel Penkop, verteenwoordig al die seuns wat tydens die Anglo-Boereoorlog vinnig mans moes word om in die oorlog te help veg. ʼn Muur met twee reuseborde bevat ʼn lys met die name van 2 466 seuns tussen ses en 16 jaar wat dié oorlog oorleef het. Ons soek deur die lyste vir ons eie familiename en -vanne. Daar is dit: RJJ van Vuuren, tien jaar oud met die aanbreek van die oorlog, en Roelof PJ van Vuuren, 16 jaar oud. Ek maak vinnig ʼn som: Dié twee was waarskynlik my oupagrootjie en ʼn broer of ʼn neef. Ek dink aan my eie seun, nou maar elf jaar oud wat op die wal van die rivier met sy visstok sit, en ril by die gedagte aan ʼn 10-jarige met ʼn geweer op ʼn perd se rug op pad oorlog toe.

ʼn Aambeeld op ʼn voetstuk by die monument bring hulde aan nog ʼn stukkie geskiedenis: Dit verteenwoordig die naoorlogse seuns wat vanuit die as van die oorlog weer die plase moes help opbou. Die aambeeld is ʼn simbool van die staal, daadkrag en harde werk van dié seuns.

Terug by ons knus huisie langs die rivier het die manne nog nie ʼn vis gevang nie, maar dit maak nie saak nie – die vuur knetter al lustig, en ons seun eksperimenteer met vreemde geluide wat hy rivier-af roep, en wat dan twee, drie keer uit die rantjies na hom toe terug eggo. Ons sit stil op die stoep met ons voete in die lug en staar na die rivier. ʼn Visarend roep in die laaste daglig, en toe dit goed donker is, begin die jakkalse huil. Ons verbeel ons selfs ons hoor ʼn leeu brul.

Akkommodasie en doendinge vir elkeen

Hoofterrein (Foto verskaf)

Dis inderdaad ʼn leeu, vertel Trudie ons die volgende dag en gaan wys ons die buurplaas met roofdiere wat aan Udolpho grens – ʼn lekker daguitstappie wanneer ʼn mens op Udolpho uitspan. Sy neem ons op ʼn toer van Udolpho en wys vir ons al die moontlikhede uit wat ʼn bespreking op dié terrein inhou. Ons begin by die kultuursentrum wat uit ʼn ou stoor op die plaas omskep is in kantore, konferensiefasiliteite en uitstalplek vir kultuurskatte. In ons geestesoog kan ons sien hoe honderde Voortrekkertjies op ʼn kamp uit die aangrensende slaapsale borrel en voor die mooi, ruim saal aantree vir ontbyt voor hulle koers kies na die hindernisbaan, of op die grasperk langs die rivier gaan vlotte bou en visvang, om later hulle warm lywe in die swembad af te spoel. Eenkant staan ʼn groep identiese huisies met ʼn gemeenskaplike sentrale kuier-area, onlangs gerestoureer en ideaal vir ʼn familiesaamtrek. Verder in die veld is ʼn ou oopgroefmyn waar kinders in die grond kan krap vir die mooiste klippe wat tydens die mynbedrywighede opgegrawe is.

Die akkommodasie langs die rivier bied nog baie moontlikhede, buiten verskeie huise vir gesinne: Woonstelle vir twee met ʼn klein stoepie reg op die rivierwal waar paartjies kan uitspan, eenhede met gedeelde badkamers waar pa’s en seuns visvangnaweke kan kom hou, slaapsale vir kerk-, skool- en Voortrekkerkampe en houthuise vir vriende wat saam wil kom kuier, staanplek vir tente en karavane. As jy skakel vir ʼn bespreking en verduidelik wat jou behoefte is, sal Trudie en Jane seker maak dat jy die regte blyplek kry om jou kuier op die plaas onvergeetlik te maak.

Groot drome

Boeresport (Foto verskaf)

Daar is nog groot planne vir ontwikkeling, vertel Trudie – planne wat nie sal afbreek doen aan die plaaskarakter van Udolpho nie, maar dit eerder méér van ʼn egte boereplaas-ervaring sal maak: ʼn pioniershuis, ʼn egte ossewa waarmee kinders deur die veld sal kan ry, en ʼn eie bakoond waar Saartjie, ʼn Udolpho-legende, vir die plaas brood kan bak.

Daar word ook beplan aan egte kultuur-spanbouprogramme, vertel Danie Langner, besturende direkteur van die FAK en hoofleier van die Voortrekkers, soos ʼn tradisionele kookkompetisie waar kinders botter karring, brood in die bakoond bak en wors braai wat hulle self gestop het. Die ou vrugteboord word binnekort herstel en nuwe vrugtebome word geplant, sodat Udolpho se plaaswinkel eersdaags sal kan spog met tuisgemaakte appelkooskonfyt en ingelegde perskes neffens die boerbrode en melktert wat jy reeds daar kan koop.

Udolpho is nie sommer net ʼn oord nie. Dis ʼn plaas waar jy jou skoene kan uitskop, kan rus en kan heel word. Dis die ideale plek om in die stilte van die natuur die stokperdjie te kom beoefen wat jy al vir jare onder in jou kas bêre: Hier kan jy kom skryf, op die stoep sit en hekel of verf of fotografie doen. Niks gaan jou steur nie – behalwe miskien ʼn visarend wat roep of ʼn jakkals wat tjank.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.