Uiteet met ʼn uitsig en ikoniese dagstappe in die Tuinroete

Foto: Carina Stander

Dis amper weer herfsvakansie, die tyd van die jaar wanneer Suid-Afrikaners van heinde en ver na die Tuinroete stroom vir ʼn kort en kragtige breek. Dwarsdeur die jaar warrel die vier seisoene mos hier verby (soms is dit swemwarm met Paasfees, soms kaggelweer met Kersfees) en gevolglik is buitelugpret in die herfs heeltemal moontlik. Maar hoe gemaak as ʼn kouefront verby waai en jy steeds die natuurskoon van die Tuinroete wil geniet? Eet dan uit op ʼn plek met ʼn opperste uitsig! Ek lys twee restaurante wat mildelik geseën is met uitsigte en twee ikoniese dagstaproetes waarmee jy die omgewing kan indrink – iets vir elke weerstelsel.

Die romantiese boompaleis van Tsala Treetop Lodge

Iewers in die vakansie gaan jy dalk lus wees vir ʼn romantiese wegglipkans – maak dan dié luukse boomskuilte jou bestemming. Die argitektuur van Tsala is allerpragtig. Dit herinner aan ʼn antieke beskawing. Hoë plafonne en klipmure word afgerond met Afrika-barok dekor en die gebruik van rottang, geelkoper, klei, hout, katoen en fluweel dra by tot die aardse atmosfeer. Sak met ʼn cappuccino weg in die stoel op die stoep terwyl jy die wye uitsig oor kloof, woud en heuwel geniet. Kuier in die sitkamer met sy glasmure en kyk hoe ʼn knysnaloerie verbyvlieg. Geniet die stilte in die gesellige boekhoekie. Wanneer daar ʼn herfserigheid in die lug is, word die kaggel aangesteek. Bestuurder Karin Webber verstaan immers gasvryheid, sy weet hoe om mens welkom te laat voel.

Etenstyd by Tsala is ʼn reis in die kleine – die eksotiese geure en kleure voer jou weg na ʼn ander werklikheid – maar dis ook goed om te weet al die bestanddele word van plaaslike produsente in die omgewing verkry en so is daar byvoorbeeld ʼn Tuinroete-kaasbord op die spyskaart. Tsala se verste verskaffer van vars produkte is boere in George, skaars ʼn uur se ry ver.

Ek smul behoorlik aan die krakerige varkmagie, geglasuur met heuning en soja en bedien op ʼn slaai van radyse, ertjies, geroosterde neute en mosterdblare. Tussendeur teug ek aan ʼn glas Jordan Prospector Syrah – ʼn dieprooi wingerdwonder uit die Boland met ʼn aroma van bessies, fynbos en speserye. Die nagereg is ʼn voortreflike verrassing: romerige nougat parfait met naartjiemarmalade en amandelpralien. Uniek en uitstekend! Tsala Treetop Lodge is in Harkerville tussen Knysna en Plettenbergbaai. Bespreking is noodsaaklik. Skakel: 044 532 8228. Vonkpos: [email protected] of besoek die webwerf

Die ikoniese voetslaanroetes van Tsitsikamma Nasionale Park

Foto: Carina Stander

Mens kan die klank van water hóór in die Strandloperwoord, “Tsitsikamma”: Plek van sprankelende water. Stormsrivier in die Oos-Kaap is die oudste marinepark in die land en die wegspringplek vir die wêreldberoemde Otter-wandelpad en Dolfynroete. Ek het jare gelede albei roetes gestap en dis werklik onvergeetlik. As jy egter nie die tyd of lus het vir ʼn multidagstap nie, lys ek twee van die mooiste dagstaproetes:

Die Watervalroete is die eerste 3 km van die Otter-wandelpad. Dit kronkel deur ʼn kuswoud, bo-oor ruwe rotse en spoelklippe tot by ʼn betowerende waterval met ʼn  swempoel. Moet dit nie afjaag nie. Ruik die kusbossies, voel die seesproei in jou gesig, verkyk jou aan die blomme en aan die roesbruin korsmos op die rotse, loer in by die Khoisan-grot en swem by die waterval. Mens kry mos nie elke dag die kans om in ‘n regte, egte storiepoel te woel nie!

Die Watervalroete is 6 km van redelik tegniese terrein – nie juis geskik vir iemand met ʼn knievervanging nie, maar heeltemal doenbaar vir ʼn laerskoolkind. Beplan drie ure (1 ½ uur in elke rigting). Vat swemklere en genoeg drinkwater.

Die gewilde Monding-staproete begin by die sanderige baaitjie anderkant die restaurant en swenk deur ʼn pragtige inheemse woud tot by die monding van Stormsrivier. Jy stap tussen kalanders (geelhoute) wat ʼn eeu oud is – neem jou tyd om aan die skilferbas te voel, die bostaaibos en die melkhout se knoesterige stamme te streel.

By die monding steek jy die bekende hangbrug oor. As jy in die rivierkloof opkyk, sien jy dat die water koffiebruin is weens die tannien wat oplos wanneer die water deur die woudplante sypel. Aan die ander kant breek die branders in ysgroen skerwe teen die rotse.

Die Monding-staproete is ʼn maklike 2 km, meestal op ʼn plankpad. Beplan langer as ʼn uur daarvoor – jy gaan jou kamera wil kliek! As jy egter ná die hangbrug energiek voel, kan jy aanstap en die steilte uitklim tot op die fynbos-plato vir uitsigte oor branders, bos en berg.

Al die dagstaproetes is gratis – jy betaal slegs toegang by die ingangshek. Indien jy ʼn Wild Card het, is ingang natuurlik gratis. Jy kan ook by Stormsrivier snorkel en kajak. Besoek die webwerf of skakel: 042 281 1607.

Gesellige ete op die rotse by die see

Van al die gestappery sal jy dalk honger wees. Dis ʼn blink plan om die Tsitsikamma-avontuur af te sluit met ʼn ete by die see. Nader aan die see as Cattle Baron Seafood Grill and Bistro sal jy kwalik kry – dis rég op rotse! Nadat die vorige restaurant ʼn paar jaar gelede afgebrand het, is dié tydelike tentstruktuur opgerig en afhangend van die weer kan jy binne of buite sit. Besluit sommer voor die tyd om die ete nie af te rammel nie, maar die héle ervaring in te drink: die ongelooflike uitsig oor die see waar dolfyn boogspring en walvisse in die winter migreer; die koddige dik dassies wat tussen die rotse vir jou loer; die kormorante wat sondroog en die seemeeu wat bo-oor die restaurant skater.

Hoe lyk dit met ʼn koue bier of melkskommel, hamburger en tjips? As jy meer tyd op hande het, is ʼn treffer die vleisbord-vir-twee met smaaklike filet, soet varkribbetjie en geurige lamstjops. Cattle Baron is ook bekend vir hulle vlammende Chateaubriand-bieffilet. As jy verkies om seekos by die see te eet, probeer gerus die ruim porsie pangebraaide garnale of vra watter lynvis die dag uit die branders gekatrol is – die geelstert met suurlemoenbotter is sappig! En die restaurant se handtekeningdis? Malvapoeding-met-roomys! Cattle Baron Seafood Grill and Bisto is daagliks oop vanaf 07:00 tot 22:00. Dis rolstoelvriendelik. Die lang kuiertafels maak dit geskik vir gesellige kuiers met vriende en familie. Die restaurant is gewild onder besoekers, bespreek betyds ʼn tafel: 042 281 1190.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

koos ·

Treetop Suites

11 Jan 2020 – 28 Feb 2020
R7 075 p.p.s | R10, 605 single

Nee dankie, nie vir my nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.