Van kerk tot gedenkplek na die Kaapse kus

Waar die Indiese en Atlantiese Oseane by Agulhas ontmoet. (Foto: Verskaf)

ʼn Mens moet seker mal wees om die tog van Pretoria na Kaap Agulhas met twee kleuters en ʼn baba in die kar aan te pak. Maar dis wat ons in April gedoen het, op soek na so ’n bietjie rus (daarmee kon ʼn stel grootouers darem help) en baie avontuur saam met ons drie klein knapies.

Vol hoop en moed, en met genoeg eetgoed, leesboeke, papier en kryte vir teken, speelgoed wat nie die kar gaan bemors nie en kussings vir slaap op die pad, vertrek ons op ons eerste skof af Kaap toe. In ʼn rare oomblik van helderheid het ons darem besef dat die 18 uur-rit nie in een dag kafgedraf kan word nie. Daarom slaap ons sommer twee keer oor op pad Struisbaai toe, die eerste nag op Bethulie.

ʼn Keur van kerke en monumente

Winburg se NG kerk (Foto: Verskaf)

Op pad daarheen vang Winburg se bord my oog en ons draai af. Hier ontdek ons die eerste twee juwele van ons toer.

Op Winburg, die oudste nedersetting wat die Voortrekkers noord van die Oranjerivier gevestig het, staan ʼn pragtige sandsteenkerk. Die hoeksteen van dié NG kerk is in 1899 deur president M.T. Steyn gelê. In die Anglo-Boereoorlog, wat dieselfde jaar begin het, is die kerk as hospitaal gebruik, hoewel die dak nog nie op was nie.

C.R. Swart, staatspresident van die Republiek van Suid-Afrika, het vertel hoe hy op ʼn amptelike besoek in 1955 aan Londen vir sir Winston Churchill gesê het dat hy van Winburg kom. Churchill het dadelik geantwoord dat hy die Vrystaatse dorp met die kerk sonder die dak onthou!

Ek lees dat ʼn tweede NG kerk in 1917 op Winburg gebou is om die werklikheid te van die diep skeuring in die gemeente ná die gewapende rebellie van 1914 – toe sommige Boeregeneraals teen die regering van generaals Louis Botha en Jan Smuts in opstand gekom het – te weerspieël. Die opstand was die gevolg van die regering se besluit om Brittanje teen Duitsland in die Eerste Wêreldoorlog te steun. Die nuwe gemeente is Rietfontein genoem, na die plaas waar president Steyn gebore is.

Winburg se Voortrekkermonument. (Foto: Verskaf)

Net buite die dorp gewaar ons ʼn monument wat ons nie ken nie. Dis ʼn tweede Voortrekkermonument, wat in 1968 gebou is. Die vyf suile van die monument verteenwoordig die vyf groepe Voortrekkers wat hulle in die gebied gevestig het. Ons ry gretig nader, in die hoop om die yslike struktuur van nader te beskou, maar die hekke daarheen is gesluit. Ons moet maar tevrede wees met ʼn veraf foto vir ons album.

Ons kies weer koers Bethulie toe. Bethulie is ʼn dorp vol gedenktekens wat die area se ryk geskiedenis gestalte gee. Buiten die gedenktekens wat hulde aan die rol van perde en ossewaens in die geskiedenis van Suid-Afrika bring, is ʼn besoek aan die konsentrasiekampkerkhof ʼn byna heilige ervaring. Die name van die afgestorwenes blink in die helder oggendson toe ons dit lees – byna tweeduisend name, met bekende vanne soos Grobler, Hattingh, Van Heerden. En ook my eie, Fourie… ʼn Engel waak oor hul name en nagedagtenis, met die woorde “Klipharde mensehart, vermenigvuldig mensesmart. Rotsvaste hoop en moed, duld offers van goed en bloed”.

Die volgende nag slaap ons op Oudtshoorn. Op pad na ons slaapplek bewonder ons die pragtige kerkgeboutjie van die NG kerk Kangovallei. Sonder dat dit die bedoeling was, word ons reis ʼn soektog na die mooi kerkgeboue, wat dikwels soos ʼn hardnekkige veldblom pronk tussen die onkruid van plattelandse middedorpe.

Die Strandveld se geskiedenis en stories

Die ou pastorie by die Skeepswrakmuseum. (Foto: Verskaf)

Ons bereik Struisbaai die volgende dag windverwaaid, maar dankbaar. Nadat ons afgepak het, ons tone in die see gesteek het en die eerste van vele vis-en-tjips-etes afgewerk het, begin ons die omgewing nuuskierig verken.

Kort voor lank staan ons weer voor ʼn mooi kerkgebou, dié slag die Anglikaanse kerkie, eenvoudig en pragtig. Dié gemeente is in 1904 gevestig en in 1905 is begin om klippe vir die kerkie te kap. Op 7 Mei 1906 is die klein, witgekalkte kerkie met die naam St. Mary’s Anglican Church deur aartsbiskop William West Jones ingeseën en van Maandag tot Vrydag is die gebou as skool aangewend. Die gemeente gaan vandag nog aan en die kerk se deure staan oop vir ons om dié juweel te bewonder.

Nog ʼn kerkgebou kruis onverwags ons pad toe ons Bredasdorp toe ry om die Skeepswrakmuseum te besoek. Dié museum is in die ou gebou van die ou Independente Kerk gehuisves. Die gebou is ʼn unieke voorbeeld van die Kaapse neo-Gotiese argitektuur en die kerk se houtwerk kom feitlik alles van skeepswrakke.

Die storie van dié vreemde gemeente en sy voorgangers loop só: Op Bredasdorp is die eerste kerkgebou op 13 Maart 1839 ingewy. Daar word vertel dat sitplek in die kerk ʼn ingewikkelde aangeleentheid was. Nie net moes elke persoon aanvanklik sy of haar stoel voorsien nie, maar moes hulle skriftelik by die kerkraad aansoek doen daarvoor. Sitplekhuur was ook betaalbaar en daar is streng opgetree teen huurders wie se sitplekgeld agterstallig was.

Die kerkgebou wat die Skeepswrakmuseum huisves. (Foto: Verskaf)

In die 1860’s skeur die gemeente en so is die Independente Kerk in Februarie 1864 gestig en die gebou in 1868 ingewy. Die Independente Kerk het egter in 1875 weer ontbind en die erf waarop die kerkgebou en pastorie gestaan het, is aan die All Saints Church geskenk. Dit is as die Engelse sendingkerk en sendingskool vir die bruin gemeentelede gebruik en later as bioskoopsaal, skaatsbaan en basaarlokaal aangewend. Vandag is dit die Skeepswrakmuseum.

Dié museum is werklik ʼn besoek werd. Die uitstallings is indrukwekkend – van boegbeelde en stuurwiele tot skeepsmeubels, kanonne en ankers. Die verskillende skepe wat oor die jare hul graf in die Kaapse waters gevind het, word beskryf en foto’s of modelle van verskeie van dié seereuse gryp die verbeelding aan.

Ek leer dat die geskiedenis van die Strandveld se argitektuur en meublement nou verweef is met dié van skeepswrakke van die omgewing. Deur die jare heen was dit algemeen om ʼn meubelstuk in ʼn huis te vind wat vanaf ʼn skeepswrak gekom het. Dit was die gebruik om, nadat ʼn skip gestrand het, ʼn vendusie te hou waar plaaslike inwoners meubels en vrag wat van die wrak afkomstig was, kon aankoop.

Skipbreukelinge het soms vir ʼn geruime tyd by families op plase gebly en gewerk. Dit het meegebring dat die Strandveld oor hul eie skrynwerkers beskik het wat eiesoortige Strandveld-meubels vervaardig het.

Die eindpunt: Afrika se suidelikste punt

Die son sak oor Struisbaai. (Foto: Verskaf)

Ons ontdekkingsreis eindig by Kaap Agulhas, die suidelikste punt van Afrika en die plek waar die Indiese en Atlantiese Oseane ontmoet. Die naam Agulhas is moontlik afgelei van die kompasnaalde (agulhas) van die vroeë Portugese skeepvaarders wat hier geen magnetiese afwyking van noord getoon het nie.

Die pragtige Agulhas Nasionale Park se paadjies lei ons na ʼn merkwaardige monument, ʼn groot afbeelding van Afrika tussen die natuurskoon versteek. Die ikoniese ou vuurtoring waak oor dié goed bewaarde landskap. Agulhas se eerste vuurtoring, wat in 1848 gebou is, het seevaarders langer as ʼn eeu teen die verraderlike kus gewaarsku, totdat dit in 1939 deur die nuwe vuurtoringlig van 18 miljoen kerskrag vervang is. Die ou vuurtoring met sy kenmerkende wit en rooi strepe is gerestoureer en tot nasionale gedenkwaardigheid verklaar.

Terwyl ons Struisbaai se son, strand en rustige branders geniet, dink ek met waardering aan elke kerk en gedenkplek wat ons op ons pad teëgekom het. Dit is deel van my erfenis, my wortels, my storie. ʼn Storie wat ek graag ook vir my kinders wil vertel, om hulle op hul lewensreis in ons land op koers te hou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Elmarie

Ek geniet alle reisartikels – veral nou wat enigeen nie net kán reis nie!